Die ander vennoot. P.J Haasbroek. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: P.J Haasbroek
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798153515
Скачать книгу
nie en hy lag net verleë.

      Die takke kraak meteens in die ruigte anderkant die suiping. Hy knip die flits aan.

      In die lig verskyn ’n groot koedoebul wat op ’n vreemde manier deur die bosse beur, strompelend, asof hy swaar gekwes is. Daar is egter nie ’n teken van ’n wond op sy lyf nie. Die lig wys net dat die dier pynlik maer is, só erg dat sy boude en blaaie diep holtes wys en sy ribbes soos sweephale onder die vaal hare lê.

      Die koedoe probeer in die oopte om die suipplek hardloop. Hy begin stadig sy tipiese lang galop, maar word deur ’n doringboom gestuit. Hy val, steier orent, en bly dan staan met sy kop wat in die gras hang, die lang gekrulde horings na vore asof hy daarop rus. Uit die hoek van sy bek loop ’n skuimerige speeksel.

      “Daai koedoebul is siek. Hulle maak nooit so nie.”

      “Watse siekte lyk so?”

      “Ek weet nie. Kom ons gaan terug.”

      Op pad terug stap Anchen agter hom in die sandspoor. Sy loop en neurie, en onderbreek dit net een maal om te sê: “Jy is so hard soos hout, Herklaas Pretorius. Daardie hout waarmee jy so graag vuurmaak.”

      “Hardekool?”

      “Ja, jy’s ’n regte hardekool. Maar toemaar. Diep binne, dink ek, klop jou hart groot en warm.”

      By haar tent slaan sy haar arms om sy nek, trek sy kop nader en soen hom sag op sy mond. “Dankie, Herklaas. Dit was lekker saam met jou in die bos. Ek gaan jou weer vra.”

      Op pad na sy Land Cruiser hoor hy John op sy kitaar speel, maar hy gaan nie na hom toe nie. Hy neem hom voor om nie vir John te vertel van die stappie saam met Anchen nie. Daar is te veel kapstokke in sy lewe waaraan John spot se jas kan hang.

      Hy lê later oor die siek koedoebul en wonder. So ’n groot bul, besig om dood te gaan in die bos. Hy, met al sy skerp sintuie, sy krag en die swierige draaie van sy horings, strompel hulpeloos en alleen in die donker rond. Waar is sy troppie koeie, al die kalwers? Die bos ken g’n genade nie.

      Die volgende oggend vertel John hom oudergewoonte, en sonder skroom, van Monika se besoek.

      Toe hy sy kampbedjie langs die ander Land Cruiser opslaan en begin om sy slaapsak daarop oop te rol, tree sy in die ligkol van die Colemanlamp in. “Mooi soos ’n engel,” sê John.

      “Wil jy nou al gaan slaap?” het Monika gevra. Dit was nog nie eens tienuur nie. Toe gaan sit sy so ewe sedig op sy bedjie en vou haar kaal bene oor mekaar.

      Hy het haar bedoeling gesnap, maar hy wou nie tyd mors met ’n lang voorspel nie. Toets haar ’n bietjie, het hy besluit. Toe druk hy haar met sy handpalms teen haar skouers sag agteroor. Sy het gelag toe sy terugval, met haar windjekker wat oopspleet en haar borste ontbloot.

      “Soos twee ryp papajas, sê ek jou, Herklaas!”

      Duidelik het Monika John beïndruk. “Sy is nou ’n nooi wat nie tyd mors nie.”

      Blykbaar het sy hom vasgegryp en haar bo-op hom gewerp. Só woes dat die pote van sy kampbed ingevou en hulle albei op die grond beland het.

      Pretorius het dit verwag, maar hy’t gedink John sou so ’n aanslag ontduik. Hy het herhaaldelik gesê hoe min lus hy vir die toer is, Lianna wag op hom in Windhoek.

      “Jy gaan seker nie vir Lianna vertel hoe die Mädchen jou ondergekry het nie,” terg Pretorius.

      “Dis maar deel van hierdie besigheid,” sug John.

      “Gaan jy?”

      “Is jy nou laf? Lianna het niks met ons kliënteverhoudinge uit te waai nie. Dis die soort saamkuier wat meisies soos Monika van ons verwag. Hulle soek net ’n knippie in die bos. Hou jy jou apostel, voel hulle ingedoen.”

      Pretorius is bly dat hy nie ’n woord oor sy wandeling saam met Anchen gerep het nie. So ’n bedeesde samesyn sal John glad nie kan kleinkry nie.

      Struwig kom die oggend by hulle kamp koffie drink. Hy vra of hulle darem wild gesien het die vorige middag.

      Hy is trots op sy elande; hulle is so mak soos beeste, sê hy. Hy het al gewonder of hy nie met hulle kan boer nie. Slag die kalwers en melk die koeie. Die Russe het glo in Siberië so met elande probeer boer.

      Pretorius vra hom oor die siek koedoe. “Dit het gelyk of hy met moeite op die been bly, en daar was skuim aan sy bek.”

      “Dis hondsdolheid,” sê Struwig. “Baie koedoes het vanjaar al daarvan gevrek.”

      “Hoe kry hulle dit? Moes ’n hondsdol ding hulle gebyt het?” vra Gotschalk.

      “Niemand weet presies nie. Party boere sê die virus kom in die drinkwater. Dalk is dit maar net die natuur se manier om hul getalle te verminder. Hier was baie koedoes. Te veel, eintlik, maar nou is hulle heelwat minder.”

      Net toe kom Monika, nog in haar blou slaaprokkie, uit haar en Anchen se tentjie uit. Dit lyk nie of sy eintlik koud kry nie; haar vel gloei rosig asof sy pas ’n warm bad gehad het. Sy laat Pretorius aan ’n blom dink, ’n sagte ligroos bloeisel wat toevallig in hierdie droë veld van bruin en oker beland het.

      En natuurlik herinner sy hom aan Mea, die tergende lag in haar blou oë.

      Monika weet presies watter effek haar verskyning op die mans by die vuur het. Sy wuif ’n groet en kom nadergestap.

      Struwig verloor summier die draad van sy storie. “Ek ken moeilikheid as ek dit sien,” fluister hy op Afrikaans, “met dié nooi in julle kamp!” Hy loer onder sy hoed se rand deur na Monika, wat nou doodluiters haar bene in die gloed van die vuurtjie voor hulle staan en baai.

      John sê aan Struwig dat hulle vandag Etosha toe wil ry, maar die boer se gedagtes is steeds elders.

      “Pas maar op, John, sy’s nie ’n tierkat van hier nie. Sy kan julle hele besigheid verongeluk.”

      Dit laat Pretorius grinnik: “Sy’t al klaar John se bed gebreek!”

      4

      Die droogte hou aan deur die vroeë tagtigs. Die boere van Otjiwarongo en Okahandja moet elders weiding vir hul beeste soek. Pretorius ry Gobabis toe, en daarna af na die suidwestelike Kalaharistreke, na Aroab en Karasburg, met die hoop dat daar beter weiding sal wees.

      Nêrens het die veld genoeg herstel ná die bietjie somerreën om meer vee te dra nie. Boonop het ’n groot veldbrand al die weiding rondom Windhoek en in die Khomas Hochland vernietig. In die rante gryns die parallellopende rotsriwwe soos die swart tande van ’n ou skaapskedel.

      Hy keer onverrigter sake terug na Guntsas.

      “Ek het nie geld om voer in die Republiek te gaan koop nie,” sê John. “Ons sal die beeste moet verkoop.”

      Omdat baie ander boere dieselfde plan gekry het, daal die vleispryse. Beeste is meteens spotgoedkoop in Suidwes.

      Die geld wat hy vir die beeste gekry het, stoot John in Teufelsbach Gemstones in. Hulle grawe nog ’n paar prospekteringslote met die hoop om weer ’n ametisrif raak te loop.

      In Januarie 1983 gooi hulle handdoek in. John adverteer die myntoerusting: Te koop, kwalik gebruik!

      Binne dae bel ’n man oor die laaigraaf: hy wil kom kyk. John spreek met hom af wanneer hy Guntsas toe kan kom.

      Gedurende daardie week steek die weer op, onverwags potblou uit die noordweste. Hulle kan die reën op die wind ruik, maar die wolke vol belofte trek verby. Nog wolke waai oor, en dit gee Pretorius hoop.

      Een nag hoor hy reën tik-tik op die sinkdak van sy buitekamer, maar dis net enkele groot druppels. Sy blydskap syfer weg toe dit ophou en die wind weer begin waai. Hy lê en dink aan hul uitgedunde kudde; as die reën nou kom, kan die beeste dalk nog gered word.

      Voordag die oggend toe die koper op Guntsas verwag word, sak ’n ligte reënbui uit. Die geur van die klam grond hang in die lug, soet soos dié van ’n vrou se hare.

      Die