Bloedwater. Douwleen Bredenhann. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Douwleen Bredenhann
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798155588
Скачать книгу
waarin ek skryf. Dis nie dat ek aanneem jy sal kom nie, maar ek moet aan jou die nodige inligting oordra. Moet my asseblief net nie aan ’n lyntjie hou nie, anders sal alles nie betyds gereël kom nie.

      Wat ook al jy besluit, sal reg wees. As jy net vir Kersfees kans sien, weet ek jy het dit minstens oorweeg. Sou jy egter besluit om te kom help met Marlinda, sal ek ongelooflik dankbaar wees. Vir jou vertroue, moeite en opoffering sal ek jou ongelukkig nooit kan vergoed nie.

      Groete

      Woudstra

      Sy lees die e-pos drie maal deur. Dit pas net-net in op die rekenaarskerm sodat sy nie nodig het om af te scroll nie. Verskuil tussen die hoekige letters lê die geskiedenis van drie mense. Dit is netjies uiteengesit en lees bedrieglik onskuldig, maar is opgestel om reaksie by haar te ontlok.

      Sy word gevra om terug te gaan. Net tydelik en dit behoort haar nie dood te maak nie, maar dis terug in die leeu se kake in. Sou daardie bek nou anders, meer onskadelik wees, en wat makeer die bek? Durf sy nee sê as dit werklik ’n kwessie van lewe en dood is vir Marlinda; die baba wie se handjies sy so gestreel het in die carrycot?

      Van: Adriana Coetzer

      Verzonden: Vrijdag 23 Oktober 2009 01:00

      Aan: Woudstra Bosman

      Onderwerp: RE: Moontlike besoek: datums en besonderhede

      Woudstra

      Dit gaan my verstand te bowe dat ek ná alles wat tussen ons gebeur het nou hier sit en ’n e-pos van jou beantwoord.

      Ja, ek verstaan nie wat gebeur het en nou weer aan die gebeur is nie. Ek het gedink daaroor en weet nie juis hoe ek nee kan sê sonder dat dit ’n aanklag teen my as ’n mens, as ’n suster, sal wees nie. Dit beteken nie dat ek met ope arms vir almal daar gaan aankom en die verlede van die tafel af gevee sal wees nie.

      Ek wil dit duidelik stel: Indien ek om enige rede nie kans sou sien om vir die hele periode te bly nie, sal ek na goeddunke reëlings tref om so gou moontlik terug huis toe te kom.

      Dit beteken dat jy ’n plan B gereed sal moet hê, vir ingeval jou plan Z wat nou eensklaps plan A geword het, inmekaar duiwel. Moet asseblief nie daarop staatmaak dat ek net gedwee gaan inval by alles wat daar vir my voorlê nie. Ek is in die duister; jy is die een wat weet.

      Môreoggend vroeg sal ek my hoof kontak. Ek verwag dat dit redelik taai sal gaan en dat ek inkomste sal inboet omdat ek onbetaalde verlof sal moet neem. As ’n lid van die administratiewe liggaam voel ek ongemaklik om verlof te gaan aanroer. Ek behoort eerder ’n voorbeeld te stel deur my daarvan te weerhou om onbillike versoeke op kort kennisgewing te rig.

      Ek laat weet jou so gou moontlik wat ek kon uitrig. Terloops, ek is geskei.

      Groete

      Adriana

      Nadat sy drie keer “groete” ingevoeg en weer uitgevee het, los sy dit die vierde keer daar al wil sy nie vir hom groete stuur nie. Hoe anders beëindig mens ’n brief, al is dit so ’n onpersoonlike een?

      Sy verwag nie vannag al ’n antwoord terug van hom af nie. As die reëlings net nie teen so ’n gejaagde tempo getref hoef te word nie. Dit voel asof sy skaars tyd kry om behoorlik asem te haal of te dink. Virgo’s hou van presisie en, waar nodig, behoorlike beplanning. Sekere dinge vra wel om maande vooruit aangeteken te word in ’n dagboek. Soos ’n buitelandse besoek vir werk- of vakansiedoeleindes. Maar hierdie buitelandse reis val nie in enige gewone kategorie nie. So sy sal eenvoudig hierdie holderstebolder terpentyn-in-die-agterent-gevoel moet probeer ignoreer en aanvaar dat daar nie tyd is om te verspil of bedaard te besin oor die gewigtige besluit wat sy geneem het nie.

      Vir die tweede agtereenvolgende nag kry sy omtrent geen rus nie. Dis koud, maar die bed brand haar. Tot haar kopkussing later uit die sloop begin peul. Vader tog, is dit dan nou weer sy, tee in die flentergatstoel en die kanaalposkaart deur die venster?

      Maar sy haal nie daardie stoel nie. Sy beland met haar tee voor die rekenaar op KLM se webwerf. Om te wag tot sy later die saak met Kees Kampman kan bespreek, sal eintlik sinneloos wees en net onnodige vertraging veroorsaak met die bespreking van haar vliegtuigkaartjie. Laat sy dit liewers nou doen en klaarkry.

      Sy vang die bevestigende boodskap terwyl die drukker nog die papier uitstoot. Sy het sommer haar treinkaartjie van Delft af na Schiphol ook bespreek. Om ses minute voor sewe die Woensdagoggend moet sy opklim. Daar staan dit amptelik, swart op wit: Woensdag, 4 November 2009: 10:25 vlug KL 597 vanaf Amsterdam. Arriveert 23:00 Kaapstad. Zondag, 14 November 2009: 00:05 vlug KL 598 vanaf Kaapstad. Arriveert 11:00 Amsterdam.

      Finansgewys is daar geen omdraaikans meer nie.

      Vir die eerste maal vandat sy betrokke is by Cuisine Academie Delft gaan sy op ’n Vrydagoggend inbel om verlof vir die dag in te sit. Hulle moet maar dink wat hulle wil; sy was nog nooit skuldig aan langnaweekmakery nie. Sy laat op Kees Kampman se antwoordmasjien ’n boodskap om te hoor of sy hom tweeuur kan spreek in verband met twee weke se onbetaalde verlof wat sy onverwags benodig. Hy gaan seker in sy broek dinges as hy hoor dis in die tyd van die graderingseksamens. Hopelik sal hy nie te veel uitvra nie. Dit kan moeilik raak om te verduidelik dat sy haar siek suster moet gaan oppas sonder dat sy eens weet wat die probleem is. Sy sal dalk maar eerder die moederkaart moet speel. Dit aandik vir wat dit werd is.

      Die vrou storm soos ’n gewonde dier op Woudstra af waar hy voor die rekenaar aan die slaap geraak het. Sy stamp die wieletjiestoel dat hy en die stoel saam sydelings oor die vloer skiet. Weer eens verstom die krag in die dunne lyf hom terwyl hy die momentum met sy voete probeer stuit.

      “Wat de hel sit en doen jy hier voor die computer?” skree sy in sy gesig. “Hoekom is jy nie by die werk nie? Die goeie dokter kyk seker weer skelm na vuilgathoere met kanne wat so vol plastic gepomp is dat iemand tussen daardie outsize-goed kan versmoor. Jy vergeet mos jy’t ’n vrou om happy te hou. Hiér’s vir jou ’n hoer as jy een wil hê!” Sy ruk haar bostuk af.

      Haar slegte asem laat hom ril. In hierdie bui is sy so klouerig en sterk soos ’n seekat. Hy sal behoorlik moet duck and dive voor hy sy kamerdeur gesluit kry.

      8

      Woudstra verwens die wekker toe dit 06:00 afgaan. Die verdomde ding het geen respek vir ’n arme siel wat aan slaaponthouding ly nie. Maak nie saak hoe moeg mens nog is nie, genadeloos sal dit die vrolike ou pligdeuntjie uitbasuin. Hy haat wekkers en selfoonalarms, maar dit is nou eenmaal noodsaaklike euwels. Het hy ooit geslaap? Vanmôre gaan hy beslis gebruik maak van die ekstra vyftien minute se lê wat sy selfoonalarm hom waarborg. Só maak hy elke aand dubbeld seker dat hy môreoggend betyds wakker word.

      Vyftien salige minute. Hy is so moeg dat hy dadelik weer wegsink in die diepe slaap wat vroegoggend die lui van ’n alarmverpesting voorafgaan.

      Onder die stort is hy spyt dat hy nie al na die eerste wekkerlui opgestaan het nie. Hy het nou net vyf minute om skoon te kom en die uitputting van hom te probeer afspoel. Vandat Marlinda nie meer soggens vir hom ontbyt maak nie, volg hy ’n fyn uitgewerkte skedule om betyds klaar te kry. Voordat hy in die stort klim, sit hy solank die ketel aan en sy papmelk in die mikrogolfoond. Binne tien minute vandat hy opgestaan het, sit hy dan skoon, aangetrek en geskeer met sy pap en koffie voor hom. Daarna pak hy die skottelgoed in die opwasmasjien, versorg sy tande en is gereed om werk toe te gaan. Dis nou as daar niks onverwags gebeur soos sy tandeborsel wat per ongeluk val of Marlinda wat uit haar kamer kom nie.

      Dit val hom by dat hy nog wou kyk of Adriana sy e-pos beantwoord het. Hy storm die gang af om gou te gaan loer. Daar is ’n antwoord. Sy maag voel skielik snaaks, maar hy het nie nou tyd om wegkruiper te speel nie. Hy moet spoedlees en kry effens lag vir haar formaliteit. Sy is nog net so deeglik soos sy altyd met alles was. En sy laat hom goed verstaan dat sy op haar eie terme kom. Dis goed so. Hy kan tog niks meer van haar verwag nie en is net te dankbaar dat sy wel besluit het om te kom. Dit is reeds niks minder as ’n godswonder nie.

      Tog voel hy erg skuldig. Miskien moes hy haar maar gesê het. Of haar beter voorberei het op wat sy hier gaan aantref. As sy moet weet waarvoor sy twaalf uur suid gaan vlieg … Hy ys as hy daaraan dink dat