Bloedwater. Douwleen Bredenhann. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Douwleen Bredenhann
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798155588
Скачать книгу
kant moet los om te gaan nie.”

      “Sou jy gekom het as dit kanker was?” verander hy van taktiek.

      “Dis ’n onbillike vraag. Jy sê mos dis nie kanker nie,” skerm sy. Toe kom ’n ander moontlikheid by haar op. “Het sy vigs? En moenie vir my lieg nie!”

      “Nee, dis nie vigs nie. Jy het my nog nie geantwoord nie. Sou jy gekom het as dit kanker was?”

      Sou die man hom verbeel het hy hoor ’n bietjie empatie in haar stem toe sy gevra het of Marlinda kanker het? Wel, hy het ’n fout gemaak. “Ek weet nie, maar jy het dan klaar gesê dis nie kanker nie, so ek gaan nie daarop antwoord nie. Ná wat in die verlede gebeur het, dink ek nie enigiets onder die son sal my oorreed om te gaan as dit om Marlinda se onthalwe is nie. Ek glo ook nie sy sal dit van my verwag nie. Nee, ek kan nie vir haar gaan sussie-sussie speel nie. En jy van alle mense behoort dit te verstaan.”

      “Natuurlik verstaan ek dit, en glo my, ek wens dit was nie nou nodig om hieroor te praat nie. Maar ek is ’n dokter, Adriana, en ek sien daagliks baie ellende. Hoe mense wat dit nooit sal erken nie hul vrees vir die onvermydelike probeer ignoreer en hoop dit sal só weggaan. Marlinda se probleme gaan met of sonder hulp nie net verdwyn nie. Asseblief?”

      Dit vang haar dat hy so knaend is. Hy verstaan nie wat beteken nee nie en behoort hom te skaam om so aan te hou. Hoe gaan sy hierdie gesprek afgesluit kry?

      “Jammer, ek kan of wil jou nie help nie. Jy sou ook nie as jy ek was nie. Ek sal in die Kerstyd my ma kom groet, maar ek wil Marlinda nie sien nie. Sy mag nie weet dat ek daar gaan wees nie. Sê my nou, wat is fout met haar? Dit klink of dit omtrent ’n staatsgeheim is, of in elk geval ’n sosiaal onaanvaarbare toestand. Is dit regtig nie vigs nie?” Nou is sy feitlik seker dit is vigs. Dit is die een siekte waaroor niemand eintlik kans sien om te praat nie.

      “Dit word laat, Adriana. Ek gaan nie herhaal wat ek gesê het nie. Dit is nie vigs nie, dit kan ek jou verseker. As jy van plan is om jou ma te kom besoek, kan jy mos netsowel vroeër kom en dit dan ook in daardie tyd afhandel.”

      “Hierdie hele besigheid klink vir my verdag. Jy verwag ek moet allerhande planne maak en vroeër gaan, terwyl ek niks van die aard sal oorweeg voordat ek nie ten minste weet wat is Marlinda se probleem nie.”

      “Wel, ek kan jou nie sê wat Marlinda makeer nie. Nie voor jy kom nie. Ek besef ek het geen reg om dit van jou te vra nie, maar ek kan nie anders nie. Vertrou my, asseblief, al gaan dit lynreg in teen wat vir jou logies klink.”

      Sy kan nie glo hoe sy stem verander het nie.

      “Ek kan nie eens vra dat jy dit om enigiemand se onthalwe moet doen nie. Dis nie direk vir haar of indirek vir my nie, dis … soos wanneer jy ’n dier … ’n hond … uit menslikheid moet doodskiet omdat jy weet daar is eintlik nie iets anders wat jy kan doen nie. Dis amper so iets wat ek van jou vra, Adriana.”

      Sy stem het so sag geraak en slaan so deur dat sy byna nie alles kon hoor nie.

      Die stilte hang tussen hulle soos wanneer die vangnet onder sweefstokartieste weggeneem word en die gehoor weet nou is dit ernstige sake. Sy vermoed hy huil daar aan die ander kant. ’n Dier? As hy so ’n vergelyking gebruik, moet daar iets vreesliks verkeerd wees met Marlinda.

      Sy onthou die keer op die plaas toe oupa Adriaan die koei wat in barensnood was, moes skiet omdat daar nie meer ’n ander uitweg was nie. Hoe sy gehuil het. Hoe Marlinda gehuil het. Hoe hulle mekaar vasgegryp en Marlintjies histeries aan haar bly klou het. Dit was moeilik om vir haar sesjarige sussie te probeer verduidelik dat hulp en ’n doodskoot soms blykbaar een en dieselfde ding is.

      “Dria, sê vir Oupa hy moenie, sê hy moet Melkblom nie skiet nie, dalk kan sy nog die kalfie uitkry!” het Marlinda by haar ousus gepleit.

      Maar die ousus het net so min sê gehad in die saak as sy. Oupa het hulle die huis in gestuur en sy en Marlinda het vingers in die ore onder hulle beddens gaan lê. Die skoot het oor die werf weerklink en teruggekring tot onder die beddens in. Hulle het seker nog ’n halfuur lank daar gelê. Dit was so stil dat sy gedink het Marlinda het aan die slaap geraak.

      “As liewe Jesus plek vir kinders maak,” het Marlinda ná ’n ruk vir haar gefluister, “sal Hy darem seker ’n kalfie ook vat, en ’n koei?” Sy het drie dae lank oor Melkblom gehuil en met niemand gepraat nie.

      Adriana besef sy moet iets sê, al sal dit beteken die stilte gaan disintegreer. Dit sal nou eers moet breek. “Woudstra, ek weet eerlikwaar nie wat om te sê nie. Ek SMS vir jou my e-posadres. Stuur die datums en ander besonderhede aan. Ek kan niks belowe nie, maar ek sal daaroor dink.” Nou het sy haar verbind tot ’n antwoord op skrif.

      “Dankie, Adriana, ek stuur dit sodra ek jou SMS ontvang het. Ek moet binnekort vertrek, oor omtrent twee weke. Baie dankie, ek waardeer dit dat jy geluister het.”

      Mens sê nie vir iemand goeie nag ná ’n gesprek wat die normaliteit van ’n deursneenag uitgevee het nie. Albei weet die res van die nag gaan een wees waarin min geslaap en baie gedink word, op verskillende vlakke. Die verlede en die hede moet in oënskou geneem en teen mekaar opgeweeg word. Antwoorde moet gesoek en deurdink word. Besluite moet geneem en oorgedra word. En daarna aanvaar en gerespekteer word, ongeag waarop besluit is.

      Terwyl sy met die haardroër besig is, wonder Adriana of daar toe plek in die hemel was vir Melkblom en haar kalf. En oor die kwessie van bloedbande. Vir hoeveel jare al glo sy dat sover dit haar familie aangaan, bloed nie dikker as water is nie. En plotseling, ná een telefoongesprek, is sy nou nie meer so oortuig daarvan nie. Waarom anders oorweeg sy dit hoegenaamd om oor Woudstra se versoek na te dink? Miskien moet sy eerder daaraan dink om haar kop te laat lees.

      Wat sê sy? Wat doen sy?

      Die wêreld kan meer as een keer verskuif. Dit gebeur al millennia lank. Maar soms verloor die wêreld beheer oor sy baan en donder met soveel mag en mening onderstebo dat niemand weet of hulle kom of gaan nie.

      Soms gebeur dit in iemand se binneleefwêreld ook. Daar waar oë nie kan sien nie, maar mens soms in ’n stem wat wegraak iets hoor wat jou laat oorweeg om van koers te verander. Al het jy jouself belowe om nooit weer toe te laat dat dit met jou gebeur nie.

      7

      Die e-pos land met dieselfde “dieng-dong” as elke ander boodskap. Haar ruggraat trek so styf dat sy wonder of daar fout is met haar rekenaarstoel. Ja, daar staan Woudstra se naam langs die geel koevertjie op die rekenaarskerm. Op die oog af onskuldig, net soos party van die e-posse wat met ’n ingeboude virus hier aankom. Soms waarsku haar instink dat sy ’n boodskap liewer nie moet oopmaak nie, ander kere nie. Hoe gemaak as sy weet ’n e-pos bevat nie ’n virus nie, maar ander inligting wat ook gevaarlik kan wees? Hoe verhoed sy betrokkenheid as sy nie weet waar dit gaan begin of eindig nie?

      From: Woudstra Bosman

      Sent: Thursday, 22 October, 2009 23:45

      To: Adriana Coetzer

      Subject: Moontlike besoek: datums en besonderhede

      Beste Adriana

      Wat ’n verligting dat ek uiteindelik met jou kon praat. Ek weet hierdie versoek maak nie vir jou sin nie. Ongelukkig het die een persoon op wie ek staatgemaak het om Marlinda te versorg laat weet dat sy nie meer alleen daarvoor kans sien nie.

      Dis te verstane dat, as jy sou besluit om hierheen te kom, dit vir jou man net so ’n groot opoffering sal wees.

      Ek moet van 9 tot 11 November in Londen wees vir seminare oor narkose wat ek nie kan bekostig om mis te loop nie. Ek vertrek op 7 November en is op die 13de weer terug. As jy op 4 November vlieg, kan jy darem uitrus en vertroud raak met die omstandighede hier voordat ek weggaan. Jy kan dan op die 14de weer teruggaan met die vroeë oggendvlug van hier af. Volgens die internet is daar nog plek beskikbaar vir daardie datums, maar dit sal so gou moontlik bespreek moet word.

      Ek betaal vanselfsprekend jou vliegtuigkaartjie en enige inkomste wat jy in jou afwesigheid sal verloor. As jy ’n kosteberaming en jou bankbesonderhede aanstuur, plaas ek die geld oor na jou