Ontdek God in die stories van mense. Benescke Janse van Rensburg. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Benescke Janse van Rensburg
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318725
Скачать книгу
skielik op en hardloop na skuiling.

      Die padda: Jacques Else en sy vyfjarige seuntjie, Jean, was besig om hul kamptent op te slaan toe ’n groot klomp bruin paddatjies by hulle verbyspring. Met groot opgewondenheid het Jean hulle gevolg – net om oomblikke later met ’n lang gesig terug te keer omdat die paddas verdwyn het. Al wat Jean begeer het, was een paddatjie om mee te speel. Onmiddellik het Jacques dit as ’n geleentheid gesien om sy seun ’n geestelike les te leer. “Jean, kom ons bid dat Liewe Jesus vir jou nog ’n paddatjie stuur.” Jean was dadelik opgewonde oor die voorstel. Toe pa en seun klaar gebid het, het Jacques begin rondsoek vir die paddas omdat hy nie wou hê dat sy seuntjie in God teleurgesteld moes wees as Hy nie dadelik antwoord nie.

      Die paddas was egter skoonveld. In sy hart het Jacques ervaar dat God hom vra om die situasie aan Hom oor te laat. Jacques het dit gedoen en voortgegaan om die tent op te slaan. Oomblikke later het klein Jean om die tent gehardloop en met ’n groot glimlag aangekondig: “Pappa, Pappa, kom kyk! Hier is ’n paddatjie! God het geantwoord!” Weer het pa en seun langs die tent gekniel. Dié keer om vir God dankie te sê vir sy voorsiening.

      Die papegaai: “Pa-ja-mas!” Dít was die geroep van die negejarige Ané en haar sewejarige sussie, Marni, wat saam met hul pa, Hendrikus Swart, bekommerd na hul lieflingpapegaai, Pajamas, gesoek het. Onder elke boom het hulle gaan staan, opgekyk en kliphard geroep: “Pa-ja-mas!”

      Daar was geen teken van hul papegaai nie. Wat die saak vererger het, is dat die Swart-gesin Pajamas skaars ’n maand voor sy verdwyning gekry het – juis omdat die kinders so hartseer was toe Pajamas se voorganger, Arrie, dood is.

      Terwyl die Swarts deur die strate gestap het, het Hendrikus aanhoudend gebid dat God hulle na die regte boom moes lei. Hy het nie ’n oomblik getwyfel dat God geweet het waar Pajamas skuil nie. Toe, ná ure se gesoek, het Hendrikus onder ’n boom gaan staan. Dié keer het sy hart vinnig geklop met ’n onverklaarbare wete dat hy onder die regte boom was.

      Skielik het hy Pajamas se rooi stert, kenmerkend van ’n Afrika-gryspapegaai, hoog tussen die takke sien uitsteek. Met die hulp van die brandweer was Pajamas daardie aand weer veilig in sy kou en Hendrikus en die kinders se harte heelwat ligter!

      Psalm 50:9-11: “Ek vra nie bulle uit julle stalle of bokke uit julle krale nie, want al die wilde diere in die bos en die diere op duisende berge is Myne. Ek ken al die voëls op die berge, en al die baie diertjies in die veld behoort aan My.”

      Hoewel God die EIENAAR is van elke dier, plant en mens op hierdie aarde, het Hy steeds aan ons die keuse gegee of ons Hom wil aanbid. Wat is jou keuse?

      Vader God, baie dankie dat U die eienaar van my lewe is. Help my asseblief vandag om nie moed te verloor nie, maar om my oë opnuut op U te rig. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

      Kyk na ’n foto van die stories by www.benescke.co.za

      week 9 . dag 4

      Teksverse en vrae

      Teksverse vir die week

      •Deuteronomium 10:14: “Die hemel, selfs die hoogste hemel, behoort aan die Here jou God, ook die aarde en alles daarop.”

      •Psalm 24:1: “Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here.”

      •Eksodus 19:6: “Die hele aarde behoort immers aan My (God).”

      •Openbaring 4:11: “Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur u wil het alles ontstaan en is dit geskep.”

      •1 Samuel 1:27-28; 2:2: “Om hierdie seun het ek gebid, en die Here het aan my gegee wat ek van Hom afgesmeek het. Ja, van die Here het ek hierdie kind afgesmeek, en nou sal hy sy lewe lank iemand wees wat van die Here afgesmeek is … Daar is geen heilige soos die Here nie, buiten U is daar nie een nie, daar is geen rots soos ons God nie.”

      •Psalm 50:9-11 (Die Bybel vir Almal): “Ek vra nie bulle uit julle stalle of bokke uit julle krale nie, want al die wilde diere in die bos en die diere op duisende berge is Myne. Ek ken al die voëls op die berge, en al die baie diertjies in die veld behoort aan My.”

      Vrae om oor na te dink

      1.God is die EIENAAR van die heelal. Wat beteken dit vir jou?

      2.Lees weer 1 Samuel 1:27-28; 2:2. Besef jy dat al jou geliefdes aan God behoort en dat jou kinders net aan jou geleen is?

      3.Lees weer Psalm 50:9-11. Wat beteken dit vir jou om te weet dat elke dier aan God behoort?

      week 10 . dag 1

      Emmanuel

      (God met ons)

      Pas ná die beëindiging van die Tweede Wêreldoorlog het soldate op ’n muur in ’n vervalle huis hierdie woorde onder ’n getekende Dawidster gevind:

      Ek glo in die son

      al kom dit laat op.

      Ek glo in liefde

      al is dit afwesig;

      Ek glo in God

      al bly Hy stil.

      Voel jy vandag alleen en asof God nie by jou is nie? Onthou, Hy is EMMANUEL – God met ons.

      week 10 . dag 2

      God, ons Emmanuel

      Op 15 Junie 2008 het Rika Myburgh en 11 000 ander atlete vir die Comrades–marathon in Durban weggespring. Net toe sy die 12 kilometer-merk verbysteek, het Rika ’n kenmerkende pyn in haar buik gevoel. Haar hart het gesink omdat sy uit vorige ondervinding geweet het dat daardie pyn haar in die verlede tot 48 uur buite aksie gelaat het. Nou kon dit haar keer om die Comrades te voltooi. Met haar hand op haar buik het Rika in die draf besluit om te vertrou dat God haar sal genees. “Here, in die Naam van Jesus Christus, vat die pyn uit my lyf uit!” het sy gebid. Sowat 100 meter verder het Rika weer die pyn gevoel en dieselfde gebed in geloof gebid. Toe gebeur die wonderwerk. Waar die pyn in die verlede vererger het, het dit oor die volgende ses kilometer van die wedloop heeltemal verdwyn! Rika kon die wedloop sonder enige verdere probleme voltooi.

      Julia was nege jaar oud toe sy saam met haar twee ouer susters na die Wonderwaters-pretpark in Dullstroom gegaan het. Omdat sy skaars kon swem, het sy heeldag op die ritte gery wat aan die vlak kant van die swembad was. Net ná vyfuur daardie dag, toe die meeste van die mense reeds vertrek het, wou Julia vir die laaste keer op haar gunstelingrit gaan. Min het sy besef dat hierdie rit dié keer aan die diep kant sou eindig. Magteloos het sy begin water trap terwyl sy om hulp roep. Niemand was naby nie.

      Julia het al hoe swakker geword en gevoel hoe haar kop onder die water verdwyn. Net toe sy dink dat sy dit nie gaan maak nie, het twee hande haar aan haar rug gevat en haar ’n harde stamp na die vlak kant gegee. Toe Julia weer kon staan, het sy vinnig omgekyk. Daar was niemand nie. Sy is vandag 20 jaar oud en beskryf daardie dag steeds as die dag toe God haar persoonlik kom red het.

      In ’n onderhoud met ’n Amerikaanse filmspan het die regisseur vertel van ’n toneel waarin die hoofakteur uit ’n helikopter moes hang. Die helikopter het egter onverwags buite beheer geraak. Terwyl geskokte omstanders toekyk, het die helikopter sekondes later die water getref. Ná ’n paar sekondes het die vlieënier se kop bo die water verskyn. Van die akteur was daar egter geen teken nie. Twee minute het verbygegaan. Drie minute. Ooggetuies het die ergste begin verwag. Toe, vyf minute later, het die akteur skielik bo die water verskyn. Ná die voorval het die akteur in ’n onderhoud vertel dat hy weens die impak sy bewussyn verloor het. Toe hy bykom, was hy in die sinkende helikopter vasgevang. Hy het al die reddingswerkers bedank – en die een uitgesonder wat hom agter sy nek gevat en hom uit die helikopter getrek het voordat hy hom ’n harde stoot in die rigting van die water se oppervlak gegee het. Die omstanders het hom fronsend aangekyk omdat daar geen reddingswerkers naby die vliegtuigwrak was nie. Toe die akteur dít hoor, het hy ’n oomblik hard aan sy trane gesluk voordat hy opgekyk het met die woorde: “In daardie geval wil ek vir God dankie sê. Dit was dan Hy wat