Die biblioteek aan die einde van die wêreld. Etienne van Heerden. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624089223
Скачать книгу
kon onderskei nie. Dit het ’n gevoel van disoriëntasie ingegee. Enigiets was moontlik. En die grensloosheid is aangevul deur die risiko van die afgrond regs van die motor, ’n byna loodregte helling na swart rotse en spattende branders waarvan die skuim hoog uitgeslaan het oor die laagste proteabosse wat daar onder by die hoogwatermerk soutbedek geklou het om lewe en dood.

      Sy was aan ’t bestuur toe hy op ’n ingewing sy arm oor haar rugleuning uitstrek en sy hand daarop laat rus.

      Wat het hom tog besiel?

      Hy het ’n rukkie gewag terwyl hy die spanning in die kajuit voel styg. Sy’t al vinniger deur die draaie gevleg. Elizabeth se voet was maar altyd swaar op die lepel, maar nou het sy deur die draaie ingelê asof sy ’n bestemming wou haal, hoe gouer, hoe beter.

      Min het Ian tóé geweet, soos sy later gebieg het, dat hý haar bestemming was. Vanaf die eerste oomblik toe sy in die uitgewery se kantore aan hom voorgestel is, daardie dag van die eerste verkennende gesprekke oor StorieDigitaal.

      Daar om die kuspad het hy liggies, baie liggies, eers een, toe twee, en toe vier vingertoppe teen haar vel neergesit. Op die agterkant van haar nek, daar waar die haarlyn met fyn donshaartjies begin. Sy’t niks laat blyk nie en voor haar bly uitkyk.

      Hy het met sy vingertoppe liggies, nes met die pootjies van ’n vlinder, begin streel waar die swaanboog van haar nek sierlik buig. Hy kon damp voel uitslaan. Die geur van haar lyf, skielik gewek, het hom getref, en toe hy sy kop na haar draai, sien hy sweetdruppeltjies op haar bolip uitslaan.

      Die volgende oomblik bak hy sy handpalm om haar agterkop en terwyl sy nog bestuur, draai hy haar kop na hom toe en trek haar na hom aan en nes in Picasso se skildery van twee koppe wat mekaar met saagtande te lyf gaan, het hulle mekaar aangeval. Sy’t remme aangeslaan en skuinsweg met ’n los grondwal teen die pad se kant opgery, half tussen bosse in.

      Die enjin het stol-stol uitgedoof, die kar het ’n boksprong gegee, en dit was dan hul onbeholpe, hongerige begin.

      Om klaarblyklike redes was die kanse skraal dat dit ’n verhouding sou word.

      #

      Later meer daaroor. Dalk sou mens ook kon bysê: Net so skraal soos wat die moontlikhede van ’n rustige republiek op hulle wag.

      Maar daar in die kar was dit die ene geslagtelikheid. Hortende asems en ’n skootstreep oor die paneelbord, oor die spoedwyster se perspeks.

      Dit was hul slordige begin. Nadat hulle agterna hul klere reg gerangskik het en sy binne sig van hom hurkend ’n entjie weg, oorkant die pad en op die rand van die afgrond, gaan water afslaan het terwyl karre van agter by hul motor verbyjaag, het hulle na haar medewerker gery.

      ’n Voorbladontwerper, ’n pretensieuse en liggeraakte mannetjie wat in Pringlebaai ’n tuinwoonstel by sy ouers gehad het en nooit oor sy voorbladontwerpe wou praat nie, maar hulle bloot sonder gesprek voorgelê het, met die wete dat hy die briljantste in die bedryf was. Hy was ook ’n grafiese roman aan’t skep – ’n soort Suid-Afrikaanse weergawe van Nick Drnaso se Sabrina. Só’t Elizabeth vertel. “Oor surveillance,” het sy gesê, en voortgestoom: Die jong man het veral buitengewone begrip van die verskil tussen die Afrikaans- en Engelstalige boekkoper se visuele voorkeure.

      Al meer uitgewers, het sy verduidelik, het hul fiksie in beide Engels en Afrikaans gepubliseer, en die uitgewery het sigself ook so begin posisioneer, met Afrikaanse fiksieverkope wat Engelse verkope ver oortref.

      Die Boere het hul skrywers se boeke gekoop (Elizabeth).

      Die Engelstalige Suid-Afrikaanse lesers, onvas van voet en wars van hier wees, kon wei teen die hange van Exclusive Books se boekrakke en die beste van wêreldletterkunde in hul taal koop. Waarom sal hulle hulself verontrus met verhale oor Suid-Afrika wanneer hulle hulle kan verwen aan die bestes van oor die wêreld?

      Waarvan Ian by Elizabeth gehou het, was haar waagmoed, haar gebalanseerdheid tydens vergaderings en terselfdertyd haar uittoets van grense. En die manier waarop sy sy tong gekou het wanneer hulle soen.

      Hy het ook van haar gemaklike intimiteit gehou. In baie opsigte is Elizabeth grensloos. Jou lyfspasie, en ook ander grense, is vir haar geen versperring nie. En dit, paradoksaal, terwyl sy in werksverband so ’n nugtere en bedagsame speler was.

      Met hul eerste ontmoeting, in die uitgewery se voorportaal, het sy teenaan hom kom staan. Met ’n soort vertroulikheid, byna, dag hy later, ’n aanvaarding van sy lyf se bona fides. Hy weet nie hoe om dit anders te beskryf nie.

      Miskien was haar skanse net permanent af. Miskien was sy die radikale uiterste.

      Hy weet sy’t ook vroue bemin, en soms het sy in mansklere opgedaag by die paar boekgeleenthede waarheen sy hom saamgenooi het. “Gesuit en getie,” het sy dan self gespot, haar hare plat gejel teen haar kop. Dit was byna of net ’n aangeverfde snorretjie kortgekom het. Ander kere was sy die konvensionele vroulike verleidster.

      “Sal ons fuckbuddies word?” het sy later voorgestel, en miskien omdat hy teen daardie tyd, ná baie uitasem ontmoetings en soms skreeusnaakse sessies in veral hoërisikotonele (dit was haar kick), vermoed het dat ’n belowende verhouding hul nooit beskore sou wees nie, het hy ingestem.

      Elizabeth was baie geïnteresseerd in wat die seksresessie genoem word. In hookup culture.

      Daar was in hul haastige en soms aggressiewe interaksies, hul stormlope op mekaar se lywe, vir hom iets berustends. Dalk was dit nes die republiek wat skynbaar sy vertroosting in skermutselings gevind het.

      ’n Bloedeed tussen opponente om nooit op te hou veg nie. By hom en Elizabeth die geveg van die lyf.

      #

      Hul avonture was in daardie seisoene sy redding, en tydens sy ontnugtering met die tye en die konfrontasie met die Fees Must Fall-beweging was haar lyf iets wat aan hom ’n sin van beheer gegee het.

      Eers was daar die onrustige, oplaaiende begeerte, veral toe die druk begin toeneem dat die gesprekke oor nuwe platforms vir skryfwerk nie juis wou uitkom by iets prakties wat sou moneteer nie. Daar was in die algemeen by hulle albei se kantore druk en hulle moes in groot spanning en chaos werk. Hulle was deel van ’n geslag wat gevoel het dat al hoe minder mense al hoe harder moes werk om die landsekonomie se wiele te laat draai.

      Dan sou die haastige reeks whatsapps volg, en die afsprekery oor waar hulle hierdie keer sou ontmoet. Die toutrekkery oor die risiko’s van die bepaalde ontmoetplek. Sy’t sy fatsoenlikheid uitgedaag. Dit was asof sy sulke tye als laat vaar het en alle konvensies oorboord gegooi het.

      Hoe groter die risiko dat iemand op hulle sou afkom, hoe beter!

      “Ek is net ’n flapper publisher!” het sy dikwels aan hom gesê.

      Haar oë was by tye ’n leë soort bruin, dalk grys. Haar hare was dik en geil, soos die stert van ’n perd. Haar aanslag was hard en honger en sy’t uitbundig geril sodra sy hande aan haar raak. Op die parkbank, in die hyser, in die parkeergarage of hoteltoilet; sy was oral en altyd op haar mees aanvallende beste.

      Op ’n dag whatsapp hy haar:

      Kan ons dalk een keer (ek belowe net een keer) ontmoet en bloot gesels? Net praat.

      Eintlik het hy reeds geweet wat sy sou antwoord. En só was dit ook:

      Ek weet nie of ek kans sien nie.

      Waarvoor jy bang, Elizabeth?

      Jy weet tog, antwoord sy.

      Elizabeth, ek het behoefte. Om met jou te praat. Oor ander goed as net werk.

      Ná ’n hele ruk:

      Dit raak te ingewikkeld.

      Asseblief, Elizabeth.

      You are pushing it, Ian.

      Ons is lank verby net naai, jy weet dit, Elizabeth.

      En sy antwoord:

      Kry jou in Sweet Nothings se toilet, die een regs. Dan vry ek die hel en twyfel uit jou uit.

      Elizabeth.