Die biblioteek aan die einde van die wêreld. Etienne van Heerden. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624089223
Скачать книгу
my seermaak nie.

      Ieder geval, dit was met Elizabeth dat hy hierdie seisoen van die brandende reënboog binnegegaan het, die seisoen wat die grense van fatsoenlikheid in alle opsigte verskuif het.

      ’n Verskuiwing waartoe hy ruimskoots bygedra het.

      Sonder om te weet wie Elizabeth regtig is, en wat haar rol in sy en Thuli Khumalo se verhaal sou wees.

      Terugskouend, ás hy geweet het, sou hy daardie dag skuins anderkant Gordonsbaai die motor se stuurwiel by haar gegryp en die krans af gejaag het totdat hulle stukkend en dood onder op die rotse beland het, vlees en staal verfrommel binne-in die wrak van hul tyd.

      #

      Wat Ian nie geweet het nie, en wat hom later erg onkant sou betrap toe hy agter die kap van die byl kom, was dat Elizabeth en Thuli ’n geheime ooreenkoms bereik het.

      Terwyl hy in daardie dae by Elizabeth afgepak het oor sy seminaarklasse wat al absurder aandoen en sy geluister het na sy stories oor sy swart klasmaat wat voortdurend figuurlike pepersproei na hom mik, het Elizabeth al die tyd daardie swart klasmaat geken en besigheid met haar gedoen.

      Tye was taf in die uitgewersbedryf. Die ideologiese plaatverskuiwings van die tyd het aardnate blootgelê, en Elizabeth het, soos vele uitgewers, die omsigtige weg ingeslaan.

      Hier is die briefie wat Ian later, baie later, sou sien:

      Geagte Me Elizabeth Gunther

      Baie dankie vir jou e-pos rakende my moontlike dienste as sensitiwiteitsleser vir jul uitgewery.

      Ek het die term gegoogle (dit was nuut vir my) en ek was aangenaam verras om te sien dat sensitiwiteitslees deesdae ’n bloeiende besigheid is in die uitgewerswêreld. Mag ek eerlik wees? Ek meen dat julle my nader omdat julle weet wat my politiek is en boonop nadat julle my naam in die media gesien het. Miskien is julle selfs bewus van my pa se prominensie in die ANC.

      Ek is bevrees ek is deesdae meer van ’n bekende studenteaktivis as wat ek myself is – so voel ek dikwels!

      So laat ek eerlik wees. Normaalweg sal ek huiwer om werk vir julle uitgewershuis te onderneem, gedagtig aan die houermaatskappy waarvan dit deel is (my voorgraadse jare het ek deurgebring in die Universiteit van Kaapstad se departement Film en Media, en sommige dosente was nogals erg krities oor julle klomp), maar in ag genome dat die tema van die roman wat julle my wil laat lees die studenteproteste is, ervaar ek ’n perverse sin van verantwoordelikheid wat, so hoop ek, nie in verontwaardiging sal verander sodra ek begin lees nie.

      Ek moet ook erken dat ek ’n dringende reis moet onderneem in diens van ’n na my mening verdienstelike saak. ’n Sending, miskien, en vir dit om te gebeur, het ek geld nodig.

      Ek het dus besluit om ’n kompromie aan te gaan. Ek sal julle leser wees. Ek aanvaar julle fooi. Stuur my die manuskrip asseblief so gou moontlik. Maar, asseblief, laat my toe om te vra dat dit absoluut vertroulik bly dat ek julle druknaam se sensitiwiteitsleser is.

      Ek vra dit omdat, soos u mag weet, ek in dieselfde seminaargroep sit as een van u kennisse. Ek weet u ken hom, want ek het onlangs op HuffPost sy bydrae gelees oor spraakvryheid en die geskrewe woord en toe ek rondgoogle, het ek afgekom op foto’s van u en hom by die bekendstelling van die boek oor staatskaping, The HiJack Caucus. Hierdie meneer en ek stamp dikwels koppe oor geskiedenis, kultuur, mag en bevoorregting.

      Met beste wense

      Thuli Khumalo

      Ns. Mag ek byvoeg dat ons studentebeweging baie aandag vereis en dat dit baie eise aan my tydsbesteding stel. Daar mag dus oponthoude wees, maar ek sal my bes doen om julle spertye te haal.

      #

      En hierdie polities korrekte sensitiwiteitsopdrag is nie al waarvan Ian nie geweet het nie.

      Daar was nog dinge.

      Dinge wat Thuli se rug oopgetrek het vir die kruisboog se pyl.

      #

      Vir hom, kruisboog in die hand wanneer die sneller styf soos ’n vioolsnaar gestel is nee stywer en wanneer hy korrel op die blaaie van ’n bewegende rug

      #

      is daar nog die laaste waardering van ’n lewende lyf die skoonheid van nek in skouers in die invou van die rugspiere na

      #

      die nou middel die heupe en af na die boude soms pront soos daar beweeg word en die lyf word vorentoe gedryf soms plomp en diékant toe

      #

      en dááikant toe en dan die stip fokus op die plek tussen die blaaie effe na links net effe van die middellyn af en dan begin dit

      die geblaf van die veghonde in Touwsrivier se plakkerskamp in sy ore daar in die oopte agter die suikerhuisie

      #

      en hy ruik die stof en as wat opslaan en die bier op die sand en die piskring soos die reuns voordat hulle begin veg en hulle nog skuimbek trek

      #

      aan hul rieme daar pis om die rand van die arena, as hulle mekaar oopbek van veghonger aankyk en die geskreeu van die omstanders wat geldnote op ’n seil neergooi en dan wanneer hy die sneller trek en sy oë vir die trefslag knip

      #

      dan kom dit

      #

      as ’n soort verlossing die hoë geluid van ’n viool als raak stil waar hy ook al is skuins bo ’n betoging in ’n stadsgebou wat gerestoureer word se venster agter sinkplate of agterin die minibus met berookte vensters

      #

      wat die man met die geskende gesig georganiseer het vir die nag maak nie saak waar en wat die geluide is nie dis die viool wat insit en die sublieme note en dan maak hy sy oë oop

      #

      en hy kan selde die slagoffer sien lê want dan is daar al

      #

      chaos en hy slaan op vlug en hy weet net hy hoor wat hy hoor

      #

      die viool se suiwerste aanklag.

      #

      We also have some Farms Tractors Equipment’s, Houses, Cars And Landed Properties, including the Two Franchisers which is up and running functioning now (1) MACDONALD Fast Food Restaurant (2) KFC Fast Food Restaurant both are located at: CAPE TOWN SOUTH AFRICA. Presently this money is still in the custody of the Bank in South Africa. Recently, My Doctor told me that I would not last for the next few months due to cancer illness because it’s very serious.

      Having known my condition I decided to donate this money and this Farms Tractors Equipment’s, Cars, Houses And Landed Properties as well with the: MACDONALD, KFC FAST FOOD RESTAURANTS to the Charity Organizations or Good Person that will utilize this money for helping humanity and the less privilege people in the Society and the way I am going to instruct herein.

      I want you to use this Money And Farms Tractors Equipment’s, Houses And Landed Properties including the MACDONALD AND KFC FAST FOOD RESTAURANTS for Charity organizations, orphanages, widows and other people that are in need. Specifically I want you to use this money for techo-nology and my grand plan will be conveyed to you after your assurances of government blessing our plans and buying into said.

      I took this decision because I don’t have any child that will inherit this money and our properties. Moreover, my husband relatives are not close to me since I develop a Cancer problem and it had been their wish to see me dead in order to inherit his wealth since we have no Child.

      These people are not worthy of this inheritance. This is why I am taking this decision.

      #

      Liewe vader, Beth.

      Ek slaap hier in Shanghai in iets wat jy niks anders as ’n vullissteeg kan noem nie.

      My kamergenoot is ’n straatveër, ’n vriendelike ou man sonder naels aan sy een hand. Ek vermoed