Die boek van toeval en toeverlaat. Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen). Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen)
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798160018
Скачать книгу
saam tee drink. Ek hou van hulle ge­sprek­ke; dit interesseer my. Ek is leksikograaf van beroep (hoewel nie van aanvanklike opleiding nie) en het in my loopbaan nie soveel van hierdie soort blootstelling aan die wetenskap gehad nie, hoewel ek nog altyd ’n belangstelling daarin gehad het.

      Die teekamer is ’n kleinerige vertrek. Teen die een muur is bokse opgestapel; daar is die reuk van beendere. Daar is ’n tafel met ’n ketel en koppies. Ou leunstoele is in ’n wye kring om ’n plat koffietafeltjie gerangskik. Freddie Ferreira is van­oggend hier, en Vera Garaszczuk, en mevrou Dudu. ’n Rukkie later daag Sof Benadé, Matroos en Nathi Gule ook op. Jare lank was ek ongeërg oor die dood, nou is ek ineens weer daarmee behep. Die woord behep is afkomstig van die Nederlandse behept, van die Middelnederlandse behachten, of beheept (waar­van die herkoms onseker is), in die sin van opgeskeep met, of gekwel deur. So het Theo Verwey dit aan my uitgelê.

      Hoofstuk 3

      Ons gaan voort met die letter D. Dit is die begin van Junie. Die obsessiewe, bykans perverse somerse getier raak minder. Soos iemand wat aan die einde van ’n maniese episode kom. ’n Paradyslike vredigheid sak toe. Dit raak koeler, hier en daar val selfs ’n blaar. Die poinsettias begin blom. Sedert die middel van Mei is daar reeds ’n versadiging in die lug, soggens vroeg en saans word die kleure dieper en ryker. Die aarde word geuriger. Heelwat ander plante blom ook in die herfstuin van my huisbaas. Dit is anders as die herfs en naderende winter soos ek dit ken. Die somer se bedreigende weligheid word afgelê soos ’n psigiese aantasting; daar is ’n nuwe voorneme van gevoeglikheid in die lug. Daar is die belofte van inkeer en rypheid. Selfs in hierdie provinsie, waar mens dit nie verwag nie.

      Theo Verwey sit vanoggend agteroor in sy stoel gebalan­seer. Moenie, wil ek sê, jy sal agteroor val. Ek het hom nog nooit vantevore so sien sit nie. Hy is diep in gedagte. Sy handpalms is dig teenmekaar en sy wysvingers rus teen sy mond. Hou hy vanoggend ’n wag voor sy mond? Wil iets uitglip? Hy is nie dié soort man nie. Ek lees hom nie so nie. Al gee ek toe dat ek hom nie goed lees nie.

      Ek sit met die dik pak kaarte in my hand, die woordeboeke oop voor my. Die boonste kaart in die pak is da. Die laaste kaart is dyvelaar. Tussenin is al die kaarte met doods­verbindings.

      “Da,” sê ek, “vanwaar kom dit?”

      “Da, of dè, is waarskynlik ’n verkorting van daar en is die eerste keer in Afrikaans deur Pannevis opgeteken as deh en in die Patriotwoordeboek as dé.”

      “Dyvelaar,” sê ek (tergerig), “soos in twyfelaar?”

      “Dy-vel-aar, of te wel, dyhuidaar.”

      “Waar sou hierdie dyhuidaar loop?” vra ek. “Die dyvel­aar.”

      “Dis ’n aar aan die onderbeen, die vena saphena,” sê hy, “nie te verwar met die dybeenslagaar nie, of die dyslagaar, die arteria femoralis nie.”

      “Wat sou die dermbeen wees? En die dermbeendoring,” vra ek.

      “Die dermbeen is die boonste, plat gedeelte van die heup­been, die ilium, en die dermbeendoring is enigeen van die puntige uitsteeksels aan die dermbeen.”

      “Dermbeendoring,” sê ek. Ek herhaal dit ’n paar keer om die ongewone opeenvolging van klanke in my mond te voel.

      Ons luister nog steeds na madrigale van Monteverdi, uitgevoer op historiese instrumente: Madrigali guerrieri et amorosi uitgevoer deur die Taverner Consort Players, ge­diri­geer deur Andrew Parrott. Dit is nie my gunsteling Monte­verdi-musiek nie, maar ek maak nie beswaar nie. Die volgende snit is wel wonderskoon, en ons luister in stilte daarna. “Su pastorelli vezzosi. Su, su, su, fonticelli loquaci.” (Ont­waak, babbelende fonteine.)

      Theo leun agteroor in sy stoel, sy hande agter sy kop, en dit moet die uitwerking van die musiek wees, want ek raak onverwags oorval – oorspoel, oorrompel – van ’n seksuele ontvanklikheid teenoor hom soos ek nog nie vantevore ervaar het nie. Die sensasie is so intens dat ek effens naar voel en moet vooroorbuig. Die hemel behoed my, dink ek, ek sou my hande onder sy hemp kon ingly, oor die borskas, en in die okselholtes laat nestel.

      Dit neem ’n tydjie voor ek my konsentrasie herwin. Ek blaai verder deur die oop woordeboek op my skoot. Ek lees die omskrywings van dood en lewe. Vanoggend het ek op­gestaan met ’n verhoogde gevoel van sterflikheid. Die sagte okselholtes, die kragtige manlike maag, die teer lies en wreef van die voet. Hoe sou dit wees, die seksuele liefde met hierdie man? Ek het Theo Verwey ’n dag of twee gelede vertel van die hartstogtelike ontmoeting tussen die man en sy vrou aan die einde van die boek. Ek het genoem dat hulle op staande voet verkeer. Ek het vertel dat sy haar bene om sy lyf geslaan het, maar wel nagelaat om te sê hoe driftig sy hom gesoen het. In die vroegoggend het ek gedroom van ’n verleier. Iemand wat uitsluitlik en obsessief op my gerig was. Ek het geaarsel omdat daar iets bedreigends in die man se attensies was. In die sagte, saamgeperste ruimte van die droom het hy hom met aanmatigende vrypostigheid aan my opgedring en hy was van ’n gloed omgewe. Ek het opge­staan en te gou het die inhoud en stemming van die droom my ontglip.

      Vanoggend is ek geneig om te dink dit is die dood wat gisteraand so met my geflankeer en geflikflooi het. Waarom nie? Sou ek die dood nie op dié manier in my onbewuste kon inklee nie?

      Hoe dood en lewe in die woordeboeke omskryf word, sê my min. As kind het ek dikwels lank sit en kyk na dooie insekte. Of ek sou ’n mier doodmaak om te sien wat dit is wat ek beëindig het. Ek sien nou dat ek die geheim van lewe met my kinderverstand probeer deurvors het.

      “Het jy ’n duidelike idee van wat lewe is, van hoe dit ontstaan het?” vra ek vir Theo.

      “Dit moet jy vir Hugo Hattingh vra,” sê Theo.

      “Sal hy weet?”

      “Hy sal weet, neem ek aan. Hy behoort te weet hoe die eerste lewe ontstaan het.”

      “Hoe ’n soort man is hy?” vra ek.

      Theo Verwey maak ’n vreemde kop-en-skouer-gebaar. Ontkennend, afwysend, geringskattend? Ek kan nie sê nie.

      “Ek ken hom nie,” sê Theo. “Het jy al die kaarte alfabeties begin rangskik?” vra hy.

      Nee, ek het nie. Ek kyk deur die stapeltjie kaarte in my hand. Doodaf, doodbabbel, doodjakker, doodlukas.

      “Doodlukas?”

      “Gewestelik. Doodonskuldig.”

      “Mooi,” sê ek.

      Doodluters as variasie van doodluiters, lees ek, doodmoor, doodsjordaan, doodsmare, doodswind, doodswym, dood­boek, doodbaar, doodbus, dooddag, doodeens, doodellendig, doodflikker, doodgaan-en-weer-opstaan, dood­gaan­skaap, dood­gaanvleis, doodgeboorte, doodgegooi, dood­geld, doodgetroos (gelate), doodgewaan, doodgooier, dood­grawer, doodhouergoggatjie, doodhoumetode.”

      “Dit hou nooit op nie,” sê ek, “die doodsverbindings.”

      “Daar’s mooi dinge daar,” sê Theo, “doodhoumetode – waarby die voorkoms van die dood nageboots word, jy weet, deur ’n slang, of ’n goggatjie; doodgegooi – baie verlief; doodkiskop – die kopvorm wat kenmerkend is van die Afrikanerbees; doodskloppertjie; doodtrapper; doodvalsiekte vir vallende siekte. Om maar ’n paar te noem. Soveel van hierdie vorms het verlore gegaan.”

      “Die wêreld verander,” sê ek. “Ons gaan nie meer op dieselfde intieme manier met die dood om nie. Ek het nog nooit ’n doodsmare ontvang nie. Of die doodswind voel waai nie. Ek ril trouens effens by die gedagte.”

      Theo lag effens. “Doodswind, ja. ’n Onaangename ge­dagte.”

      “’n Onwelvoeglike gedagte,” sê ek. Hy glimlag.

      Ek kyk verder deur die kaarte in my hand. Doodkis­be­slag, doodkiskleed, doodkiskop, doodkisvoete, doodknies, doodlallie.

      “Doodlallie!” sê ek. “Waar kom dit vandaan?”

      “’n Gewestelike woord.”

      Ek bepaal my weer by die kaarte. Doodloopgroef, doodloper, doodnegeer, doodop.