Ontdek God in die stories van mense. Benescke Janse van Rensburg. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Benescke Janse van Rensburg
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318725
Скачать книгу
12 Januarie 2010, vieruur die middag. Ná ’n vlug van 30 uur land Theo in Haiti waar sy vennoot, Jean-Paul, hom op die lughawe kom oplaai. Pleks dat Theo soos gewoonlik eers by die hotel gaan inboek en stort, deel Jean-Paul hom mee dat hulle eers ’n vergadering met ’n moontlike belegger het.

      Vyftig minute later, steeds onderweg na die kliënt, het hul motor meteens na die linkerkant van die pad geswaai. Jean-Paul het vinnig omgekyk om te sien of die motor se wiel losgekom het toe die motor na die regterkant van die pad geslinger word. Langs die pad het die geboue inmekaargetuimel. Met die aarde wat onder hulle bewe en skud, het die twee mans besef dat dit ’n aardbewing was. Theo het onmiddellik vir hul veiligheid begin bid.

      Twintig sekondes later het alles stil geword. Deur die rook en stofwolke kon Theo-hulle nou die histeriese geskree en gesnik van mense langs die pad hoor. Menige het die liggame van beseerde of afgestorwe geliefdes in hul arms vasgehou.

      Die volgende 45 minute het Jean-Paul en Theo met moeite deur die stad se agterstrate gery om by Jean-Paul se familie uit te kom. Omdat alle vorms van kommunikasie (selfoonnetwerke, radiostasies, die internet) afgesny was, was dit die enigste manier om te bepaal of hulle die ramp oorleef het. Geskok het die twee mans gekyk na die hotelle langs die pad wat bykans almal ineengestort het. Die verligting was groot toe hulle eindelik Jean-Paul se huis haal en sien dat niemand ernstig beseer is nie.

      Vyftien uur lank het Theo tevergeefs probeer om met sy familie in Suid-Afrika kontak te maak. Die volgende oggend vroeg het Jean-Paul diesel vir die kragopwekker gaan koop omdat daar steeds geen elektrisiteit was nie. In die tien minute wat hy weg was, het Theo ernstig met God gepraat en Hom gevra om op die een of ander manier vir sy vrou, Michelle, in Suid-Afrika te laat weet dat hy veilig is.

      In Suid-Afrika het Michelle, wat toe reeds die hele oggend probeer het om Theo in die hande te kry, skielik ’n Franse boodskap op haar selfoon gekry. Met die besef dat dit Theo kon wees wat haar probeer kontak, het sy onmiddellik na Theo se onderneming gery. Ook sy kollegas het tevergeefs probeer om hom te bereik. Met hul eerste probeerslag nadat Michelle daar aangekom het, het hulle egter wonderbaarlik na Jean-Paul se selfoon deurgekom. Hy kon hulle vertel dat Theo veilig was.

      God is ons BESKERMER. Hy wil jou ook vandag beskerm. Luister weer na hierdie drie beloftes:

      •Sagaria 2:5: “Ek (God) sal ’n muur van vuur rondom die stad wees, my magtige teenwoordigheid sal binne-in hom wees.”

      •Job 1:9b-10: “Is dit verniet dat Job God vrees? Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie?”

      •Psalm 34:8: “Die Engel van die HERE trek ’n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit.”

      As Theo by sy aankoms in Haiti direk na sy hotel gegaan het, sou hy waarskynlik in die puin van die hotel vasgevang gewees het. God het hom beskerm net soos Hy jou ook vandag wil beskerm.

      Vader God, dankie dat U my BESKERMER is. Help my om te midde van doodsgevaar te onthou dat U vir my is en my sal beskerm. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

      Kyk na ’n foto van Theo by www.benescke.co.za

      week 3 . dag 4

      Teksverse en vrae

      Teksverse vir die week

      •Psalm 91:1-4 (1953-hersiening): “HY wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. Ek sal tot die HERE sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou. Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil …”

      •Psalm 50:15: “Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.”

      •Sagaria 2:5: “Ek (God) sal ’n muur van vuur rondom die stad wees, my magtige teenwoordigheid sal binne-in hom wees.”

      •Job 1:9b-10: “Is dit verniet dat Job God vrees? Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie?”

      •Psalm 34:8: “Die Engel van die HERE trek ’n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit.”

      Vrae om oor na te dink

      1.God is ons BESKERMER. As jy terugdink, in watter situasie weet jy dat God jou beskerm het?

      2.Lees weer Psalm 91:1-4. Watter berusting bring dit vir jou?

      3.Lees weer die drie beloftes by dag 3 se leesstuk. Hoe gaan jy in die toekoms vir jou eie en jou geliefdes se veiligheid bid?

      week 4 . dag 1

      Buitengewone krag

      Wanneer ’n mens begryp dat God in ’n totaal ander dimensie beweeg en funksioneer as waaraan ons beperkte menslike verstand blootgestel is, kom jy tot die besef dat niks Hom beperk nie. Hy beskik oor bonatuurlike krag.

      Luister weer na hoe Dawid ons Skepper in Psalm 104:1-5 (Die Bybel vir Almal) beskryf: “My God die Here, U is baie groot. U is die Koning en almal rondom U respekteer U en prys U. Daar is lig rondom U … U ry op die wolke, U loop op die vlerke van die wind. U kies die winde om u boodskappers te wees, die vuurvlamme is u werkers. U het die aarde op sy plek vasgesit, sodat dit nooit sal skud nie.”

      Dit is dieselfde God wat vir Moses en die Israeliete die Rooisee oopgemaak het toe die Egiptiese weermag hulle van agter bestorm het. Dit is ook dieselfde God wat die leeus se bekke gesluit het toe Daniël weens sy geloof in God in die leeukuil gegooi is en dit is God wat Sadrag, Mesag en Abednego uit die brandende vuuroond gered het toe hulle geweier het om voor die afgod Baäl te buig. Ook is dit God wat vir Paulus en Silas die tronkdeure oopgemaak het terwyl hulle Hom geloof en geprys het waar hulle in aanhouding was omdat hulle die evangelie van Jesus Christus verkondig het.

      God het BUITENGEWONE KRAG en is in staat om op bonatuurlike maniere in te gryp as ons op Hom vertrou. Verkeer jy vandag in ’n situasie waar jy sy buitengewone krag benodig? Gaan jy na Hom daarvoor uitroep?

      week 4 . dag 2

      God het buitengewone krag

      “Een, maksimum twee ure …” Dis hoe lank die dokters gemeen het Cat en haar man, Jason Reaper, se ongebore baba ná haar geboorte sou leef. Hulle het egter gekies om God vir ’n wonderwerk te vertrou.

      Toe Cat 22 weke swanger was, is ’n virusinfeksie by haar baba gediagnoseer. Die fetus se hartjie was vergroot, haar brein het abnormaliteite getoon en sy was groeigestremd. Die dokters het ’n onmiddellike aborsie aanbeveel. Hulle het nog nooit tevore gesien dat ’n kind met hierdie virus normaal gebore word nie. Sulke babas is gewoonlik blind, doof of verstandelik gestrem.

      Die Reaper-egpaar was dit eens: “Ons glo nie in aborsie nie, Dokter. Ons glo in God. Selfs as God nie ons baba genees nie, sal ons die kind wat Hy vir ons gee, aanvaar.” Die dokters was uit die veld geslaan.

      ’n Geloofspad het vir die Reapers begin. Gebedskettings het oor die land heen tot stand gekom. Hul kerk het hul besluit ondersteun. Selfs selgroepe van ander kerke het hulle laat weet dat hulle saam vir ’n wonderwerk bid.

      Met elke skandering het die ongebore baba se toestand egter agteruitgegaan. Toe Cat 32 weke swanger was, was daar reeds verkalking in die baba se brein. Op 34 weke het die dokters laat weet dat die baba definitief te swak was om die geboorte te oorleef. Op 36 weke het die ginekoloog, die pediater en die vroedvrou ’n vergadering met die Reapers belê. “Julle sal begrafnisreëlings moet tref,” het een van die dokters begin. “Die dood van ’n baba is altyd geweldig traumaties.” Die Reapers het nie geluister nie. In geloof het Cat babaklere vir haar ongebore dogtertjie gaan koop.

      Dit was ’n Vrydagaand toe Cat se water breek. Gou is die nuus aan haar selgroepleier deurgegee wat saam met ’n klomp van die gemeentelede by ’n verjaardagviering was. Die meeste van die mense het saam na die hospitaal gejaag om Cat te ondersteun.

      Omdat die dokters oortuig was dat die baba by geboorte sou sterf, is die besoekers in die kraamsaal toegelaat totdat die kontraksies te kort op mekaar gevolg het. In die saal om Cat se bed het die