Ontdek God in die stories van mense. Benescke Janse van Rensburg. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Benescke Janse van Rensburg
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318725
Скачать книгу
die diere wat op die aarde kruip.”

      •Psalm 24:1-2: “Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here.”

      •Job 38:4-11: “Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die antwoord het. Wie het die aarde afgemeet? Wie het hom aanmekaargesit daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al die hemelinge gejubel het? Ek het hom met wolke bedek, hom met donkerte toegemaak. Ek het vir hom perke gestel, hom agter slot en grendel gesit. Ek het gesê: ‘Tot hiertoe mag jy kom, nie verder nie; hier is die grens van jou magtige golwe.’ ”

      Vrae om oor na te dink

      1.Wat God doen, is ver beter as maxima cum laude. Dit is perfek. Wat beteken dit vir jou?

      2.Lees weer Genesis 1:28. Wat beteken dit om oor die skepping te heers? Hoe kan jy dit daagliks prakties doen?

      week 7 . dag 1

      Detail

      Nie twee mense op aarde se vingerafdrukke is dieselfde nie. Geen twee sneeuvlokkies het presies dieselfde patroon daarop nie.

      Op 21 November 2009 het die Amerikaanse Sensusburo die wêreldbevolking op 6,8 biljoen bereken. Hierdie statistiek het ook aangetoon dat 57 miljoen mense jaarliks sterf terwyl 134 miljoen babas tot die wêreldbevolking bygevoeg word.

      Besef jy hoe kreatief God moet wees as Hy jaarliks vir 134 miljoen mense elkeen ’n unieke stel vingerafdrukke moet gee – en daarmee saam ’n unieke voorkoms en persoonlikheid?

      In 1885 het Wilson Bentley, ’n Amerikaanse boer, begin om van enkele sneeuvlokkies foto’s te neem. In sy boek Snow Crystals wat in 1931 gepubliseer is, verstom Bentley lesers met die foto’s van 2 000 verskillende sneeuvlokkies. Hoewel meeste seskantig is met ’n baie mooi ontwerp en afronding aan die kante, lyk nie twee presies dieselfde nie.

      Net soos met die vingerafdrukke en die sneeuvlokkies is God ook by die details van jou lewe betrokke. Aan sy kreatiwiteit is daar geen einde nie. Vertrou jy Hom met die details van jou lewe?

      Kyk na ’n foto van Wilson Bentley en sneeuvlokkies by www.benescke.co.za

      week 7 . dag 2

      God is betrokke by die detail van ons lewens

      Ek kry gereeld e-posse van lesers met hierdie vraag: “Benescke, mag ’n mens ’n lysie maak wanneer jy vir ’n lewensmaat bid?” In die lig van hierdie vraag deel ek graag met jou my en Johannes se verhaal …

      Tydens die groot inpakslag van my huis om ná die wittebrood saam met Johannes ’n nuwe begin te maak, het ek op ’n stapel van my ou dagboeke in my boekrak afgekom. Nuuskierig het ek daardeur geblaai. Dit is hier waar ek op verskeie lysies van my “droomman” afgekom het wat ek oor die jare heen opgestel het elke keer wanneer ek met God oor my keuse van ’n lewensmaat gesels het. ’n Gedetailleerde lysie wat ek opgestel het jare voordat ek vir Johannes ontmoet het, het veral my aandag getrek.

      Glimlaggend het ek ’n pen nader getrek en van bo-af begin om die eienskappe op die lys af te merk: Hy moet my beste vriend wees. Iemand met integriteit. Hy moet vir my aantreklik wees. Hy moet oor die vermoë beskik om te midde van krisistye kalm te bly en my ook kalm te hou. Hy moet ’n goeie verhouding met sy eie en ook met my familie hê. Sy sin vir humor moet ons saambind. Sy ambisie moet my inspireer. Só ook sy liefde en omgee vir ander mense. Hy moet ewe gemaklik voel in die geselskap van konings as in die geselskap van die armste man op straat. En die belangrikste: Hy moet werklik ’n verhouding met God hê en saam met my daarna streef om ons lewensdoel op aarde ten volle uit te leef.

      Met ’n knop in my keel het ek aan die onderpunt van die lang lys gekom en besef dat God nie net vir my iemand met al hierdie eienskappe gegee het nie. In Johannes is daar soveel eienskappe waaraan ek nie eens gedink het toe ek die lysie opgestel het nie.

      Dit is die wese van die God wat ons aanbid: ’n God van liefde. ’n God wat betrokke is by die details van elkeen van ons se lewens. ’n God wat ons stoutste verwagtings oortref. Geen wonder Paulus skryf in Efesiërs 3:20-21: “… aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink … aan Hom kom toe die heerlikheid … tot in ewigheid! Amen.”

      Onthou, God het elkeen van ons se lewensdae vooruitbeplan. Jare voordat ek Johannes ontmoet het, het Hy reeds die bloudruk van die soort lewensmaat wat ek kon verwag in my hart geplaas. Wanneer ek dus oor die jare heen die lysies opgestel het, was dit nooit om vir God te probeer voorskryf nie. Dit was bloot ’n manier wat God gebruik het om vir my die prentjie van wat ek in die toekoms kon verwag, duideliker te maak.

      Watter uitdagings het jy vandag? Dalk ’n situasie by die werk? Dalk die siekte van ’n geliefde? Dalk is jy deur ’n egskeiding en wonder of God ooit vir jou ’n tweede kans op huweliksgeluk sal gee? Onthou: God is ’n God van liefde. Hy is betrokke by die DETAIL van jou lewe. Sy begeerte is om jou met sy goedheid en guns te oorrompel. Maak jy Hom deel van elke besluit in jou lewe en vertrou jy dat Hy werklik jou toekoms ken?

      Vader God, baie dankie dat U betrokke is by die details van my lewe. Help my asseblief om net soos Paulus vas te staan in die wete dat U aan die werk is – selfs al voel dit nie altyd so nie. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

      Kyk na ’n troufoto van Benescke en Johannes by www.benescke.co.za

      week 7 . dag 3

      God is betrokke by die detail van ons lewens

      Weke lank het Mariette en haar vier vriendinne tevergeefs na die “perfekte studentehuis” vir hul finale jaar op Stellenbosch gesoek. Waar hulle een middag bymekaargekom het om wéér deur die koerante se advertensies te kyk, het een van die vriendinne ’n skryfblok nader getrek terwyl sy aankondig: “Nou toe julle, God spesialiseer mos in die details. Kom ons maak ’n lys van presies wat ons graag in ons huis wil hê.” Dit is wat hulle gedoen het.

      Die volgende paar minute het hulle laggend gesit en ’n gedetailleerde lysie opgestel van wat hulle graag in die huis wil hê: blokkieshoutvloere, twee bome in die agterplaas om ’n hangmat aan op te hang, dit moes naby die kampus wees en die huur moes by hul begroting inpas.

      Op die oog af het hierdie versoek onmoontlik gelyk. Behalwe dat beskikbare verblyf in die spesifieke omgewing baie skaars was, was die bedrag wat hulle wou betaal ook baie minder as die gemiddelde prys in die area. Tog, al het verskeie mense en agente hul verwagtings as verregaande beskou, het hulle gekies om op God te vertrou terwyl hulle dag ná dag die koerante dopgehou het. Wanneer ’n advertensie reg gelyk het, het hulle na die plek gaan kyk, maar nie een keer het ál vyf vriendinne van die huis gehou nie.

      Op ’n dag het hulle weer saam deur die koerante gekyk. Dié keer het een van die vyf opgewonde uitgeroep: “Kyk hierdie advertensie! Ek het net ’n gevoel dat dit dalk ons huis is! Laat ek gou die eienaar bel.”

      Met die eerste oproep was die eienaar nors en het hy gou gesê dat die huis nie beskikbaar is nie. Die gevoel in die vriendin se hart wou egter nie weggaan nie en ná ’n paar minute het sy besluit om die man weer te bel. Dié keer het die eienaar vriendelik geantwoord dat die huis wel nog beskikbaar is en dat hulle welkom was om daarna te kom kyk. Siende die regte ligging en huurgeld het die vriendinne dadelik in ’n motor gespring en na die huis vertrek.

      Met die instapslag het hulle gesien dat die huis blokkieshoutvloere het. Toe hulle by die agterdeur uitstap, het daar reeds ’n hangmat tussen die twee bome in die agterplaas gehang. God het alles vir hulle gegee waarvoor hulle gevra het.

      In Psalm 37:23 staan geskryf dat God betrokke is by elke detail van diegene wat daarop fokus om hul lewens regverdig in God se oë te lei. In Psalm 147:4 lees ons: “Hy (God) besluit oor die getal van die sterre en gee elkeen ’n naam.” In Jeremia 32:26-27 lees ons God se eie woorde: “Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?”

      God is betrokke by die DETAIL van jou lewe. Niks is ooit vir Hom onmoontlik nie. Gaan jy Hom vertrou om in te gryp en die onmoontlike moontlik te maak?

      Vader God, baie dankie