Die Silberstein-trilogie. Etienne le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798167413
Скачать книгу
lig.

      “A! Meneer Van Eeden,” sê die een. “U is seker verbaas om ons hier te sien?” Hy buig in die rigting van die takbokkie en wend hom weer tot Henry. “Maar ons van Bishopscourt is nie onbekend met die kunste nie. Wie dink u sal die skilderye koop wat hierdie jong klomp skilder as ons dit nie doen nie? Dis wel waar dat ons dikwels eers koop nadat die kunswerk as sodanig erken word, maar ons betaal in harde munt genoeg vir ons gebrek aan voorafkennis.”

      ’n Gevulde glasie sjampanje verdwyn êrens onder die snawel en verskyn weer ongevul. Twee enorme uiloë staar bewegingloos na Henry.

      “Jock Silberstein vertel egter dat u geïnteresseerd is in die begrip van goed en kwaad. Nou, ek moet sê, vir iemand van u jare het u ’n onverwagte” (hy beklemtoon die woorde) “en diepsinnige belangstelling in die menswees met al sy vertakkinge. Dit strek u tot u eer.” ’n Pouwyfie met mooi bene trek sy aandag maar verloor dit as sy op die rug van ’n leeu gelig word. “Daar is egter ’n paar ander stellings van Jock wat ek wil kritiseer en ek hoop u sal met my saamstem.”

      Henry knik en trek Salome stywer teen hom aan. Daar is niks so lekker as bedekte liefkosings in die aangesig van die konvensionele oomblik nie.

      “Volgens Jock se beskrywing van die malum as ’n ontbering strook dit met die Christelike opvatting,” sê die uil. “Kwaad is dan ’n privatio boni. Maar waar hy praat van die twee teenoorgestelde pole (goed en kwaad) wat mekaar balanseer, dwaal hy.”

      Hy beweeg sy kop na die ander uil wat aandagtig die gesprek met pie­ringoë volg.

      “Hy verwar ook die begrip,” vervolg hy, “deur té veel aan kwaad as iets positiefs te dink. Sal ’n normale mens wat die kennis het van goed en kwaad só onnosel wees om kwaad ter wille van kwaad na te jaag? Daar is ’n teorie dat Satan self, in sy verset teen God, gelykheid met die Skepper geëis het en wel dat die gewone sterwelinge hulle saligheid van hom moet kry. Hy wou die enigste bron van goed wees.”

      Henry voel hoe Salome effens van hom wegbeweeg; die glasoë van die takbokkop is in die rigting van die ander gas­te gedraai. Maar die uil se stem word nou sterker en dwing sy aandag terug.

      “Kwaad bly dus negatief volgens ons Christelike opvatting, en is geen onafwendbare teenoorgestelde pool van goed nie. Satan vorm geen deel van ’n mistieke quadratum nie.” Hy kyk na die ander uil en die twee, teen­oor mekaar, lyk soos twee opgestopte diere in ’n museum.

      Dis nou vir Henry duidelik dat Salome haar arm uit syne probeer wikkel. Hy worstel teen die onttrekking van sy beminde en is gedurig daarmee besig as die welluidende stem ’n ander deel van sy aandag gevange hou.

      “Privatio boni,” deklameer die uil, “erken die werklikheid van kwaad omdat dit van die natuurlike goedheid van God se skepping sy goedheid ontneem. Vandaar dat onkunde so gevaarlik is. Slegs in daardie mate het Jock Silber­stein reg. Origens is ek bevrees dat hy te veel positiewe eienskappe aan kwaad gee, dat hy slegs die duiwel as die bron van alle kwaad beskou en selfs insinueer dat dit deur die skadukant van God geskep is.”

      Die takbokkie het meteens van Henry losgeruk en beweeg nou vinnig tussen die menigte weg. Hy sien haar flitsende bene, die lyfie verskynend en verdwynend tussen al die ander en hy probeer haar volg, maar die uil het sy arm in ’n staalgreep vas. Hy kyk haar wanhopig agterna, hoe sy eenkeer na hom omkyk asof sy verwag dat hy haar moet volg, en hoe sy in die proses vas in die arms van ’n tier loop wat haar omhoog lig, al in die rondte met haar dans en agter ’n struik verdwyn.

      Nou het die ander uil hom ook beet.

      “Dan is daar die kwessie van onskuld en onkunde,” sê die ander uil. “In my beroep moet ons versigtig met woorde te werk gaan. Wat bedoel Jock met ‘onskuld’?”

      Die twee uile het aan weerskante van Henry besit van hom geneem. Hulle loop tot by ’n tafeltjie waar ’n paar bottels sjampanje staan. Drie glasies word teen mekaar geklink, twee glasies word onder snawels geledig, en die laaste uil, sy stem effens dof agter al die vere, hervat die gesprek.

      “Onskuldig ten opsigte van kwaad beteken dat die enkeling nie toere­keningsvatbaar is vir die kwaad in homself nie. Maar dis ’n contradictio in terminis, want die kwaad is deel van die mens. Die duiwel is slegs die eerste een wat geval het. A priori is die mens verantwoordelik en skuldig.” Hy loer na die ander uil asof hy teenkanting verwag, en gaan dan voort. “Waar dus van ’n onskuldige mens gepraat word, word eintlik ’n onkundige mens bedoel.”

      Die uil vly hom op die gras neer en die ander volg sy voorbeeld.

      “Veronderstel die mens dra nie kennis van die kwaad nie, hoe affekteer dit sy verantwoordelikheid?” Die uil oorweeg die probleem met snawel in die lug en laat sy snawel sak, denkbeeldig terug in die regbank. “Geensins nie. Gebrek aan kennis is geen verweer nie. In daardie mate het Jock reg en is onskuld (eintlik onkunde) blindheid van die gees; die mens is verantwoordelik vir sy dade.”

      Dis duidelik dat die twee uile die gesprek geniet. Hulle koppe is soms dig teen mekaar om beter te praat en te hoor, want die stemme, agter die maskers, is volkome ontliggaam.

      “Maar,” sê die uil, “onkunde ten opsigte van die goeie is terselfdertyd ’n oorsaak van die kwaad. In daardie selfde mate beteken onkunde van kwaad presies dieselfde. Onkunde verander nie die bestaan van goed of kwaad nie. Dus kan onkunde van goed en kwaad presies tot dieselfde lei.”

      Henry soek tevergeefs. Daar is allerhande vorms van bokke, maar geen takbokkie nie.

      “Kennis van goed alleen beteken onkunde van kwaad en kan tot kwaad lei. Kennis van kwaad alleen beteken onkunde van goed en kan ewe-eens tot kwaad lei. Beide kennis van goed en kwaad, om te kan onderskei, soos Jock sê, kan moontlik tot saligheid lei. Die mens, weens sy beperkte vermoë, kan slegs in ’n mate onderskei. Daar het Jock reg.” Die uil wend hom tot Henry. “Jock se sin moet wees: ‘. …n dis die tragedie van volwassenheid dat jy jou onkunde moet verloor, en eerder kennelik ten gronde moet gaan in die kwaad as om in onkunde te leef; dat jy die duiwel eers moet leer ken …’”

      Henry is seker dat hy nou die takbokkie langs die swembad gesien het; oor die uil se skouer het hy eers die silwer van haar bikini sien blink, toe het hy die vloeiende beweging van haar bene gewaar terwyl sy stadig in die rigting van die swembad beweeg.

      Hy spring meteens op, verby die versperrende hande wat na hom uit­gestrek word.

      “Waarnatoe nou?” vra die een uil. “Ek kom nou eers by ’n interessante punt: die verskil tussen ’n morele en ’n nie-morele kwaad.”

      “Miskien later,” sê Henry en hy loop vinnig weg terwyl die vier roerlose glasoë hom in die elektriese lig agternagluur.

      Stadig keer die oë na mekaar toe en skitter ewe kwaadaardig voort terwyl die filosofiese gesprek gemoedelik hervat word.

      III

      Henry is daarvan oortuig dat sy vir hom wag, want sy loop doelloos rond, en kort-kort blink haar oë in sy rigting. Hy is alreeds binne praatafstand toe ’n vrouehand hom sag en ferm van koers laat verander. ’n Kattekop, wat op groteske wyse strook met ’n slank lyf en bene, glimlag in sy gesig – ’n glimlag wat, soos die geel oë, nooit verander nie.

      “Ek wil graag met jou praat, Henry,” grinnik sy. “Kom ons gesels ’n bietjie.”

      Sy lei hom na ’n bankie langs die swembad. Terwyl hulle daar sit, kabbel die water teen die kante en klink die uitgelate stemme van die gas­te in die verte.

      “Ek wil met jou oor Salome praat,” grinnik sy. “Gee jy om? Sal jy my nie kwalik neem nie?”

      “Nee,” sê Henry.

      “Salome kla dat jy te min aandag aan haar gee,” grinnik sy. Fyn tandjies gloei spierwit aan weerskante van ’n rooi tongetjie. “Sy sê dat jy, elke keer as sy by jou is, allerhande filosofiese gesprekke met ander voer en jou nie eens die moeite troos om met haar te praat nie.”

      Sy plaas ’n slanke arm