Die ander vennoot. P.J Haasbroek. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: P.J Haasbroek
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798153515
Скачать книгу
Mea. Hy het haar geur probeer onthou, ook die klank van haar stem, maar hy het haar lag vergeet. Dit het hom so gepla dat hy besluit het om haar weer op te soek. Sodra hy die kans kry, het hy hom voorgeneem.

      Hy het Lianna nie oor Mea uitgevra nie; sy belangstelling kan dalk vir Lianna ’n verleentheid wees. Mea se waarskuwing het hom bygebly: Om terug te kom, is moeilikheid soek; ’n vaste verhouding knoop jou net vas in vervelige verantwoordelikhede.

      “Die droogte laat my Lianna net nog meer mis,” sê John terwyl hulle op pad is.

      Hy praat kort-kort oor haar; verkneukel hom oor lawwe goed wat sy aangevang het, oor haar slim sêgoed. Hy is gaande oor die vooruitsig om haar weer te sien.

      Verlief, besluit Pretorius. Dis vir hom snaaks, hierdie verandering in John se ingesteldheid.

      Hyself wou net wegkom van die warm, droë veld. En van die Afrikanerbeeste wat daagliks maerder word en met hangkoppe loop asof hul lang krulhorings al swaarder word. Hy wil nie meer die nood in hulle oë sien nie. Soms loop hy met sy geweer veld-in en skiet die beeste wat bly lê het. En af en toe ’n maer koedoe, uit jammerte.

      Hy wou ook wegkom van Guntsas se leë werf, veral op ’n naweeksaand. Hy is nege en twintig jaar oud, en daar is vir hom niks om alleen te doen nie. Hy het nog nooit ’n smaak vir boeke gehad nie, en radioprogramme verveel hom. Hy hunker na die geselskap van Otjiwarongo se meisies, al deel hy nie hul belangstellings nie. Sy behoeftes is eenvoudig: net om ’n meisie te hoor lag, om te voel hoe sag haar boarms is en die geur van haar hare te ruik.

      Sedert hy Mea ontmoet het, het hierdie begeerte dwingender geword, maar hy kon nie sy gevoel van rusteloosheid daaraan knoop nie.

      In die weke wat volg, verander die verhouding tussen hom en John. Hulle gaan nou saam vry, wat hulle bondgenote maak. Een in drif, en gelykes in hul vooruitsigte. Hy leer gou verstaan waarom John vroeër skemertyd so maklik kon wegry van die plaas af, so haastig. Hy begin self vinnig ry op Guntsas se grondpad, en hy gee nie om hoe laat hy terugkom nie.

      Net soms dink hy daaraan hoe ’n goeie reëling dit sou wees as hy met Mea kon uitgaan: hulle twee pare saam. John het ná die dans gesê dit sal lekker pas in hul vennootskap, dié plesierige sosiale samesyn.

      Pretorius het hom nie reggehelp nie. Hoe kan hy so uitbundig met ’n meisiekind verkeer? Maar Lianna se lewenslustigheid spoor John natuurlik aan.

      Mea is anders; sy weet presies wat sy uit ’n verhouding wil hê. Nie onvriendelik nie, net baie doelgerig. As sy net wou, kon hy dalk ’n plan gemaak het. Maar dit was heeltemal buite die kwessie; sy het hom immers weggewys.

      Tog het hy dikwels oor haar gewonder. As sy van ’n plaas af gekom het, het sy dalk meer toegeneë tot hom gevoel. Sy is egter ’n stadsvrou. Verfynd, maar beslis nie pieperig nie; sy sal nie terugdeins vir die uitdagings van die buitelewe nie. Om boervrou te word op ’n plaas . . . Toe het hy meteens onthou dat Guntsas nie sy plaas is nie. Hy hét nie ’n plaas nie. Hy werk vir John.

      Wat kan hy tog vir Mea bied? Net sy hande wat vir enige soort harde werk regstaan. En dis nie vir haar genoeg nie.

      Die derde aand kamp hulle met die Duitsers op Hermann Struwig se wildplaas. Pretorius het die tente in ’n oopte tussen soetdoringbome, appelblaar en karee opgeslaan, onder ’n groot kameeldoringboom. Verstrengel in die takke bokant hulle, so groot en helder dat dit voel jy kan net opreik om hulle te pluk, hang die sterre van die suiderhemel.

      Na ete sit hulle om die kampvuur. In die verte kan hulle sebras hoor whagga-whagga, en sommer naby die kamp skater jakkalse. John is seker hy het ’n luiperd hoor hoes, maar niemand anders het dit gehoor nie.

      Schiele vra Pretorius uit oor sy jagervarings. “Hoe kry jy ’n bok in hierdie boswêreld? Vat jy sy spoor, of wag jy by ’n suipplek?”

      Pretorius vind dit moeilik om oor jag te praat. Eers het hy vir die pot gejag en toe later jagters teen betaling veld toe gevat, maar hy het nooit self met ’n geweer loop en trofees soek nie.

      “Jy probeer maar alles. Meestal hou jy net aan loop tot jy ’n bok kry.”

      “Het julle nog nooit in die bos verdwaal nie?”

      Dis John wat antwoord: “As jy nie mooi oplet waar jy loop nie, kan dit gebeur, Herr Schiele. Ek het al so verdwaal. Dan loop ek maar op my spoor terug. Soms kruis jy weer jou eie spoor. Dit voel snaaks as dit gebeur en jy besef jy het al in die rondte geloop. Dis nog erger vir mense wat nie die veld ken nie – hulle kan nie die plekke onthou waar hulle reeds was nie. Alles lyk vir hulle dieselfde: bome, miershope, kaal kolle – niks lyk bekend nie. Die veld strek stil en vreemd in alle rigtings om jou uit.”

      “Ek kan my goed voorstel hoe verlore dit ’n mens sal laat voel,” sê Anchen. “So alleen en weg, met niks bekends om aan vas te hou nie.”

      “Mense verdwaal nie net as hulle alleen is nie. Hulle kan in ’n groep ook wegraak,” sê Gotschalk. “Daar is verhale uit die oorlog van hele kompanjies soldate wat verdwaal het.”

      Later die aand wag Anchen Pretorius in langs die voetpad na sy Land Cruiser: sy slaapplek. Nog voor hy haar teen die stam van die kameeldoringboom gewaar, praat sy al, asof sy wil seker maak dat hy nie skrik nie.

      “Sal jy my asseblief die bos gaan wys, Herklaas?” vra sy en vat sonder meer sy hand.

      Toe haar vingers om syne sluit, besef hy dat die ontmoeting nie toevallig was nie; sy het dit beplan. Wat wil die meisiekind eintlik hê?

      “Wanneer?” vra hy. “Ons ry môreoggend vroeg.”

      “Nee, nou. Gaan wys my nou. Ek wil dit in die donker sien.”

      Hy lag en sê: “In die donker kan mens niks sien nie.”

      “Jy kan hier die dónker sien. En wat in die donker is, kan jy naby jou voel. Jy moet my net beskerm teen die ongediertes.”

      Hy haal sy flits uit die Land Cruiser. Skakel die ligstraal aan, laat vee dit oor die bos. Struwig het die paadjies in die kamp met wit klippe gemerk sodat niemand die doringruigtes in verdwaal nie. Buitekant is baie wildpaadjies wat vaag in die witgras wegsypel.

      Hy soek met die flitslig die pad na die wildsuiping toe. Lig rondom hulle op die bosse tot hy die regte paadjie kry: net twee spore tussen doringbome in die wit boesmansgras. Toe skakel hy die flits af en wag dat sy oë aan die dowwe sterlig gewoond raak. Dis genoeg om te keer dat hulle nie in die doringbome vasloop nie, maar kortkort gryp swarthaakdorings hul broekspype.

      “Diere sien mos beter as ons in die donker,” sê Anchen.

      Hy fluister: “Daarom moet ons stadig loop en baie fyn luister. En ons moenie praat nie.”

      In die stilte kan hulle selfs hul voetstappe op die sandpad hoor, die geklop van gekko’s, en af en toe ’n uil. ’n Geritsel ’n entjie voor hulle laat hom weer sy flits aanskakel. Hy swaai die ligkol oor die veld van boom tot boom. Iets skyn momenteel in die gras: die ligkol het ’n jakkals betrap wat probeer wegsluip. Die jakkals draai om en wys weer sy oog, blinkgroen soos ’n ster wat in die ruigte brand.

      Anchen het sy arm vasgegryp.

      “Net ’n jakkals,” stel hy haar gerus, maar sy skuif terstond onder sy arm in.

      Toe die jakkals agter ’n swarthaak indraf, skakel hy weer die flits af. Die donker vou onmiddellik koud om hulle. Die suiping is so naby dat hulle die modderige water kan ruik.

      Hy kyk op; groot sterre blink die hemel vol. “Daar’s die Suiderkruis,” sê hy en wys oor die kruin van ’n boom.

      Asof dit haar aanmoedig, slaan Anchen albei haar arms om sy lyf en druk haar styf teen hom aan. “Ek is bang, Herklaas, maar dis vir my lekker. Dis lekker om bang te voel vir die bos, vir die donker om ons en die diere wat so roep. Dis vir my iets nuuts, ’n ervaring wat ek nie in Frankfurt kan hê nie.”

      “Dan moet jy mos eintlik alleen wees, Fräulein. Kom ek los jou hier, en as jy voel jy’s nou rêrig bang, dan roep jy my,” terg hy goedig.

      “Nee, ek wil ook voel