“Dis ’n heerlike aand,” sê Henry, gereed om ’n gesprek te begin, soos ’n beskaafde mens, oor alles wat onpersoonlik en onkontensieus is.
Sy glimlag en suig aan die sigaret.
Henry kyk by haar linkerskouer verby en sien die hertogin in die middel van die vloer. Sy is besig om met groot konsentrasie in haar styf-deftige rok oor die vloer te beweeg. Haar voete skuifel skaars ses duim op ’n slag, haar een hand hang langs haar sy, die ander een is op haar bors oor ’n pêrelhalssnoer. Af en toe glimlag sy met goue tande vir die gaste, hierdie kant toe en daardie kant toe, met metronomiese onpartydigheid. Sy het so pas haar stoel verlaat en is op pad na ’n ander deel van die vertrek. Haar hele houding getuig van beslistheid. Sy baan deftig haar weg tussen almal deur en dan bereik sy haar bestemming: ’n ander stoel wat wys in die rigting van waar sy gekom het. Sy trek haar rok saam, draai in die rondte en gaan dan stadig sit sonder om om te kyk. Sy sien vir Henry en haar gesig verstrak. Haar oë bly permanent roerloos op hom gevestig.
Henry glimlag vir die meisie en sy glimlag meganies terug. Hulle het intussen ’n treetjie van mekaar af beweeg en albei rook nog steeds.
Hy kyk oor haar regterskouer en sien die twee vaal Misses Silberstein in hewige argument gewikkel. Hulle het elkeen ’n skinkbord waarop talle roomkoekies met allerhande patroontjies gerangskik is. Eers sit hulle die skinkborde neer en beduie vir mekaar met die hande. Dan tel hulle die skinkborde op en die argument word voortgesit met allerhande bewegings van die hoofde. Meteens hou die argumente op en hulle beweeg na die geskeide gaste in teenoorgestelde rigtings in.
Henry en die meisie is nou ver genoeg van mekaar om alle kontak te verbreek. Hy sien dat J.J. en die slank Mrs Silberstein na ’n oop deur beweeg. Mrs Silberstein lyk vars, maar J.J. kom moeg voor en daar is kringe om sy oë. Toe Henry terugkyk na die meisie, vind hy dat sy verdwyn het.
Die ligte-enjin het nou gaan staan en die swembad word weer leeg- en volgepomp.
Twee van die boerinnetjies sluit by Henry aan, vlegsels oor die skouers, hand om die lyf, voetjies in balletposisie sur la demi-pointe.
“Ons hoor,” sê die een, “jy en Salome gaan vir Brutus kry.”
Daar is afguns in hulle oë.
“Is dit waar?” vra die ander een.
Henry haal sy skouers op en kyk by die venster uit. Hy verstaan nie ’n woord van wat hulle sê nie.
Die tuin van Welgevonden, verlig soos altyd, strek die nag in en daaragter sien hy nou vir die eerste keer die neonligte. In die heel verte, met letters so groot soos op die doek van ’n inryteater, vloei die stroom in rooi, groen en blou: WELGEVONDEN … QUALITY … WINES. Eers in ’n boog; dan in ’n reguit lyn: WELGEVONDEN … Q A TY . . . WI ES.
Die twee boerinnetjies het verdwyn, maar ander het hulle plek by die kroegie ingeneem. In die agtergrond is die mans nog steeds besig om te argumenteer. Henry word omring deur meisietjies wat vir hom glimlag, nader staan en skaam-skaam sê: “Geluk met Brutus.”
Die gerug het nou deur die kamer gegaan. Brutus. Brutus. En dit het tot by die mans deurgedring, wat die naam herhaal. Brutus. Brutus. Een na die ander onttrek hulle hulle van die tweede liefde en sluit by hulle vrouens aan sodat die saal weer egalig vol word en Brutus, Brutus van alle oorde kom. Die meisies se rokkies styg in fouetté as hulle van die een na die ander draai en Brutus, Brutus fluister. Is dit Brutus? Kan dit wees? Is dit waar? Vra vir Giepie Ollenwaar.
Daar staan hy, Giepie Ollenwaar, in die middel van die saal, met sy goue kettinkie om sy magie, sy oumansbeentjies in die swart pype, sy skouertjies krom in die baadjie, sy borsie kropduif agter die gestyfde borshemp, sy tandelose mond gapend van pure genot, die kraai te midde van die aanvallige boerinnetjies wat hom betas, beklou, betrek, bevroetel en beneul om met die waarheid voor die dag te kom.
Dis nog net dr. Johns en regter O’Hara wat, salig onbewus, die vrye wil bestry en goed en kwaad beskou.
Opeens, as Jock sy hande klap, word almal stil en luister na die
“Liewe vriende, ons is hier …
“Da-da-dum verbond te vier …
“Salome … Henry … Silberstein …
“Geskenk geskik vir Oppenheim …”
En dan breek die oomblik aan as hy op die sestienpotige agterhuistafel tik, en die deure oopswaai, dat die fraaie Misses Silberstein skamerig aan weerskante van die tamaaie kop, bedeesd gebind met twee koorde aan die neusring, horingomraamd met die bul verskyn. Liefies loop hulle onder dawerende toejuiging, gefluit en voetegestamp terwyl die bul al hoe groter en groter word as die buffelnek eers na vore kom, dan die geweldige spiere wat swel met elke lui trap van die kolossale hoewe, dan die ronde sterk pens wat aan weerskante van die deure skuur, dan die bultende dye en die glansende, spekvet boude onder die tafelgelyk rug totdat die kamer en die mense verdwerg word met die volle verskyning van die koninklike dier.
BRUTUS! BRUTUS! BRUTUS! gil die meisies en die boere trap met stampgeluide op die vloer terwyl hulle handegeklap doem-doem die ritme van tamboerslag vind.
So hou dit vyf minute lank aan en dan daal die stilte traag en volkome vir almal om die dier in swygsame vervoering te aanskou.
En Henry merk dit die eerste keer op dat die voorste gedeelte van die bul rooi is en die agterste gedeelte pikswart.
Jock doen ’n beroep op Dries van Schalkwyk, sekretaris van die Rooi-Swart-Ollenwaar-stoettelersvereniging, om ’n paar woorde te sê en daar verskyn hy met borselkop, onder uitroepe van haai, Dries! laggend met perdetande (haai, Dries!), rooi gebrand, ontuis in strikkie, sykraag en serp, om Geagte oom Giepie (applous fortissimo), mnr. Silberstein (forte), Salome (piano), Henry (pianissimo), en BRUTUS (kakofonie!) aan die gaste voor te stel.
“Is daar iemand vanaand teenwoordig wat nog nie van Brutus gehoor het nie?”
Groot gelag, rumoer en “Ek nie!” skreeu ’n jong kalant wat speel-speel deur die mans neergetrek en deur die meisies gekarnuffel word.
In alle erns; alle hulde aan oom Giepie Ollenwaar wat (sy hande op die sy-skof van Brutus) hierdie ras geteel het tot heil van geheel Suid-Afrika. Hierdie dier, Brutus, tweekleurig manjifiek – hierdie teelbul, rasgetrou met nageslag van bottervet … astronomies! Vleiseienskap … super prima! Kleurvastheid … van neuspunt tot midderif, van midderif tot stert – meet dit, presies om ’t ewe! Hierdie vader van die rooiswartes, geskenk – let wel – geskenk aan die gelukkige paartjie Henry en Salome Silberstein.
Applous. Applous. Applous.
Ek was teenwoordig, oom Giepie, toe Brutus … Hoeveel was dit? Agtduisend? Tienduisend rand gegaan het op die veeverkopingsvendusie van die firma Veenstra en u het geweier.
Appl. Appl. Appl.
Erns, erns, erns vir Dries met die wit lig in sy oë en die liefde in sy hart, en die malheid en die totale kranksinnigheid wat uitbundig lewe in elke skeppingsvorm. Erns vir die dinamiek, erns vir die gebrokenheid, erns vir die geduld, die wilde drome, die geluk en die ekstase. Erns vir die toeval waaroor daar nie te redeneer is nie – vir die onsekerheid, die twyfel, die ontnugtering, die frustrasie, die vlindervlug van die skeppingsdroom.
“Maar, laat ons Brutus van nader beskou, hierdie dier, hierdie …”
– met ’n handgebaar, waar die gemoed volskiet en die woorde ontbreek om die pronkstuk van teling te beskryf.
Stilte. Gedeelde stilte. En moedige herstel.
Soos u sal merk, liewe vriende, is die oppervlakte van die swart en die oppervlakte van die rooi presies dieselfde, en word die twee kleure met ’n regaf lyn presies, let wel, presies in die middel van die lyf geskei. Die swart is onbevlek swart; die rooi is onbevlek rooi. Enige kolletjie is ’n diskwalifikasie. Nie waar nie, oom Giepie?
Hy rig hom tot oom Giepie wat, arms gevou, op ’n kierie sit en hoofskuddend, ogies vernou,