Behalwe vir ’n vegie lipstiffie het sy geen ander grimering gedra nie. Die vermoë van die menslike mond om terselfdertyd of om die beurt kragtig en weerloos te lyk, het haar gefassineer, en dit het neerslag gevind in die ritueel waarvolgens sy elke dag haar lipkleursel aangewend het. Haar lippe is eers geknyp om dit te laat gloei. Dan het pruimkleur lipstiffie gevolg, wat feitlik alles weer afgeklad is. Speekselglans, aangestreel met die punt van haar tong, het die prosedure voltooi.
In ’n klein gemeenskap soos Niemandshoek het almal mekaar en hul kinders geken. Adriaan Coetzer en Emmerie was maatjies van hul kleuterdae af en het in hul standerd 7-jaar amptelik begin uitgaan. Hy het vroeg al kompetisie gehad, maar moes veral op universiteit leer dat ander mans haar net so aantreklik vind soos hy en gedurig agter haar aan was.
Tekens dat sy nie die tradisionele, gehoorsame vroutjie sou wees nie, was toe al daar en hy moes probeer insien dat sy nie vasgepen wou of kon word nie. Haar lewe het gedraai om die uitdaging om oral waar sy gegaan het op die uitkyk te wees vir geskikte skilderonderwerpe en komposisies. Figure, landskappe. Waar ander net droogte en dieselfde bossie ’n duisend keer oor kon sien, het haar oë prag en aanklank gevind – visuele steenkool wat sy met haar hande op ’n leë skilderdoek kon laat ontbrand. Dit was ’n belewenis om dop te hou hoe sy gestalte gee aan die kompleksiteit van die menslike figuur of die natuur. Sy het tientalle kleure so behendig op die doek vermeng dat die oog nie kan sien waar elke kleur begin of eindig nie.
Maar kinders verstaan en aanvaar nou eenmaal nie so geredelik dat hul ma soveel verskil van ander kinders se ma’s nie. Sy is mos jou ma en jy het net doodnormale verwagtinge van haar. Kleintyd wil jy gereeld getroetel word. Die wonderwerke ervaar wat soene op seerplekke kan verrig. Weet hoe lekker dit is om onder jou ma se voete in met klei of verf te speel; kinderwaterverf waarvan die sirkeltjies kleur ná die tweede prent al ’n gat in die middel klad. Ma mors lekker met haar verf, maar jy mag met jou verf nie naby haar kom nie. Niemand mag haar pla wanneer sy werk nie.
Ma’s bekommer hulle oor hul kinders se veiligheid, bak party maal koekies en probeer sportwedstryde bywoon. Jy het so mooi gehardloop en die geldjie vir die ysie wat die oranje ring rondom jou mond los, brand jou hempsak. Maar op atletiekbyeenkomste druk groot kinders voor die kleintjies in by die snoepwinkels. Dit sukkel om voor in die ry uit te kom en jou lus rek net langer. Ander ma’s kom staan in die ry en hul kinders smul kort daarna aan ysies. Gehipnotiseer kyk jy hoe die yslekkerte in strome van ander kinders se stokkies afsmelt en wens jy kon dit met jou dors mond opvang. Oranje druppels plof vermors op die grond terwyl hulle wydsbeen buk om taai voortjies teen stowwerige bene af te vermy. So in die sand ingesyfer lyk die drupkolle bedrieglik baie na afgewaterde bloedspatsels.
Huishulpkos is nie ’n ma se kos nie, al is die kok hoe bedrewe. Moederliefde en sorgsaamheid filtreer nie outomaties van die hulp-hande af na die kos toe nie. En Pa se kos – wat sal mens nou daarvan sê? Dalk liewer niks nie, behalwe dat iets dikwels kortgekom het of agtelosigheid uit die soutpot in die kos in gefoeter het.
Adriana en Marlinda was later jare trots dat die kunstige vrou oor wie daar party maal in ’n koerant geskryf is, hul ma is. Maar dit kon nie daarvoor vergoed dat hulle nie te alle tye op haar toegeneentheid en aandag kon staatmaak nie.
Wanneer ander meisies gekla het dat hul ma’s te veel inmeng in hul lewe, het Adriana gewonder wat bedoel die meisies met “inmeng”. As dit beteken om geselsies aan te knoop met hul tienerdogters, soms in hul geheime te deel en kameraadskaplik advies te gee oor dinge soos seuns en hul lewegewende spermselle, kon haar ma maar gerus ’n bietjie ingemeng het.
Emmerie het seker op haar manier probeer. Ja, sy het tog, maar die flertsies aandag was te ongereeld en te suinig afgemeet. Dit was soos om met ’n permanente hongerkol van die etenstafel af op te staan. Mens weet jy het geëet, maar dit wat jou honger moes stil, was nie voldoende nie.
Sodra dinge te chaoties begin raak, was Marlinda die enigste een wat haar ma weer uit die allesoorheersende brander kon uitlok. Dit het sy reggekry met versinsels of die melodramatiese weergawes van gebeure wat sy meestal tot haar eie voordeel aangewend het. Soos die Saterdag in Desember toe Marlinda begin menstrueer en die hele plaaswerf op hol gejaag het. Sy was goed ingelig oor wat met haar sou gebeur en wat sy daaromtrent moes doen. Maar toe begin sy gil en vaar met bloed teen haar bene af die veld in op soek na haar ma. Desembermaande op Niemandshoek is warm. Tussen twaalf- en drieuur bedags kook die veld jou en waag mens dit nie sommer buite as jy ’n keuse het nie. Behalwe as jou naam Emmerie is en jy hoed op die kop en teen alle raad in soontoe neuk met die hoop dat die hitte die kolletjie veld wat jy anderdag raakgesien het, in ’n magiese lugspieëling sal baai.
Op dié dag het Marlinda geen idee gehad waar haar ma is nie. Sy het voortgestrompel en gehoop haar “Ma! Ma! Kom help, ek bloei my dood!” was hard genoeg om die ooptes in te dra tot by haar ma se ore. Op pad het sy by al wat ’n plaaswerker is se huis aangeklop en hulle opgekommandeer om haar te help soek – op ’n Saterdagmiddag wanneer hulle ná ’n week se harde werk van diens af was.
Hul pa en oupa Adriaan was in Kimberley vir ’n gholfdag en ouma Santjie het met gordyne dig getrek teen die hitte op haar bed gerus. Adriana het Marlinda verniet probeer paai en terug in die huis kry. Die meisiekind wou aandag hê, opsluit haar ma s’n, en sy sou met niks minder tevrede wees nie.
Marlinda het geweet dit sou ekstra briljantheid verg om haar ma by die huis te kry. Al het dit beteken dat die plaasarbeiders Marlinda moes sien in wat destyds as ’n onnoembare, private toestand van meisie- of vrouwees beskou is. Gemmerwortelpan is ’n groot plaas en Adriana het later besef dit was nie so ’n slegte idee om die opspoorwerk oor te laat aan die mense wat die plaas goed ken nie. So kom hulle toe meer as twee uur later daar aangestap: Voorploeg Piet met ’n halfbewustelose Marlinda in sy arms, Emmerie en die ander kort agter hulle. Almal so gesweet dat dit lyk asof hulle aan die smelt is. Dit was vreemd om te sien Emmerie laat sowaar iemand anders toe om die gereedskapboks met haar kosbare kunstoerusting te dra.
Met dié velddrama het Marlinda byna te goed in haar doel geslaag. Sy het sonsteek opgedoen en ná ouma Santjie se telefoonoproepe het die dokter en die twee Adriaans in feitlik dieselfde stofwolk daar aangejaag gekom. Nadat almal bedaar het, en die pasiënt steeds koorsig maar tevrede in die bed gesit is, is Adriana deur die grootmense oor die kole gehaal omdat sy toegelaat het dat die arme Marlindatjie in die toestand waarin sy was, saam met die arbeiders die veld in is. Sy wat Adriana is, het ook geskrik toe die allerverskriklikhede van wat alles met Marlinda in die veld kon gebeur het in besonderhede vir haar uitgelê is. Om te dink die grootste gevaar was toe al die tyd nie die hitte of die laagseilende slange van die veld nie, maar die betroubare, tweebenige spesie wat blykbaar verwoed deur gelapte broeke kop kan uitsteek en pik.
Sy het haar geskaam omdat sy nie gesonde verstand gebruik het nie, nog lank voor die hoeveelste eier daaroor op haar kop gelê is. Teen daardie tyd het sy buitendien die familierympies oor die verdeling van verstand reeds so goed geken: dat sy baie daarvan gehad het en dit moes gebruik, terwyl Marlinda s’n meer beperk as hare was omdat die instrumente wat met haar geboorte gebruik is te hard om haar kop geklem het.
O, daar was soveel swak weggesteekte veronderstellings wat in allerhande kleure in die families Coetzer en Van Staden rondgeswerf het, dat Adriana haar naderhand verbeel het sy kan hulle gedagtes lees. Soos byvoorbeeld die hoop dat die ouer suster ’n man gevang sou kry op universiteit. En as sy nie kon nie, sou sy darem seker ver genoeg geleer kom om vir haarself te kon sorg. Toe vang sy jou wragtig reeds op skool die soort seun waarvan ’n skoonma net kan droom: aantreklik, goed gemanierd, sportief en, asof aangevra uit die hemel, ’n voornemende dokter uit ’n vooraanstaande familie wynboere. Dit is nie hardop gesê nie, maar niemand was werklik uitgeboul van verbasing toe hy uiteindelik eerder met Marlinda getrou het nie, al was dit ’n moettroue en Marlinda nog so jonk. Wat voorkoms betref, moes mens realisties wees en sien dat die man tog duidelik veel beter by die jonger sustertjie pas. Hulle sou pragtige kinders voortbring, met die pa se verstand en die ma se looks. Hy sou kon sorg vir Marlinda en sy was mooi genoeg dat hy hom nooit vir haar of haar gebrek aan naskoolse opleiding hoef te skaam nie.
By Adriana was daar geen twyfel dat Marlinda veel slimmer was as waarvoor enigeen behalwe Adriana haar krediet sou gee nie. Hoe was dit moontlik dat niemand anders haar suster