Die boek van toeval en toeverlaat. Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen). Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen)
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798160018
Скачать книгу
skuldig gemaak het. Dit is ’n man van wie die wil – of die deugdelike impuls – die aptyt, die plesiersoekende instansie, deeglik in toom hou. So lees ek hom. Ek mag verkeerd wees.

      *

      Vrydagmiddag vertrek ek en Sof na Ladybrand. Die landskap waardeur ons ry is van ongewone skoonheid, maar ek is af­gelei en neem nie veel in nie. Uit die hoek van my oog sien ek die goddelike winterse populiere, die gedempte, rokerige oker velde en die mistige dale verbyflits, ek sien die skake­rings van oker en pienk-oker in die bergkranse, maar die skoonheid laat geen blywende indruk nie. Ek is senu­wee­agtig, want ek het ’n plan en miskien is dit ’n verspotte plan. Ek het ’n adres van die enigste Steinmeiers in die dorp, en ek is van voorneme om môre besoek by hierdie mense af te lê. Ek weet nie wat ek daar sal aantref nie.

      Ons gaan tuis in ’n gastehuis in die dorp – ’n oordadig getierlantynde maar basies onaantreklike dorpshuis. Ons eet die aand in ’n Italiaanse restaurant-pizzeria. Dit is binne-­in soos ’n Romeinse villa versier – ofte wel die eienaar se idee van so ’n villa. Daar is geskilderde fonteine, ge­skil­derde beel­de en ’n geskilderde weggetrekte gordyn met ’n blik op ’n Italiaanse tuin met sipresse. Aan die tafel langs ons sit ses Sjinese mans. Hulle verorber woordeloos hulle kos. “Ses Sji­nese eet tesame,” sê Sof. Sy leun vorentoe en sê sag: “Dit sal my niks verbaas as dit die Sjinese mafia is nie, hulle is glo baie aktief hier en in Lesotho. Hulle het dalk iets met die verdwyning van jou skulpe te doen.” Dankie, sê ek, ek hou dit in gedagte. Onderlangs hou ek die mans nou met selfs groter misnoeë dop. Toe hulle klaar geëet het, kom die personeel met ’n koek met brandende kersies te voorskyn. Al­mal wens Charlie, een van die mans, geluk, die koek word gesny en ewe woordeloos verorber as die hoofmaaltyd. Na afloop word die reste daarvan na die kombuis teruggestuur.

      Wat weet ek nou éintlik van Sofia Benadé, wonder ek ty­dens die maal, behalwe dat sy in ’n pastorie grootgeword het, dat sy getroud is, tweelingseuntjies het, en dat sy jaarliks op Die Kerkblad ingeteken is. Ons is nog besig om ’n manier te vind om met mekaar oor die weg te kom. Maar vanaand is ek uit ewewig. My aandag is elders. Ek span my nie in om gedeelde terrein te vind nie; ek probeer nie be­sonder hard om ’n verstandhouding te bewerkstellig nie. Sy laat haar dit skynbaar welgeval (sy maak op my die indruk van iemand wat haar nie te veel teen omstandighede verset nie). Sy drink haar wyn en rook haar sigarette en hou die mense dop.

      Na afloop van ons maal sê Sof nou gaan ons die naglewe van Ladybrand verken. Ek dink: as Sof ’n duidelike idee het van wat ons moet doen, dan neem ek op my beurt genoeë daarmee. Dit is koud buite. ’n Bytende koue, en die nag­hemel is hoog en wyd. Hier is veel meer sterre as in die stad waar ons vandaan kom. Ons stap met ’n paar verskillende strate op en af in die bykans verlate dorp, totdat ons by ’n kafee met die naam Die Rooi Lantern, skuinsoor die Spar, kom. Die binnekant is rooi verlig en voor die venster hang ’n bruin kralegordyn.

      “Dit lyk na ’n skaflike plekkie,” sê Sof.

      Binne is ’n paar tafeltjies en ’n kroegtoonbank met uitgebreide rottangwerk en rottangkroegstoeltjies. Die plek is nog halfvol.

      “Oordag vergader die plaaslike tak van die Vroue-Land­bouvereniging hier,” sê Sof.

      ’n Kelnerin met hoogs geronde dye in ’n styfpassende broek neem ons bestelling. Vir eers is dit warm en weldadig hier binne. Ek kyk rond. By een van die tafeltjies sit ’n man en ’n vrou, by die res van die tafeltjies sit meesal jongmense.

      “Hulle werk almal in die bank,” sê Sof.

      ’n Man en ’n vrou kom in. ’n Ordentlike paartjie, karakter­vas en welopgevoed. Die vrou het kort, donker hare waar­aan sy selfbewus vat. Die man stuur haar liggies met sy hand op haar rug na hulle tafeltjie in die hoek.

      “Die prokureur met die Latyn-onderwyser se vrou,” sê Sof, “hulle het mekaar by die tennisklub ontmoet.”

      “Waar is haar man vanaand?” vra ek.

      “Hy sien opstelle na,” sê Sof. “Hulle het twee seuns. Die oudste is stil en ernstig en die jongste het bleekgroen oë en te veel energie.”

      Die kelnerin met die geronde dye vra: “You girls still okay?”

      “Ons is waxed, sista,” sê Sof, en gee ’n klein kuggie.

      “En die prokureursvrou?” vra ek.

      “Sy het hoofpyn vanaand, maar dis net ’n verskoning, want sy hoop die magistraat sal in haar man se afwesigheid langs kom. Hulle het twee dogtertjies, twee dun, bleek meisietjies.”

      Geleidelik vul die plek op. Die musiek begin. Donna Sum­mer sing ’n ou treffer: “Hot Stuff”. Ek sien hoe Sof se mond woordeloos die woorde agterna vorm. “Hot stuff. I want some hot stuff baby tonight.” Haar uitdrukking verraai niks, net haar mond vorm die woorde. Ook die woorde van die volgende lied sing sy sag saam. “I will survive,” sing sy woor­deloos. Sy maak die kleinste, allerkleinste beweginkies met haar skouers. ’n Koel klant, Sof, al noem sy haarself ’n deluded doos. Ons bestel nog wyn.

      ’n Skraal jong man met kortgeskeerde, krullerige hare, be­sonder donker wenkbroue, intense oë en ’n ontwykende blik kom binne. Hy lyk nie op sy gemak nie. Hy gaan by ’n tafeltjie in die hoek sit. Hy bestel ’n bier. By hom het hy ’n donkerblou sportsak. Hy kyk kort-kort op sy horlosie. Dit lyk of hy op iemand wag. Hy haal ’n klein boekie uit die sak en maak daarin ’n aantekening. Hy bêre die boekie en kyk weer op sy horlosie. Hy kyk ’n tyd lank onrustig om hom rond. Dan haal hy weer die boekie uit en skryf iets daarin.

      “Nog nie geleer om ’n pen behoorlik vas te hou nie,” sê Sof.

      Ek hou die jong man onderlangs dop. Daar is iets in sy ge­sig wat my dwing om na hom te kyk. Veral die oë is inte­res­sant – hy wil-wil soetskeel wees. Die gesig kan na een van twee kante gaan: na onderduimsheid of na ondeundheid. Sy baard en snor is ylerig – nog nie heeltemal gevestig nie: don­ker melkbaard. ’n Aantreklike jong man, as mens hom sou kon vertrou, as daar nie iets so geagiteers was aan sy manier nie.

      “Die kêreltjie ly duidelik aan aandaggebreksindroom,” sê Sof, wat hom ook dopgehou het. “’n Kursus Ritalin sal geen kwaad doen nie.”

      “Of hy ly aan ’n slegte gewete,” sê ek.

      “Es war spätabends,” haal Sof aan, “als K. ankam. Das Dorf lag in tiefem Schnee. Vom Schlossberg war nichts zu sehen, Nebel und Finsternis umgaben ihn, auch nicht der schwächste Lichtschein deutete das grosse Schloss an.”

      “Dink jy Kafka het so ’n liggewig, skigtige jong mannetjie in gedagte gehad?” vra ek.

      “Waarskynlik nie,” sê Sof, “maar dis die Afrika-weergawe van K. dié.”

      “Nat agter die ore en van gemengde afkoms?”

      “Waarom nie.”

      “Eintlik moes die storie vir die arme K. daar geëindig het,” sê ek.

      “Op vyftien het ek Kafka liefgehad,” sê Sof. “Ek het ’n bio­grafie oor hom gelees en diep getreur toe hy dood is.”

      “Dit kan ek goed begryp,” sê ek.

      Die Latynonderwyser se vrou staan op om na die toilet, agter ’n tweede kralegordyn, te gaan. Die prokureur bel op sy selfoon.

      “Ek onthou vriende van my ouers toe ek klein was,” sê ek, “hulle het op dieselfde klein dorpie as my ouma-hulle ge­woon. Die man was ’n Afrikaans-onderwyser. Hy het mooi foto’s geneem. Ons het soms saam met hulle langs die Suid­kus gaan vakansie hou. Hulle was bevriend met die Dippe­naars. Hulle het saam tennis gespeel. Ek het vakansies met die Dippenaars se twee dogtertjies gespeel: Engela en Moet­sie. Later blyk dit toe dat meneer Truter, die onderwyser, jare lank ’n verhouding gehad het met mevrou Dippenaar. Nou onthou ek mevrou Dippenaar nie as ’n baie aantreklike vrou nie. Haar bene was bietjie harig en het effens te ver uitmekaar gesit. Mevrou Truter, Santie, daarenteen, was ’n baie mooi vrou. Sy was ook ’n lewensgenieter. Wat het haar man in die arms van die onaansienlike mevrou Dippenaar ge­dryf? Ek kan dit steeds nie