“Die weë van mense is duister,” sê Sof. “My pa het altyd gegru vir die skynheilige vroomheid van sy gemeentelede. Hulle het konstant die kat in die donker geknyp. Dan moet hy die gegriefde eggenote en eggenotes pastorale begeleiding gee.”
“Dan is hulle vol goeie voornemens en volgende keer kan hulle weer hulle hande nie van mekaar afhou nie,” sê ek.
Die jong man met die ontwykende blik het intussen opgestaan en betaal. Hy het nie lank vertoef nie; sy bier is halfgedrink.
“Nou begin sy avontuur,” sê Sof, toe hy by die deur uitgaan, soos K., die koue nag in.
*
Ek slaap onrustig. Die hele nag skyn die ganglig in my oë. Ek droom van my en Felix du Randt. Ons is saam in ’n tuin. Ons het struweling. Daar is trane, maar die volgende oggend kan ek nie die presiese omstandighede van die droom onthou nie.
Ek en Sof eet ontbyt saam met sewe mans wat ’n kursus vir spoorwegbeamptes bywoon. Op elke tafel is daar kunsblomme. Die gastehuis is binne ewe prullerig as buite versier. Op ons almal se borde verskyn daar roereiers, spek, en ’n worsie so pienk soos ’n hondepeester. Die vier mans by die een tafel praat Afrikaans met ’n Suid-Sotho-aksent. Hulle velkleur wissel van Van Dyckbruin tot ’n diep bloubruin. By die ander tafel het een van die mans ’n mullet met skouerlengtehare, oorbelletjies en ’n roesbruin snor. Hy dra ’n naaswit broek, wit belt, wit sokkies en wit skoene. Die kleinste van die drie het waterige oë. “Hy het ringwurm gehad as kind, en sy broers en susters het hom afgeknou,” sê Sof onderlangs vir my. Sy drink twee Panado’s, want sy het vanoggend hoofpyn. ’n Bietjie te veel gedrink en gerook gisteraand, sê sy, en lag haar klein, verontskuldigende laggie.
Twee vroue bedien ons. Die een is lank, met ’n klein koppie en ’n breë agterstewe. Sy dra ’n styfpassende broek van ’n rekbare materiaal. Sy is geklee in skakerings van beige; die kleur van haar lipstiffie asook die kleur van haar poeieronderlaag is beige; die twee kolle op haar wangbene is ’n warm blosbruinbeige. Sy het ’n klein, besliste mondjie en haar hare, die gordyntjie plat op die voorkop, is agter haar kop opgeklits in ’n woedende, roesrooi nes. Die ander vrou is klein, ’n skugter skoonheid, haar vel gelerig van glans, haar gelaatstrekke herinner aan dié van die aanvallige vrou-meisies van jagter-versamelaars.
Ek is senuweeagtig. Ek en Sof bespreek ons plan. Dit is ’n blinde skoot, maar ons gaan dit waag.
“Dalk is dit waansinnig,” sê ek vertwyfeld.
“Nee, man,” sê Sof, “ontspan. Wat kan nou eintlik verkeerd gaan?”
“Sê nou ons beland in ’n misdadigernes?”
“Ons kyk die saak eers uit voor ons inbeweeg,” sê Sof, en kug.
Die mans gesels uitbundig. Soms roep hulle oor en weer opmerkings na mekaar, van tafel tot tafel – hierdie opmerkings is soos eggo’s wat liggies van krans tot krans kaats, met tussen die kranse ’n bosryke vallei. Teen die een muur hang ’n afdruk van ’n Andrew Baines-skildery in ’n groot, vergulde raam. Dit beeld Bloemfontein vanaf Naval Hill uit. Op die voorgrond is ’n rotsagtige heuwel wat ’n blik bied op ’n wydse plein en op ’n dorpie ver op die agtergrond. Ag, sê Sof, die verlokkinge van die grootstad. Sof, sê ek, ek vertrou daarop dat jy my vandag sal ondersteun.
*
Daar is net een Steinmeier in Ladybrand. Ek het die huisadres in die telefoongids nageslaan. Die huis is op die grens tussen die wit en gekleurde buurte, ’n onderskeid wat duidelik in hierdie dorp nog van toepassing is. Ons hou stil. ’n Ou huis, maar goed onderhou. ’n Breë rooi sementstoep, lae sandsteenstoepmuurtjies met pilare wat die stoepdak ondersteun. Die huis is – soos die meeste huise in die meer gegoede wit buurt – van okerkleurige sandsteen. Die voortuin is klein, maar netjies, die grasperkie winters verdor, en aan die sykant van die huis is daar ’n hele aantal blaarlose vrugtebome. Op die stoep is daar plante in blikke.
Ek klop.
“Fa-ak,” sê Sof sag agter my.
’n Ouerige vrou maak die deur oop. Ek groet geesdriftig, maar my hart bons hard. Sy bejeën my effens wantrouig. Sou dit Patrick se moeder wees?
Agter haar verskyn ’n jong vrou met ’n baba op haar heup. Sy herinner my aan Hazel, wat meer as twintig jaar gelede vir my ouers gewerk het. Sy was ’n lewendige jong meisie en ek onthou veral die markante op- en afwaartse intonasie van haar stem.
Ek en Sof het op vals name besluit. (Dat ons die mense so om die bos moet lei!) Ek stel myself voor as Dolly Haze, en Sof stel haarself as Anna Livia voor. (Anna Livia Plurabelle. O / tell me all about / Anna Livia! I want to hear all about Anna Livia.)
Ek vra die ouer vrou of sy mevrou Steinmeier is en sy sê ja, sy is Rosie Steinmeier en dis haar dogter Alverine, en sy beduie na die meisie agter haar wat die baba op die ander heup sit met dieselfde beweging waarmee Hazel dit twintig jaar gelede sou gedoen het. Ek sê dat ons van die Bybelgenootskap in Durban is en dat ons Patrick Steinmeier se pakkie bring wat hy by ons bestel het. (By Cum Boeke in die groot winkelkompleks naby ons het ek ’n Bybel en twee geestelike boekies gekoop. Ek het groot moeite gehad met die keuse van titels: wat is naamlik geskikte titels vir ’n dooie?) Die pakkie het ek netjies opgemaak en Patrick se naam op ’n etiket daarop geplak.
Die twee vroue wissel ’n vinnige onderlangse blik.
“Patrick Steinmeier woon nie meer hier nie,” sê Rosie Steinmeier, die ouer vrou.
“Dis vreemd, want dis die adres wat hy gegee het,” sê ek.
Weer wissel die vroue ’n vinnige blik.
“Patrick Steinmeier is onlangs oorlede,” sê die jong vrou, Alverine, en haar intonasie is soveel soos dié van Hazel indertyd dat ek ’n oomblik van algehele verwarring ervaar. (Sou dit sý wees, onveranderd, ná twintig jaar?!)
Ek sê dat ek baie jammer is om dit te hoor en vra die ouer vrou versigtig of sy die moeder van die oorledene is. Rosie Steinmeier bring haar voorskoot na haar oë en knik. Ek hoor ander stemme in die huis, agter hulle.
“Dan gee ek maar die pakkie vir u,” sê ek aarselend, “met die komplimente van die Bybelgenootskap.”
Ek weet skielik nie hoe om voort te gaan nie (dat ons die arme mense so moet bedriég), maar Sof vra oor my skouer of ons ’n oomblik mag inkom.
Die twee vroue kyk na mekaar. Woordeloos tree die ouer vrou opsy sodat ons kan binnekom. Ons betree ’n koel, skemerige gang. My hart klop onbedaarlik. Ek weet nie wat ek hier gaan aantref nie. My vier skulpe in die uitstalkabinet. Vier skulpe teen die suidewind, my swartoogvrou, my blondhaarkind. Ek het my dalk heeltemal misgis. Patrick Steinmeier het waarskynlik lank geen kontak meer met sy familie gehad nie. Dat ons onder sulke valse voorwendsels die huis moet binnekom!
Uit die gang word ons in die sitkamer gelei. Daar is donker bal-en-klou-meubels, asook ’n sitkamerstel met ’n donker, geblomde patroon, en ’n magdom ornamente en gehekelde lappies. Die gordyne is diggetrek. Op die bank en een van die leunstoele is daar twee groot opgestopte speelgoedtiere. In die halfskemer deins ek ’n oomblik terug – ek dag dis ’n hond of iets. Skrik my lam. Hart bonsend in my borskas. Teen die mure is afdrukke, sommige geraam in ornate rame. In een hoek van die vertrek is ’n blink donkerhout-vertoonkas. Ek wil nie te veel rondkyk nie, maar kan myself nouliks help. Sonder om te ooglopend te staar, neem ek elke detail van die vertrek met ’n brandende blik in.
Ek sit op die puntjie van die bank, langs die groot tier wat my dophou met sy gloeiende glasoë. Sof sit oorkant my, sedig en regop, haar bene by die enkels gekruis, onder ’n groot afdruk van ’n landskap in gloeiende sintetiese kleure, in ’n vergulde, oormatig versierde raam.
Rosie Steinmeier vra of ons ’n koppie tee wil drink, en sy sê Alverine aan om dit te gaan maak.
Ek is nou heeltemal van stryk en kan aan niks dink om te sê nie behalwe om