Die boek van toeval en toeverlaat. Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen). Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen)
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798160018
Скачать книгу
is op sig ’n aantreklike man, maar bot, ongeneë om kontak van enige aard te maak. Hy moet in sy middelvyftigs wees, ongeveer Theo Verwey se ouderdom, miskien jonger. Briljant op sy vakgebied, sê Sof, met ’n smaak vir kinderpornografie. Hoe weet sy dit? vra ek. Sy trek haar skouers op: wat ook al – by Matroos of Vera gehoor, sê sy. Wat bedoel sy met wat ook al? vra ek. Of dit nou kinderpornografie of pedofiliese neigings is, sê sy, sy kennis is uitgebrei en altyd paraat. Anders as die geval met die meeste mense, is dit meesal die moeite werd om na hom te luister.

      Dit is die man wat, volgens Theo Verwey, grondiger as die woordeboek sal kan verklaar wat lewe is. (Die misterie van die lewe tot in die droesem vir my sal kan opklaar. Tot in die eerste moer, die grondsop, die oerslym.)

      Hy en Freddie Ferreira verskil vanoggend oor die geologiese tydskaal waarbinne been geëvolueer het. Sof Benadé vra hoekom been ontstaan het, wat die funksie daarvan is. Hugo Hattingh sit drie hipoteses vir die vroeë funksie van been uiteen. Dit moes onder meer as beskerming dien teen akwa­tiese roofdiere: waterskerpioene en nautilusagtige kefa­lopo­des. (Bloot die aanhoor van die woord nautilus ontstel my.)

      Matroos kom die vertrek binne. Sy naam is Johannes Tal­jaard maar almal noem hom Matroos. Waarom hy so ge­noem word, weet ek nie. Hy lyk soos Flash Gordon, soos Sam Jones in die hoofrol van die filmweergawe. ’n Strokies­prentheld, met hoë wangbene, ’n kragtige kaaklyn, blou oë met blonde, gekrulde wimpers, ’n breë bors, lang bene en smal heupe. Hy is verantwoordelik vir die museum se uitstallings. Hy is die kurator van uitstallings.

      Freddie groet hom met ’n gestileerde handgebaar in die lug, hulle is skynbaar goeie vriende. Hugo kyk net een keer vlugtig na hom, voor hy met sy gesprek voortgaan. Hy verwys na die voorkoms van endokondrale been in die uitge­storwe stekelrughaaie. Freddie verduidelik dat hulle nie egte haaie is nie, maar slegs ’n oppervlakkige oor­eenkoms met haaie toon. “Hoesit?” vra hy vir Matroos, sonder om na hom te kyk. Hy trap sy sigaretstompie onder sy hak dood.

      “Is daar nie koek vanoggend nie?” vra Matroos.

      “Hoekom sal daar wees?” vra Freddie.

      “Wat ís been?” vra Sof.

      “Been is ’n samestelling van anorganiese kalsiumfosfaat­kristalle, hidroksiapatiet en organiese kollageenweefsel. Die minerale inhoud van ’n been soos die femur van ’n soog­dier is ongeveer sewe en sestig persent. Dit verskaf rigiditeit en die kollageen bied weerstand teen druk,” sê Hugo.

      Hiervan neem ek kennis. Ook dit is waardevolle inligting.

      “Verjaar iemand nie vandag nie,” vra Matroos, “is daar nie iets wat ons kan vier nie?”

      Mevrou Dudu het ook ingekom. “Wat is jy altyd so lus vir koek?” vra sy.

      Matroos se glimlag is breed en sy tande is verbasend klein, merk ek, vir ’n man van sy lengte, van sy heroïese af­metings. Klein, opvallend vierkantig en gepoleer, soos vars­waterpêrels.

      “Mevrou Dudu hou ook van koek,” sê hy, en rek sy arms behaaglik bo sy kop. Hy dra ’n waterblou syhemp en Diesel-jeans.

      Mevrou Dudu lag guitig. Haar hare is kunstig gevleg. Dit laat my dink aan die vlegsels van wol wat ek vir myself as kind gemaak het.

      “Het die gewerweldes in see- of in varswater ontstaan?” vra Sof vir Hugo Hattingh.

      As Freddie Ferreira selde die spreker aankyk, doen Hugo dit nog minder. Hy het ’n swaar hoof – ’n forse leeuehoof – met skerpgebeitelde, diagonale vlakke. Hy is nie lank nie, maar hy maak ’n soliede indruk; kragtig in die skouers. Daar is iets strams, rigieds in sy liggaamsbewegings. Sy kortge­knipte baard is grys, sy hare donkerder, seunsagtig kort.

      Slegs een van my pa se vier broers het swart hare gehad. Ek onthou die tekstuur daarvan – dik, harde hare, soos ’n borsel, as mens jou hand daaroor sou gly. Sy stem het ’n vreemde rasperagtige klank gehad, ’n skrilheid byna. Hy het van jong seuns gehou. Dit het my ma my later vertel. Hy het in ’n rondawel gewoon in die Laeveld en hy het dinge versamel: aalwyne, klippe, dalk selfs skulpe. As kind het dit my gefassineer. Ook sy manier van praat (effens krapperig) en sy humorsin (droog, sinies, effens wispelturig) het my ge­fassineer. Hy en my ma het goed oor die weg gekom, maar as hy met ’n vriend kom kuier het, het sy onmiddellik na hulle vertrek die lakens afgestroop en gewas. Aan hom dink ek skielik vanoggend.

      Hugo Hattingh begin verduidelik dat die hoofvoorstan­ders van die varswaterteorie Alfred Romer, ’n paleontoloog, en Homer Smith, ’n nierfisioloog was, maar Freddie val hom in die rede en sê dat hierdie argumente so verouder is dat hulle nouliks meer ter sake is. Hugo Hattingh gaan egter on­gestoord voort om Romer en Smith se argumente uiteen te sit, waarop Freddie, wat steeds met sy elmboë op sy knieë na sy voete sit en kyk, sigaret in die hand, opmerk dat dit klink asof Hugo deur Romer en Smith se argumente oortuig is. Hugo Hattingh neem steeds geen kennis van Freddie se opmerkings nie en sluit sy uiteensetting af met die gevolg­trekking dat die bewyse vir ’n mariene oorsprong veel meer oortuigend as Romer en Smith se varswaterteorieë is (die teorie waarop Freddie in elk geval die hele tyd aangedring het), met as deurslaggewende bewys die fossielrekord, wat nou baie meer volledig is, en wat daarop dui dat alle be­kende fossiele uit die Kambrium en die Ordovisium ’n see-oorsprong het.

      “Nou begryp jy, nè?” sê Freddie (half spottend) vir Sof.

      “Ja, dankie,” sê Sof, “nou het ek min of meer ’n idee – ons het met groot moeite uit die see land toe gekruip.”

      “In die sweet van ons aanskyn,” sê Matroos. Ek is verras, ek het geen Bybelse verwysingsraam van hom verwag nie – ek het verkeerdelik aangeneem dat dit vir hom bloot gaan om die uiterlike: om die body beautiful en om cheap thrills.

      “Wat laat jou dink dit was so moeilik?” vra Freddie.

      “Die Bybel,” sê Sof.

      Hugo luister nie meer nie. Ek het ’n beperkte voorstelling van die aard van sy gedagtes en preokkupasies. Ek sou my graag deur ’n maneuver van die verbeelding in sy posisie wou kon plaas. Ek kan nie. Ek beny hom sy kennis. Om die drama van evolusie soos ’n film voor jou te kan sien afspeel – om dit soos ’n blom voor jou oë te sien oopvou – dit vind ek benydenswaardig. Om te weet hoe been oor miljoene jare ontwikkel het. Om intiem vertroud te wees met die oorsprong en ontstaan van lewe. Waardevolle kennis! Dit is nie vir hom genoeg nie. Hy het behoefte aan meer, aan iets anders. Die psige het ander behoeftes. Kennis is nie genoeg nie – die hart het sy eie onvoorskriftelike neigings en verlangens. Hierdie man het ’n smaak vir kinderpornografie, hy het pedofiliese verlangens, sy begeerte is na jong seuns, as dit waar is wat Sof beweer.

      Dit is nie die eerste keer dat hierdie kennis my interesseer nie, maar vir die eerste keer met so ’n nadruklikheid. Ek sit regop, by wyse van spreke, en spits my ore. Los feite, flardes kennis (onsistematies verworwe) en ’n óú belangstelling word weer lewendig. Ek wil meteens weet wat die om­stan­dighede was wat gelei het tot die ontstaan van lewe. So­doende kry ek ’n beter begrip van die mens – ’n soogdier wat hoeveel miljoen jaar gelede uit ’n gewerwelde oerouer ontwikkel het. Om die mens in hierdie konteks te sien, moet lig werp op die funksionering van bewussyn, en gevolglik op die mens se bestaansdilemma as ’n dier met ’n ontwik­kelde intelligensie en ’n bewussyn van sy eie sterflikheid. ’n Bewussyn wat, as ek reg begryp, ontwikkel het rondom ’n anus aan die een punt, ’n mond aan die ander punt, en ’n ruggraat wat die twee verbind.

      *

      Die nege skulpe wat ek teruggekry het, het ek voorlopig weg­gepak. Ek kan nog nie na hulle kyk sonder om aan die verlies van die ander herinner te word nie. Wat het van die vermiste drie en twintig geword? Waarom is hulle nie saam met die nege teruggevind nie? Lê hulle nog iewers in die vertrek waar die dooie man aangetref is? Van watter waarde kan hulle vir enigiemand wees? Is hulle iewers vir ’n appel en ’n ei verkwansel, geruil vir tabak, vir brood, vir drank, vir ’n geweer, of pryk hulle dalk in iemand se vertoonkas? Wou die persoon wat hulle geneem het hulle vir homself hou, of as geskenk gee vir sy vrou, vir sy minnares, vir sy moeder, dalk? Hoe het die dief – of diewe – geweet van die skulpe? Het hulle doelbewus ingebreek om die skulpe te steel, of het hulle toevallig daarop