11
Schiphol-lughawe is ’n nes vol skarrelende mensmiere en Adriana is verlig toe haar inklaring afgehandel is en sy rustig verder op haar vlug kan wag.
Dit het gedurende die nag so begin stortreën dat sy teen vroeg-oggend spyt was sy het nie Stijn se aanbod aanvaar om haar lughawe toe te neem nie. Die oorstappery van een perron na ’n ander op Leidenstasie was ’n nat, onplesierige affêre. Gelukkig is haar tas waterbestand, anders kon dit ’n lollery afgegee het.
Sy sou steeds betyds gewees het as sy die stoptrein wat ’n bietjie later op die lughawe aankom, geneem het. Maar sy het lankal aangesteek by haar landgenote wat meen die stoptrein is vir oningeligte toeriste en onkapabele bejaardes, en sy kon die versoeking om die tyd te klop nie weerstaan nie. Dis ver om te hardloop en daar is nie ’n enkele sekonde te verspil van die paar minute wat oorstappers het om die trein betyds te bereik nie. Een ding is seker, mens moet fiks wees om dié vroegoggendse resies suksesvol af te lê. Helpende hande het haar op die laaste oomblik die laaste treinwa in gepluk terwyl die deure al toeskuif.
Haar volgende rit lughawe toe sal moontlik maar met die stoptrein moet wees. Of sy moet ’n slag gebruik maak van Stijn se aanbod om haar te neem. Sy was nie van plan om hom te sê van haar Dienende-Martha-uittog nie, dit sou net op ’n spul onbeholpe verduidelikings uitloop. Buitendien, sy gaan mos nie vir lank weg nie. En na regte het dit nou niks meer met hom te make as sy ’n reis na haar geboorteland moet of wil onderneem nie. Tog was sy nie regtig verbaas toe hy van hom laat hoor nie. By die Academie was haar voorgenome vertrek geen geheim nie en sy het verwag dat gemeenskaplike kennisse dit in ’n gesprek met hom kon ophaal.
Stijn se jongste verhouding het weens die einste rede gesneuwel. Die vrou kon dit nie uitstaan dat hy steeds gereelde kontak met sy voormalige vrou wou behou nie. Dis asof hy net nie afstand kan doen van die verantwoordelikheid wat hy aanvaar het toe hy haar uit Suid-Afrika die vreemde in geneem het nie. Saskia reken daar is meer te lese in sy besorgdheid. Dat daar van sy kant af steeds toegeneëntheid en die begeerte is dat hulle versoen raak.
Dis juis Stijn se oormatige beskermingsdrang wat die angel in hul huwelik geword het. Huweliksmaats van sy inbors is nie volop nie en hy was nie jaloers of onredelik nie, net so deksels voorspelbaar. Te veel van ’n goeie ding kan lei tot ’n verlaging in die waarde daarvan. Hy was so ingestel op sy beproefde manier van dinge doen dat hy hom dit toegeëien het om ook namens haar te dink. Op ’n dag het sy besef dat hy haar permanent soos ’n kind in grootmensgeselskap laat voel.
Die gedagte dat hy vir haar eerder ’n vaderfiguur is, het nie veel ruimte gelaat vir passie van haar kant af nie. Seks met hom het net nie meer reg gevoel nie. En wat was die kanse dat hul verhouding ná agttien jaar saam sou verander? Teen daardie tyd was dit duidelik dat die keuse eenvoudig was. Sy kon só voortgaan of sy kon wegbreek om uit te vind of sy op haar eie ’n bestaan kon voer in Nederland.
Saskia het kopskuddend grootoë gemaak toe sy hoor Adriana is van plan om die huwelik te beëindig. Vir haar was die gedagte “rampzalig” dat haar vriendin die eggenoot wou laat staan wat haar soos ’n diamant geslyp en versorg het. Sy kon nie dink waarom enige vrou so ’n gevestigde en gerieflike lewenstyl wou prysgee bloot omdat die vonk uit die “relatie” verdwyn het nie. Dat dit in die eerste plek nooit daar was nie, was in Saskia se oë van nog minder belang. Is dit dan nie wat in elk geval met verloop van tyd in die meeste verhoudings gebeur nie? Die ergste opwinding verdwyn en al wat oorbly, is die roetine en wedersydse gerief.
Dit was nie maklik om ’n huwelik met ’n heer soos Stijn te beëindig nie. Dis een ding om die besluit te neem, maar ’n gans ander saak om dit deur te voer. Adriana het daarteen opgesien en bly wonder wat die menslikste uitweg sou wees. Gelukkig het sy daarmee getalm. Getrou aan sy reputasie van hulpvaardigheid, verskaf hy uit die bloute toe jou waarlik self die gronde daarvoor deur uiteindelik te swig voor ’n kollega wat hom reeds jare lank in haar bed probeer inlok het.
Die arme man was omtrent buite homself toe dit op die lappe kom en kon nie genoeg om verskoning vra nie. Al het Adriana hom gerusgestel en verduidelik dat die huwelik in elk geval verby rakleeftyd was, kon hy homself nouliks vergewe. Vir hom het sy gedrag vanselfsprekend by haar ’n verlies van respek geïmpliseer en hy kon nie verstaan waarom sy hom nie meer verkwalik het nie. Hy het uitgetrek en hulle het die skeidingsproses sonder enige kwade gevoelens aangepak. Die egskeidingsooreenkoms was relatief ongekompliseer en sonder enige noemenswaardige bulte. Hul bates is verdeel en die papierwerk afgehandel.
Die huwelik was verby. Die een dag was sy nog mevrouw Verhoeven, in die eg verbind met mijnheer Verhoeven. Die volgende dag was sy weer Adriana Coetzer, ongehuud. Vry om te doen soos sy goedgedink het. Vry om ’n paar jaar later, teen Stijn se goedbedoelde waarskuwing in, hierdie reis te onderneem sonder dat sy ’n idee het van waarvoor sy haar inlaat.
Dis asof sy hoor hoe oorlede oupa Tjaart van Staden ook sy polisiemanmening oor haar uittog lug, in die gekruide taal waarvoor hy so bekend was. Adderjana, hierdie besigheid lyk vir my alte veel soos om van strontboompie na jy weet watse boompie wat dieselfde is, te gaan. Het jy dan nou ’n bleddie fool gaat staat en word daar oorkant?
Heel moontlik, Oupa, heel moontlik. Maar oor minder as twee weke is hierdie kruis verby en ek weer terug om my lewe te hervat. Dan het ek meer as my kant gebring.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.