’n Kêrel was ’n noodsaaklikheid. Sonder een was ’n meisie niks.
Omdat sy nie meegedoen het aan die gewaande volwassenheid nie, is Adriana grootliks deur die populêre vriendskapklieks uitgeskuif en geïgnoreer. Dit het haar geensins gepla nie. Sy was tevrede met die merietesertifikate vir haar akademie en sportprestasies en om een van net ’n paar kinders te wees wat provinsiale kleure in atletiek en tennis kon verwerf.
Die ander meisies was nie juis jaloers op haar nie want sy het geen bedreiging ingehou vir hul mededinging om die aantreklikste ouens in die skool nie. Hul houding het begin verander toe Woud in haar standerd 8-jaar belangstelling in haar begin toon. Hy was in matriek en self ’n slimkop wat medies wou studeer. In teenstelling met haar, was hy die volledige pakket waaroor die meisies mekaar wou teer en veer. Hy was lank, en sy ligte hare en donkerbruin oë het die eyeshadowbrigade tot raserny gedryf. Langs die rugbyveld het meisies elke beweging en balhanteerslag van die kaptein toegejuig, hoewel die meeste van hulle maar min van rugby af geweet het. Woudstra Bosman was die eerste prys.
In die derde kwartaal het hy almal verras deur ná nog ’n kortstondige verhouding vir Adriana te begin uitvra. Die madams wat die skool regeer het, kon nie verstaan hoe hy in die vaal meisiekind belangstel nie en was so jaloers dat hulle iets kon oorkom. Sy is deur haar lojale vriendinne, Gerrida en Mara-Louise, op die hoogte gehou van die katterigheid agter haar rug: slim Adriana wat so stuck-up is. Vaalgevreet Adriana. Seunsdom Adriana wat moes pasop dat Woud haar nie op die paal sit in haar oningeligtheid nie.
Die gifbekke het nie geweet sy was net so verbaas soos hulle dat die eerste seun wat in haar rigting gekyk het nogal Woudstra was nie. Sy was bang dat sy net ’n uitdaging was wat oorrompel moes word en kort daarna weer eenkant toe geskuif sou word. Aan die begin van die verhouding was haar senuwees op, want sy het gedurig gewonder of daar ’n volgende kuier sou wees.
“Woud,” het sy op ’n dag vir hom gevra, “jy moet darem seker ’n idee hê van die uitwerking wat jy op meisies het, en jy kan enigeen kry. Hoekom hou jy nou juis van my?” Sy wou nog wonder of hy gaan stotter, toe antwoord hy al.
“Jy is anders as die wandelende paintpotte waarmee ek voor jou uitgegaan het. Daai klomp stel eintlik net in hulself belang. Jy weet wat gaan aan in die nuus en dis lekker om met jou oor allerhande goed te kan gesels.” Hy het vir ’n oomblik stilgebly en toe ondeund vir haar geknipoog. “En met só ’n paar bene mag jy natuurlik enige tyd op jou hande loop!”
Oombliklik het sy haarself gesien met haar hande in ’n paar skoene geanker – rok oor die kop – hulpeloos uitgelewer aan wie ook al wou kyk. Haar kopvel het aan die brand geslaan en sy kon nie glo dat enige mens vir so lank so hewig kon bloos nie. Die kompliment het haar ook daaraan herinner dat behalwe vir die kleintydse babatekeninge, haar bene die enigste deel van haar liggaam is waarvan haar ma entoesiasties sketse gemaak het. Dosyne beensketse, as anatomiese voorbereidingsketse vir figuurstudies.
Kom, hou dit net so. H’m, h’m, jy beweeg te veel; hou stil jou bene, was van die instruksies wat sy gereeld gekry het. Sy het later presies geweet watter posisie sy moet inneem, maar wat ’n vervelige besigheid was dit nie om so stil te moes sit nie! Party keer het sy aspris beweeg in die hoop dat haar ma gouer keelvol sou raak en haar laat gaan.
Dit sou nie die waarheid wees om te sê dit was sleg om haar bene in skilderye te eien nie. Maar die genoegdoening het verflou wanneer die gelaatstrekke en gesigvorm in dieselfde skildery meestal dié van haar jonger sussie was. Aangepas sodat sy ’n paar jaar ouer kan lyk. Adriana kon tot geen ander gevolgtrekking kom nie as dat sy sleg teen Marlinda afsteek. Bene wat die vyfde, sesde, sewende beste plek beklee, is vir alle praktiese doeleindes dan mos nie juis in tel nie.
Daar was darem een troos. Ten minste was daar nog nie weer figuurskilderye soos dié wat haar ma in Adriana se sub B-jaar vir ’n uitstalling gemaak het nie. Dooie donkie, daardie goed het destyds byna veroorsaak dat … Nee, sy wou nie weer daaraan dink nie. Sy kon nie toelaat dat dit die dag bederf waarop sy besef het sy mag maar op Woud verlief raak nie. Hy kon tog nie vir haar ma se indiskresie blameer word nie.
Dit was lekker om te weet iemand is lief vir haar net soos sy is, sonder enige druk om mooier te probeer lyk of te karring aan wat die natuur vir haar uitgedeel het. Sy het gewens haar pa se twee sogenaamde skoolvriende op Niemandshoek kon weet dat die topou in die skool haar gevra het om uit te gaan. Miskien sou hulle dan die neerhalende woorde waarmee hulle haar en Marlinda een Kersfees met mekaar vergelyk het, terugtrek. Dit was nie die enigste keer dat sy dit moes beleef nie. Sy was van jongs af al bewus van die vergelykings, die sinspelings, die getjie-tjie en die stuitige gelag. Die spottende oë wat haar bekyk en laat voel het asof die kat haar opgediep het uit dieselfde mandjie waar sy kleintjies gekry het.
Vir wat was sy ook so nuuskierig dat sy alewig daar was waar niemand haar teenwoordigheid raakgesien of verwag het nie? Kon hulle nie eers rondgekyk het om seker te maak sy hoor nie iets wat nie vir haar ore bedoel was nie!
Of wou hulle hê sy moes hoor?
Of was dit sy wat wou hoor?
4
Dis ’n verligting toe sy sien daar was geen verdere oproepe van Woudstra nie. Sy wil graag glo dat hy besluit het om haar nie verder te belas met wat ook al met Marlinda skort nie, maar haar sesde sintuig weet dit moet iets buitengewoons wees wat hom in die eerste plek daartoe gedryf het om haar te kontak. Iets wat nie gedurende die paar nanagure sou verdwyn het nie. Die een of ander tyd gaan hy seker moed bymekaar skraap om haar weer te trotseer. Ten minste sal sy dan beter voorbereid wees daarop. Intussen sal sy moet begin rondkyk hoe lyk die vlugbesettings net voor Kersfees. Sy sal haar sogenaamde plig by haar ma gaan doen vir so drie, vier dae, op voorwaarde dat sy Marlinda nie hoef te sien nie.
Die Europese winter kruip nou daagliks nader. Hier in Delft vind al hoe meer van die bladwisselende bome se blare hul val na die donkergroen oppervlak van die kanaalwaters. Die laat Oktoberoggendlug is koel op haar wange en om haar ore terwyl sy stap. Van haar appartement in Oude Delft af is dit net ’n paar minute te voet tot by Cuisine Academie Delft waar sy ’n kursus in Suid-Afrikaanse cuisine aanbied.
Sy verkies om soggens werk toe te stap eerder as om fiets te ry. Nie dat sy nie van fietsry hou nie, maar sy gebruik die staptyd om oplossings vir probleme te vind. Op die fiets moet sy te veel konsentreer. Sy kry dit nog steeds nie ten volle reg om met die aangebore vaardigheid van die Nederlanders kop te hou op ’n fiets terwyl haar gedagtes elders is nie. Vir die ma’s wat hul kinders en inkopies so behendig op die fietse balanseer, het sy eindelose bewondering.
By Bakker Jaap lok die geur van vars brode en ander gebak haar nader. Haar werksdagontbyt bestaan meestal uit krentenbollen en ’n groot beker koffie. As mens eers een maal van dié bakkery se besonderse broodjes geproe het, kos dit inspanning om verby die wit-en-geel streepdakkie te stap. En kort voor lank is jy so verslaaf daaraan dat jy jou dagtaak nie daarsonder kan aandurf nie. Toe sy vir haar bestelling gevra word, besef sy dat sy eintlik nie lus het vir enigiets nie. Dit moet van spanning wees dat haar maag so hol voel. Die melkbaard agter die toonbank rol sy oë vir haar en vir twee toeriste wat ook nie seker is wat hulle wil hê nie. Hy sal nog leer dat die toeriste wat hulle daagliks aan die eeue oue stadsgeboue en ander besienswaardighede verkyk, botter op sy brood help sit.
Verder op in die straat laai ’n paneelwa met die Verhoeven Keukenstudio-logo daarop boumateriale af. Nog iemand wat ontslae wil raak van muwwe kombuiskaste en lekkende krane. Huisverbetering het ’n florerende bedryf geword in ou stede waar daar nie ruimte vir nuwe woonuitbreidings is nie. Die Verhoevens het jare gelede besef daar is ’n behoefte aan funksioneel ontwerpte kombuise en het hul as markleiers op dié gebied gevestig.
Die Academie is ’n goed geoliede masjien wat oorspronklik ontstaan het as ’n praktiese vertoonlokaal waar die funksies van nuwe kombuistoestelle en -toerusting aan voornemende kopers gedemonstreer word. Later het versoeke gevolg vir klasse om die toestelle beter te leer benut. Een ding het tot ’n ander gelei en binne tien jaar het dit gegroei tot ’n volwaardige instansie waar sjefs opgelei word. Streng gekeurde studente kom van oor die hele Europa daarheen om op