Hy was juis ’n jaar gelede by die jaarlikse Privacy Conference in Amsterdam.
Dis nie elke dag dat ’n Kaapstadse prokureur so ’n versoek kry nie.
Hy’t dit oppervlakkig gehou, want wat help dit hy wys sy volle arsenaal met die eerste skote? Hy’t begin met ’n trefsekere verwysing na een van die internet se grotes. Jeff Bezos beskryf die konflik tussen privaatheid en sekuriteit as een van die groot konflikte van die moderne tyd.
Die vyf mans voor hom is nie juis die geeks wat jy sou verwag agter ’n projek soos die een wat hulle in gedagte het nie. Hulle besit ’n maatskappy wat in tegnologie wil begin belê, verduidelik die een met die goue das, die onrustige hande en die skaars waarneembare brei.
Die brein is ’n deeltydse hoogleraar (“buitengewone professor”) in ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch en verbonde aan die Lab, ’n kwasi-navorsingsmaatskappy wat hom toelê op datagedrewe tegnologie en dinge soos kunsmatige intelligensie, satelliete en biotegnologie – “’n veld dus so wyd soos die Heer se genade”.
Ian: “Ons weet immers wat wag, menere: Data is die nuwe olie. Die datatycoons is die nuwe mynbase. Dit lees ons orals. En wanneer data, kunsmatige intelligensie en biotegnologie ’n trits vorm, dan het die nuwe nóú gearriveer.”
Met die “nóú” kap hy met sy wysvinger op die tafelblad.
Die buitengewone professor het aan Chinese universiteite klas gegee tydens sy sabbatsverlof en kontak gemaak met ’n klomp geeks in Pudong, Shanghai, wat sagteware ontwikkel “wat jou uit die water sal blaas” (Goue Das).
“Een van China se miljoene startups.”
Ian het sy huiswerk oor die Lab in Stellenbosch gedoen. Saadkapitaal, glo, van die mitiese Stellenbosse mafia – maar dis gerugte. Duidelik, egter, toe Ian nou pas fooie met hulle bespreek het, dat hulle min of meer gemaklik is met die bedrae wat hy uitgooi.
Tussen die reëls: daar is boonop saadkapitaal uit China. Kontakte.
“Verstaan ons mekaar. Verstaan ons mekaar.” Dis die lang, maer man wat aandagtig soos ’n priester lyk. Hy praat oor die internet in spirituele terme, wieg sy skouers saam met sy sinne. Geneig om frases te herhaal. “Domeine van dophou. Domeine van dophou.”
Hy’s die dromer, dink Ian. Kennelik ’n introvert, en hy kom die naaste aan die tipiese geek-prentjie. Hier aangekom sonder ’n slimfoon in sig, ’n sak of skootrekenaar.
Sê min. Sukkel met oogkontak.
Kug gereeld. Bewapen net met ’n droom.
Die Goue Das, Grotius de Grootte, verduidelik. Hy gee die swaai aan dinge: Hulle wil belê in gesigsherkenningstelsels (vir ’n oomblik verloor hy sy draad toe ’n teelepel teen glas klink en sy oë soontoe blits). “Waar was ek nou … weer … o, ja, ons wil belê in stelsels wat … wat … vir … housing estates … jy weet, soos Kleine Zalze buite Stellenbosch …” Hy soek na die woord. “Sekuriteitslandgoedere …” Hy klap sy vingers. “A, dís die woord. Sekuriteitslandgoedere. Lifestyle estates. Die moderne ekwivalent van die ossewalaer.” Hy kyk oor sy skouer asof iets agter hom roer. Gaan dan voort. “Wat aanvanklik in sulke estates geïnstalleer kan word en as daar geen protes daarteen kom of wetgewing nie dan later vir enige privaatwoning se eienaar en dalk klein besighede – vir buurte … later groot kettingwinkels en inkopiesentrums.” Hy kyk buitentoe. “Dalk hele stede.”
“Die hele fokken lánd,” brom een van sy kollegas binnensmonds. “Die donnerse kriminele …”
Grotius kreun, buk af en haal iets uit sy tas. Dis ’n sakdoek. “Maar ons kan nie met massavervaardiging begin voordat daar ten minste redelike regsekerheid is nie.
“Anders as in China is hierdie ding by ons dalk iets wat deur menseregteaktiviste gestop kan word.”
Ian leun dadelik vorentoe. Deur sy gedagtes flits die waarskuwing: Hou dit algemeen. Moenie verklap dat jy net één aktivis in Suid-Afrika nodig het soos die VSA se Brian Hofer nie, dan is hierdie menere se projek in sy maai. Hier kom ’n lekker rekening. Hou dit vaag. “Jy’t reg. Die hoop gaan dalk inderdaad beskaam. Daar mag net hier te lande te veel mense wees wat meen dat jy ’n outomatiese reg het op privaatheid – die reg om nie gefotografeer en opgeneem en geïdentifiseer te word nie.” Hy stoot die skinkbord met koffie na hulle aan. “Soos dit maar met die internet en nuwe tegnologieë gaan, is skerp idees en tegnologiese ontwikkeling die reg ver vooruit. Ek praat nou teen my eie belange in, maar ons regsgeleerdes kom gewoonlik moeg agterna om vure dood te slaan, landmyne uit te wys en roetes te probeer kaart.”
Hy snuif. “Maar dalk belangriker vir ons is menseregte-waghonde. Al slaan die reg ’n rigting in, is dit nie te sê dat drukgroepe uit daardie sektor dit sal aanvaar nie.”
“Ek hou van jou benadering,” sê die kwasiprofessor. “Beter om prakties te wees.”
“Eerstens dus,” gaan Ian voort: “Hoe moet die reg reageer op massiewe stelsels soos dié wat China reeds geïmplementeer het om sy een komma vier miljard burgers dop te hou?
“Belangriker nog, voordat julle groot geld aan diepleer of Chinees ontwikkelde sagteware uitgee: Hoe gáán die Suid-Afrikaanse reg reageer? Die Wet op Persoonlike Inligting lê byvoorbeeld nog en wag op Nommer Een se handtekening. Hoe lank al! Hoekom teken hy nie? You ask me!
“En: Weet die een hand wat die ander doen? Dit word beweer dat terwyl Jeff Bezos ’n heads-up gee oor die konflik tussen privaatheid en sekuriteit, sy eie Amazon nie skroom om gesigsherkenningstegnologie aan owerhede en selfs private besighede verkoop nie.
“Daar’s ’n groot debat rondom Amazon se Projek Rekognition, wat mense in real time kan herken.”
En net om te wys hy’t sy huiswerk oor China gedoen: “Hyper-surveillance – hiper-bewakingstoesig is my woord daarvoor – is klaar stewig in China gevestig. Byvoorbeeld: kameras dek honderd persent van Beijing se oppervlakte, en die res van ons weet gesigsherkenning is die voorland van slimstede oral ter wêreld. Geweldige implikasies vir privaatheid, nie waar nie?
“Ek bedoel, wie van ons is ooit aflyn? Ons slimfone is prosteses van ons lywe. Lê nooit verder as ’n meter van ons harte af nie.
“En selfoonmaatskappye is promisku met die deel van inligting oor ons presiese geografiese ligging, enige tyd van die dag of nag, ek verseker julle. Hulle verskoning is dat hulle moet weet waar jy is om die oproepkwaliteit hoog te hou. In die VSA kom ’n rede by: sou jy 911 bel, kan hulle blitsig vasstel waar jy is.
“Ek twyfel of dit als ooit gestuit sal kan word. Daar is eenvoudig net te veel startups wat ’n vinniger, veiliger en gesonder lewe met hierdie tegnologie beloof.
“En hulle beloof dit aan die gretige Chinese owerheid, wat reeds 170 miljoen CCTV-kameras werksaam het en binne die volgende drie jaar nog 400 miljoen kameras gaan installeer.
“Gaan lees maar wat Shoshana Zuboff sê oor die aard van die transaksie wat surveillance capital onderlê.”
Hy rep niks daarvan dat Brian Hofer se aktivisme reeds in 2014 in Oakland, VSA, die owerheid in die bek begin ruk het nie.
Koffie stoom uit die glasbeker en ’n Boeing kom stadig, byna gevaarlik stadig en lewensgroot digby die Glaspaleis verby soos hy insak na Kaapstad Internasionaal. Die Goue Das volg die gang van die swaar voël. Kyk oor sy skouer. Terug tafel toe. Buite, die meeu. Vang ook sy oog.
“Gesigsherkenning gaan ’n vinniger en makliker omgewing skep, want jy kan byvoorbeeld nou al by ’n Chinese lughawe aanteken deur net jou gesig te wys. Niks toustanery meer nie. Groot planne. Op treinstasies sal jy nie, as jy opbetaal is, ’n kaartjie hoef te koop of selfs op die trein jou kaartjie aan ’n kondukteur te wys nie. Jou gesig sal jou kaartjie wees. Of jou handpalm. Jy veeg hom net oor ’n palmleser en daar gaan jy! Huawei belê groot hierin. Dink aan die implikasies: in Beijing ry meer as tien miljoen mense daagliks trein.
“Die Chinese wil sigbewakingstelsels oor die hele land instel, op gesigsherkenning