“Vroeg vanoggend,” gaan hy ná ’n rukkie voort, “het ek koffie gedrink saam met ’n man wat aan ’n Khoi-woordeboek werk. ’n App. Baanbrekerswerk. Dink net daaraan: Om ’n vergete taal op te diep.”
“Okay.”
Hulle het nou tot agter een van die bloulynbusse geskuif, die Jammie-busse van die universiteit wat studente vanuit verskillende stadswyke inry kampus toe.
“So, wat’s jou huistaal, Thuli?”
Sy draai haar kop weg en kyk by haar venster uit. “Dis ’n baie wit vraag.” Ná ’n rukkie: “O, ek is so moeg.” Sy kyk af na die lêer op haar skoot.
“Dit spyt my.”
“Dis okay.”
Ná ’n rukkie praat sy weer. “Moet dit nie weer vir my vra nie.”
“Ek is jammer.”
“Nee, rêrig, moet nooit so ’n vraag vra nie.”
“Ek sal nie. Ek belowe.”
“Okay.”
#
Sy wys na ’n koerantplakkaat teen ’n paal:
CAPE TIMES
CROSSBOW ASSASSIN STRIKES AGAIN!
Haar kop swaai soos hulle by die plakkaat verbyry. Deesdae is die Kaap op hol oor die kruisboogskutter. Nou het die sluipmoordenaar weer toegeslaan en ná aanvanklike bespiegeling is daar skynbaar nou sekerheid dat dit ’n kruisboog is wat die pyl afgevuur het, en nie ’n langboog nie.
Ná ’n rukkie praat sy weer. “Dis orraait.”
Ian sug saggies. Versigtig, sodat sy niks agterkom nie. Sy generasie is die laaste wat in Angola in die Grensoorlog geveg het. Die toneel by die Goue Akker, die geweld, die bloed, het dit als weer teruggebring. Hulle is destyds daar uit, onthou Ian, in helikopters waarvan die lemme flikker teen die vuurrooi van ’n melankoliese sonsondergang, die horison plat en ál swarter, die werklikheid van civvylewe wat nader skuif soos hulle suidwaarts sak en veraf die blink dak van die basis se kantien.
Die laaste aand van sweterige biere, die gegroet, die behoedsaamheid in die oë van diegene wat wegdraai – toe nog onbewus van hierdie vandag van hom en die Thuli’s wat op hulle wag.
Nes hy werk sy ook terwyl sy studeer. By ’n trendy webwerf toegespits op maatskaplike probleme, wat hulle hier in die Kaap issues noem, in Woodstock: Issue.com.
’n Waghondorganisasie tydens die groot kentering: #MeToo en Blackface en identiteitspolitiek en – noem maar op. Thuli-hulle, bedag op oortredings, is die wagters op die poorte, die heroute van ’n nuwe tyd.
As gebaar gee Ian haar op dae dat hulle klas loop ’n geleentheid Bo-kampus toe. Sy aanvaar die gebaar. As gebaar.
Hy het haar vier maande gelede ná hul eerste seminaar rygeleentheid aangebied toe dit blyk dat hulle albei in die stad werk en dieselfde roete kampus toe en terug neem.
’n Ongemaklike aanbod. Die wit man met die rooi Alfa Romeo. Die swart meisie wat van punt A na punt B moet kom.
Toe het hy nog nie geweet van die huis in Rosebank en haar vooraanstaande pa nie. Sy het die aanbod aanvaar in die gees van die eerste seminaarontmoeting, dink hy. Studente, nagraads, die meeste van hulle ouer as die deursnee- nagraadse student, werkende studente wat glimlaggend in ’n kringetjie mekaar staan en takseer.
Twee of drie van die ander was reeds, nes Ian, in hul veertigs.
En sy en Thuli se vriendskap, het hy op ’n keer gedink, is ’n vriendskap van onderhandelde woede.
Sy is die een wat kwaad is.
En hy.
Hy sou later, ná alles, nadat die hele pulpgeskiedenis met al sy spektakels afgeloop was, onthou wat Thuli hul vertaalklas eendag toegesnou het.
Sy’t daar gesit met haar oë intens en die woorde uitgeskiet na hulle: “Hier agter die kampus teen die berg groei wat hulle noem fynbos. Nou, fynbos is ’n vuurafhanklike veldtipe. Julle weet seker vuur doen fynbos goed. Die Kaapse bergbrande bring genesing en nuwe groei.
“Dit móét brand.
“Vuur is ’n vereiste.”
Sy’t dit daar gelaat. En hul dosent, doktor Eliot, het sy bril afgehaal en die wasem van die glase afgevee.
#
Toe hulle by die kampus inry, ’n kort opmerking na hom: “Ek kon nie anders as om jou blog oor gesigsherkenning raak te lees nie.”
“Ja?”
“Dis nie iets wat ons ooit in hierdie land sal toelaat nie.” Ian vra nie na die ons nie; hy het al gewoond geraak daaraan. “Weet jy nie hoe diskriminerend die tegnologie is nie? Dis vir wit gesigte ontwerp. Hoeveel swart mense is nie al in Amerika foutiewelik gearresteer weens vals identifiserings nie.
“Daar is nie plek in ons land vir so iets nie.”
#
opdrag kort en eenvoudig volg hom maak seker jy sal hom in die donker herken leer ken sy manier van stap
#
sy uithangplekke en maak jouself gewoond aan die idee dat hy teiken gaan word maar nog nie jy’s uit op straat as jy te vroeg skiet hoor jy my jy’s uit op straat
#
loop hom net na nie by nie kyk hom uit hier so lyk sy kar dis ’n Alfa en hier werk hy sien jy daar bo so jy kan hom hier voorlê as jy hom wil bekyk maar jy hou terug
#
en dis sy nai ons sal nog besluit oor haar hang af van wat sy weet die teef
#
jy hou jou in
#
Van die Shanghaise lughawe het sy ’n taxi geneem nadat sy die notatjie met die adres aan die bestuurder gewys het.
Die dosent Mandaryns op die universiteitskampus in Kaapstad het haar presiese aanwysings na sy verlangse familielede se appartement in Shanghai gegee. Hy’t haar gewaarsku om genoeg kontant in yuan byderhand te hê en haar verseker die adres is in ’n ordentlike buurt van Shanghai.
“En onthou kredietkaarte se tyd in China is verby. Jy betaal met jou selfoon. Gaan in met kontant, maar kry so gou moontlik WeChat Pay.”
Hy’t na haar gekyk; gehuiwer. Hy wou klaarblyklik iets sê, maar het hom bedink.
En toe sê hy dit tog: “En aanvaar jy sal dopgehou word van die oomblik dat jy voete op Chinese grond sit.”
Maar toe die taxi by Sichuan-weg inswaai en stilhou voor ’n dubbeldeur waarvan die een helfte oopstaan en Thuli by die portaal inkyk, wonder sy of sy aanbod van familieverblyf die beste vir haar was. Oorkant die straat was iets wat na ’n straatkafee gelyk het, met jong mense op hoë stoeltjies langs mekaar ingeprop.
Hulle’t intens ingestaar in hul skootrekenaars (here Wi-Fi!) waarvan die skerms aan die glasvenster raak, binne sentimeters van die druk sypaadjieverkeer. Voor hulle in die straat storm ’n leërmag motorfietse en driewiele en taxi’s aan en jaag sonder aansiens des persoons verby wanneer die verkeerslig groen raak.
By die dubbeldeur sien sy groen ysterhekke, gedeeltelik weggeroes, en op die sypaadjie ’n straatbesem wat lyk na ’n grasbesem wat in die landelikste dele van Suid-Afrika voor ’n modderhut sou staan, naas ’n groen plastiekemmer en ’n klam vaalwit lap wat gefrommel soos ’n frons op die grond lê.
Binne, in die portaal, hang geel plastiekjasse half bo-oor ’n ou motorfiets wat skuins teen die rou baksteenmuur aangeleun is. In die skemerte sien sy ’n rietstoel met verweerde kussing en daaragter iets wat lyk na ’n matras met ’n opgerolde