Die ander vennoot. P.J Haasbroek. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: P.J Haasbroek
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798153515
Скачать книгу
het minder gedoen aan Grant – die kleiner een van die jagters en ’n eiendomsagent – as aan die groot, vet Lanser met die wyerandhoed, wat later uitbundig gelag het vir elke grappie wat John vertel. Lanser het baie onvas op sy voete probeer demonstreer hoe hy eenkeer moes omswaai om ’n takbok te skiet wat agter hom uit die bosse gebars het, toe val hy amper van die hoë stoep af.

      Voor Joan Lanser se ongeoefende oog staan die skans van die doringruigtes waarin die wild skuil soos ’n muur; sy kla oor die bos oral so dieselfde lyk.

      “Probeer om bewegings in die doringlaagte op te let,” gee Pretorius raad. “As ’n koedoe blare pluk, ritsel ’n tak effens, ’n stertkwas kan dalk swaai, of die bok roer net sy groot ore. Koedoes weet hoe om doodstil te staan en onder die bome deur te kyk wie aankom.”

      Vroeg in die oggend egter soek hulle kos, en is meer op hulle gemak ná die nag se onrus, verduidelik hy. Dis hoekom hulle die koedoes vroeg moet gaan soek.

      Joan praat aanmekaar. Sy vertel hom Jeff was in Viëtnam, op ’n rivierboot. ’n Jaar lank het hulle op en af met ’n rivier langs deur die woude na die Viëtkong gesoek. Tot ’n virus hom in die hospitaal laat beland het. Ook maar goed so, anders het hy dalk ook onder die vlag teruggekom. Van toe af kan Jeff nie meer sy drank vat nie. Maar dis goed as iets ’n man briek.

      “Do you also have something breaking your speed, Huklaas?”

      “Why?”

      “You are very cautious. You’re what we call the strong, silent type.”

      “I am quiet because I prefer to listen to people.”

      “Not at all like your partner . . .”

      Toe hulle om ’n draai in die sandpad skielik op ’n troppie koedoes afkom, staan die diere oop en bloot in die son – groot, vaalbruin en skynbaar onbewus van die gevaar wat die bakkie bring. Drie koeie, twee kalwers, maar waar is die bul?

      “Which one?” fluister Lanser dringend van skuins bokant Pretorius se kop. Hy het reeds die grendel van sy Winchester oopgetrek en ’n patroon halfpad in die loop ingestoot.

      “Don’t shoot! Wait for a bull,” beveel Pretorius sag.

      Die koedoes draai weg en verdwyn met lang, stadige spronge in die ruigte. As daar ’n bul by was, het hy betyds padgegee. Joan begin Pretorius opgewonde uitvra, maar hy wil eers na die spore gaan kyk.

      Hy klim uit en Natie, wat die roetine ken, volg hom. Die Amerikaners bly by die bakkie agter. Dis volgens John se instruksie: Beindruk jou kliënte met optredes wat hulle nie mooi begryp nie. Dan dink hulle dis alles tricks of the trade – geheime, ingewikkelde prosedures wat die professionele gids volg om die sukses van die jag te verseker.

      Hulle loop ’n groot draai om die kol bosse waarheen die koedoes gemik het en kry gou hul spore: smaller ingetrap as wat ’n bul sou maak, en skerper, met los sandjies wat in die hardloop weggespat het. Nie ’n enkele groot spoor van ’n koedoebul nie.

      ’n Ruk lank staan Pretorius en Natie onder ’n boom en tuur na die bosrantjies, maar nêrens sien hulle iets beweeg nie.

      Terug by die bakkie drink Jeff en Joan koffie wat hulle uit Pretorius se fles geskink het. Hulle bied hom van sy eie koffie aan. Hy neem twee slukke en gee die res vir Natie. Dié blaas die stoom van die koffie af voor hy die beker na sy lippe bring. Hy klap sy lippe van genoegdoening toe hy klaar is.

      Dis al ná tien die oggend toe hulle weer ’n koedoe sien. Hierdie keer is dit ’n groot drie-draaie-bul – Natie het die lang, gekrulde horings bokant ’n doringbos gewaar en sag op die bakkie se dak geklop.

      Pretorius kyk deur sy verkyker na die bos, meer as honderd en vyftig tree weg. Hy kan nie die koedoebul se vaal lyf deur die takke sien nie, maar die luggie trek skaars, en weg van hulle af, sodat die dier nie hul reuk sal kry nie. As die koedoe hulle gewaar het, sal hy wag om te sien of hulle naderkom. Dan padgee, die ruigte in.

      Natie beduie hulle moet nadergaan, te voet; die koedoebul bekruip as dit kan.

      Pretorius verwag dat die Amerikaner onwillig sal wees om van die bakkie af te klim, maar hy vra tog vir Lanser of hy die bok wil probeer bekruip. Tot sy verbasing swaai die groot Amerikaner summier sy bene oor die kant, druk sy hoed op sy kop vas en beduie hulle moet voor loop.

      Hulle loop baie stadig, gebukkend agter die swarthaakbosse sodat die koedoebul hulle nie moet sien aankom nie, en probeer om nie takkies onder hul voete te laat kraak nie. So vorder hulle vyftig tree en sak dan op hul knieë af. Pretorius het nog steeds nie die koedoebul gesien nie, maar Natie beduie hulle moet linksom gaan, na ’n mopanieboom wat eenkant in sy poel skaduwee staan.

      Toe Pretorius hom stadig lig om oor die swarthaak te loer, staan die koedoebul so naby dat hy hom met ’n klip kan raakgooi. Hy wys met sy voorvinger aan Lanser in watter rigting hy moet kyk om die dier te sien.

      Die jagter lig sy geweer na sy skouer.

      Dis so stil dat Pretorius die klik van die veiligheidsknip hoor. Die volgende oomblik knal die skoot.

      Toe die koeël die koedoebul tref, reg voor sy bors in sy kuiltjie, spring hy. Dit gebeur altyd met ’n hartskoot: met sy laaste krag probeer die dier nog vlug. Maar die koedoe was onbewus waar die jagters skuil en storm reg op hulle af. Lanser skiet weer, en die groot bul val vlak voor hulle in die gras neer.

      Hulle kom al drie orent. Toe hoor hulle skril, opgewonde krete van die bakkie se kant af. Joan het die afloop van die jag gesien en is ekstaties.

      Pretorius sien hoe die koedoe vrek: sy oë wat dof word en bloed wat uit sy bek loop. Natie vra sy mes om die dier keelaf te sny.

      Hulle laai die koedoebul agterop die Datsun. Pretorius staan in die bak, vat een van die horings stewig vas en trek. Die kop en swaar nek lig oor die kant. Daarna sleep hy die koedoe se voorlyf tot in die bak, terwyl Natie en Jeff agter beur om die boude ook op te kry.

      Jeff lyk trots op die bloedvlekke op sy broekspype. “You’re as strong as an ox,” prys hy Pretorius.

      Die aand by die vuur vier hulle Lanser se suksesvolle jag met whiskey en ys. Joan vertel die soveelste keer hoe die gewonde koedoebul op Jeff afgestorm het, maar hy het hom met sy volgende skoot gestuit. “It was so goddamn exciting, I nearly wet myself!”

      “Hierdie storie gaan nog vir ons baie klante bring,” sê John laat die aand vir Pretorius. “Dit lyk of ons goed geld uit jag kan maak.”

      “Die Amerikaners wil net die trofeë hê. Wat gaan ons met al die wildsvleis maak?”

      “Ons begin ’n biltongstalletjie langs die grootpad.”

      Daaruit, blyk dit toe later, kon hulle ’n lekker dik stroom kontant melk.

      Intussen het ’n ander soort jagtog reg onder Pretorius se neus ontwikkel . . . Hy was nou seker John en Lianna het die skoot hoog deur. Sal sy binnekort die vrou in Guntsas se groot, koel huis word?

      Hoe sal dit my lewe verander? het hy homself afgevra.

      Moet hy nie dalk nou al elders gaan werk soek nie? Maar met dié gedagte kon hy hom nie sommer versoen nie.

      Toe vlugtig weer die dagdroom: Kan hy Mea gaan haal en na Guntsas bring? As vrou van die plaasbestuurder? Al het hy nooit aan homself as plaasbestuurder gedink nie, eerder as John se vennoot. Sal Mea daarmee tevrede wees? Wat sal sy op Guntsas doen?

      Hy kon egter nie dink hoe sy hier sal aanpas nie. Sy sal nie haar prokureurspraktyk wil laat vaar nie. En geleenthede vir haar om in Otjiwarongo sport te beoefen, is maar skraal; die plaas lê ver. Kinders hê en grootmaak? Mea ’n ma?

      Dis eers toe hy aan ’n gesin dink dat hy besef hoe ingrypend sy omstandighede sal moet verander om Mea tevrede te stel. Só ingrypend dat dit eintlik onmoontlik is. Hy sal van Guntsas moet weggaan en iets anders gaan doen.

      Hy glimlag toe hy dink wat sy ma daar in haar huisie in Keetmanshoop van so ’n plan sal sê. Hy is nie opgelei vir ’n professionele beroep nie; hy het net matriek by die tegniese skool. Wat anders