Die boek van toeval en toeverlaat. Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen). Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen)
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798160018
Скачать книгу
op die grond. Dokter Jekyll bondel die klere weer terug en pak die skulpe versigtig in ’n boks. Ek hou nie hiervan nie, ek hou nie van die idee dat iemand spesifiek my skulpe teiken nie – én ek is bitter ontsteld oor die verlies. Dit rus soos ’n gewig op my bors. My hart pyn daarvan. Die kanse dat ek hulle sal terugkry, is gering, ge­oordeel na konstabel Modisane se stemtoon. Die terugvind van gesteelde skulpe is in elk geval seker nie vir die polisie ’n prioriteit nie.

      Ek het behoefte daaraan om met iemand te praat, maar ek weet nie met wie nie. Ek kan my voorstel hoe my ge­wese man sou reageer as ek hom hiervan vertel. Ek kan my sy ver­oordelende stilte aan die ander kant van die lyn voor­stel. Sy effens moeisame en bestraffende asemhaling. In sy wêreld­beeld is daar heelwat sfere van hulpbehoewendheid wat voorrang bo die verlies van skulpe sal geniet. Ek wil my kind nie hiermee lastig val nie. (Verwag ek van haar, soos van haar vader, ook ’n mate van veroordeling? ’n Ongeduld met my hardnekkige vasklou aan my verlies? Sy reis lig – so­ver sy gaan, werp sy alles van haar af.) Ek wil ook nie met Frans, my minnaar en metgesel, hieroor praat nie.

      Maar my skulpe! Die papiernautilus, Argonauta argo, ver­want aan die Nautilus, ’n papieragtige dun, breekbare, glan­sende wit skulp – een van my héél mooiste skulpe, ’n skug­ter bruid! ’n Kopspelende karveeltjie op die oop see! ’n Der­tienjarige meisietjie! Die Conus betulinus, glad, spiraalgegroef om die basis, ’n swaar, sagte okerkleurige skulp, waarvan ek nog die koel gewig in my hand kan voel. Soos ek eweseer die gewig van die twee swaar Conus figulinus-skulpe voel, en die dag helder voor die oog roep waarop ek hulle in ’n dorp aan die Kaapse kus gekoop het. Die Conus marmoreus – die skulp waarvan Rembrandt ’n reeks etse gemaak het. Die twee dramatiese Murex nigritus-skulpe – ’n rare vonds, al die pad van die Golf van Kalifornië – ’n ornate wit skulp, grillig verbeeld, uitdagend, donker gestreep oor die skouerdeel, met puntige donkerbruin uitsteeksels. Die ligte Tonna variegata – delikaat soos ’n Japannese papierlantern! Die Mitra mitra, ’n swaar, koel, spiraalvormige skulp, so genoem omdat dit lyk op ’n biskopshoed (Latyn mitra van die Grieks mitra, wat tulband beteken), die grootste van die miters. Die merkies daarop is diep oranje – effens bleker in die kleiner een. Die Marginella mosaica, met rye spiraal­agtige donkergrys of bruin merkies, soos sandopdrifsels, op die bleek, melkerige oppervlak – ’n skulp waarin die tyd self sy merke in die oppervlak ingeweef het. Aan die verlies van die drie Nautilus-skulpe wil ek nie eens dink nie. Die twee kleintjies en die een grote. Twee trotse ridders en ’n konin­gin; vaandeldraers van die gestreepte blasoen; pronkerige perdjies van die diepsee! Miskien van almal die naaste aan my hart (met uitsondering van die twee bruin figulinus-konusse). Die laaste oorblywende genus van die oer-orde Nautiloidea, ’n óú skulp, glad van buite, van binne opgerol, met ses en dertig kamers, waarvan net die buitenste bewoon word.

      Hoe het die dief geweet, met watter feillose instink het hy die mooistes geneem, die mees waardevolles, dié wat my die naaste aan die hart lê? Hoe moet ek dit verklaar? Of moet ek dit nie probeer verklaar nie, maar mevrou Fortuna se wispelturige hand hierin sien?

      In my nood rig ek my tot my moeder, my vader, en veral tot Joets, my oorlede suster. Dit is nie dat ek hulle aanspreek nie, maar dat ek my gesig – smekend – in hulle rigting draai. Asof ek wil sê: Sien my. Hier is ek. Wat staan my te doen?

      Noudat ek nie meer moet rekening hou met hulle fisieke bestaan nie – met die tussenkoms van klein daaglikse verskuiwings en irritasies wat ’n verhouding kenmerk nie – kan ek my verbeel dat ek elkeen van hulle met groter helderheid sien.

      Ek het in geen tyd aan Marthinus Maritz gedink nie. Freek van As het hom weer onder my aandag gebring. My kontak met Marthinus was kortstondig, maar hy het ’n diep indruk op my gemaak, in die tyd. Hy het my in die teenwoordig­heid van my gewese minnaar, die sexy, vosrooi en verleidelik besproete Felix du Randt, die koerantredakteur Herman Holst, en Freek van As hard op albei wange geklap, maar selfs met daardie twee stewige oorveë kon hy nie daarin slaag om my tot inkeer te bring nie.

      *

      “Die man van wie jy my gister vertel het,” sê Theo Verwey die volgende dag, “jy sê hy het met sy honde gepraat. Wat het hy vir hulle gesê?”

      “Daar word net daarna verwys,” sê ek, “ek herinner my nie dat sy direkte woorde aangedui word nie. Sy apartement het mure van twee, drie verdiepings hoog, en ek stel my die honde in ’n swart marmerhok voor.”

      “Watter soort honde is dit?” vra Theo.

      “Ek kan nie onthou nie. Wit borzois dalk. Of Russiese wolf­honde. Honde wat deur sy personeel versorg word, neem ek aan. Met daardie soort geld word mense waarskynlik spesiaal in diens geneem om die honde te versorg en met hulle te gaan stap. Hoewel hulle steeds bly is om hulle baas se stem te herken. Hulle kom later in die boek weer ter sprake, wat mens laat dink dat die ryk man baie gesteld is op hierdie diere.”

      Theo Verwey kyk peinsend. Wil hy iets sê? Iets wat hy moeilik vind om te sê? Ek wag, terwyl hy ’n klompie kaarte van die lessenaar optel en hulle gelyk skud. Hy kyk nie op nie. Ek wag. Ek voel die aarseling by hom aan.

      “Die losprys vir die lewe van ’n man is sy rykdom, maar die arme hoor geen dreigement nie,” haal hy ingedagte aan. Ek wag. Was dit ’n afwysing of ’n uitnodiging tot ’n gesprek?

      Ons werk ’n rukkie in stilte voort. Vanoggend luister ons na madrigale van Monteverdi. Twee manstemme sing “In Mentre vaga angioletta” oor die mirakel van die liefde. ’n Ekstatiese verstrengeling van stemme. Die musiek maak my effens terneergedruk. “O mirakel, mirakel, mirakel,” sing die mans. Ek wonder wat Theo van hierdie ekstatiese besinging van die liefde vind. Ek kyk onderlangs na hom. Hy gee geen blyke van vervoering nie.

      “Onthou jy die digter Marthinus Maritz?” vra ek.

      “Ja,” sê Theo verbaas, “hoekom?”

      “Ek het nou die dag weer aan hom gedink,” sê ek.

      “Hy het ’n pragtige stem gehad,” sê Theo.

      Hoe kon ek dit vergeet het! Sy stem was een van sy mees onderskeidende kenmerke. Geheue is selektief. Ek het die hoë boude, die swaarderige bolyf en die donker, prominen­te, bebaarde kop onthou. Ek het die sfeer van gevaar en verydeling wat hy om hom gedra het, onthou, die wraaklustige glinstering in sy oog, maar nie sy stem nie. Waarom?

      “Ek het weer ’n roman begin skryf,” sê ek.

      “O, ja?” sê Theo.

      “Dit speel af in die veertigerjare,” sê ek.

      “Waaroor handel dit?” vra hy. Hy lyk geïnteresseerd. Of hy veins belangstelling.

      “Die buitelyne is nog onvas,” sê ek, “die verhaal is nog onbepaald.”

      (’n Jong vrou kom op ’n rooi sementstoep uit. Sy dra ’n geblomde rok. Sy is verlief. Sy staan op trou. Sy is vol af­wagting oor haar nuwe lewe wat sy tegemoetgaan. Sy wil die verdriet van die verlede agter haar laat. Sy het haar hart gesit op vervulling. Sy glo dat hierdie vervulling van die hart moontlik is. Daarmee wil sy die trane, die vertwyfeling en onsekerheid van die verlede goedmaak.)

      “Ek dink daaraan om C.M. van den Heever te herlees,” sê ek, “hoewel daar in die prosa van daardie tyd nog geen taal vir emosionele verwikkeldheid en nuansering bestaan nie.” Ek merk hoe groot sy oë agter die brillense is. Hy staan stil, kyk voor hom, die pakkie kaarte lossies in sy hande. Hy dink na.

      “Nee,” sê hy, “jy is reg. Jy gaan in die vroeë prosa nie teëkom wat jy soek nie.” Ons word onderbreek deur ’n ligte kloppie aan die deur.

      Sy vrou maak die deur agter haar toe. Sy is mooi. Dit is al­tyd die eerste feit om by haar intrede te konstateer. Sy is ook ’n suksesvolle besigheidsvrou, en selfingenome. Sy het ’n madonna-agtige skoonheid – fyn gelaatstrekke, groot, hel­der oë, aanvallige krulle, en klein, skerp tandjies (soogdieragtig skerp). Maar vanoggend tel ek onmiddellik by haar binne­koms in haar nabyheid (spoor, kielwater) ’n effens onaangename, vroulike reuk op, geassosieer met menstruasie. Sou die vrou nie let op persoonlike higiëne nie? Iemand in haar prominente openbare posisie? Ek merk dat ek bloos, nie om haar onthalwe nie, maar om Theo Verwey s’n. Ek is