Die ander vennoot. P.J Haasbroek. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: P.J Haasbroek
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798153515
Скачать книгу
nie.

      Hy kon geraai het dat hy op dié toer nie weer so maklik sou wegkom nie; politiek is soos wilsand waarin jy vasval en nie kan uitkom nie.

      Toe hulle Windhoek se buitewyke binnery, is dit byna drie-uur. Stil en warm en met min mense op die sypaadjies. Voor draai John regs in die rigting van die Duitse Christus Kirche. Hy ry onderkant die fort verby, wat soos ’n lang wit skool met ’n wye stoep op die knop staan.

      Toe Pretorius se passasiers vra, vertel hy hulle die geskiedenis van die fort. Van kaptein Francois, bevelvoerder van die Schutztruppen, wat dit laat bou het.

      “Die Alte Feste, noem ons dit. Van hier wou hy die vrede handhaaf. Eers moes hy tussen die Namas en die Herero’s intree, twee oorlogsugtige volke. Kaptein Francois het hulle uitmekaar probeer hou, maar sonder sukses. Soos julle sal sien, is die land baie droog; die bloed het aanhou vloei en nie Suidwes se dors geles nie.”

      “Namibië,” brom Gotschalk.

      Terwyl hulle verby die groot bronsbeeld ry, vestig Pretorius hul aandag op die ruiter: dat hy suidwes oor die stad tuur, maar sy perd het iets opgelet wat uit die noorde kom. Dis altyd ’n verrassing vir besoekers.

      “Dalk het die perd daardie tyd al die Swapo-gevaar vermoed. Die meeste mense dink egter net hoe gaaf om die gedagtenis van die dapper Duitse soldate so te eer,” sê hy. “Niemand dink dis dalk ’n monument vir ’n versiende perd nie. Wil julle gaan kyk?”

      “Wat anders as koloniale memorabilia is hier om te sien?” vra Gotschalk.

      Later, by die Oshikotomeer, sou Pretorius dié vraag weer onthou. Toe Gotschalk langs hom staan en aftuur in die groen diepte en hy hom vra: “Wonder jy dalk wat alles onder op die bodem lê, doktor Gotschalk?” En hy hom vertel hoe die Duitse magte hul wapens in die watergat gegooi het. “Anders sou daar nóg meer koloniale memorabilia in generaal Coen Britz se hande beland het.”

      Nou byt Pretorius egter op sy tande en beduie vaagweg verby die kerk. “Net so ’n entjie verder is die Tintenpalast, setel van die Suidwes-regering.”

      Hy het van die ou geboue gelees, erken Gotschalk. “Generaal Von Trotha het sy hoofkwartier hier gemaak. Van hier af sy bevele uitgereik om die Herero’s uit te wis. En sy strafekspedisies uitgestuur. Landwyd.”

      Pretorius knik. Dis duidelik dat die doktor hom wil toets. Kan hy Gotschalk nou al vertel van die verskille tussen Suidwes se bevolkingsgroepe, hul botsende belange?

      Nee wat, dit kan wag tot later.

      “Julle generaal Von Trotha het nie dwarsboming van sy administrasie geduld nie. Nie deur die Herero’s of die Namas nie, of deur enige ander groep inwoners wat in sy pad gekom het. Daardie tyd was hy die groot generaal. Onverbiddelik en koelbloedig – soos dit ’n Duitse bevelvoerder betaam.”

      “En die vyand? Was hulle straks anders?”

      “Ek dink nogal die oorlog hier was effens anders as in Europa. Hendrik Witbooi, Von Trotha se vyand, het soms nogal vreemd ridderlik opgetree. Hy’t glad die Duitse keiser om koeëls gevra sodat hy kon aanhou veg teen hom!”

      Gotschalk knik; hy is nie bang om sy kleure te wys nie. “En toe?” vra hy sarkasties. “Wat het daarna gebeur? Ná Von Trotha?”

      “Ek dink hier het toe vrede gekom, of ’n soort wapenstilstand.”

      “Nee, meneer Pretorius, die opstandige mense is bloot onderdruk. En ná die Duitse bewind het Pretoria sy soldate hierheen gestuur om die onderdrukking voort te sit.”

      Voor hulle draai John regs in Kaiserstrasse. Pretorius kry nog die robot groen en volg John se Land Cruiser.

      “Dis nie wat die mense hier in Windhoek glo nie,” sê hy steeds gemoedelik. “Veral nie die klomp daar bo wat so lekker sit en bier drink nie.” Hy wys hoopvol na die mense onder die sambrele en vlae op die balkon van die Gathemann-restaurant bokant die straat.

      Hy wens hy kon sy vennoot bykry om die gesprek met Gotschalk te hanteer. John is ’n ekspert-kakprater oor die politiek. Hy oortuig Gotschalk sommer dat hier nog ’n klomp Nazi’s wegkruip in die Kuiseb. Vriende van Henno Martin en Korn. En hul hond, Otto, wat vir hulle babers vang.

      Gelukkig werk Pretorius se plan: sy passasiers word weer bewus van die hitte en hul ongemak in die veldvoertuig.

      “Stop!” roep Kuhn. “Ons kan almal doen met ’n glas koue bier.”

      Pretorius flits sy voertuig se ligte en John bring die Land Cruiser voor hom tot stilstand. Hy beduie boontoe: dat sy passasiers na die restaurant wil gaan. “Hulle lus hang uit vir ’n bier!” roep hy met sy kop half by die venster uit.

      John maak ’n obsene handgebaar. Hy wil dat hulle nog voor donker by Okahandja uitkom. Kamp opslaan onder die groot doringbome langs die droë rivier. En dalk die mooie Monika gemsbokwortel laat proe.

      Maar hy beduie: Dis reg.

      Hulle parkeer die Land Cruisers en klim saam met die Duitsers teen die trappe op na bo. John voor saam met Frau Schiele, hy agter met sy blik droewig op die wip van Anchen se boudjies. Sy herinneringe aan Mea sal hy nie maklik afgeskud kry nie. Dis asof elke vrou iets van haar oproep, al is dit net haar tone wat uit ’n sandaal loer.

      Hoe baie van hul toere het op net so ’n gemaklike, byna sorgelose trant afgeskop. Van hy en John toeroperateurs geword het, het hulle selde met groot probleme te kampe gehad. Uiteindelik kon hulle alles te bowe kom: voorraad wat opraak; toerusting wat op ongemaklike plekke breek.

      In die veld, ver van alles af, kan die kleinste probleempie groot en gevaarlik raak. Met ’n dieselpyp wat lek, het John se trok sonder brandstof in die Kaokoveld bly staan. Enkele van hulle kliënte het siek geword. Ander was moeilik, regte buffelbulle met geaardhede so rasperig soos kaiingklip. Dan moet John hul klagtes aanhoor en beloof om sy administrasie te verbeter; hy moet toerroetes wysig, tydsindelings verander en onderlinge dispute besleg. Ander wou net uitkom uit die verlatenheid. “Terug Windhoek toe, in hemelsnaam, draai om en ry terug!” het ’n paar al gepleit.

      Dié keer, onder die kritiese oog van Gotschalk, sal hulle net moet sorg dat niks verkeerd loop nie.

      Die hele groep bestel bier. Hulle kyk belangstellend op die verkeer in die Kaiserstrasse af. Bakkies, ouerige motors, en toe grom twee militêre vragmotors verby. Sandbruin, met seiloordekte bakke.

      Op die sypaadjies weerskante loop mense wat die verskeidenheid van Suidwes-Afrika se bevolking verteenwoordig. Herero-vroue in hul kleurryke wye rokke, Rehoboth-Basters, wit boere met hul gesinne, Damaras en Namas, jonk en oud. Net die Boesmans ontbreek. Snaaks dat die Duitsers nog nie oor hulle navraag gedoen het nie: “Wo sind die Buschmänner dann?”

      Pretorius voel bly dat die stad so skoon lyk. Dat die mense so sorgeloos en vrolik loop en gesels. Die toeriste sal byna geen teken van spanning oor die situasie op die noordgrens merk nie – die Suid-Afrikaanse magte het sake daar onder beheer. En hier in Windhoek gebeur eintlik nog niks, omdat dit so ver van die grens af is. Swapo se dreigemente klink hol. Die stof van die bom wat in die wassery ontplof het, het lankal gaan lê.

      Dit lyk nie of die toer anders as enige van die vorige toere sal verloop nie. Hulle plan is standaard: noord, na waar daar meer bos en volop wild is, met hom en John as die bestuurders op die paaie wat hulle al hoeveel maal gery het. Die gevaar van gewapende Swapo-insypelaars daar bo het hulle nie eens oorweeg nie; die grensmagte hou die kaplyn skoon.

      Van Windhoek af beplan hulle om na Okahandja te ry, waar hulle vanaand sal slaap, en van daar af na Otjiwarongo, waar hulle kort duskant sal wegdraai na die Waterberg Platopark. John is oortuig dit sal goed wees om die ou Duitse begraafplaas by Waterberg aan te doen: dit sal hul Duitse kliënte betrokke laat voel by die land en sy mense.

      Dan, anderkant Waterberg, wil hulle oudergewoonte op die jagplaas van Hermann Struwig, hul ou skoolvriend, gaan kamp opslaan. ’n Dag lank in die veld elande, gemsbokke en koedoes soek. Dalk kry hulle ook ’n jagluiperd te sien. Daarna verder na Otavi, en verby Tsumeb na die Namutonihek. In die Etoshapark kan hulle nog twee dae tussen Namutoni, Halali en Okaukuejo verdeel,