Die Silberstein-trilogie. Etienne le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798167413
Скачать книгу
“Die moeilikheid is net … Hoe kan ek dit stel? Die moeilikheid is net dat die mens in sy hoogmoed nie altyd kan onderskei tussen eiebelang en die goddelike plan nie. Jy kan nie jou hande in onskuld was nie; kwaad is ’n mag wat toeneem, nie alleen in omvang nie, maar ook in vorm. Daarom is onkunde so gevaarlik. Nie ten opsigte van ’n gebrek aan kennis van die goeie nie, maar die ewe groot sonde van ’n gebrek aan kennis van die kwaad.”

      Henry toon geen teken van sy aangroeiende ongeduld nie; hy steek dit goedgemanierd weg. Hy maak egter gebruik van ’n tussenpose om opeens weer deur die teleskoop te kyk. Daar is geen teken van J.J. en die slank Mrs Silberstein nie. Hy beweeg die instrument met ’n minimale beweging regs en plaas homself binne ’n ander kamer. ’n Naakte meisie is besig om haarself in ’n spieël te bewonder. Sy strek eers haar arms sywaarts uit en loer oor haar skouer, dan laat sy haar arms sak en staan roerloos. Eenkeer kyk sy reg in Henry se rigting en hy sien haar donker oë en swart hare. Sy is so slank soos ’n nimf. Hy wil vir Jock vra of dit nie dalk Salome is nie, maar hy durf nie om welvoeglikheidsredes en ook omdat Jock besig is om ’n sin te voltooi.

      “. …n dis die tragedie van volwassenheid dat jy jou onskuld moet verloor, en eerder ten gronde moet gaan in die kwaad as om in onskuld te leef, dat jy die duiwel eers moet leer ken voor jy die poorte van die hemele kan ingaan.”

      Die wind waai nou so hard dat hulle besluit om te loop. Voordat hulle die trappies afklim, kyk hulle eers in die kolossale tenk af waar ’n meer van stookwyn op en af dein.

      Jock spoeg meteens daarin.

      “Dit maak nie saak nie,” sê hy vir Henry. “Alkohol is die beste ont­smettingsmiddel wat daar is. Maar dink net daaraan …” Hy spoeg weer. “Iemand hier en oorsee, miskien in China, Japan, Engeland of Amerika, sal ’n infinitesimale gedeeltetjie van Jock Silberstein se spoeg drink.” Hy kyk verwagtend na Henry. Henry spoeg ook. Jock slaan hom op die skouer. Hy lag hardop en sy lag verdwyn in die wind. “Dink net daaraan: die spoeg van Jock Silberstein en Henry van Eeden oor die wêreld heen versprei! Dis ’n band tussen ons, is dit nie?” En hulle begin versigtig afklim, want die wind het nou baie sterk ge­word.

      Hierdie keer loop hulle met ’n ander paadjie langs terug. Jock het meteens alle belangstelling verloor. “Ek sal vir jou môre die stokery en die kelders wys,” sê hy vir Henry. “Nou het ek lus om te gaan swem.”

      Hulle moet deur ’n denneplantasie gaan waar ’n koel pad die bos in twee verdeel. Ná ’n rukkie draai hulle af en volg ’n paadjie deur die dennenaalde na die huis. Die son is volkome verberg en die blou lug is in skrefies gekerf deur die takke wat stadig in die wind beweeg. Die mat van naalde wieg op en af as hulle loop, en ’n heerlike dennegeur styg van die verstoorde bodem op.

      “Hoe heerlik afgesonderd is dit nie,” sê Jock. Hy het sy gesig opgehef en stap met veerkragtige tred sodat Henry moeite vind om by te bly. “En hoe skaars is afsondering nie! Dis net jou badkamer, ’n enkele bos, ’n moeilik bekombare plek wat jou ’n uitvlug bied. Mens word vandag gedwing om saam met jou medemens te lewe.”

      Meteens bevind hulle hulle op die rand van die plantasie en van daar gaan hulle deur ’n graskamp waarin ’n paar Switserse stoetkoeie wei. Molshope laat hulle af en toe struikel en bemoeilik die weg. By die houtheining hoor hulle die geklap van perdepote. Henry kyk op en is net betyds om die silhoeët van ruiter en perd teen die lug te sien: die gekromde pote, die maanhare, die syagtige sweetvosvel, die slank meisietjie in ’n rybroekie, wit hemp en hoedjie waarin haar donker hare saamgevat is, haar gesiggie styf teenaan die nek van die perd. Dis asof hulle ’n oomblik in die lug huiwer, asof hulle daar geteken is – en dan land die perd op die sagte gras, struikel effens terwyl die elegante ruiter weer orent kom, en die volgende oomblik verdwyn hulle in die rigting van die bos.

      “Was dit Salome?” vra Henry.

      Jock kyk na die plek waar hulle laas ’n bewegende stippeltjie gesien het.

      “Dis moeilik om te sê. Dis moontlik Salome; dis moontlik nie sy nie. Ek het nie so goed opgelet nie.”

      Hierdie keer is hulle weer in ’n pad, digby die huis. ’n Vragmotor jaag verby en gooi hulle toe onder die stof.

      “Het jy opgelet,” sê Jock, “hulle weet nie eens wie ek is nie. Hulle ken nie die baas nie, want die baas is onsigbaar. Dink jy ek behoort ’n uniform te dra?” Hy glimlag vir Henry. “Welgevonden is ’n super-masjien en niemand is onontbeerlik nie. Ons is ’n groot organisme, ’n super-demokrasie wat tegnies perfek werk. Die enkele menslike geval het ’n kliniese begrip ge­word; die menswees is ’n abstraksie; ons werk almal as span saam in die laboratorium.” Hy plaas sy hand op Henry se skouer. “Welkom in die organisme, Henry.”

      Henry kyk op na die gesig bokant hom.

      “Maar ek voel alreeds tuis, meneer Silberstein.”

      Jock gaan ’n oomblik staan en beskou die jongman aandagtig.

      “Ek dink werklik jy is alreeds deel van die opset. Dis eienaardig hoe gou die jongmense hulle individualiteit prysgee.” Hy begin weer loop. “Jy moet net van jou onskuld ontslae raak. Jy moet eers die ware aard van die duiwel en die erfsonde behoorlik besef. In hierdie tyd moet die kennis van goed en kwaad deeglik wees. Dis nie meer so eenvoudig soos eers nie; jy moet leer om van konkrete beelde te vergeet en gewoond te raak aan die abstrakte vorm.” Hulle nader nou die tuin en baan hul weg met moeite tussen die oorhange deur. “Onthou,” sê Jock en hou ’n tak opsy sodat Henry eerste kan deurgaan, “ons belangstelling is nie meer in die enkeling en die gesig wat hy vir almal voorhou nie; dis die anonieme mensheid as geheel.” Jock sukkel om sy groot lyf deur die ruigtes te kry. Soms kan Henry hom glad nie sien nie, hy hoor net die gekraak agter hom. “Ewige waarhede word nie van tydperk tot tydperk outomaties oorgedra nie – in elke epog moet hulle van nuuts af gevind word. Daar is elke keer ’n nuwe Self en ons s’n is gesigloos.” ’n Tak breek en Jock verskyn, sy gesig rooi van vermoeienis. Maar sy stem dreun onverpoosd voort. “Daar word nie tyd verspil op die persona wat jy vir jou familie, vriende en kennisse voorhou nie. Nee, Boeta. Daar is geen illusies meer nie. Ons het van die vrug van kennis geëet die laaste dekade. Jy, ek, Salome en ons almal aanvaar die enkele persoon etiketsonthalwe, maar ons soek agter die gemeenskaplike masker. Ons vra op ’n ander manier: wie is ons?” Hy loop nou voor tot op die grasperk van waar hulle een kant van die huis kan sien. “Die nuwe era het begin. Die manjifieke enkeling lê dood op die ashoop. Die karnaval is verby!” Hy wys na die huis. “Die ou Welgevonden bestaan nie meer nie – die Welgevonden waarmee die monumentekommissie so dweep. Daar is ’n nuwe waarheid, ’n geringe deurskemering waarvan ons nou eers ’n aanduiding kry. Dis net jammer dat ek soms …” Hy bly meteens stil en skud sy hoof. “Het jy jou swemklere saamgebring? Toe, gaan trek jou aan. Ek kry jou binne vyf minute hier.”

      Toe Henry ná ’n soektog sy kamer vind, klaar sy swemklere aangetrek het en na buite gaan, kon hy Jock nie weer kry nie. Ná ’n verdere soektog ontdek hy die swembad. Dis volgens Olimpiese standaarde gebou en die water is helder blou. ’n Hele aantal meisies, effens bedek deur bikini’s, lê eenkant in die son en verkeer in verskeie stadia van oksidasie – van lig brons tot donker koper. Hy is verbaas om die twee Misses Silberstein daar te vind, skreeulelik maar, kom wat wil, ook in bikini’s.

      Hy staan ’n oomblik besluiteloos en hy voel hoe almal se oë op hom gerig is. Een van daardie groepie met die bruin hare en donker oë moet Salome wees. Hy voel dat dit tyd is dat hy een of ander toenadering tot sy beminde moet maak. Hy besluit op die enigste uitweg. Hy kyk in die rigting van die groep meisies en roep meteens: “SALOME!” Dis asof sy stem vasslaan teen die gesigte wat roerloos na hom gekeer is, asof hy teen ’n muur vasskree sodat daar nie eens ’n eggo terugkom nie, asof hy selfs nooit geskree het nie. Dis afgryslik, die stilte, en hy staan alleen terwyl ’n onbekende emosie binne-in hom huiwer op die punt van geboorte. Dan, meteens, herhaal een van die meisietjies: “S-a-1-o-m-e” en “Salome, Salome, Salome!” kom dit van mondjie tot mondjie soos lieflike klein eggo’s.

      “Waar was jy al die tyd gewees?” vra J.J.

      Onbeskaamd met sy ronde magie, met sy bikini wat in die naeltjie verdwyn, lê hy langs die