Bloedwater. Douwleen Bredenhann. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Douwleen Bredenhann
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798155588
Скачать книгу
wit rok waaraan die ontelbare sag glimmende pêreltjies omtrent alles al vasgewerk was. Die rok wat verkoop moes word voordat die finale aanpassessie kon plaasvind en waaraan ’n ander niksvermoedende bruid se gaste hulle sou vergaap.

      Daar staan sy toe, aan die sy van ’n hemelbesem van ’n Hollander in wie se land ’n kerktroue nie eens wettig is nie. Maar miskien was dit ook al waarvoor sy toe in die boek van reg of verkeerd kon kwalifiseer, want teen daardie tyd het sy haar suster al hoeveel keer dood gewens en Woud nog verder die verdoemenis in. God sou Hom in elk geval seker nie laat voorskryf het en die huwelik van ’n vrou met sulke bloeddorstige gedagtes seën nie, al was die omstandighede wat daartoe gelei het hoe verpletterend.

      Later die dag het sy net haar ouers en twee vriendinne laat weet dat sy getroud is en binnekort Nederland toe verhuis. Haar pa en ma was geskok. Veral haar pa was erg ontsteld omdat die kind wat na hom vernoem is, sonder om enigiemand vooraf daarvan te sê “soos ’n donnerse skelm voor ’n magistraat gaan trou het met ’n uitlander wat gans te oud is vir haar”. Hy was seker teleurgesteld omdat hy nie vir een van sy twee dogters ’n behoorlike troue kon gee waarop hy die onbevange breëborsvader van die bruid kon wees nie. “Here, Adriana, selfs Marlinda is met haar boepens en al in die kerk getroud, al was hulle eers onder kerksensuur!” het hy oor die telefoon gesê.

      Soos te wagte, was ook Stijn se ouers uit die veld geslaan toe hulle van die troue hoor. Maar hy het Adriana verseker hy ken hulle goed genoeg om te weet dat hulle “gereserveerd afwachtend” is en nie ongevraagde en kwetsende beskuldigings na hulle sal slinger nie. Joris en Femke Verhoeven was nie onkundig oor Suid-Afrika nie en het besef daar is meer aan die land en sy mense as wat deur die lense van ’n apartheidsbril sigbaar was.

      Agttien maande ná die breekspul met Woudstra het mevrouw Adriana Verhoeven met een tas klere en ’n fotoalbum in Delft aangekom; die album waaruit sy alle foto’s waarop haar suster en swaer verskyn, verwyder het. Ongelukkig was die uitroeiproses wat sy in haar geheue moes uitvoer, nie so suksesvol nie. Want hoewel sy nou hernieude afkeer jeens hom ervaar, kan sy ná gisteraand se oproep tot in die fynste besonderhede onthou hoe Woud lyk.

      Met haar aankoms in die nuwe land was sy volks- en taalvreemd en nog glad nie seker dat sy mevrouw Verhoeven wou wees nie. Sou sy die nuwe skoonmense en hul gevoelens kon peil as hulle inderdaad gereserveerd afwachtend is? En wat het dit in elk geval beteken in verstaanbare Afrikaans?

      Sy was nie seker of sy ooit behoorlik sou verstaan wat met die term bedoel word of waarom Stijn in haar belanggestel het nie. Was sy ’n liefdadigheidsprojek vir hom, iemand wat uit haar omstandighede verlos moes word om daarna stap vir stap opgehef en gepoleer te word? Is dit waarom haar skoonouers so hoflik en bedagsaam teenoor haar is? Of was hulle bloot goed gemanierd terwyl hulle wonder of hulle seun of die familieskatte vir die jong meisie uit Afrika die grootste aantrekkingskrag inhou? Trouens, sy het self gewonder watse bydrae ’n ongekunstelde meisie soos sy in die gekultiveerde bestaanswêreld van die Verhoevens kon lewer, behalwe haar beperkte werkservaring. Sy het haar in hulle skoene probeer indink en tot die slotsom gekom dat sy nie eens kwalifiseer om beskou te word as slegs ’n sieraad aan Stijn se arm nie.

      3

      In die stort wonder Adriana waarom sy haarself toegelaat het om so heftig teenoor Woudstra te reageer. Hier leef sy in ’n ander tyd in ’n ander land, met die dinge van die verlede verseël en hoog weggebêre. Of dit was altans die doelwit wat sy dag sy lankal bereik het. Sy weet nie wat ontstel haar die meeste nie, sy arrogansie of die besef dat haar verweer moontlik nie so waterdig is as wat sy gedink het nie. Haar bestaan is relatief rustig omdat sy mense nie toelaat om in haar verlede rond te krap nie. Maar Woudstra is nie enige man nie, en hy het deur haar ma toegang tot haar wat ander nie het nie. En wat ’n pad het sy nie al geloop vanaf haar standerd 8-skooljaar toe sy hom ontmoet het nie. ’n Pad wat sy al so dikwels gewens het nooit met syne gekruis het nie.

      Om haar te verweer teen Marlinda en Woud se verraad, het lank geneem. Maar in die proses het sy ’n gepantserde vrou geword. Aanvanklik was die enigste uitweg om hulle doelbewus uit haar gedagtewêreld te verban. Later het dit tweede natuur geword om eenvoudig nooit aan hulle te dink nie. Dit het haar uitstekend gepas dat Woudstra hul ooreenkoms van geen kontak so nougeset nagekom het. Wat haar betref, het sy nie meer ’n suster nie en nog minder ’n swaer. Siekte of dood sal geen verskil maak aan haar gevoelens daaromtrent nie, maar sy was onder die indruk dat sy die ergste bitterheid agtergelaat het.

      Haar werksopset is gevarieer en sy sien normaalweg uit na die uitdagings wat dit bied. Maar vanoggend strek die dag lank voor haar uit en het sy min lus om klas te gaan gee vir die studente wat so geïnteresseerd is in die kookkuns van die land aan die suidpunt van Afrika.

      Sy voel grimmig en veel ouer as die sewe en veertig jaar wat sy in September geword het. Gewoonlik lyk sy goed vir haar ouderdom, maar vanoggend skrik sy toe sy in die spieël sien hoe die versteurings van die nag uitpof in donker kringe onder haar oë. Hopelik sal die oogjel ’n klein wonderwerk vermag.

      Dit was eers in Nederland dat sy geleer het om goed na haar uiterlike om te sien. As ’n lid van die Verhoeven-familie, wie se onberispelike smaak oor generasies heen aangekweek is, kon dit nie juis anders nie.

      Met haar laaste druppel Pond’s Beauty Wash uitgepers, was dit destyds nodig om ’n nuwe produk aan te skaf, maar sy was geïntimideer deur die verskeidenheid ware wat in Nederlandse winkels beskikbaar was. Genadiglik het Stijn se suster haar hulp aangebied. Marjolein het dit geniet om die boorling uit Afrika vertroud te maak met die goedere en manier van doen in haar nuwe land. Met die grootste geduld het sy saam met Adriana rondgestap, vrae beantwoord, lysies gemaak van waar om wat te koop en haar persoonlik aan winkeleienaars gaan voorstel.

      Marjolein was ook van groot hulp terwyl Adriana die Nederlandse taal moes aanleer. Dit was geensins ’n seepgladde proses nie en daar was dae wat sy verwyderd van alles en almal in Nederland gevoel het. Eers ná sy die taal behoorlik bemeester het, kon sy begin ontluik. Daarna was daar geen keer aan haar nie. Sy was ’n ontdekkingsreisiger wie se aangetroude taal ’n wêreld ontsluit het waarin dit ’n uitdaging was om nuwe inligting te absorbeer en toe te pas. Só het sy haarself geleidelik en doelgerig omskep in ’n goedversorgde en selfversekerde jong vrou wat met verloop van tyd soos topklas wyn verouder het. Iemand waarop Stijn en sy ouers trots kon wees.

      Dankie tog vir grimering, dink sy terwyl sy die spore van moegheid op haar vel kamoefleer. Dalk het sy tog iets van haar ma se kunstalent geërf, want sy skep met ’n grimeerkwas soos haar ma met haar skilderkwas kon – iets uit niks. Die verskil is dat haar ma se talent aangebore was, terwyl Adriana haar vaardigheid met die grimeerkwaste by kursusse en werksessies moes aanleer. Sy wend haar grimering met ’n ligte hand aan, so natuurlik as moontlik, maar ken ook ’n hele paar geheime kunsies, soos om met slim skakering van oogskaduwee die kleur van haar vaalblou oë te manipuleer. Party dae is haar oë grys en soms meer blou. Met meer moeite kan dit selfs vir groen deurgaan.

      Die grootste uitgawe ten opsigte van haar voorkoms is haar hare, wat maandeliks in skouerlengte lae gesny en by die haarwortels donkerblond gekleur word. Daarna word vier skakerings ligstrepies subtiel ingeverf. Toe haar haarkapster dit ’n paar maande gelede voorgestel het, was sy bang sy gaan soos ’n bontgeveerde parkiet daar uitstap. Sy het haar nietemin laat ompraat en dit nog nie weer anders laat kleur nie. Die resultaat is verstommend; elke haar lyk kerngesond terwyl dit lig weerkaats.

      Soms kan sy nie glo daar was ’n tyd toe sy nie ’n benul gehad het van wat behoorlike grimering en haarsorg behels nie. Haar Nederlandse vriende en kennisse sukkel gewoonlik om die onopvallende skooldogter en student in haar fotoalbum te herken. Op skool was akademie en sport haar eerste prioriteite. Saans het sy haar gesig met water en seep gewas en aanvaar dat tienermeisies van tyd tot tyd ’n paar puisies gaan hê. Eers toe Marlinda op twaalfjarige ouderdom gevra het of niemand in hulle huis al ooit van behoorlike velsorg gehoor het nie, het hulle Pond’s Beauty Wash gekry, en iets om aan puisies te smeer.

      Op hoërskool was dit die in ding vir meisies om in standerd 7 grimering te begin dra. Blou en groen oogskaduwee was min of meer die teken om te wys dat hulle in die mark is vir ’n boyfriend, hande vashou in die openbaar en skelm soene waar die geleentheid hom sou voordoen.