Ontdek God in die stories van mense. Benescke Janse van Rensburg. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Benescke Janse van Rensburg
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318725
Скачать книгу
dit is baie koud hier buite. Ek wil net my kop hier binne sit.” Weer het die Arabier hom laat begaan en aan die slaap geraak.

      Die patroon het homself weer en weer herhaal. Eers het die kameel net sy snoet, toe sy kop, toe sy voorpote en later sy hele lyf in die Arabier se tent ingewikkel. Die tentjie was klein en beknop. Toe die Arabier sy oë uitvee, was hy buitekant die tent en die kameel snoesig in sy tent!

      Jy het ook daagliks ’n klomp kamele wat aan jou tent se deur kom klop. Kamele wat jou ook smeek om “net ’n neus” of “net ’n kop” by jou tent in te steek.

      Aanvanklik lyk enige kameel onskuldig en soos die Arabier, dink jy dat jy jou kameel kan beheer. Jy gee aandag aan daardie verbode verhouding en dink jy sal weet wanneer om dit te stop. Jy gaan dobbel, maar neem net ’n sekere bedrag saam. Wat jy eintlik doen, is om jou kameel ’n voet in die deur te gee.

      Dawid se kameel was die beeldskone Batseba in die bad. Deur nie sy kop weg te draai toe hy haar van die paleis se dak af gesien het nie, het hy die kameel se snoet in sy tent toegelaat. Toe hy aan sy wagte opdrag gee om die getroude vrou na hom te bring, het hy die kameel se kop in sy tent toegelaat. Toe hy met haar owerspel gepleeg het, sy swanger geword het en Dawid uit wanhoop haar man, Urija, in die voorste linies laat veg het waar hy sou sterf, het die kameel homself heeltemal in Dawid se tent ingewurm, terwyl hy alleen in die koue woestyn agtergelaat is.

      Luister na Dawid se berou hieroor in Psalm 51:3-6: “Wees my genadig, o God, in u troue liefde. Wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid! Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde! Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in U oë.” Dan in vers 12: “Skep in my ’n rein hart, o God …” In vers 18-19 kom die belangrikste boodskap van Dawid: “ ’n Offer vra U nie … Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God.”

      Dawid het verstaan dat God ons CHIRURG is. Vir Hom is ’n rein hart die belangrikste. Juis daarom sal Hy uit liefde die skalpel gebruik om iets uit ons harte weg te sny as Hy weet dat dit ons geestelike dood sal veroorsaak.

      Hebreërs 12:5b-6: “My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.”

      God is ons CHIRURG. Hoe lyk jou geestelike hart voor Hom? Moenie soos die Arabier aan die slaap raak nie. Stoot die kameel betyds by jou tent uit!

      Vader God, baie dankie dat U my uit liefde sal dissiplineer om te verhoed dat ek later baie seerder kry. Help my asseblief om betyds enige ongewenste kamele in my lewe raak te sien en uit te stoot. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

      week 5 . dag 3

      God, ons chirurg

      Dit is die jaar 875 v.C. en ons staan op Karmelberg. Aan die een kant van die berg staan die Baälprofete. Aan die ander kant, die enigste oorlewende profeet van God, Elia. Op Elia se bevel het koning Agab die hele volk van Israel beveel om hierheen te kom. Vandag sal ’n waterskeiding in die volk se geloof wees. Maar waarom is hulle hier?

      Net soos sy voorgangers, het koning Agab die Israeliete toegelaat om afgode te begin dien. Hyself het so ver gegaan as om vir sy vrou, Isebel, ’n afgodstempel te bou. Isebel het op haar beurt begin om afgodprofete van Baäl en Asjera na Israel in te voer, terwyl sy God se profete uitgemoor het. Slegs Elia het oorgebly.

      Drie jaar tevore het Elia aangekondig dat God die reën en dou sal terughou omdat die volk gekies het om afgode te aanbid. In die drie jaar sedertdien het hongersnood die land getref. ’n Klomp mense het omgekom en uit desperaatheid het koning Agab die losprys vir Elia se kop al hoër bly maak. God het egter vir Elia deurentyd beskerm. Toe die tyd vir die draaipunt aanbreek, het God aan Elia opdrag gegee om na koning Agab te gaan. Dit is tóé dat hy vir Agab beveel het om die volk van Israel na Karmelberg te laat kom.

      Kan jy sien waar Elia nou vorentoe tree om met die Israeliete te praat? Spits jou ore en luister na sy woorde: “Israeliete, hoe lank gaan julle nog draadsitters wees? As die Here God is, volg Hom, maar as dit Baäl is, volg hom.” Nie een Israeliet waag om te beweeg nie. “Vandag sal julle die kans kry om te sien hoe lewend hierdie Baäl nou eintlik is …” Só praat Elia terwyl hy aan die Israeliete verduidelik dat beide hy en die Baälprofete elk ’n beurt sal kry om ’n bul te vat en op te sny voordat dit op die altaar geplaas word. Die een wie se god met vuur antwoord, is waarlik God.

      Die Baälprofete het gou begin werk. Dit was nie lank voordat hulle al singend en dansend hulself ook begin kerf het in die hoop om ’n antwoord van Baäl af te kry nie. Daar is egter net stilte. Teen laatmiddag begin Elia spot: “Miskien moet julle bietjie harder roep? Baäl is mos god? Miskien is hy diep ingedagte of op reis? Of dalk slaap hy en julle moet hom wakker skree?!”

      Toe dit tyd word vir die aandoffer het Elia die altaar gereed gemaak. Hy het die slawe beveel om vier kruike water te bring wat hy oor die bul op die altaar uitgegooi het totdat die sloot rondom die altaar propvol water was. Met die Israeliete wat hul asems ophou, het Elia reg langs die altaar gekniel terwyl hy hardop bid sodat die Israeliete kan hoor: “God van Abraham, Isak en Israel. Laat dit tog vandag bekend word dat U die God van Israel is. Antwoord my, Here! Antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U die lewende God is en dat hulle hul harte weer tot U bekeer!”

      Blitse en donderslae het skielik uit die lug weergalm terwyl die Israeliete in vrees staan en kyk hoedat vuur uit die hemel die altaar tref en die offer, hout, klippe en die grond rondom die altaar totaal verbrand. Soos een man het hulle op hul knieë voor God neergeval en Hom aanbid.

      1 Korintiërs 3:9: “Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God. Julle is ook die gebou van God.”

      God is die CHIRURG en ons is sy handskoene. Op Karmelberg was Elia bereid en beskikbaar om God se instrument te wees waardeur God aan die Israeliete kon wys wie Hy is. Is jy vandag bereid om daardie handskoen te wees?

      Vader God, dankie dat U steeds vandag u grootheid aan ons kan en wil demonstreer. Help my asseblief om soos Elia gehoorsaam te wees wanneer U my as “handskoen” wil gebruik. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

      week 5 . dag 4

      Teksverse en vrae

      Teksverse vir die week

      •Psalm 51:3-6: “Wees my genadig, o God, in u troue liefde. Wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid! Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde! Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in U oë.”

      •Psalm 51:12: “Skep in my ’n rein hart, o God …”

      •Hebreërs 12:5b-6: “My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.”

      •1 Korintiërs 3:9: “Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God. Julle is ook die gebou van God.”

      Vrae om oor na te dink

      1.God is ons CHIRURG. Waarom sal Hy as chirurg sekere dele wegsny as dit nie vir hom aanneemlik is nie?

      2.Lees weer Hebreërs 12:5b. Is daar enige “kamele” in jou lewe wat jy moet uitjaag?

      3.Lees weer 1 Korintiërs 3:9. Waarom is dit so belangrik om gehoorsaam te wees as God jou, net soos vir Elia, wil gebruik om ’n “handskoen” in sy hand te wees?

      week 6 . dag 1

      Maxima cum laude

      Deur die eeue heen het ’n behoefte onder die mensdom ontstaan om menslike prestasie te meet en te vereer. In 1879 het Harvard-universiteit die skaal geskep waarbinne prestasies met die Latynse frases cum laude en summa cum laude geklassifiseer kon word. In 1880 is die kategorie magna cum laude bygevoeg en kort daarna ook egregia cum laude en die maxima cum laude (wat selde behaal word). Hierdie skaal word steeds op verskillende wyses oor die wêreld heen gebruik.

      Wat