Die ander vennoot. P.J Haasbroek. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: P.J Haasbroek
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798153515
Скачать книгу
nog genoeg plek vir John. Sy glimlag vir hom toe hy daar kom sit.

      “Nou voel ek lekker veilig,” sê sy. “Tussen twee groot wit jagters.”

      “Voldoen Suidwes aan julle verwagtings?” vra Jannes vir die Duitsers. Agter hom boggel die donker nok van die klipkop teen die sterbesaaide aandlug.

      Gotschalk leun vertroulik vorentoe. “Weet jy, meneer Bester, tot dusver ontwyk ons versigtig al die brandpunte.”

      Sy tande blink in die vuurlig soos hy glimlag. Klaarblyklik bedoel hy dit as aanknopingspunt vir ’n gesprek wat in die politiek se rigting beweeg.

      Bester stel hom nie teleur nie. “Ja, dis beter om uit die grensgebied weg te bly. Al het ons weermag alles daar onder beheer.”

      “Sekere roetes lei na die politieke onrus.” Anchen sper haar oë groot en lok hom met ’n bang kyk uit. “Ons kom dalk nog af op hierdie dorre land se vele maatskaplike en ekonomiese probleme.”

      Dan draai sy na John langs haar, plaas haar hand op sy arm. “Maar John hier, nou so kalm en bedaard, vermy sorgvuldig al daardie gevaarlike roetes.”

      Monika lag. “Ons is op ’n politiek-korrekte safari, Jannes. Ons hou ons streng by berge en bosse en allerhande gevaarlike diere.”

      Bester kyk van die vuur af op. “Dis moeilik om te sê wat’s die regte pad vir Suidwes-Afrika.”

      “Soek Suid-Afrika dan nog na ’n plan?” vra Anchen kamma verbaas. “Ek dog hulle hét al een.”

      Gotschalk glimlag weer met sy blink tande. “’n Plan so goed soos afsonderlike ontwikkeling! Wat die groepe in Namibië ook netjies apart sal hou.” Duidelik geniet hy die koers van die gesprek.

      Bester stel hoe uiteenlopend die volke is, beduie met ’n wye gebaar en oop hande. “Wat in Suid-Afrika werk, sal nie noodwendig hier werk nie.”

      “Wérk dit dan in Suid-Afrika?” vra Gotschalk met ’n frons wat sy voorkop laat keep. “Presies wát werk daar, meneer Bester?”

      Bester kyk ernstig na hom; duidelik het hy al hieroor nagedink. “Iets werk as dit verbetering bring. Soos beter mediese dienste en die verhoging van mense se lewenstandaard. As dit sterftesyfers verlaag. Veral kindersterftes het baie afgeneem; dis nogal bemoedigend. Maak maar ’n optelsom van sulke gunstige faktore, en wat kry jy? Die swart mense se lewensverwagting het aansienlik gestyg.”

      Ná ’n oomblik van stilte waarin hy aan sy wyn proe, vra hy retories: “Hét afsonderlike ontwikkeling gewerk? Ja, sekerlik . . . as jy dit aan sulke syfers meet.”

      “Net jammer die swart mense sien dit anders,” sê Schiele.

      Waarop Gotschalk vinnig byvoeg: “Hulle verkies oënskynlik politieke regte bo maatskaplike verbetering.”

      “Myns insiens is politiek vir hulle maar net ’n middel tot die doel,” sê Bester. “Hulle glo meerderheidsregering sal hulle die goed gee wat hulle vra . . . met die hoop dat ander daarvoor sal betaal. Ek werk in ’n openbare hospitaal: ons bied reeds op groot skaal goedkoop mediese dienste aan hulle. Weet u hoe min kos ’n bevalling swart vroue? Maar hulle eis nog meer. Hulle sal met niks minder as gratis gesondheidsdienste tevrede wees nie.”

      “Amper waar ons in Duitsland is,” sê Schiele. “Met ons sosiale welsynstaat.”

      “Nogal ’n model om na te aspireer!” Gotschalk lig sy leë glas hoog. Skud dit asof hy hoop om druppels te sien uitspat: ’n sproeireën van die goeie lewe oor alle behoeftiges.

      “Die administrasie moet net ons paaie in stand hou,” probeer John die gesprek in ’n ander rigting stuur. “Hier behoort dit voorrang te geniet.”

      “Vir die safari’s wat die land deurkruis ’n móét.” Schiele slaan met sy vuis in sy linkerpalm om te beklemtoon. “Anders strand ’n mens dalk op ongerieflike plekke.”

      “Kom, Jannes. Die kinders is alleen daar,” sê Sheila Bester.

      Dié skielike oproep verras Pretorius. Hy het nie opgelet of sy met haar man se standpunt saamstem nie, bloot omdat sy nog niks gesê het nie. Nou bevestig sy egter haar aandeel in die gesin se besluite. Sy het ’n musikale stem, dink hy. Soos ’n klein voëltjie se fluit.

      Bester draai eers half vererg na sy vrou toe. Dan staan hy op. Hy knik sy hoë voorkop beleef na Gotschalk en toe na die ander.

      “Goeienag, vriende. Dit was interessant om julle menings te hoor.”

      “En jý het goeie inligting, hoor,” sê Anchen.

      Wat Gotschalk kopknikkend beaam. “Waardevol, ja. Baie dankie!” Hy groet op Duits.

      Al die ander wens ook die Besters ’n goeie nagrus toe. Van die watergat se kant af skril die verergde getrompetter van ’n olifant.

      Minute later sien Pretorius hoe Jannes Bester se skadubeeld groot word in sy tent. Hy is klaarblyklik ’n beampte wat nie geringgeskat kan word nie.

      Gotschalk sit terug in sy stoel. “Dis goed om met iemand te praat wat al die sterk punte van die stelsel ken, hoewel hy die skromelike gebrek aan aanvaarding verswyg. Op slot van sake is dít wat die deurslag sal gee. Soos hier in Namibië, waar Swapo se goedkeuring ontbreek.”

      John vererg hom vir die opmerking. “Die man moet sy simpatie vir Swapo vir homself hou,” sê hy onderlangs op Afrikaans vir Pretorius. “Wat weet hy van ons probleme?”

      Gedurende die nag word hulle asblik deur twee ratels besoek. Toe Pretorius die blik hoor omval, staan hy op en klim met die flits uit die Land Cruiser.

      Met doelgerigte ywer krap die bonkige diertjies die inhoud van die asblik uit. Die mannetjie steur hom nie aan Pretorius se teenwoordigheid nie, grom net ’n waarskuwing. Ná ’n rukkie draf die paartjie kordaat weg, bakbeen op soek na ander aas.

      Terug in sy slaapsak lê en dink Pretorius oor die kampvuurgesprek. Oor Bester se regverdiging van apartheid. Die Suid-Afrikaanse administrasie wou weliswaar ook hier in Suidwes die volke skei.

      Gotschalk glo kennelik in selfbeskikking. Wat kan hy, Pretorius, daarop antwoord? Dat sy pa in Angola gebore is en nooit burgerskap van Suidwes of Suid-Afrika gekry het nie? Dat hyself net ’n burger van Suidwes geword het omdat hy moes?

      En as witte was dit maklik. Hier tel elke kop; die regering het jou nodig, al kom jy ook uit Angola.

      Hy het niks om te sê oor veelpartydemokrasie nie. Of oor die moontlikheid dat al die mag in die hande van een politieke party kan beland. Politici wil regeer om vir hulleself aansien te verwerf. En daarmee saam die kans om lekker aan te sit by die suiptrog van die administrasie.

      Politiek laat hom koud.

      En nasionalisme? Mense se geesdrif vir ’n staat. Vir ’n vlag wat bo ’n polisiestasie wapper, en ’n volkslied. Watter verskil maak dit tog aan die mense in Afrika? Waar moet sy lojaliteit tog lê?

      5

      Hul eerste kliënte met die jagbesigheid is twee Amerikaners. John ry vroeg met een van hulle, die geesdriftige Kevin L. Grant, in sy Fordtrok rantjieskamp toe om ’n eland te gaan soek. Die beeswagters het glo ’n troppie daar in die doringveld sien wei.

      Pretorius stap saam met die ander een, Jeff Lanser, na sy ou Datsunbakkie wat onder die groot kameeldoring op Guntsas se werf staan. Dis koud en die uitvoeragent uit Idaho dra ’n skaapvelbaadjie. Hy klim agterop met sy Winchestergeweer. Langs hom op die dwarsplank sit Natie, die Damara-plaaswerker wat moet help laai, of spoorsny as ’n bok gekwes is.

      Joan, Lanser se vrou, gaan ook saam. Sy is opgewonde oor die vooruitsig om die veld in te ry en haar man ’n koedoe te sien skiet. Sy het gesien hoe ontsagwekkend die horings is wat teen die muur op Guntsas se stoep hang. Haar kamera hou sy gereed op haar skoot, en met haar ander hand hou sy Pretorius se geweer tussen hulle regop.

      Hulle het die vorige aand tot laat op die stoep gekuier. Ná Pretorius vir die Amerikaners vleis gebraai