Die verevrou. Jan van Tonder. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jan van Tonder
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798170512
Скачать книгу

      Hulle groet en Liora strek haar op die bed uit. Dit is nog nie donker nie; agtuur, sê haar horlosie. Sy lê oop-oog, moeg soos sy is. ’n Kar ry verby. Verder weg brom ’n volstruismannetjie; as sy die geluid nie so goed geken het nie, sou sy kon dink dit is die gesteun van ’n leeu. Daar is voetstappe en stemme op die sypaadjie onder haar kamervenster. ’n Man lag en ’n meisie gil plesierig. Die volstruis brom weer. Liora se oë sak toe. Sy dommel weg, slaap onrustig, droom van verminkte lyke, ’n soldaat, die skoon stank van kordiet, gewondes wat val en vertrap word. Skote. ’n Ontploffing. Sy word wakker. Haar vensters ratel.

      ’n Motorbom?

      Sy sit verskrik orent en sien hoe ligfakkels ’n wit rookwolk op die grond van bo af verlig en die sterre verdoof. Nog ontploffings. Rukkerige sarsies masjiengeweervuur. Sy draai op haar maag, begrawe haar kop in die kussings en druk dit teen haar ore vas. So demp sy die geweervuur, maar voel die basnoot van elke nuwe plofslag aan haar lyf. Algiers, opnuut. Moshe wat koes-koes tussen vlugtendes hardloop, ’n kind op elke skouer. Gewondes val, skree as hulle raak getrap word. ’n Vrou se gille pynig haar ore. Sy kom agter dat dit haar eie stem is en sy druk haar mond toe.

      Dit word stil en sy lig haar kop uit die kussings en kyk weer buitentoe. ’n Enkele rooi fakkel draal rokend aan sy valskerm. Die stilte suis in haar ore, dreigend, asof dit té skielik gekom het en enige oomblik weer kan ophou.

      Op die kassie langs haar bed lui die telefoon. Sy skrik. Die vreemde luitoon laat haar na die instrument kyk, maar sy is te benoud om daarna uit te reik. Ná ’n lang ruk verstil die gelui, maar begin ’n oomblik later weer. Nie lank nie of sy hoor voetstappe op die dun mat van die gang. ’n Klop aan haar deur.

      “Mevrou Papalato?” ’n Manstem.

      Sy antwoord nie.

      “Die bestuurder het my gevra om te hoor of alles reg is hier. Ná die geraas, bedoel ek. Ons het vergeet om u te sê die weermag het soms nagoefeninge. Jammer, mevrou. Kan ek maar vir die baas gaan sê alles is reg?”

      “Gaan weg,” sê sy.

      Toe sy later ontvangs skakel, word die foon elders opgetel: daar is ’n gedruis van stemme, musiek, klappende snoekerballe, klinkende bottels en glase in die agtergrond.

      “Mademoiselle Papalato hier, kamer ses,” sê sy. “Het julle pinot noir?”

      “Is dit wyn, mevrou? Hou aan, laat ek gou hoor.”

      ’n Oomblik later weer die stem. “Jammer, ons het nie so iets nie. Maar hier is pinotáge.”

      “As dit rooi is, en droog: twee bottels, asseblief. Stuur dit vir my kamer toe.” Sy wonder of dit genoeg gaan wees.

      Nie lank daarna nie klop iemand aan haar deur, ’n man met ’n skinkbord op sy hand. “Alles reg, mevrou?”

      “Ja.” Sy neem die skinkbord by hom, sien dat daar ’n kurktrekker is. “Goeienag,” sê sy en stoot die deur met haar elmboog toe.

      Nadat sy vir haar wyn geskink het, skakel sy die ligte af en loop glas in die hand en kaalvoet deur die kamer: hak teen groottoon en weer hak teen toon. Afgemete. Sy tel haar treë. Dit hou haar gedagtes besig, weg van haar kommer oor Moshe én van dié wat deur die weermagoefening opgeroep is.

      Haar treetjies bly ewe klein, maar nie die teue wyn nie. Die gekonsentreer op haar voete herinner haar aan De Rust se steltloper, en sy probeer haar indink hoe dit sou voel om so ver bo die grond te wees. Sy trap ’n toon vas, struikel, besluit dat dit beter sou wees om in die leunstoel by die venster te gaan sit, vóór sy op die mat mors.

      Die steltevrou bly haar by. Noudat sy nie meer met die onthutsende nabyheid van die vrou gekonfronteer word nie, kom hierdie vrae by haar op: is sy ’n straatkunstenaar, of dalk niks meer as ’n straatsmous nie? Waarom sou iemand soos sy haar op ’n klein dorpie met een van dié bestaanswyses besig hou? Hoeveel geld kan sy tog op dié manier verdien? ’n Truuk om mense se oog te vang sodat hulle hand in die sak sal steek vir ’n vertoning met ’n verewaaier of om stoffers en ander pluimprodukte te koop? Die waaier wat sy in haar hand gehad het, was op die oog af netjies gemaak, minstens goed genoeg vir toeriste. Maar as sy geleer word hoe om verlengstukke aan puik pluime te knoop, of stolas en baadjies te maak, sal haar lewe kan verander. Sy hóórt nie in ’n klein dorpie nie. As sy self die waaier gemaak het, het sy sekerlik êrens opleiding gehad, al was dit hoe basies. En die taal van die waaier, dit kén sy. Of was die streling van haar vingers oor die bokant van die vere – ons moet gesels – ’n toevallige beweging? Maar tog, toe sy self frons en met duim en vingers ’n pratende mond namaak, het die steltloper haar waaier bevestigend teen haar regterwang laat rus. En die heel duidelikste teken, met die wegtrek van die bus, toe sy die waaier laat val het – kom ons wees vriende – was dít per ongeluk?

      Liora sit die leë bottel in die snippermandjie, maar maak nie die ander een oop nie. Sy trek uit, tap water in die bad en gooi kokosneutolie daarin. Haar pruik knip sy los en haal dit af. Dan trek sy ’n mus oor haar eie hare.

      Die bad is te warm – sleg vir haar borste. Eers toe sy koue water bygetap het, laat sy haarself toe om daarin weg te sak, maar net vir ’n rukkie. Dan lig sy haar bolyf op en leun terug. Sy wens sy had ’n kers en ’n ruikertjie blomme op die rand van die bad.

      Lank bly sy in die water terwyl sy elke besonderheid van haar ontmoeting met die steltevrou oproep. Dan neem sy die glas wat op die wasbak staan en gooi koue water oor haar borste, weer en weer. Gewoonlik gebruik sy water uit die yskas, en wissel dit af met ’n onderdompeling in die warm badwater – terapie om die borste langer ferm te hou, iets wat Maman haar op die hart gedruk het, en self ook nog doen.

      Haar tepels span daarvan. Hoendervel versprei oor haar hele lyf. Sy kyk in die spieël na haarself, draai na links en regs, lig haar arms, laat hulle sak, sien hoe haar borste die beweging namaak. Tot in haar middeltienerjare, plat soos ’n plank, was sy bang dit sou haar verbygaan, dié bevestiging van vroulikheid.

      8

      1976, Klein-Karoo

      “Kandas, hou daai twie kieriebiene van djou wyd oep of trek hulle onne djou boure in – ek praatie weerie.”

      Candice probeer, maar laat sak haar bene weer. “Hulle is lankal te lank vir optrek,” sê sy. “Pappietjie moet vir my footrests aansit.”

      “Ha! Miskien moet ek djou somme byrie hys los – meisiekinners hoort by hulle mammas.”

      Aanvanklik het hy haar voor hom laat sit, wydsbeen op ’n kussing wat hy oor die fiets se frame gevou het. Sy het haar hande op die handlebars gesit en die klokkie gelui as daar ’n hond of ’n mens in die pad kom en dit was vir haar lekker, so met haar pa se arms weerskante van haar. Hy het na sweet geruik, want partykeer moes hulle ver ry onder die Klein-Karoo se skroeison. Na Boksertwak ook.

      Op ’n dag het die kussing onder haar uitgeglip en sy het haar parratjie so hard teen die kale frame gestamp dat sy nie weer wou opklim nie. Pappietjie het haar getroos en haar hand gevat en die fiets gestoot. ’n Vér ent verder het hy ’n stuk baaltou langs die grondpad opgetel en die kussing daarmee oor die carrier vasgebind, toe sien sy weer kans vir ry, maar nooit weer op die frame nie.

      Maar nou het sy te lank geword. As sy op die carrier staan, moet sy buk om aan haar pa se kop vas te hou, en as sy sit, hou hy haar voete in die truspieëltjies dop, ingeval hulle te na aan die speke kom, dan skel hy.

      Dis nog vroegoggend. Hulle ry verby werksmense wat met kinders en oumas en aanhangsels op pad is dorp toe, op lorries en sleepwaens agter trekkers of op donkiekarre of met fietse of te voet. Dis Saterdag, en daar gaan shopping gedoen word. Candice waai in die verbyry vir iedereen en hulle wuif terug. “Djirre, ma dis ’n mooi klemeid daai,” hoor sy ’n antie met ’n helder stem sê.

      Vir Pappietjie is Saterdae net nog ’n kans om iets te verdien, sê hy altyd, en met stukwerk bly hy sy eie baas en hoef hy hom nie te laat sê nie. Behalwe van háár, wanneer sy hom vra om te briek