Ontdek God in die stories van mense. Benescke Janse van Rensburg. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Benescke Janse van Rensburg
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318725
Скачать книгу
’n advertensie met al Werner se broers en susters se name in ’n plaaslike koerant te plaas wanneer hy weer in Duitsland was. Maande lank was dit stil.

      In Junie 1994 het die foon laatnag gelui. Toe Werner antwoord en die stem aan die ander kant van die telefoonlyn hoor, het hy van opgewondenheid geskree. Dit was sy broer Horst. Deur sy trane en uitbundige gelag het Werner besef dat hy skielik ná jare weer vlot Duits praat.

      Horst het vertel hoe hy daardie aand ’n bottel olie by ’n supermark gaan koop het. Die bottel het gelek en die winkelier het hom ’n stuk koerantpapier gegee om die bottel mee toe te draai. By die huis het hy die bottel uit die koerant gehaal toe sy oog op die advertensie val wat die ingenieur in die koerant geplaas het. Horst het dadelik die nommer in die advertensie gebel en die ingenieur het hom na Werner in Suid-Afrika verwys. Teen die einde van 1994 het Maria en Werner na Duitsland gevlieg om ná ’n soektog van vyf dekades eindelik met sy familie herenig te word.

      Jakobus 5:16b: “Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking.”

      FAMILIE is vir God geweldig belangrik. Verkeer jy dalk vandag in ’n situasie waar jy van jou familie geskei of vervreem is? Waarom kies jy nie ook om God deel van jou soektog of genesingsproses te maak nie? Hy het elke verlore stuk van die legkaart om alles reg te laat uitwerk. Die Duitse ingenieur was daardie reënerige dag deel van God se legkaart.

      Vader God, dankie dat ek U opnuut in my familie kan innooi en kan vra dat U asseblief enige gebroke familiebande ten volle sal herstel. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

      Kyk na ’n foto van Werner by www.benescke.co.za

      week 11 . dag 3

      Familie is vir God belangrik

      “Alta, ek weet nie meer of dit gaan werk nie.” Alta kon die moegheid in haar swaer Otto se stem oor die telefoon hoor. Hy het reeds weke lank probeer om die mans in Alta se familie te oortuig om saam met hom na die mannekamp te gaan. Dit was nou twee dae voor die kamp en steeds het hulle met allerhande verskonings vorendag gekom oor hoekom hulle dit nie sou kon meemaak nie.

      Hoewel Alta se ouma en oupa diep gelowige mense was (wat gereeld vir hul kinders en kleinkinders gebid het), het haar ouers nie gereeld kerk toe gegaan nie. Toe Alta en haar drie susters self ook getroud is, het hulle nog minder in die kerk gekom.

      Alta en haar man is eerste kerk toe genooi. Hoewel hulle aanvanklik nie wou gaan nie, het hulle tog besluit om die diens by te woon. Min het hulle geweet dat hulle daardie dag kragtig tot bekering sou kom. Dit het hul lewens ingrypend verander.

      ’n Paar maande ná hul bekering het Alta ernstig met God oor die res van haar ongeredde familielede gesels. Terwyl sy vir hulle bid, het die woorde van Handelinge 16:31 op haar hart kom lê: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”

      Vir Alta was hierdie ’n belofte van God. Sy het dadelik begin om ’n lys op te stel van al die ongeredde lede van haar familie. Hierna het sy daagliks vir hulle begin bid. Dit was nie lank voordat Alta se susters die een ná die ander begin het om haar oor die verandering in haar lewe uit te vra nie. Almal wou weet waar die liefde en vrede in haar lewe vandaan kom.

      Nadat een van Alta se susters en dié se man, Otto, tot bekering gekom het, het Alta besluit om haar ander twee susters en haar niggies na ’n vrouekamp te nooi. Teen die einde van die naweek het elkeen van hulle in trane hul lewens ten volle aan God gee.

      Nou was die mannekamp waarheen Otto die mans in die familie genooi het slegs twee dae weg en soos een man het almal vasgeskop. Toe Alta die gehoorstuk neersit nadat sy Otto moed ingepraat het, het sy weer voor God gekniel en besluit om alles aan God oor te gee.

      God het ingegryp en twee dae later was al die mans by die mannekamp. Deur die loop van die naweek het die een ná die ander ’n ervaring met God gehad en teen die einde van die naweek het Alta se 65-jarige pa na aan trane sy hart ook aan God oorgegee. Toe hy Otto groet, het hy hom met hierdie woorde omhels: “Dankie dat jy aangehou het om my saam te nooi. Hierdie naweek het God my lewe aangeraak.” Sy grootste spyt was dat hy soveel jare laat verlore gaan het sonder om die Here Jesus Christus as sy Vriend en Heer te ken.

      Nie net kon Alta elke naam op haar gebedslys afmerk nie. Tot vandag toe is almal steeds aktief in hul gemeentes betrokke.

      Handelinge 16:31: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”

      FAMILIE is vir God belangrik. Moet dus nooit jou gebede vir jou huweliksmaat, jou kinders of jou kleinkinders onderskat nie. Dit was immers nie net Alta se gebede wat deur God beantwoord is nie, maar ook haar ouma en oupa s’n!

      Vader God, dankie dat familie vir U belangrik is. Help my asseblief om nie van my ongelowige familielede te vergeet of hulle af te skryf nie, maar eerder te vertrou dat U hulle deur u Heilige Gees kan verander. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

      Kyk na ’n foto van Alta en haar familie by www.benescke.co.za

      week 11 . dag 4

      Teksverse en vrae

      Teksverse vir die week

      •Jakobus 5:16b: “Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking.”

      •Handelinge 16:31: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”

      Vrae om oor na te dink

      1.FAMILIE is vir God belangrik. Wat beteken dit vir jou en wat is jou rol in sy familiestruktuur?

      2.Lees weer Jakobus 5:16b. Wat wys Werner en Maria se storie vir jou oor God se getrouheid?

      3.Lees weer Handelinge 16:31. Hoe gereeld bid jy vir jou ongeredde familielede?

      week 12 . dag 1

      Finansier

      Behoort al die geld in die wêreld werklik aan God?

      •Haggai 2:8: “Aan My behoort al die silwer, aan My al die goud, sê die Here die Almagtige.”

      Moet ek steeds vandag my tiende gee?

      •Maleagi 3:8-10: “Sal ’n mens werklik vir God beroof? Tog beroof julle My. Julle vra: ‘Waarvan beroof ons U?’ Van tiendes en offergawes. Daar rus alreeds ’n vloek op julle en tog bly julle My beroof; die hele nasie doen dit. Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.”

      •Spreuke 3:9-10: “Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit en met die beste uit jou oes, dan sal jou skure oorvol wees en jou parskuipe oorloop van die wyn.”

      Kan geld gevaarlik wees?

      •1 Timoteus 6:10: “Geldgierigheid is ’n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.”

      •Spreuke 11:28: “Wie op sy rykdom staatmaak, kom tot ’n val; wie reg doen, floreer soos groen blare aan ’n boom.”

      God is ons FINANSIER. Dit is uit genade dat Hy aan jou jou talente, besittings en geld gegee het om daarmee hier op aarde te woeker. Is jy ’n goeie rentmeester en gee jy steeds aan God wat Hom toekom?

      week 12 . dag 2

      God is ons finansier

      God kan en wil finansieel vir ons voorsien wanneer ons op Hom vertrou. Hier is drie getuienisse daarvan: ’n Besigheidskontrak, ’n seun op pad na ’n sendingreis en ’n pensioenaris.

      ’n Besigheidskontrak: In Februarie 2009 moes Tommy en sy vrou, Belinda Ferreira, met ’n skok uitvind dat een van hul grootste kliënte hul kontrak uit die bloute beëindig het. Oornag het dit hulle in ’n geweldige finansiële krisis gedompel. Indien hulle situasie nie vinnig sou verander nie, sou hulle die deure van hul