Die biblioteek aan die einde van die wêreld. Etienne van Heerden. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624089223
Скачать книгу
’n klein houtbankie, skaars ses sentimeter hoog. Tydens haar verblyf in hierdie stad waar armoede en rykdom, die agtergeblewe en die vooruitstrewende, so naas mekaar lewe, sal sy dikwels iemand op so ’n bankie sien sit, laag bo die sypaadjie.

      Sy betaal die taxibestuurder. Hy skud sy kop toe sy wag vir kleingeld sodat sy ongeduldig met haar duim teen haar wysvinger skuur: “My kleingeld. My kleingeld.”

      Sy beduie na die meter, maar hy kyk vasbeslote voor hom uit. Sy gryp haar tas en klap die deur vies toe. Die taxi snork weg met ’n laaste blaf van blou rook. Oorkant die straat gaap ’n donker steeg en ’n bondel pype lei van die gebou waarlangs die steeg lê af na die sypaadjie. ’n Verroeste brandtrap strek na bo. Die gedeelte tussen die tweede en derde verdieping het afgebreek en lê in ’n hoop gefrommel onder in die steeg. Sy gril. Op daardie steeg sal ek my oog moet hou as ek saans uitgaan.

      Sy sleep haar tas die voorportaal in en druk die knoppie op die nogals moderne bord. Appartement 8D. Daar hang swaar kosreuke, ook iets chemies, in die lug. Dit neem ’n rukkie vir haar oë om aan die skemer gewoond te raak en sy skrik toe sy ’n ou man in ’n stoel sien sit, eenkant in die donkerste hoek. Hy dut, skynbaar onbewus van haar en die dreuning in die straat. ’n Blink draad kwyl hang van sy mondhoek tot op sy bors.

      Sy hoor voete klapper van bo. ’n Klein vroutjie word gevolg deur ’n nog korter man in kakieklere. Hy’t ’n kortbroek aan en sy bene is dun en knopperig. Die vroutjie het haar hande teen mekaar voor haar en maak klein buiginkies. Ek kyk clichés, bestraf Thuli haarself. Die man takseer Thuli met glinsterende oë.

      Dan beduie hy na die matrassie agter die fietse. Teen die muur hang ’n bondel toue. ’n Ry vullisdromme, waarvan sommige oorvol is, strek teen die muur af. Die ou man in die hoek is nou wakker. Hy skud sy kop, kyk om na ’n voos kalender agter hom teen die muur en voel-voel oor die datums totdat die vuil vingernael op vandag se datum halt. Hy knik sy kop en draai na hulle. Hy veeg die kwyl met die agterkant van sy hand weg, lig die hand na Thuli se gasheer en gasvrou en beduie dan na die matrassie.

      Daar is gevee om die slaapplek, sien Thuli. ’n Klein tafeltjie met ’n doekie oor. ’n Klein potjie met ’n bossie plastiekblomme. ’n Plastiekkatjie met glimlaggende, waansinnige oë wat orent sit en ’n pootjie lig.

      Die vrou, soos sy vooraf ingelig is, die kleinniggie van die Mandaryns-dosent, buk na die bedtafeltjie, skakel iets onder die katjie aan, en daar beweeg die armpie op en af in ’n meganiese groet. Almal giggel, die kwylende ou man wys laggend, die man in die kortbroek gee ’n hoppie. Verleë lag Thuli.

      Sy kyk verstom na haar losies. Terwyl sy nog so staan, gryp die gasheer in die kakiebroek haar tas by haar, loop gebukkend dieper die voorportaal in. Die plafon loop skuins en sak al laer totdat jy by Thuli se slaaphoek kom. Haar gasheer skuif die tas reg langs haar bed in. Hy sit dit só neer dat sy die tas kan oopmaak terwyl sy op die matras sit. Glimlaggend wys hy eers na die plastiekblomme en dan na die katjie. Hy vou sy twee hande teen sy gekantelde kop in ’n slaapgebaar.

      Sy vrou maak goedkeurende kloekgeluidjies. Die ou man in sy stoel het weer aan die slaap geraak.

      Tjie-tjie, sê die katjie se armpie.

      #

      Terwyl hy sy Alfa se deur in die parkeergarage onderin sy kantoorgebou oopmaak, blits daar ’n boodskap op Ian Brand se selfoon: Bly weg van die Stellenbosse boys. Voetsoldate van die Stellenbosse mafia. Anders is die volgende pyl in jóú rug.

      Onwillekeurig, vinnig, kyk hy oor sy skouer. Veeg met sy oë oor die motors en betonpilare wat hom omring.

      Ry dan huis toe. Ongerus. Sy een ooglid spring.

      Soos altyd voor ’n oorgrensoperasie.

      4

      Die sensitiwiteitsleser

      Daardie maande voordat Thuli China toe verdwyn, is vir Ian ’n tyd waarin hy begaan is oor die vinnige verdwyning van dinge. Al meer dinge word in die doofpot gestop. Weg, buite sig. Buite hoor en buite praat. Als om die branders van verontwaardiging wat deur die een of ander oortreding op sosiale media ontketen kan word, te vermy.

      Bly eerder stil. Jy’s ’n wit man. ’n Afrikaner. Dis nie nou jou tyd en plek om te praat nie. In die aandagekonomie, besef hy, is verontwaardiging sekerlik die boeiendste verleiding.

      Ons woon in die Republiek van Taboe, dink hy.

      Verontwaardiging voed die aandagekonomie. Niks trek die gretige oë so sterk aan soos ’n bewering van oorskryding nie. Meer tyd op die selfoon is die gevolg, en dan verdwyn sóveel. Die geheue van water. Die geur van basiliekruid wanneer jy dit skeur. Die suspension of disbelief. Die tjoepstilte en krakende vloere van ’n biblioteek. Warm brood wanneer jy dit breek en dit stoom.

      #

      Dit was dus die tyd toe sy en Elizabeth Gunther se verhouding begin het. ’n Slordige begin. ’n Goeie ses maande vóór daardie baksteen, gevolg deur die sluipmoordenaarspyl, deur die Wimpy-venster gevlieg het.

      Die baksteendag was die dag toe studente van drie Kaapstadse kampusse opgetrek het na die parlement tydens die minister van finansies se minibegrotingstoespraak.

      Maar wag, terug na ses maande vroeër. Slordig het hy en Elizabeth hul verhouding begin. Half uitgetrek, die kar skuinsweg met sy neus in die onsiende bosse, gatkant na aankomende verkeer.

      Oorhaastig tot stilstand gebring, een van hulle het per abuis teen die ruitveërkontrole gestamp en die ruitveërs sleep droog oor die sonverhitte voorruit.

      Die bestuurdersvenster is afgedraai en ’n skoenlapper kom ingefladder en in paniek weens die hitte wat in die kar opdam, begin dit teen glas spartel.

      Die handelinge is te gretig, te arbitrêr, te ondeurdag.

      En als te midde van die kuspad se asemrowende skoonheid. Landskap as narkose; hierdie land se groot oëverblindery.

      Hy’t regswerk gedoen vir die uitgewersbedryf. Daar waar papier vergly in digitaliteit. Elizabeth se vroeëre eksperimente met die lewering van selfoonnovelles het nie juis lesers getrek nie. Dit was ’n moeilike tyd vir die boekbedryf, vir Kaapstad, eintlik vir die hele land. “Dalk,” het Elizabeth hom uitgedaag, “moet ons heel nuut begin dink oor storie. Virtuele werklikheid! Kamers van fiksie! Resepromans deur rekenaars geskryf!

      “Ian, ry môre saam met my, dan praat ons? Ek moet ’n ou in Pringlebaai gaan sien. Kan jy die oggend afvat?”

      Hoekom nie? Boonop was daar ’n knipoog in haar stem. Tot dusver het hulle net sake gedoen, maar ’n keer of wat – of het hy hom dit verbeel? – was daar ’n blinkheid in haar oë wanneer sy oor die vergadertafel na hom kyk.

      Die soeke na nuwe moontlikhede, die verkenning van die terrein tussen tegnologie – veral kunsmatige intelligensie – en storie en die oop moontlikhede daarvan het bygedra tot ’n gevoel dat enigiets moontlik was.

      Dat hulle – hy en die onvoorspelbare Elizabeth – hul moes oopstel vir die onverwagte.

      Dit was in die lug.

      Moeilike tye. Ook by sy praktyk. Spanning by hom. Spanning by haar. Die skielike oplaai van begeerte na mekaar was spanning op soek na ontlading.

      #

      Inderdaad, terugskouend gesien, het die landskap tot daardie middag bygedra. Die pad het om die steil berghang geloop, al langs die kontoerlyn. Die berg het met verskeie voete in die see gestaan en die pad was vol draaie. Om hierdie skerp draaie het die padoppervlak na binne, berg se kant toe, gehel asof die teer jou uitnooi om eerder teen die berg vas te jaag as om oor die afgrond see toe te stort.

      Na bo het kranse uitgeklim en lappe fynbos het donker in die klowe verdig. Regs en ver na onder het die see uitgeplaat, ’n silwer verskiet. ’n Vars bries het deur haar oop karvenster ingewaai. Dit het oor die oppervlak van die onrustige see ingestoot binneland toe en het sout geruik. Die oorsprong van hierdie wind was die maling by Kaappunt waar volgens die volksmond die warm Agulhas-seestroom uit die noorde die koue Benguela wat vanuit Antarktika in die suide opvloei, ontmoet.

      Die