Die ander vennoot. P.J Haasbroek. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: P.J Haasbroek
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798153515
Скачать книгу
al drie die ander laat uitbars van die lag. “Dieper as Oshikoto se gat!” roep John. “En onder, weet ons mos, lê die Duitsers se kanonne rond.”

      Later vra Mea hom uit oor Guntsas, en hy vertel haar van die beesboerdery.

      Op sy beurt vra hy haar oor haar werk en haar sport. “Ek het nie geweet ’n meisie wat gimnastiek doen, sal nog swem en perdry ook nie . . .”

      “En wat nog?” vra sy. Toe, met ’n glinstering in haar blou oë, vat sy hom onder die tafel tussen sy bene vas. En fluister: “Ja, nogal heelwat meer as ’n hand vol!”

      Hy skrik só, hy val amper van sy stoel af.

      3

      Toe die koepeltente die tweede aand staan en sy hardekoolvuur brand, skink Pretorius vir die Duitsers elk ’n dop. En vir homself ’n brandewyn-en-coke met ys uit die koelkas.

      Horst Kuhn, die restaurateur, kom staan langs hom, bier in die hand, en wil weet wat hy vir aandete gaan maak. Horst vertel van sy restaurant, van sy wulpse, gewillige kelnerinne – “Jy moet kom kuier, dan ontmoet jy hulle” – en sy gaste.

      “Gewoonlik is dit ’n plesierige besigheid. My klante soek Gemütlichkeit. Hulle sing en stamp met hul bierbekers op die tafel. Maar daar kom ook dae wat alles verkeerd loop. Personeel wat mor, of klante wat moeilik is; hulle stuur die kos onder enige simpel voorwendsel terug. Jy moet almal tevrede stel, maar jy weet nie watse giere hulle het nie.”

      “Ons kliënte is gewoonlik so bosverskrik dat hulle hulle maar skik na ons reëlings,” jok Pretorius met ’n wye glimlag. “Julle weet mos julle is in ons hande, en ons moet julle nog veilig terugbring Windhoek toe. Daarom hoor ons selde ’n klagte.”

      Aan Horst se lag kan hy hoor hy glo hom nie.

      Tog is die aand se kampeerdery heel plesierig. Horst gee hom vriendelik raad hoe om sy disse smaakliker voor te berei, en niemand kla oor die kos nie.

      Wat ook al op Frau Schiele se bord kom, val sy driftig met mes en vurk aan asof dit haar ’n soort sadistiese plesier gee. Sy werk dit in haar mond in terwyl sy aanhou praat: stukke vleis, aartappels en stringe noedels, gevolg deur brood beplak met kaas en groenvyekonfyt. Haar aptyt kan nie maklik gestil word nie. Sy eet met mening. Sy eet met oorgawe. Sy eet en eet.

      Ek moet haar net tevrede hou, dink Pretorius.

      Ná ete sit hulle versadig op kampstoele om die vuur en luister na die naggeluide. Gesellig met ’n glasie port of brandewyn. Op die hardekoolstompe wapper klein vlammetjies sonder om veel lig te maak, maar hul nederige flikkering weerkaats tog in elkeen om die vuur se oë.

      Soos die donker tussen hulle indring, word die nagkoue skerper teen hul rûe en nekke.

      Pretorius staan op en skep ’n graaf vol kole uit die vuur om ’n gloeiende hopie onder elke kampstoel te gooi. Die Duitsers lag oor dié vindingryke teenvoeter vir die koue se byt.

      Dis donkermaan. Op die gesigseinder vorm die rante ’n donker wal teen die sterrevloed. Die aarde rol in stilte om.

      Schiele vertel John van sy vervoeronderneming; sy vragmotors ry Europa plat met vrag van die Duitse nywerhede, met wyn, graan en vleis.

      “Hoeveel daarvan vat jy Oosblok toe?” vra Gotschalk.

      “Dis nie moontlik nie. Die kommuniste probeer selfvoorsienend wees, maar hulle raak armer by die dag.”

      Kuhn beaam dit. Hy het familie in Oos-Duitsland, en daar gaan dit haglik. Dis waarom mense uit die plek probeer ontsnap. Hulle waag hul lewe om weg te kom. Maar hy glo dit kan verander; aan weerskante van die muur deur Berlyn woon tog Duitsers. Hulle praat nie net dieselfde taal nie, hulle deel dieselfde kultuur. As die Oosblok eers met die Weste begin handel dryf, sal hul ganse stelsel daarby moet aanpas.

      “Ook hul politiek,” voeg Schiele by. “Handelsbetrekkinge sal die voorloper wees van politieke omvorming. Die verhouding tussen Oos en Wes sal verander. Dit sal ’n einde bring aan die Koue Oorlog.”

      Monika vryf oor haar arms en vra Pretorius om nog hout op die vuur te gooi.

      Eers toe dit vlam, sê John: “Wat gebeur dan met ons?”

      Sy blik is op Gotschalk toe hy voortgaan: “As die Oosblok nie meer wapens in Afrika aflaai nie, as hulle nie meer terroriste oplei en hulle help nie, sal Suid-Afrika ook nie meer ’n saak met ons hê nie. P.W. Botha sal Suidwes soos ’n warm patat los. Dan gaan alles hier ook verander.”

      Dit verras Pretorius. Hy dog John glo vas in hul vermoë om hier die fort te hou. Hulle Alte Feste, soos hy dit al genoem het.

      Persoonlik dink hy dat die lewe maar net sal aangaan. Ander politici sal die nuus haal en ander amptenare sal hulle laat vorms invul. Maar die land sal nog net so droog bly. Wil John die Duitsers toets, kyk wat hul politieke gesindheid is?

      “Julle sal waarskynlik beter daaraan toe wees,” kom dit van Anchen. “Sonder die koloniale juk kan julle in Namibië jul eie heil uitwerk.”

      “Ek dink nie onafhanklikheid gaan ons probleme oplos nie,” sê Pretorius. Hoe min verstaan sy ma in Keetmanshoop van die politiek, sy broer en suster en hul gesinne? Hoe kan hulle die land se probleme help oplos?

      Ook John protesteer onmiddellik. “Dis makliker gesê as gedaan. Almal wil nie dieselfde soort verandering hê nie. Ons nuwe oorgangsregering spog dat hy nasionale eenheid bring, maar elkeen van ons sewe politieke partye sien die toekoms anders. En selfs sonder die politiek wat alles beduiwel, lê daar groot verskille tussen die mense van ons land. Die Ovambo’s en Herero’s en Damaras, die Ovahimbas en Basters en Boesmans en Boere – elkeen wil ’n ander ding. As ons daaroor moet stem, sal die Ovambo’s besluit wat is goed vir die res. Party sal probeer om hulle te opponeer, maar die meeste sal maar bekhou en dit sluk.”

      “Wat dink julle gaan met die mense gebeur wat nie onder ’n Swapo-regering wil staan nie?” gooi Pretorius die gesprek om.

      Anchen glimlag vir hom. “Elkeen pas maar by nuwe omstandighede aan. Jy sal ook na jou eie goeddunke handel, Herklaas.”

      By wie het sy sy naam gehoor? Almal noem hom op sy van.

      “Ek weet nie hoe ons onder ’n swart regering sal vaar nie,” sê hy na ’n oomblik se aarseling. “Kyk wat het elders in Afrika gebeur.”

      “En kyk hoe lyk dit nog steeds,” voeg John by. “Dis ’n yslike gemors soos die groepe onderling baklei, en elke politieke leier steel die staat se geld. Wat sal die toekoms van Suidwes anders maak? Nié die paar wittes wat gaan agterbly nie. Ook nie die Herero’s of die Rehoboth-Basters of al die klein groepies wat saamhurk in die DTA nie. Ons sit nou soos ’n dronk fietsryer op ’n fiets, met ’n Owambo op die wielrak. Die oomblik wat ons val, gryp die Wambo die fiets. Daarom sal ons seker maar almal die kat uit die boom kyk, en as dinge te warm raak, kies elkeen sy eie koers.”

      Vir Pretorius is Suidwes se politiek soos die voortekens van ’n droogte. Jy kan dit sien kom, maar daar is nie ’n manier hoe jy dit kan vermy nie.

      In die middel van ’n skroeiende somer het hulle op Guntsas begin myn. Sou hy ’n ander koers kies as hy toe kon?

      Brits, die prospekteerder, praat min. Al geluid in die warm laatmiddag kom van die gekko’s. Dit klink of hulle hul reëngebede op die harde bas van die ghwarriebosse uitklop. Sonder ophou, dwarsdeur die nag, die eentonige geklop uit hul grondtrompette.

      Die droogte in die noorde van Suidwes het die aarde kaal gestroop. Op Guntsas het die gras uitgedroog en hard geword. Die swarthaakbosse het al hul blare verloor, en toe begin die doringbome ook swart word. Die son skroei neer op die grond en klippe tot mens en dier huiwer om te trap. Selfs in die skaduwee is dit brandwarm.

      “As niks meer wil groei nie, moet ons maar onder die grond begin soek na iets met waarde,” het John gesê. Hy het die prospekteerder met sy gesin en al op Guntsas aangebring.

      Pretorius bly ’n rukkie in die lang skaduwee van ’n tuitjiesmiershoop staan. Hy het die hele middag saam