Jock het ’n rukkie later verskyn: ’n indrukwekkende gestalte, atleties gebou, ’n netwerk van spiere wat met elke beweging vermenigvuldig, en hy het van die boonste duikplank eers in die lug opgestyg, dubbel gevou, roerloos gehang en toe afwaarts geskiet tot in die water waarin hy sonder ’n geluid verdwyn het.
Die middagete is deur ’n slaweklok aangekondig.
’n Regte klein blackamoor het die klepel met ’n toutjie teen die bel aangeruk en op metronomiese maat sewe klanke die middaglug ingestuur.
Die gaste het as ’n groep die huis genader en enkelvoudig en paar-paar in die kamers versprei. Toe dieselfde klein mannetjie (’n Blantyre sonder permit en met skerpgevylde tande) die twee ronde metaalskywe van ’n bekken teen mekaar slaan en ’n dreunende geluid van ondefinieerbare toonhoogte voortbring, vergader hulle en masse in die eetkamer by ’n volgelaaide tafel waar die slank Mrs Silberstein almal se plekke aanwys en in die proses sorg dat J.J., geurig en vars gekruie, vlak langs haar plaasneem.
Daar is nie hardop gebid nie, maar daar was ’n oomblik, nadat die kos bedien is en die borde tot uitspattige hoogtes gevul is, dat ’n verposing ingetree het waarin elkeen tot sy en haar gode, god en niks, momenteel gekniebuig het.
Die slank Mrs Silberstein het Jock aan die een kant van Henry geplaas, en aan die ander kant ’n lieflike brunet wat Henry die hele tyd suspisieus dopgehou het.
“Om terug te keer tot ons gesprek van vanmôre,” sê Jock, terwyl hy kouend na Henry toe leun en sy woorde met ’n silwermes beklemtoon, “kwaad, die gevreesde malum, is net so subtiel en ingewikkeld as die goed, bonum.” Hy maal sy kos met sterk, wit tande. Hy is die enigste een wat nie vir die geleentheid verklee het nie en volgehou het met sy boeredrag. “Volgens ons Joodse geloof is alle kwaad ’n negasie, maar ek sien dit as een van twee positiewe magte wat lynreg teenoor mekaar staan. En ek sien alle ellende as die produk van onkunde: meer as onkunde ten opsigte van negatiewe en positiewe eienskappe, maar onkunde ten opsigte van ewewig, die twee teenoorgestelde pole wat mekaar balanseer.” Hierdie keer wys hy na Henry met sy silwervurk (die merk van die vorige eienaars van Welgevonden stigtelik daarop bewaar). “Pasop vir jou jaloers-bewaakte onskuld; jou geestelike maagdelikheid wat jy soos ’n stuitige jongmeisie bewaar. ’n Blinde man struikel aanhoudend en veroorsaak leed, teenoor homself en teenoor ander. Onkunde bring kwaad; onskuld is blindheid van die gees.”
Hy sit sy mes en vurk neer en begin sy tande met ’n ivoorkrapper skoonmaak.
“Met kennis sal die leeu en die lam bymekaar slaap.”
Ten spyte van die oorvloed op sy bord, het hy matigheid toegepas en die res gelaat vir bediendes, katte en honde.
“Moenie my as Jood beskou nie,” sê Jock. “Ek is die afvallige. Met jou en Salome sal dit die finale oorgawe wees: die mensheid sonder tooisel van ras, die volkome anonimiteit. Dit grief ou Mrs Silberstein. Het jy al opgelet dat sy nie oorloop van entoesiasme nie?”
“Ja,” sê Henry.
“Jy moet jou nie aan haar steur nie.”
Hy steek ’n sigaar aan.
“Van Salome gepraat, hoekom is jy so afsydig teenoor haar? Ek het julle nog selde bymekaar gesien. Of is dit die hedendaagse vorm van hofmakery? Ek moet erken dit kom vir my ’n bietjie steriel voor. En Salome so shegal as wat jy maar kan wens.”
Voor almal opstaan om koffie op die stoep te drink, maan Jock hulle om goed van die middagslapie gebruik te maak aangesien die partytjie die aand heelwat energie sal vereis.
II
Henry het so vas soos ’n klip geslaap en teen die aand se kant wakker geword met die ontstellende besef dat hy nie eens weet watter vorm die partytjie sal aanneem nie. Hy trek sy japon aan en gaan na J.J. se kamer waar hy sy oom vind; pienk gebad, vars geskeer en so vrolik soos ’n kwartel.
“Wel, wel, klein Henry,” sê hy. “En hoe gaan dit met Salome, hmmmm-mm?”
“Ek ken haar glad nie,” sê Henry.
“O-hoooo!” sê J.J. “Al daardie filosofiese gesprekke! Laat dit maar liewer vir Jock Silberstein. Wat jou oom betref, Boeta, daar is maar net één manier om ’n vrou te ken.” En hy knipoog vir Henry.
“Ek het eintlik gekom,” sê Henry, “om uit te vind watter soort partytjie dit sal wees.”
J.J. lig sy wenkbroue, slaan ’n minsame, prettige houding aan, knieë teen mekaar, hand in die sy, ander hand met wysvinger teen die wang en sê: “Kunstenaars, Boeta.”
Soos alle uiters manlike filistyne, beskou hy kunstenaars as verwyfd, indien nie homoseksueel nie.
Terug in sy kamer, besluit Henry dat dit die veiligste sal wees om die voorbeeld te volg wat die gaste die vorige aand gestel het. Terwyl hy ’n krawat met paisley-ontwerp om sy nek knoop, hoor hy hoe die ligte-enjin eers ’n paar kloppe gee en dan die vereiste hoeveelheid omwentelings bereik. Toe hy op die punt is om te loop, sien hy dat iemand op die tafeltjie langs sy bed, waar die konfoor vroeër in die dag was, iets neergesit het wat lyk soos die kop van ’n takbok. By nadere ondersoek blyk dit wel ’n nagemaakte kop van ’n takbok te wees, met horings, glasoë en alles kompleet. Die voorwerp is van rubber gemaak en, ten spyte van sy grootte, is dit so lig soos ’n veertjie. Die rede hiervoor is dat dit binnekant uitgehol is. Henry beskou dit van alle kante en plaas dit op die tafeltjie terug. Buitekant het dit intussen donker geword en hy besluit dat dit tyd is om by die gaste aan te sluit.
Toe hy by die voorhuis kom, vind hy dat die vertrek leeg is, al die stoele en rusbanke omhul deur wit oortreksels. Hy kry een van die kleurlingbediendes en vra haar waar die mense is, waarop sy hom wys om haar te volg. Sy beweeg ligvoets deur die gang, om draaitjies, deur sonkamers na buite, en hy het moeite om by te hou aangesien hy kort-kort struikel as hulle af en toe deur onverligte plekke gaan. Hulle kom oplaas by die grasperk en ’n verrassende toneel skitter Henry in die gesig. Langs die swembad is allerhande kleure ligte tussen bome, blomme en struike aangebring. Op die gras, wisselend van kleur tot kleur, beweeg voorwerpe wat soos diere lyk – ’n hele dieretuin van fauna. Toe hy nader kom, sien hy dat dit mans en vrouens is: bikini’s van onder, maar dierekoppe waar hulle gesigte moet wees.
Hulle hou meteens op om te beweeg en te praat as hy onder die lig verskyn en ’n hele gerei van dieregesigte draai hulle snoete en glasoë na hom toe: bere, leeus, varke, bokke, akkedisse, koggelmanders, paddas, katte en honde. Dan begin almal hande klap, en ’n kolossale beer sê: “Welkom, Henry. Welkom in ons midde.”
’n Takbokkie in ’n silwer bikini kom te voorskyn en gaan voor Henry staan terwyl die ligte op haar skyn. Die silwer blink en vestig sy aandag op die welomhulde sacrum, acetabulum, pubis en coccyx. Sy haak by hom in en die horinkies kom skaars by sy skouers. Hulle lyk ’n pragtige paar, hierdie twee, soos iets uit ’n volkslegende, die mooi jong prins en sy woudbruid.
“A!” sê die beer Silberstein. “Hoe mooi! Maar waar is jou horings?” Hy wag nie op ’n antwoord nie. “Beweeg tussen ons gaste, julle twee.” En hy omarm ’n verbygaande kat met slank bene wat tevergeefs uit sy greep probeer kom.
Sy loop liggies langs hom en haar hand lê stil in syne. Sy volg hom volkome, asof hulle dans, en hy kan die bewegings van haar ledemate teen syne voel. Hulle sink weg in die gras en langs die swembad weerkaats hulle beelde blou in die water. In volkome swye wentel hulle in en uit tussen die gaste en die tablo’s van hulle kaperjolle. Maar wat kan jy vir jou beminde sê as sy volkome gesigloos is? Hy trek haar nog stywer teen hom aan en vind voorlopig genoegsame kommunikasie in die liggaamlike aanraking. Al sou hulle nou praat, sou die gesprekke, met die toevallige openbaring van die toevallige persoonlikheid van die toevallige oomblik, gering wees voor hierdie dieper verbintenis van die liggaam. Daarom praat hulle nie en Henry en Salome wandel in harmonieuse swye deur die betowerde landskap.