Die ander vennoot. P.J Haasbroek. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: P.J Haasbroek
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798153515
Скачать книгу
nie.

      Dat die safaribesigheid beter betaal as boerdery, dit weet hy nou.

      John het Guntsas, sy pa se beesplaas naby Otjiwarongo, geërf. Net meer as seweduisend hektaar gesonde doringveld. En saam met Guntsas het John hóm ook eintlik gekry, want hy het eenvoudig aangehou om te doen wat hy op die plaas vir oom Richard, John se pa, gedoen het.

      Hy het al wat enjin is in stand gehou. As iets breek dit reggemaak – voertuie én windpompe. En vir die harde veldwerk het hy nooit geskrik nie. Kampdrade span. Met die bees werk; tollies brandmerk en onthoring. Sorg dat daar soutlekblokke in al die weikampe kom.

      Sy hande staan vir niks verkeerd nie. Hy het vir oom Richard gewerk sonder dat hy ooit ’n posbeskrywing gehad het. Voorman of plaasbestuurder, wat maak dit saak? Hy het sy werk net as werk beskou. In die sweet van sy aanskyn sy brood verdien, soos sy pa altyd gesê het.

      Hy het sy liefde vir plaaswerk by sy pa gekry – lang Salmon Pretorius, die jongste seun van ’n Dorslandtrekker. En sy liefde vir Suidwes.

      Van Angola kan Pretorius min onthou; sy pa het in 1964 met hulle van Humpata teruggetrek Suidwes toe. En werk op ’n plaas in die Mariental-distrik gekry. By Hannes Louw, in sy karakoelboerdery. ’n Groot plaas, want daar lê die vlaktes wyd, en in die opsny daarvan kon die plaasgrense ver uitgeskuif word. Gevolglik woon die boere yl versprei oor groot afstande. Die opstal van hul naaste buurman was meer as twintig kilometer weg, en Mariental meer as ’n honderd kilometer op die grondpad.

      Voor hy skool toe is, het hy gedink mense leef maar so alleen. Hy was altyd bra skaam om gesig te wys as daar vreemde kinders op die werf kom. Hulle het selde dorp toe gegaan; sy pa het geglo dis goed waar hulle is. Op ’n plaas kry kinders alles wat hulle nodig het: ’n huis waarin hulle by hul ouers grootword en van hulle leer, en die veld wat vir speel wyd ooplê na alle kante toe.

      Ontevredenheid oor jou lot is sonde, het sy pa geglo. Hy het as kind swaarkry in Angola leer ken. Dit het hom geleer dat as jy van jou werk seker is, en elke dag kos het, moet jy nie aanhou loop en soek na iets beters nie. Humpata het mens dankbaarheid geleer, het hy altyd gesê. En standvastigheid.

      Ná skool het Pretorius op Guntsas begin werk, en die plaas was nog altyd goed vir hom. Hy kon nog nie aan ’n rede dink om weg te gaan nie. Nuuskierigheid oor die lewe op die dorp, of oor hoe dit moet voel om in Windhoek te bly kan mos nie ’n sterk genoeg trekpleister wees om hom die pad te laat vat nie.

      Sy jonger broer werk nou al sewe jaar in die koöperasie in Keetmanshoop. En sy suster, Rebekka, wat op negentien met Floris Jooste van Lüderitz getrou het, is tevrede om huisvrou te wees en hul vier kinders groot te maak. Wie hulle ken, weet hulle Pretoriusse groei mettertyd in hul werk vas, taaier as kanniedood in klipgrond. Groei en houvas, dít kan hy. Hy dra sy werk met trots, soos ’n Afrikanerbees sy horings.

      John is sewe jaar jonger as hy, maar hulle kom al ’n lang pad saam – hy het by oom Richard begin werk toe John nog op skool was. Die oom was een van die voorste beesboere in die Otjiwarongo-distrik, ’n nasaat van die Heckrodts van Ghanzi. Hulle het daar gevestig toe dit nog Betsjoeanaland was, waar John se oupa met die dogter van ’n Engelse ivoorjagter getrou het. Vandaar die Engelse name in hul familie. En John het sy blou oë van sy ouma geërf, sê hy nogal trots.

      John was net klaar met skool – die Hoër Tegniese Skool in Otjiwarongo – toe die soort ongeluk gebeur wat soveel Suidwesboere tref. ’n Koedoebul skemeraand langs die pad, en oom Richard hét vinnig gery. Groot en sterk soos hy was, is hy op slag dood.

      Guntsas het meteens stil geraak. Oom Richard se harde stem het nie meer oor die werf opgeklink nie, en sonder sy dawerende lag was die atmosfeer in die voorkamer somber. In die kraal het sy Afrikanerosse tevergeefs op sy roep gewag.

      John, die enigste seun, was eensklaps baas van Guntsas. Op die seweduisend hektaar was vyfhonderd bees: koeie en kalwers, ses bulle en byna ’n honderd jong osse. Oom Richard het vyf plaaswerkers in sy diens gehad, Damaras. Hulle was goeie werkers, oorlams.

      “Jy moet my seblief help, Herklaas,” het John gevra. “Ten minste tot ek my voete vind.”

      “Ons maak so.”

      Daarmee, só eenvoudig, het hul vennootskap begin.

      Tant Hester, John se ma, het Windhoek toe getrek; die storie van die terroriste wat uit Ovamboland nadersluip, het haar nie aangestaan nie.

      John het gesê: “Laat hulle kom! Ek sal my nie van Guntsas laat afjaag nie.”

      Pretorius onthou dat hy toe ook nie gedink het dat dit gevaarlik is nie. Die groot plase in die doringveld, die hele wye, leë gebied noordwes van Otjiwarongo, het niks gehad wat die indringers kon aantrek nie. Wou hulle beeste steel, moet hulle met die trop deur die bos probeer trek; op die paaie sou hulle dadelik opgemerk word. En wat was daar in die huise waarin hulle sou belangstel? Die stukke huisraad of die boere se bakkies? Dalk hul jaggewere? Dit het net nie sin gemaak om met ’n terreurveldtog in Otjiwarongo te begin nie.

      Boonop was die boere reg vir enige insypelaars. Hulle het hul werksmense opdrag gegee om vreemdelinge wat op die plaas kom dadelik aan te meld. Soggens het hulle langs hul lyndrade afgery, met ’n Boesman-spoorsnyer voor op die neus van die bakkie. As hy ’n vars spoor in die sagte sand sien – die polisie het hulle gewys hoe lyk die chevronspoor wat die terroriste se rubbersole maak – sou hulle hom soos ’n bok jag. Néé, Otjiwarongo was nie veilig vir insypelaars nie.

      Die moeilikheid was op die grens, in die digte bosse weerskante van die kaplyn. Ná hul inval in Angola, ná hulle die Kubane en die Plan-magte op hul plek gesit het, het die Suid-Afrikaanse burgermagsoldate daar bo agtergebly. Hulle moet die grens oppas, Swapolede voorkeer as hulle Suidwes probeer binnekom. ’n Strategie van wedersydse hinderlae.

      Dit het mettertyd weer stil geraak in hul geweste. Nie die veld se stilte nie, maar die rus en vrede van ’n buurt waarin almal met hul daaglikse werksaamhede voortgaan. In Otjiwarongo het die ooms langs die Hoër Tegniese Skool se rugbyveld oor die skermutselinge op die grens gepraat asof dit eintlik ’n ander land se oorlog is.

      Dit was egter nie so rustig op Guntsas nie. Daar moes ’n jong man van negentien die leisels van die groot boerdery optel en probeer styfhou. Weliswaar met Pretorius se hulp, toe al ses en twintig en reeds taai gebrei deur die plaaswerk. Maar dit het hom nie soos John se meerdere laat voel nie, eerder soos ’n ouer broer. Belangstellend én effe verbaas, want John se geesdrif vir saketransaksies was vir hom bra vreemd.

      John het op skool reeds ’n besigheidjie begin: hy het wildsbiltong van die plaas af koshuis toe gevat en by die hoërskool verkoop. Toe het hy een vakansie, met Pretorius se hulp, sy pa se ou bakkie reggemaak en die bakwerk mooi gespuitverf. Hy het daarmee koshuis toe gery en wou dit aan sy maats verhuur. Toe die plan vrugte afwerp, het hy ’n ou motor gekoop, dit herstel en geverf, en toe by ’n Damaraboer vir bokke en beeste verruil. Uit die winste van sy veespekulasie kon hy ’n tweede bakkie koop en regmaak. Dié het hy ook koshuis toe gevat.

      In sy matriekjaar het John reeds ’n bankrekening by Volkskas gehad, en as die eienaar van ’n motorfiets en drie bloedrooi bakkies was hy ’n gesiene sakeman by die Hoër Tegniese Skool. Niemand het verwag dat hy sal wil boer nie.

      Met die versekeringsgeld wat ná oom Richard se dood uitbetaal is, het John tien erwe in Otjiwarongo gekoop en ’n huis vir sy ma in Windhoek. “Een of ander tyd sal meer mense op die dorp wil kom bly,” het hy voorspel. “Dan bou ons vir hulle huise.”

      Pretorius het hom later help bou aan die eerste huis. Reeds ’n vennoot in die Guntsas-boerdery, het die bouery hom toe ook by die besigheidswêreld betrek. Van nature versigtig, wou hy nie die inisiatief neem nie. Maar volg, dít kon hy.

      Hy het aandagtig John se vordering met sy ondernemings dopgehou. Die jong man was altyd haastig, te ongeduldig om te wag; niks moes in sy pad staan nie. Hy wou iets sien wérk; dit moet slaag en wins maak.

      Vrydagmiddae laat, net voor dit begin skemer, wou John uit, na sy maters toe. Dan klim hy met sy kitaar in die hand in sy Fordtrok en vat die pad Otjiwarongo toe. So vinnig as wat hy kan, ry hy; die stofstreep agter die trok wys waar hy deur die langkamp jaag