Die ander vennoot. P.J Haasbroek. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: P.J Haasbroek
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798153515
Скачать книгу
en rond hulle was.

      “Is julle nie lus vir iets sterkers as bier nie?” vra Mea later. “Hoe lyk dit met ’n Kleine-Kleine?”

      Sy wys waar Pretorius ’n bottel brandewyn uit die buffet moet kry.

      “Om ons in die regte stemming te kry,” lag John.

      Lianna sê: “Toe nou! Ek sal sommer.”

      Sy spring op en gaan sit op John se skoot. Sy krap sy hare deurmekaar en hou aan om hom oor sy hele gesig te soen, tot hy verleë met ’n oop hand keer. Tog geniet hy dié borrelende lewenslustigheid; dis vir Pretorius maar alte duidelik.

      Hy besef nou hoekom John Lianna bo al die ander meisies verkies het: hy is oorweldig. Lianna het hom oorweldig met haar vrolike, spontane geaardheid. Op dié manier is sy hom oor.

      Hy staan op en gooi vir hom en John elkeen ’n dop in: brandewyn op ys. Hy het dit nodig. Boeremoed. Die drank bring ’n warm, behaaglike gevoel wat hom vir Mea laat glimlag. En hy sê ewe kordaat: “Ek het nogal gewonder hoe jy lyk, Mea. Otjiwarongo het maar min meisies.”

      Onmiddellik besef hy hoe ongevoelig dit klink, asof hy haar vergelyk. En dit laat nie reg aan haar geskied nie: sy is mooi, en klaarblyklik talentvol.

      Sy klap saggies op die bank se leë sitplek langs haar: ’n uitnodiging. Haar wenkbroue lig en sy vra soet: “Und bist du zufrieden, Herklaas?”

      Hy gaan langs haar sit. “Gits, ja. Ek bedoel eintlik . . . daar’s nie één soos jy in Otjiwarongo nie.” En toe sy aanhou glimlag, kyk hy sonder skroom af na haar mooi bruin bene.

      Hulle ry na die dansklub toe, al vier ingedruk voor in John se groot Fordtrok. Mea sit half op Pretorius se skoot; sy het haar een been vrypostig oor syne gehaak, en hy het sy arms om haar middel, sy hande liggies gekruis op haar plat magie. Die geur van haar parfuum damp met elke asemteug tot in sy kop: soet jasmyn en kruienaeltjies.

      John vertel van die rugbywedstryd wat Otjiwarongo ’n paar weke gelede teen Tsumeb gespeel het. Hy speel losskakel omdat hy al een is wat pale toe kan skop. “En Herklaas is ons agsteman, die sterkste losvoorspeler in ons span. Na die wedstryd het ons gaan vleisbraai op Tinus de Bruyn se plaas. Kasper Buitendagh was daar, saam met sy broer, die een wat polisieman is en net van grensdiens teruggekom het. Hy sê dit begin al moeiliker raak om die Swapo-terroriste wat oorkom, voor te keer; hulle patrolleer die paaie, maar die terroriste hou in die bosse. Kasper voel dit is net ’n kwessie van tyd voor hulle in Katatura is. Gelukkig is daar nog heelwat Suid-Afrikaanse soldate op die grens; hulle help darem keer en as dinge erger raak, kan hulle Angola ingaan om die terrs daar in hul neste te gaan uitrook.” Dis donker toe hulle voor die Safarihotel stilhou. Bo, teen die diepblou gewelf, begin sterre al prik. Maar die middag se hitte lê nog opgedam tussen die rantjies – hulle voel hoe warm dit is toe hulle uit die lugverkoelde kajuit klim.

      In die saaltjie is die ligte gedemp om die dansers in skemer te hul. Die orkes speel al. Toe Pretorius haar vra, sê Mea dis jazz: ’n stadige, meesleurende ritme om die pleitende tone van ’n trompet. Enkele paartjies dans, swaai stadig en lui deur hul draaie.

      By aanskoue van die skuifelende voete, hoe die lywe swenk en tol oor die gladde vloer, kom daar weer ’n beklemming in Pretorius se gemoed. Die dansvloer is ’n arena waarin ’n onbeholpene soos hy heimlik deur die toeskouers uitgelag word.

      Hulle vind ’n leë tafel en ’n kelner kom neem hul bestelling. Maar hulle sit skaars, toe steek Mea haar hand na Pretorius uit. “Kom!” gebied sy.

      Hy voel soos ’n skoolseun. Huiwerig betree hy die dansvloer agter haar aan. Hy neem haar hand, plaas sy ander hand op haar rug. Onder sy vingerpunte voel hy die regop holte tussen haar rugspiere. Toe sy na hom opkyk, is haar blik ’n ysblou toets: Uithaal en wys nou! Onsekerheid hang loodswaar in sy lyf. Hy trek haar teen hom vas, die soepel gimnas, of is dit nou die ratse tennisster?

      Toe Mea haar lyf teen syne pas, voel sy egter nie vir hom na die sterk sportvrou nie. Inteendeel, sy is meegewend en sag, byna huiwerig om sy bewegings teen te gaan. As hy vorentoe tree, voel hy haar hand oor sy skouer na sy norra skuif. Dans sy agteruit, gee hy maar net nog ’n tree, bewus van hoe haar voorkop soms aan sy bors raak.

      Dis toe makliker as wat hy gedink het. Hy hoef maar net saam met haar oor die vloer te loop, in die skuilte van die skemer agter die ander paartjies aan. Stuur hy haar, of volg hy? Hy kan nie agterkom nie. Hy gee ’n paar langer treë; sy rek hare om by te bly. Dan stadiger, en hy voel haar teen hom asemhaal.

      Hy waag ’n draai; sy gly maklik om hom, effens agteroor geleun. Hy het gevoel hoe sy ’n treetjie mis, dit herhaal. Hy trek haar stywer teen hom vas en draai weer. Maklik, haar bobene stamp vlugtig teen syne – daardie spiere wat so geoefen knoop en los. Toe speel die orkes die laaste akkoorde en hulle stop eers om iets koels te drink.

      Pretorius en Mea loop terug na hul tafel, na die vrolikheid van John en Lianna se gesprek. Lag hulle dalk vir hom? Nee, John maak al weer grappe.

      Pretorius trek Mea se stoel vir haar uit. Sy glimlag op na hom. Hy is verwonderd. Is dans met die vreemde meisie dan so maklik? Hoe het hy so gou reggekom?

      “Jy is wragtie goed,” prys hy Mea se vernuf.

      “Ek hou daarvan dat jy my so sterk vashou. Dan weet ek wat jy wil doen.”

      “Dit kan my in die moeilikheid laat beland.”

      Waarop sy lag: “Genau!”

      Die kelner bring hul drankies: vir hom en Mea albei brandewyn-en-coke met baie ys. Dis gesellig om so langs haar by die tafel te sit. Saam met haar uit die lang glas te drink. Die ys rinkel en gasborreltjies bars deur die oppervlak.

      Hy en Mea het hul eie gesprek; hulle steur hulle nie aan die ander twee se gekorswel nie.

      “’n Man wil altyd terugkom,” sê sy later. “Dalk om ordentlik te wees, om te wys hy dink nie sleg van haar nie. Of om uit te vind of hy darem ’n goeie indruk gemaak het.”

      “Party van ons is maar onseker,” erken hy.

      “Onseker? Is dit omdat jy bang is ek voel dis die begin van ’n verhouding?”

      “Dit begin mos gewoonlik so.”

      “Néé. Wat begin het, het geëindig. Dis agter die rug. Soos ná ’n pot tennis sê ek net dankie en wiederschau! En dan loop ék weg. Schluss! Kaput.”

      Hy is nie seker of hy haar reg verstaan nie. “Net so? Verby?”

      Sy lag. “As ek wegloop, sal jy sien hoe verras is jý.”

      “Ek hoop jy bly darem vanaand tot John terugry. Ek wil nie alleen hier sit nie.”

      “Toemaar, Herklaas, ek los jou eers as ons kláár is,” lag sy vrolik.

      Dit oortuig hom dat sy reeds besluit het een aand saam met hom is genoeg. Hy geval haar nie; sy geselskap of iets skiet te kort. En sy gaan hom nie sê wát nie. Hy moet maar net die beste van ’n slegte saak maak.

      Weer volg hulle John en Lianna na die dansvloer. In die geklop van die basdrom se ritme voel hy sy bloed pols. Hy staan teenoor Mea en trap-trap die eenvoudige passies, swaai sy bolyf van kant tot kant, pomp effens met sy arms soos sy hom wys.

      Toe die musiek verander, langsaam word, neem hy haar in sy arms. Hulle tree saam oor die vloer, dig teen mekaar sodat hy haar bewegings kan voel, die spel van haar spiere. Hy streel oor haar rug, roekeloos af na die begin van haar boudspleet en weer op oor haar blaaie tot waar hy haar kaal skouers voel. As dit net hierdie een keer is, dink hy, kan hy mos maar waag. Hulle sal mekaar nooit weer sien nie. Sy, die sportiewe, besige prokureur, sal hom nie eens onthou nie.

      Die warmte dam tussen hulle op. Hy gee nie om oor die gladde sweet in sy oksels, hoe klam sy hemp aan sy bolyf begin kleef nie. Snuif net behaaglik diep aan die geur van haar hare. Laventelblom ruik so kruierig soet, maar Mea het ook ’n ander geur. Die muskus van haar hals; waar kom perskepit se wilde geur vandaan?

      Terug by die tafel hervat hulle hul gesprek van vroeër. “Soek jy diep, baie diep in my, vind jy dalk