Ontdek God in die stories van mense. Benescke Janse van Rensburg. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Benescke Janse van Rensburg
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318725
Скачать книгу
bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

      Kyk na ’n foto van Mariette by www.benescke.co.za

      week 7 . dag4

      Teksverse en vrae

      Teksverse vir die week

      •Efesiërs 3:20-21 (1953-hersiening): “… aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink … aan Hom kom toe die heerlikheid … tot in ewigheid! Amen.”

      •Psalm 147:4: “Hy besluit oor die getal van die sterre en gee elkeen ’n naam.”

      •Jeremia 32:27: “Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?”

      Vrae om oor na te dink

      1.God is betrokke by die DETAIL van jou lewe. Wat beteken dit vir jou?

      2.Lees weer Efesiërs 3:20-21. Vertrou jy God vir die onmoontlike?

      3.Lees weer Jeremia 32:27. Wat beteken dit vir jou?

      week 8 . dag 1

      Deurbraak

      (Baäl-Perasim)

      Twee oorloë kort ná mekaar, teen dieselfde vyand, maar twee verskillende strategieë uit God se hand. Dít is wat vir Dawid voorgelê het kort nadat hy as koning van Israel ingeseën is.

      Die Filistyne het teen Israel opgetrek en in die Spooklaagte kamp opgeslaan. Dit is hier waar Dawid na God gegaan het met die vraag: “Moet ek teen die Filistyne gaan veg en sal U my help om hulle te oorwin?” God het geantwoord: “Ja, gaan veg teen hulle. Ek sal beslis toesien dat jy hulle oorwin.”

      Dawid en sy manskappe het teen die Filistyne opgetrek. God het hulle beskerm en voor hulle uitgetrek. Die oorwinning was só groot dat Dawid al sy manskappe saamgeroep het en die plek Baäl-Perasim (God van die deurbraak) genoem het. Dawid het verduidelik dat God deur die vyande gebreek het soos water wat deur ’n damwal breek.

      Kort ná hierdie veldslag het die Filistyne weer in die Spooklaagte teen Israel kamp opgeslaan. ’n Mens sou dink dat Dawid dieselfde strategie sou volg. Tog gaan Dawid weer na God. Dié keer is God se strategie anders: “Moenie die Filistyne weer van voor af aanval nie. Gaan óm hulle en val hulle dié keer van agter af aan. As jy ’n geluid in die boomtoppe hoor wat soos voetstappe klink, moet jy vinnig aanval, want dan is dit Ek, die Heer wat voor jou en jou soldate uittrek om die Filistyne te verslaan.” Weer het Dawid God se bevel gehoorsaam en die Filistyne so ver teruggedryf dat hulle nie weer dadelik kon aanval nie.

      God bring die DEURBRAAK (Baäl-Perasim). Soms moet ons net soos Dawid vir God sy strategie vra – en telkens daarop vertrou!

      Hierdie is ’n oorvertelling van 2 Samuel 5:17-25.

      week 8 . dag 2

      God gee jou deurbrake

      “Jy moet asseblief die klavier teen die einde van die maand kom haal. Ons ruimte in die werkwinkel is beperk …” Dít was die soveelste boodskap wat Shanerie Korff van die winkel ontvang het waar sy haar klavier laat restoureer het. Sy wou graag haar klavier gaan haal, maar het nie geld gehad om daarvoor te betaal nie.

      Die ekonomiese resessie het veral die juweliersbedryf hard getref. Die verkope was aansienlik minder as gewoonlik en met haar maandelikse kommissie kon sy nou net-net haar uitgawes betaal. Sy kon eenvoudig nie bekostig om vir ’n klavier se restourasie te betaal nie.

      “Wat nou, Here?” het sy telkens gebid. “Hoe op dees aarde moet ek hierdie situasie hanteer?” Tog, elke keer as iemand haar gevra het of sy al ’n oplossing daarvoor het, was haar antwoord dieselfde: “Dit mag dalk vreemd klink, maar dit voel regtig vir my asof God sê dat ek net in Hom moet berus. Dat Hy in beheer is en dat net een transaksie voldoende gaan wees.” Vir almal was dit ’n vreemde gedagte. Dit moes iemand besonders wees wat soveel sou koop dat Shanerie se kommissie haar klavier se restourasie kon betaal.

      Terwyl sy in gehoorsaamheid op God gewag het, het Shanerie se finansiële situasie steeds agteruitgegaan. Soveel so dat sy haar kredietkaart later vir haar basiese behoeftes moes gebruik. Te midde van hierdie moeilike tyd het sy aangehou om haar tiende te gee en God daagliks herinner dat sy op Hom wag. As iemand haar gevra het of dit nie onverantwoordelik is om steeds in hierdie moeilike tyd haar tiende te gee nie, was haar antwoord: “Geen toetstyd is veronderstel om maklik te wees nie. Dit is juis dan wanneer God kan sien hoe eg jou geloof in Hom werklik is.”

      Op ’n gewone dag aan die einde van 2008 het ’n welgestelde sjeik uit Koeweit die juwelierswinkel waar Shanerie gewerk het, binnegestap. Dit was Shanerie se beurt om hom en sy vrou te help. Min het Shanerie besef dat hierdie paartjie ’n uur of wat later met juwele ter waarde van R1,2 miljoen by die winkel sou uitstap.

      Nie net kon Shanerie met haar kommissie dadelik haar klavier gaan betaal nie. Sy kon haar skuld afbetaal en het ’n paar weke later ook ’n toekenning ontvang vir die grootste transaksie in die geskiedenis van die kettingwinkel waarvoor sy gewerk het.

      Psalm 62:2-3: “Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding. Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting sodat ek vas en stewig staan.”

      Verkeer jy dalk vandag in ’n situasie waar jy, net soos Shanerie, dringend ’n deurbraak benodig? Dalk bid jy vir restourasie in jou huwelik of reën op die plaas? Dalk vir die genesing van ’n geliefde? God bring die DEURBRAAK (Baäl-Perasim). Kan ek jou vandag uitdaag om in die wagtyd gehoorsaam aan God te bly? As jy in Hom berus, mag Hy dalk ook jou “sjeik” op die regte tyd oor jou pad stuur.

      Vader God, dankie dat ek elke dag in geloof in U kan berus. Dankie dat U op hierdie oomblik besig is om al die dinge in my lewe so te skuif dat my deurbraak ook op presies die regte tyd oor my pad sal kom. Versterk my vandag waar my geloof swak word en help my om my oë weer op U te rig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

      Kyk na ’n foto van Shanerie by www.benescke.co.za

      week 8 . dag 3

      God gee jou deurbrake

      Met ’n stofwolk steeds agter sy bakkie het Pieter Keyter, ’n boer, onder die koelteboom ’n entjie van sy landerye af gestop. Trane het oor sy wange gestroom. Hoe sou sy vrou op sy jarelange pornografieverslawing reageer? En wat gaan van sy kinders word?

      As 11-jarige koshuisseun is Pieter vir die eerste keer aan pornografie blootgestel. Op universiteit het hierdie verslawing voortgeduur. Toe hy sy meisie met ’n ander man in die bed betrap, het dit hom gebreek. Hy het oorsee gevlug om van die verwerping en seer af weg te kom. Hier het verskeie losbandige verhoudings gevolg voordat hy na Suid-Afrika teruggekeer het. Hy en Blanche is later getroud.

      Hoewel Blanche onbewus was van Pieter se pornografieverslawing, het sy emosionele afkraking ’n wig tussen hulle ingedryf. Pieter se broer het hom herhaaldelik saam met hom kerk toe genooi. Pieter het telkens verskonings uitgedink, maar eindelik het hy ingestem bloot om hom stil te kry. In die kerkdiens het Pieter die werking van die Heilige Gees ervaar. Hy het geweet dat hy sy lewe moes skoonmaak.

      Daardie aand ná die kerkdiens kon Pieter nie slaap nie. Dit het gevoel asof iets hom jaag. Nadat almal gaan slaap het, het hy homself in die sitkamer bevind. Hy wou sy lewe aan God oorgee, maar het net nie geweet hoe om dit te doen nie. Sy broer se woorde het by hom opgekom: “Boeta, vra God net in die Naam van Jesus Christus om jou te red.” Pieter het dit skaars gedoen toe ’n bose stem hoorbaar langs hom praat: “Jy moes nooit daardie Naam genoem het nie.” Pieter wou skree, maar geen geluid wou uitkom nie. Net toe dit voel asof hy gaan sterf, het Pieter ’n gevoel van liefde en vrede deur sy wese voel spoel. Instinktief het hy geweet dat God hom vrygemaak het.

      Langs die kombuistafel die volgende oggend was almal in trane toe Pieter die nuus van sy bekering met hulle deel.

      Ná hierdie dag het Pieter begin om sy verhouding met Blanche en sy gesin te herbou. Vir die eerste keer was hy en Blanche waarlik gelukkig getroud. Die skuldgevoel oor sy kortstondige buite-egtelike verhouding voor sy bekering het egter aan Pieter