Dan is daar nog Marlinda se reaksie waarmee hy sal moet rekening hou. Praat van die voorspelbare onvoorspelbare. Op die minste gaan sy nie daarvan hou om haar man vir twee dae onder dieselfde dak as Adriana te hê nie. Die hele besigheid is so verdomp kompleks en buite beheer.
Noudat hy weet hy gaan by die seminaar wees, begin hy darem ook uitsien na die paar dae in Londen. Om beskaafd te kan wees tussen mense wat nie amper die hele tyd half van hulle trollies af is nie, klink wonderlik. En dan kan hy sommer self gaan kyk of dit so goed gaan met Celeste as wat sy hom wil laat glo.
Hy sluit toe en gooi ’n voordeursleutel met ’n variasie op die gewone briefie daarby in die buurvrou se posbus: Ek is heeldag in die teater. Hou asseblief weer vir my ’n ogie. Sy gaan seker meestal slaap. As dinge dalk moeilik raak, laat weet vir Claudia by my spreekkamer, sy sal weet wat om te doen. Nogmaals dankie, ek waardeer jou hulp geweldig. Groete, buurman W.
Nou moet hy hom roer of hy is laat. Gelukkig neem dit hom met die agterpaadjies waarlangs hy ry, net ses minute van die huis af tot by die hospitaal.
Vandag se teaterlys is lank. Pasiënt nommer een van die vier keisersneë wil nie die veiliger opsie van ’n spinale blok hê nie. Sy kan nie die gedagte verduur dat daar aan haar gesny word terwyl sy by haar bewussyn is nie. Swanger pasiënte intubeer moeilik en dit sal gaaf wees as sy nie kaak- of tandprobleme het wat die plasing van die trageale buis nog verder bemoeilik nie.
Soms tref hy ongemaklike verrassings aan. Hopelik wag daar nie in ’n saalbed ’n besonder lywige liggaamsmassa wat probleme kan veroorsaak by die toediening van narkose nie. Teen halfagt wil hy klaar wees met die eerste vier saalbesoeke om die toerusting in die teater na te gaan en die anestesiemiddels voor te berei.
En hopelik is daar ook nie vandag ’n aanstaande pa wat in die teater omkap nie.
9
Van: Adriana Coetzer
Verzonden: Vrijdag 23 Oktober 2009 16:00
Aan: Woudstra Bosman
Onderwerp: Besoek en reisreëlings
Woudstra
Hiermee bevestig ek dan my reisreëlings. Ek land 23:00 die aand van 4 November en vertrek op Sondag, die 14de November om 00:05.
Hoewel my werkgewer baie tegemoetkomend was, gaan ek ongelukkig inkomste verloor vir die betrokke dae. Ek gaan nie nou vir jou ’n kosteberaming of my bankbesonderhede gee nie, ons kan dit bespreek wanneer ek daar is. Dit was nie ’n probleem om solank die vliegtuigkaartjie te betaal nie, my kredietkaart was verdraagsaam.
Daar is seker nie enigiets anders wat ek hoef saam te bring nie?
Ek neem aan jy sal reëlings tref om my by die lughawe te kom haal.
Dan groet ek tot 4 November.
Adriana
Sy wou nie vroeër vanoggend hierdie e-pos stuur nie. Hoewel die vlugte vinnig gefinaliseer moes word, wil sy nie hê hy moet die indruk kry dat sy nou meer toegeeflik geword het nie. Hopelik onthou hy dat sy normaalweg niks halfhartig doen nie. Sy het haar nou tot die besoek verbind, haar vlugte bespreek en betaal, maar dit is al. Nou stel sy net belang om sonder onnodige rimpelings daar uit te kom en te doen wat van haar verwag word sodat sy kan terugkeer hierheen. Dit is net nog iets wat sy oor en verby moet kry.
Gelukkig sal sy nie oor ’n maandeinde weg van die huis af wees nie. Al kan rekenings per internet vereffen word, verminder en vereenvoudig dit die reëlings wat getref moet word. Sy het met Carolien de Graaf van die hoekappartement langsaan gereël om haar pos uit te haal, haar plante water te gee en vir die vensterwasser oop te maak en hom te betaal.
Carolien gaan feitlik nooit êrens heen nie noudat haar man bedlêend is en sy hom voltyds versorg. Hoewel sy gewoonlik tuis is, word sy selde gesien of gehoor. Haar hele bestaan word op die oog af daaraan gewy om seker te maak dat haar eggenoot se dae en nagte so pynvry en gerieflik as moontlik verloop.
Kruideniersware bestel Carolien per internet van Albert Heijn af. Hoewel dié supermarkgroep kliënte se aankope in hul kombuise besorg, verkies Carolien om dit by haar voordeur te ontvang en self na binne te neem. Geruisloos, soos ’n groot trapsuutjies, beweeg sy sonder om inkopiesakke of produkverpakkings te laat ritsel. So sag verskyn en verdwyn sy in die reghoekige ruimte van haar voordeur dat Adriana soms wonder of sy haar werklik gesien het en of dit net ’n visioen was. Vir dae aaneen praat Carolien met niemand nie en is die weeklikse afdra van haar vullissakke die naaste wat sy aan ’n buitenshuise uitstappie kom.
Dis vir Adriana ondenkbaar dat ’n vrou van iets in die vyftig tot ’n kluisenaarsbestaan gedoem is weens haar man se siektetoestand. ’n Toestand waarvan elkeen van haar bure bewus is, maar niemand is seker waaraan hy ly nie. Almal is te ordentlik om uit te vra na ’n kwessie waaroor daar nie vrywilliglik inligting aangebied word nie. Die kere wat sy hoflik verneem het hoe dit met hom gaan, was die antwoord elke keer dieselfde: onveranderd. Niks meer of niks minder nie.
Verder as dit word niemand in Carolien en Jeroen de Graaf se binneruimte toegelaat nie. Soms wonder sy of die vrou iemand sal inlaat wanneer hy die dag te sterwe kom. Sou hulle dan geen familie hê wat haar of hom kom besoek nie?
Woudstra se geheimsinnigheid ten opsigte van Marlinda laat haar dink aan die opset by die De Graafs. Sy wonder of Woudstra se bure weet wat daar aan die gang is. En sy ouers? Hy het niks van hulle genoem nie. Hulle leef dan seker nie meer nie. Hy moet net sorg dat daar darem iemand is na wie sy haar kan wend as dit te alleen raak daar. Of te vreemd. Of as iets skielik drasties verkeerd loop.
10
Sou ma Emmerie in haar staat van Alzheimer’s enigiets weet of verstaan van Marlinda, haar voorkeurkind, se siektetoestand? Sy is seker nog steeds, in soverre dit moontlik is, hul ma se oogappel en haar gelykenis. Met dieselfde donker hare, die oë en die grasie in die stap het sy van jongs af haar eie kwota wolwefluite en kyke van bo tot onder by seuns en mans ontlok.
Kort ná Adriana se egskeiding het sy ’n SMS van ’n onbekende nommer ontvang met die kontakbesonderhede van ’n versorgingsoord waar haar ma in ’n vroeë fase van Alzheimer’s opgeneem is. Die sender daarvan was tog seker net Woudstra of Marlinda en sy het verkies om nie daarop te antwoord nie. Die boodskapper was nie werklik van belang nie, dit was die boodskap wat saak gemaak het. Sedertdien kontak sy elke paar maande die tehuis om op die hoogte te bly van hoe dit met haar ma gaan. Sy het die brokkies nuus oor haar ma met ’n gevoel van verwydering beleef, wat veroorsaak is deur die jare lange fisiese en geestelike ravyn tussen hulle.
Die gedagte aan haar ma in so ’n plek is vreemd. Adriana kan haar glad nie voorstel dat ma Emmerie daar sou kon aanpas nie. As daar enige sprake van “aanpassing” was. Mense wat daar beland, het in die eerste plek seker nie ’n keuse gehad om daar te wees of nie. Hulle gaan maar omdat hulle hul nie meer liggaamlik of verstandelik kan teësit nie.
Die afgelope jaar het dit geleidelik slegter begin gaan. Die vrou wat in ’n stadium snags toegegrendel moes word, is dieselfde vrou wat enige sweem van verbondenheid aan enigiets anders as haar kuns so te sê verpes het. Wat vry wou wees om dae lank in die veld te sit om op verskillende tye van die dag die val van die lig op ’n landskap vas te vang. Wat dae en nagte aaneen sou werk sodra sy tevrede was met die voorbereidende sketse vir ’n figuurstudie. Dan het niks anders vir Emmerie Coetzer saak gemaak nie. Nie haar man, haar dogters of haar huis nie.
As jong kind het Adriana reeds besef haar ma is anders as die meeste ma’s, afgesien daarvan dat sy met Adriana se geboorte reeds ses en dertig jaar oud was. Nie dat sy oud gelyk het nie. Daar was ’n tydloosheid aan haar in ’n era waarin vroue wat in hul oudste kind se eerste skooljaar drie en veertig word, seker as stokoud beskou is.
Ma Emmerie was ’n verruklike vrou wat selfs in haar veertig- en vyftigerjare nog herinner het aan ’n sigeunerin of Elizabeth Taylor in Cleopatra. Tannierige haarkapsels het nie by haar gepas nie en sy het haar lang hare dikwels