Ontdek God in die stories van mense. Benescke Janse van Rensburg. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Benescke Janse van Rensburg
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318725
Скачать книгу
Die minute het verbygetik. Een uur. Twee uur. Drie uur. Tegan het bly leef. Meer as dit, sy was heeltemal normaal en gesond. Na aanleiding van die beskadigde plasenta waaruit Cat se baba gebore is, het een van die dokters opgemerk: “Soms sien ons van hierdie rare wonderwerke in die mediese wêreld. Vanaand was definitief een van hulle!” Met die skryf van hierdie boek was Tegan reeds sewe jaar oud.

      Psalm 33:16-18: “Dit is nie deur ’n groot leër dat ’n koning wen nie en nie deur groot krag dat ’n held behoue uitkom nie. Dit is die Here wat sorg vir dié wat Hom eer, vir dié wat op sy mag vertrou.”

      Staan jy vandag met jou rug teen die muur? Onthou, God het BUITENGEWONE KRAG. Loof en prys Hom te midde van jou frustrasies, seer of uitdagings. Wie weet, dalk is dit al wat jy nodig het vir jou deurbraak?

      Vader God, dankie dat ek weet dat geen uitdaging vir U te groot is nie. Ek sit die hindernis op my pad vandag voor u troon neer. Omdat ek glo dat U buitengewone krag het, vra ek dat U hierdie situasie sal omdraai. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

      Kyk na ’n foto van Cat en Tegan by www.benescke.co.za

      week 4 . dag 3

      God het buitengewone krag

      Dit was ’n laatmiddag in September 1999 in Chapungu, Malawi toe Vic O’Kelly en sy span die sendingtent vir die dertiende agtereenvolgende jaar in die plaaslike gemeenskap opslaan. Dit was jaarliks vir hom en sy sendingspanne ’n geweldige voorreg om te sien hoe Jesus se lig en liefde die plaaslike mense se lewens ingrypend verander.

      Die tent was skaars op toe die mense van oral begin instroom. Sommige het dae lank gestap om hierdie uitreik-aksie by te woon. Waar Vic voor in die tent gestaan het, het hy die mense dopgehou. ’n Ouerige dame, Sofia, met haar diepgeplooide gesig en ’n klein seuntjie aan haar hand, het dadelik sy aandag getrek. Dit het gelyk soos ouma of oumagrootjie en haar kleinkind. Hulle het deur al die mense gestap tot heel voor waar hulle ’n paar meter van die verhogie op die grond gaan sit het.

      Sofia het net op die grond gaan sit toe die seuntjie op haar skoot klim, haar bors uithaal en daaraan begin drink. Vir Vic was dit ’n groot skok. Hoe op dees aarde kon ’n vrou van sowat 80 jaar genoeg melk hê om hierdie seuntjie te voed?

      ’n Tolk wat Vic se geskokte gesig gesien het, het nader gestaan en hom Sofia se storie vertel. Sowat ’n jaar tevore het Sofia, die seuntjie se oumagrootjie, se kleindogter van die huis af weggeloop omdat sy die verwerping van die seuntjie se pa nie langer kon hanteer nie. Skielik was die huilende seuntjie aan Sofia oorgelaat.

      Met die besef dat hulle kilometers van die naaste winkels met babakos was, het Sofia die honger, huilende baba in haar arms opgetel en met trane in haar oë na God opgekyk terwyl sy bid: “God, ek weet dat U almagtig is. Ek smeek U vir ’n bonatuurlike wonderwerk!”

      Op daardie oomblik het Sofia iets vreemds beleef. Toe sy afkyk het sy gesien hoe haar borste swel. Hulle was vol melk! Selfs ’n jaar ná hierdie gebeurtenis het Sofia steeds genoeg melk gehad om die klein seuntjie daagliks te voed.

      Markus 9:23: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”

      Efesiërs 3:20-21: “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe … deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.”

      Watter uitdaging lê vandag voor jou? ’n Gebroke huwelik? ’n Finansiële tekort? ’n Gebroke verhouding met ’n kind of jou ouers?

      Onthou, God sluimer en slaap nooit nie. Hy het BUITENGEWONE KRAG. Dit is immers Hy wat die son vir Josua en die Israeliete laat stilstaan het sodat hulle die oorlog kon voltooi (kyk Josua 10:11-14). Dit is ook Hy wat die son se skaduwee vir koning Hiskia met tien trappe kon terugskuif (kyk 2 Konings 20:9-11). En dit is Hý wat Jerigo se mure kon laat intuimel.

      Waarom slaan jy nie ook vandag soos Sofia jou oë op na God en vertrou Hom vir ’n deurbraak in jou lewe nie?

      Vader God, baie dankie dat daar by U geen beperkings is nie. U het waarlik buitengewone krag. Lei my vandag om my geloof en vertroue net soos Sofia ten volle in U te plaas. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

      Kyk na ’n foto van Sofia en haar agterkleinseun by www.benescke.co.za

      week 4 . dag 4

      Teksverse en vrae

      Teksverse vir die week

      •Psalm 104:1-5 (Die Bybel vir Almal): “My God die Here, U is baie groot. U is die Koning en almal rondom U respekteer U en prys U. Daar is lig rondom U … U ry op die wolke, U loop op die vlerke van die wind. U kies die winde om u boodskappers te wees, die vuurvlamme is u werkers. U het die aarde op sy plek vasgesit, sodat dit nooit sal skud nie.”

      •Psalm 22:4: “U is tog die Heilige wat woon waar die lofsange van gelowiges weerklink!”

      •Psalm 33:16: “Dit is nie deur ’n groot leër dat ’n koning wen nie en nie deur groot krag dat ’n held behoue uitkom nie. Dit is die Here wat sorg vir dié wat Hom eer, vir dié wat op sy mag vertrou …”

      •Markus 9:23: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”

      •Efesiërs 3:20-21: “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe … deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.”

      Vrae om oor na te dink

      1.Wat beteken dit vir jou dat God oor BUITENGEWONE KRAG beskik?

      2.Lees weer die woorde in Psalm 22:4. Gaan jy volgende keer soos Cat en haar gemeente of Paulus en Silas begin om God in jou storm te loof en prys?

      3.Lees weer die woorde in Efesiërs 3:20. Wat gaan jou reaksie wees as jy soos Sofia met jou rug teen die muur staan?

      week 5 . dag 1

      Chirurg

      Jare lank het die 52-jarige Wally Katzke gerook, gedrink en ongesond geëet. In 2008 het hierdie ongesonde leefstyl hom egter ingehaal en ’n hartomleiding van twee uur (wat deur sowat twee miljoen Suid-Afrikaners regstreeks op SABC3 gevolg kon word) was sy lot.

      Twee dinge het uitgestaan in die onderhoud wat voor die operasie met Wally en die dokters gedoen is. Die eerste was Wally se eerlike opmerking: “ ’n Mens raak gewoond aan jou ongesonde leefstyl. Jy dink jy kan dit volhou, maar op ’n dag haal dit jou in en die gevolge daarvan tref jou geweldig hard.” Die tweede was ’n dokter se opmerking: “As Wally nege jaar tevore na die waarskuwings oor sy ongesonde leefstyl geluister het, sou hierdie operasie nie nodig gewees het nie.”

      Net soos ’n tuinier tydens die snoeiproses siek, onproduktiewe of onnodige dele van die plant wegsny, sny ’n chirurg tydens ’n operasie sekere liggaamlike disfunksies weg sodat die liggaam as ’n geheel beter kan funksioneer. In Wally se geval het hierdie operasie sy lewe gered.

      God is ons CHIRURG. In ons lewens sny God ook dinge weg as dit sal help dat ons meer vrugte sal dra. Net soos ’n chirurg tydens ’n operasie handskoene aantrek om die werk te doen, trek God ons soos handskoene aan deurdat Hy ons as sy instrumente gebruik waarmee Hy sy werk doen.

      Kyk na ’n foto van Wally by www.benescke.co.za

      week 5 . dag 2

      God, ons chirurg

      ’n Sandstorm het net voor sononder in die woestyn opgesteek waardeur die Arabier en sy kameel getrek het. Vinnig het die Arabier sy tent van die kameel se rug afgehaal en dit opgeslaan om te verhinder dat te veel sand in sy oë kom.

      Die Arabier het homself egter net in sy tent tuisgemaak toe die kameel sy snoet by die tent inwurm met die woorde: “Meester, asseblief, dit is baie koud en sanderig hier buite. Kan ek asseblief net my snoet hier binne-in die tent sit?” Die Arabier het die kameel jammer gekry en hom toegelaat terwyl hy weer aan die slaap geraak het.

      ’n