Bloedwater. Douwleen Bredenhann. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Douwleen Bredenhann
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798155588
Скачать книгу
die oomblik is daar ’n magdom ekstra administratiewe take en e-posse waaraan sy tussendeur aandag moet gee. ’n Groep studente het gevra dat sy vir hulle ’n drie weke lange kostoer in Suid-Afrika moet reël. Hul entoesiasme daarvoor is so aansteeklik dat sy self ook daarna begin uitsien, al bly sy maar lugtig vir die land. Dit sal die eerste keer wees dat sy vir drie weke aaneen weer Suid-Afrika toe gaan. Oor die jare was daar ’n klompie sakebesoeke saam met Stijn, maar dit was elke keer net vir ’n paar dae. Drie weke klink lank, maar daar sal nie veel kans wees om te dink nie. Haar kop sal gevul wees met die uitdagings van kos en die verantwoordelikheid om almal gelukkig te hou. Sy behoort veilig genoeg te wees.

      Ten spyte daarvan dat die dag sy normale besige verloop neem, betrap sy haar dat sy gis of en wanneer Woudstra weer gaan bel. Teen laatmiddag begin sy wonder wat hy vir haar wou sê. Raak sy dan nou simpel, sag in die kop?

      Sy skrik dat sy eintlik voel hoe die beklemming om haar vou toe ’n boodskap op haar selfoon bliep. As dit weer hy is … waar is haar asem tog heen? Het sy nou ’n gevangene van haar foon geword? Sy praat binnetoe hard met haarself: Kyk, verdomp! Kyk van wie af dit is en hanteer dit. Jy is sterk, veg as dit moet, maar moenie toelaat dat hy weer jou bloeddruk opjaag nie.

      Tussen haar vingers deur sien sy die SMS is van Saskia van Vechten, om haar te herinner aan hul eteafspraak by Den Blaeuwen Snoeck. Vir die afgelope vier jaar eet hulle twee op die derde Donderdagaand van elke maand daar. Dis ’n vaste afspraak en nie een van hulle het al ooit daarvan vergeet nie. Dit word net afgestel as een van hulle op reis is, maar vandag was daar nie plek vir Saskia of die restaurant in haar gedagtes nie. Gelukkig het die SMS haar weer aan die afspraak herinner.

      5

      Ook Den Blaeuwen Snoeck-visrestaurant is gerieflik na aan Adriana se blyplek. In die somer wanneer dit tot laat nog lig is, stap sy as ’n reël van daar af terug huis toe. In die laatherfs en wintermaande raak die stappery ingewikkelder. Dan is dit ’n geval van te na om te ry, maar net-net te ver en te koud in die donker om honderd persent op haar gemak te voel. Gewoonlik aanvaar sy dan Saskia, wat in Nootdorp aan die buitewyke van Delft woon, se aanbod om haar te gaan aflaai.

      Haar vriendin wag reeds by hul tafel toe Adriana binnestap. Hulle hou daarvan om sommer vroeg, net ná werk al, hierheen te kom. Oor ’n glas wyn word die maand se nuus dan uitgeruil, bespreek en uitgepluis soos net vroue kan wat goeie vriendinne is.

      Dis die soort eetplek waar mens rustig kan gesels. Kleinerig, sodat daar nie voortdurend ’n harde gedruis van stemme is nie, met geregte in ’n prysklas bokant die meeste beursies van die jolige jongklomp wat lank en luidrugtig aan die kuier kan raak.

      Adriana geniet dit om te sien hoe op haar gemak Saskia voel. Die eerste paar keer was sy taamlik buite haar vaarwater. Dis nie ongewoon om in die aand twee vroue op hul eie in ’n restaurant te sien nie, maar dan is hulle meestal nie Nederlands en middeljarig nie.

      Omdat Saskia se man weens sy werk in die toerismebedryf meer uitstedig as by die huis is, het Adriana haar op ’n aand gebel en voorgestel dat hulle iewers iets gaan eet. ’n Ongemaklike stilte het haar aan die ander kant van die lyn begroet.

      “O nee, dit kan ons nie doen nie,” het Saskia gesê.

      “Waarom nie?”

      “Want dit doen jy nie, Adriana. Ons … ken dit nie. Dis nie heeltemal so eenvoudig soos jy dink nie.” Saskia het nie daarop uitgebrei nie.

      Vir Adriana was dit juis eenvoudig. Sy is geskei, Saskia se man is in Denemarke en nie een van hulle het kinders om te versorg nie. Waarom kan hulle dan nie saam gaan eet, lekker gesels en dan weer na hul onderskeie huise terugkeer nie?

      Sy was nie regtig verbaas toe Saskia nog ’n beswaar opper nie. Die uitnodiging is gerig op veels te kort kennisgewing. Teen daardie tyd was Adriana deeglik bewus daarvan dat haar nuwe landgenote verplig voel om afsprake weke vooruit te bedink en te notuleer. Hul dagboeke word vir selfs die onbenulligste afsprakie eers geraadpleeg om te sien of hulle beskikbaar sal wees. So weet jy byvoorbeeld weke vooruit wanneer jy by jou vriendin gaan tee drink. Niemand vind dit enigsins vreemd nie; bloot ordelik. In so ’n gereguleerde samelewing is daar nie ruimte vir onverwagte voorstelle en verrassings nie. Alles word haarfyn vooruit beplan en aangeteken. Soms nogal tot vervelens toe, vir ’n Suid-Afrikaans geborene. Gelukkig lok die weer mense nou en dan uit hul rigiede dagboeke. Wanneer ’n naweekdag onverwags warm sonskyn reg uit die hemel oplewer, vergeet al wat leef en beef van hul dagboeke en pak die trems wat Scheveningen toe loop op kort kennisgewing vol: see toe!

      Dit het Adriana baie mooipraat gekos voor sy Saskia kon oorreed om die kwessie van die eteafspraak met haar man te bespreek. Tot haar verbasing was hy inskiklik en het gemeen dit kan vir die twee vroue van verskillende kulture ’n verrykende ervaring wees om mekaar op dié manier beter te leer ken.

      En dit was ongetwyfeld die geval. Hulle het hul al hoe meer begin oopstel en mekaar se eienaardighede beter leer verstaan. Die vriendskap het van ’n redelik formele basis geleidelik gevorder tot een waarin hulle meer persoonlike geheime met mekaar kon deel. Nou nie die diepste geheime nie. Sekeres, soos jou matrieksuster wat jou verloofde gesteel het, moet liewer verborge bly. Adriana sien nie kans om allerhande vrae daaroor te beantwoord nie.

      Die hegte vriendskap met Saskia is vir Adriana waardevol en kosbaar, veral vandat sy en Stijn amptelik uiteengegaan het. Al was dit moontlik die vreedsaamste egskeiding in Nederlandse heugenis, is dit goed om te weet dat sy ’n lojale vriendin het wat nie deur middel van die Verhoeven-netwerk in haar lewe gekom het nie. Iemand wat, indien dit ooit nodig sou word, saam met haar sou stelling inneem teen hulle.

      Nie dat daar al ooit enige sprake van so iets was nie. Almal bly tot dusver goed bevriend met Adriana en sy drink gereeld koffie by Femke en Joris. Hulle was in elk geval vir haar eerder vriende as tipiese skoonouers.

      Haar en Saskia se paaie het een Saterdagoggend in 1999 op ’n trein na Amsterdam gekruis. Stijn was weer landuit en sy alleen op pad na die Van Gogh-museum. In werklikheid was sy weer op die sending wat sy ’n paar maal tevore nie kon voltooi nie. ’n Besoek aan die Van Gogh-museum was hoog op haar museumprioriteitslys, maar wanneer dit haar beurt was om ’n toegangskaartjie te koop, kon sy nie daarmee voortgaan nie. Dan het dit gevoel asof sy daarvan weerhou word deur ’n onsigbare krag wat vermoed sy wil haar gaan verlekker in die wete dat sy, wat maar min van kuns af weet, daar kan wees.

      Op ’n manier was dié museum … haar ma. Die plek was in haar ma se verbeelding seker heilige grond. Hoe sou sy tussen Vincent van Gogh se skilderye kon rondstap sonder om aan haar ma te dink? Daardie Saterdag was sy egter vas van plan om die museumskeiding oor te steek. Dit was tog belaglik dat die plek so ’n houvas op haar kon hê terwyl nie sy of haar ma al ooit daar was nie.

      Vasberade het sy haar sitplek op die trein ingeneem. Kort daarna het ’n aantreklike blonde vrou met ’n dwergkeeshondjie aan ’n leiband opgeklim. Die trein het begin wegtrek voordat hulle kon gaan sit. Uit die bek tussen die pels het ’n blaf van protes gekom terwyl die hondjie haar probeer anker en na die vrou by haar gekyk het.

      “Luna, zit,” het die hondema gesê en na die sitplek reg oorkant Adriana gewys. Soos ’n wafferse passasier het die hondjie gaan sit en by die venster begin uittuur. Sy het net begin kriewel wanneer die trein spoed verminder om iewers stil te hou. Dan het die mensmoeder haar gerus gestel: “Nog niet Amsterdam, Luna, blijf zitten.”

      By Centraal-stasie het hulle al drie afgeklim en begin aanstap in die rigting van die bushaltes. Die tweestuks op die trein het haar aandag so gevange gehou dat daar nie tyd was om haar senuwees verder op te wen vir die museumbesoek nie. Daarom, en omdat die vrou en hond so ’n gemoedelike prentjie skep, het Adriana nader gestap om met die vrou te praat voordat sy en die hond tussen die bedrywigheid op die stasie sou verdwyn. Wat sou sy sê? Adriana het tot langs hulle gestap en die vrou toe met haar gehoorsame hond gekomplimenteer. Daarna het sy haar voorgestel, verduidelik dat sy ’n aangetroude Nederlander is en op pad was na Museumplein. Saskia het haar en Luna plegtig bekendgestel. Hulle is ook van Delft en op pad na Vondelpark vir Luna se maandelikse parkmanewales, waarna hulle met die vyfuurtrein sal teruggaan huis toe.

      Adriana het deur die museum se ingang gestap en haar