“Wat mense sal laat regop sit, is dat die Chinese reeds die tegnologie gebruik om te noem en te verdoem vir klein munisipale oortredinkies. Byvoorbeeld, wanneer jy teen ’n rooi lig oor die straat loop, sien jy môre jou gesig tussen dié van ander teen die videomuur in die duikweg by die stasie.
“Byvoorbeeld,” herhaal Ian. “Ek laat my gedagtes gaan. En dis hoekom ek sê hierdie opdrag is nie sommer vir hier en daar iets gaan uitklap nie. Mens sal the lay of the land moet vasstel. Byvoorbeeld. Julle sal nou dink ek gaan haal dit te ver. Hoe lyk die bedrywighede van die Amerikaanse Burgerregte-unie rondom gesigsherkenning? Ek vra, want: Het hulle enige Suid-Afrikaanse kontakte? Weet julle van iemand wat iewers hier te lande begin mor het omdat sy privaatheid deur die een of ander algoritme bedreig gaan word?
“Iemand wat dalk vra: Wat is die doel van jul herkenningstegnologie? Sekuriteit? Ja, maar hoe gaan jy keer dat dit vir ánder doeleindes gebruik word? Dit blyk uit my vinnige en voorlopige verkenning daar’s in die EU ’n hele gesprek oor wat die Engelse noem purpose.
“Riaan Cruywagen sprak na my wete geen sprook dat my bure …” – en hy beduie na die Media24-gebou ’n ent weg – “… sy bakkies vir ’n gesigsverouderingsapp gevoer het nie?”
Die Boeing is verby en Bloubergstrand se geboueprofiel vibreer in sy hittestroom.
Miskien, dink Ian terwyl hy kyk hoe Grotius sy (te lang; Trump-styl) goue das oor sy boep platstryk, gooi ek ’n Huffington Post-bydrae uit, oor hoe ons regsgeleerdes sukkel om in die verblindende lig te sién.
Later sou hy terugdink: dit was die eerste fout.
#
Dis twee weke ná die besoek van die beleggers in Ian Brand se kantoor en vele maande voor Thuli Khumalo se vertrek na China. Als lê nog voor. Ian kom in Adderleystraat afgery, rigting hawe. Wat hy twee weke gelede op hierdie selfde roete gesien het, spook nou by hom. Die groot vensters van die Goue Akker aan regterkant is al weer herstel, maar die glassplinters saai oor sy gemoed uit.
Soos ’n videogreep sit die toneel wat hy gesien het – nee, belééf het – in die hardeskyf van sy brein. Dit speel oor en oor: die oomblik voor, tydens en ná die pyl deur Maxwell Tshabalala en die Wimpy-venster getrek het.
Die blinknuwe Alfa Romeo SUV swaai vanuit Adderley by Strandstraat in. Ian is op pad na Hoofweg, Observatory, en diep ingedagte. Op die oog af het hy niks om oor te kla nie. Hy is aantreklik, in sy veertigs. Fikse veertigs, sou hy graag haastig byvoeg. ’n Skerp regsgeleerde aan die snypunt van regskwessies rondom kunsmatige intelligensie, masjiengeleerdheid, privaatheid, kubersekuriteit en biotegnologie (die nuwe voorpos, vertel hy graag).
In die Kaapse regsomgewing is hy eintlik nog ’n youngblood, Mandela-Rhodes-beurshouer, met ’n LLM van Oxford én een van Cambridge, waar hy in die nat en koue sy spore verdien het.
Niks om te kla nie, behalwe die gevoel dat die helikopter oor die landskap kantel, ’n groot draai rakelings oor donkergroen boomtoppe gooi en jy afhel en onder die oop deur hier langs jou skiet die vlekke van groen en bruin verby en jy voel duiselig en op die punt om te spring. Niks om te kla nie, behalwe hierdie seisoen in Suid-Afrika, wat almal wat hier woon se gemoedere omroer. Die land ruik soos batterysuur kort ná ’n motorongeluk en dis die geur wat nou in hom opkom, diep uit sy binnemaag, wanneer hy vanuit Strandstraat verras na die Kasteel op regterhand kyk.
Normaalweg smelt die grys klip van die Kasteel in die stadsprofiel weg. Maar vandag! Die klipmure bied die perfekte pawiljoen vir studenteaktiviste wat uitgestal sit met hul rooi bandanas en Castle Must Fall-baniere. Die skuins oggendson doen sy deel en verrys glorieryk van agter die Hottentots-Hollandberge na die oostekant.
Oornag is die Kasteel die Goeie Hoop, in die sewentiende eeu in Kaapstad gebou toe die Hollanders hul voet op die gesig van Afrika kom neersit het, omskep in ’n oorlogsfregat.
Só – nes ’n skip – lyk die Hollandse koopmanne se klipfort vir hom. Ian sit in sy Alfa en staar. Die verkeer het tot stilstand gekom en motoriste vergaap hulle aan die toneel. Ian is op sy hoede; die helikopterhoede kom oor hom. Hoe dun is die blink membraan van die motorruit tussen my en daardie woede! dink hy. Tussen my motor se rooi blikvel en daardie studente is daar niks!
Ek is ’n sitting duck. ’n Motor op elke buffer, voor én agter.
Helikopterwaaksaamheid skerp sy sintuie op. Om hom adem die stad die geur van laaggety, ongeduldige verkeer, traangas en duur parfuum. En die kamerade haal soos een mens asem. In die vroegmôreson glim hul velle met die sjarme van hul tye. Hulle is uitgesprei op die mure, elke enkeling of groepie dankbaar vir die ewe dankbare kameras. Die politiek van skouspel.
Bykans elke student staar by ’n selfoon in. Dis die seisoen, dink Ian, van twiets wat deur die kuberruim skeur soos ’n sardienskool deur die dieptes van die oseaan. Dan en wan skiet ’n haai deur die donker proteïenwolk en verstrooi die swetterjoel.
Dis asof die land vergly, dink Ian, na ’n era waar niks meer gaan verras nie. Onlangs, oral in die stad, het hangende hane verskyn. Soggens, onverwags in die Heerengracht, terwyl hy op pad is Glaspaleis toe, aan ’n lamppaal: ’n haan wat aan sy nek opgehang is, die kam wat bleek lel oor die snawel. Voor ’n boetiek in Groenpunt se galerybuurt, opeens: ’n hangende haan, tereggestel, sy pote met draad vasgewoel, sy vlerke nog fladderend van laaste stuiptrekkings.
’n Straatkunstenaar. Klaarblyklik die suster van steeggraffitiste. Wie sou sy wees, sy met die kwaad hand?
Kwaad in hierdie tyd van witheid en genderoorloë en grondgrype, van diensleweringsbetogings en transitorooftogte. Van skin cred en image crafting, van rubberkoeëls en haarpolitiek. Van scare quotes en blackface en post-feit.
Dis boonop die seisoen waartydens almal voorspel dat die Kaap se krane gaan opdroog. Dis ’n tyd vir die terugvat van grond sonder vergoeding, staatskaping en die krag van vroue.
Sommiges praat van the summer of spam.
Ander van die Era van Onwaarheid.
Links van Ian, deur sy motorruit, rol die TV-nuusspanne, oorfone oor die ore. Saam in die karnaval, op hul hoede vir perfekte sound bites. Elke student, slimfoon ter hand, is ’n citizen journo.
Oor die lengte en breedte van die land, weet Ian, is mense nou ingeskakel met wisselende grade van vreugde of skok, of soms ’n adolessente versnit van albei. Laasgenoemde, veral, want heimlik het almal in hierdie land dié sin vir drama, vir krisis en stryd. Realiteitshonger. Drama en stryd is ’n soort tuiste ná eeue se gewoontemisdaad en vergrype, eeue se verset en verknegting.
Die People’s War is bloedjonk en toets iedereen, want dis die tyd van sirenepolitiek. Hoe groter die verontwaardiging, hoe harder dryf die twiets. Agter alarmbeveiligde siersteen in die suburbs en in plakkersbuurte draai satellietskottels lug toe.
Die nuus oor die besetting van die Hollanders se Kasteel stroom nou, weet Ian terwyl sy Alfa daar in die verkeer luier, elektronies oor die vlaktes na verlate plaashuise waar boere in kakie met hul oggendkoffie en beskuit sit en deur rolle lemmetjiesdraad na die sonsopkoms kyk. Suid-Afrikaanse expats in die donker, nat stede van Europa kyk gretig toe. Hulle is wawyd wakker vir slegte nuus wat hul migrasie na kalmer oorde sin sal gee.
Almal, diegene op die borswerings van klip, die insittendes van karre om Ian, die boere op die vlaktes en die trekswawels in Europa en Australië, almal is behoedsaam en gedaan.
Na die geliefde land.
Ja, dink hy, dit is die tyd, die tyd van min stiltes.
#
Deesdae kom dit al meer by hom op. Die biblioteke waardeur sy ouers hom as klein seuntjie en ook later as opgeskote seun geneem het. Hul pelgrimstogte het hulle geneem na uithoeke van die planeet. Sy ouers is bibliofiele, en sy pa, ’n oud-akteprokureur en welgestelde eiendomsontwikkelaar, ’n fanatiese bewonderaar van biblioteke.
Ian onthou sy klein voetjies in die sagte pantoffels van St Gallen, Switserland. Op daardie antieke plankvloere loop jy nie blootsvoet