Die verevrou. Jan van Tonder. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jan van Tonder
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798170512
Скачать книгу
…” wil sy verduidelik, maar bedink haar.

      “Ja?”

      Sy skud haar kop, haal haar skouers op en trek haar mond soos iemand wat wil beduie dat daar nie goeie rede is vir wat sy wou sê nie, en sy hoop hy sal nie agterkom sy steek iets vir hom weg nie. Net ingeval voeg sy by: “Ek is partymaal verveeld, dan dink ek aan iets nuuts om my mee besig te hou.”

      “En Moshe Habib, het hy weer vere gebring?”

      “Hy het.”

      “Hoe lank het hy gebly?”

      “Net een nag, toe’s hy weg. Vóór my verjaarsdag. En Papa was te laat.”

      “Ek het my vergis met die datum – jammer.”

      Sy gaan staan en kyk kordaat na hom op. “Maar jy hét vir my ’n geskenk gebring, nè?”

      Hy glimlag. “Natuurlik. Ek het dit klaar in jou bankrekening gesit.”

      Liora stap teleurgesteld verder.

      “Genoeg geld sodat jy vir jou en jou ma kan betaal om op Korsika te kom kuier wanneer ek weer soontoe moet gaan,” voeg hy by.

      Sy gooi haar hare oor haar skouer. “Ek gaan nie weer soontoe nie.”

      “Dis jammer,” sê Papa, “want dié keer sou julle kon vlieg.”

      Sy steek in haar spore vas, want sy het nog nooit gevlieg nie; dis altyd net die boot, en elke keer is sy ’n bietjie seesiek, die hele dag en nag lank, tot sy weer haar voete op vaste grond sit. “Soontoe én terug?” vra sy.

      “Natuurlik.”

      Sy storm op hom af en hy raap haar op. “Dankie, Papa!” Sy soen hom op sy neus en wange en voorkop.

      “Soos ek die ding sien, het jy en Maman ewe min te doen hier wanneer ek weg is. Dalk moet ek weer probeer om julle te oortuig dat dit beter sal wees as ons Korsika toe trek – Bella Montagna is soveel mooier as Finisterre, en daar sal jy minstens ’n maatjie hê.”

      “Praat Papa van Eugenio?”

      Hy glimlag en swaai sy vinger. “Kyk maar, as julle ’n bietjie ouer is, sal julle beter oor die weg kom, veral as julle mekaar elke dag sien.”

      Liora skud haar kop. “Tante Alessa sal nooit gaan nie, want klammigheid is sleg vir die vere.”

      “Dan moet sy maar in die woestyn agterbly en hier met haar pluime pronk – met ’n spul Arabiere en haar brakke vir geselskap.”

      “Ek dink nie Maman sal sonder haar gaan nie. Dit sal vir my ook swaar wees, nog méér vandat sy my leer hoe om vere te knoop.”

      “Nogal?” sê Papa. Hy tel ’n handvol droë kameeldrolle op en skiet dit soos albasters een vir een met sy duim na die pluimery. Dit tik teen die muur en spring weg, maar een verdwyn by ’n oop venster in. “Oeps, dis mos jou tante se kantoor!” Hy gryp haar hand en hulle hardloop om die gebou. Dis vir haar lekker, maar ’n bietjie vreemd ook, want Papa speel byna nooit met haar nie.

      Die volstruiskuikens met die groot oë se lyfies is nog pure krimpvark, met swart kolletjies op hul nekke en koppe. Liora weet sy sal eers oor ’n maand of wat kan raai watter een háre is. Nogtans is sy knaend daar by die kamp rond.

      “Jy weet goed mens hoef ’n volstruiskuiken net skeef aan te kyk, dan gaan sit die dingetjie, en as hy eers sit, vrek hy,” sê Maman. “Buitendien, jy is besig om jou skoolwerk af te skeep. As dit so aangaan, is dit koshuis toe met jou.”

      Maar daar is iets wat soos ’n wolk bo Liora se kop bly hang: die enkele eier wat tussen die gebreekte doppe in die nes agtergebly het. Sy is bang dis die gesteelde een.

      Smôrens vroeg sleep sy Maman en tante Alessa met haar saam om seker te maak daar het nie in die nag fout gekom by die kuikens nie. En telkens kyk sy na die heel eier sonder om iets daaroor te sê, banger vir die wéét as vir die onsekerheid. Soms as hulle so by die kamp se draad staan, verbeel sy haar Maman-hulle kyk ook na die eier, soos vanmôre weer.

      “Daar is ’n olifant in die vertrek,” sê Maman.

      Liora kyk na haar op. “Maman?”

      “Dis net ’n uitdrukking,” sê tante Alessa. “Dit beteken daar is ’n groot of belangrike ding waaroor almal te bang is om te praat, dan maak hulle maar of dit nie daar is nie. Verstaan jy?”

      “Ek dink so, tante Alessa.”

      “Goed – wat is die olifant waarvan jou ma praat?”

      Liora steek haar hand deur die draad en mik met haar wysvinger na die nes.

      Maman trek haar met een arm teen haar vas. “Hoe het jy geweet?”

      “Oom Moshe sê ek is slim.”

      “Nou ja,” sê Maman, “jou pa is vroegoggend op sy kameel hier weg, kom ons doen wat ons lank terug al moes gedoen het.” Sy roep na Amid en hy kom onmiddellik aangeloop.

      “Ek weet nie hoe hy dit doen nie,” sê tante Alessa, “dis of hy oë rondom sy kop het.”

      “Ja, madame?”

      “Bring vir my die heel eier.” Tante Alessa wys na die nes.

      Hy bring dit en breek die dop. Binne-in is ’n stinkende kuiken.

      “Dankie, jy kan maar gaan.”

      Liora kyk na die dooie kuiken. Sy is na aan trane. “Dink Maman dis Struzzo?”

      “Ek hoop nie so nie, my kind, maar as dit is, moet jy onthou oom Moshe het gesê hy sal ’n nuwe een bring. Sies, hoe stink die ding.”

      Tante Alessa tel ’n stuk van die dop op en streel met ’n vingerpunt daaroor. “Charlotte, vat daardie tak en kom saam met my. Liora, wag jy hier.”

      Liora kyk hulle agterna. By die nes gaan sit tante Alessa plat op die grond terwyl sy een stuk eierdop ná die ander optel, dit bekyk en bevoel, tot sy met een daarvan orent kom en die doringtak by Maman vat. Hulle retireer hek toe, met die volstruismannetjie dreigend maar koes-koes vir die dorings op hul spoor.

      “Liora,” sê tante Alessa toe hulle buite kom, “die vrot eier is een van óns s’n.”

      “Regtig?”

      “Ja, voel hoe glad is dit. Oom Moshe sê die eiers van Noord-Afrika se wilde volstruise is kleiner en gladder as dié van die suide. Kyk mooi na dié twee stukke. Watter een lyk soos die dop van die eier wat oom Moshe gebring het?”

      “Dié ene, tante Alessa, met die duikies in.”

      Tante Alessa glimlag en druk met ’n wysvinger en duim teen Liora se kuiltjies. “Ek sê vir jou, kind, een van die kuikens wat jy daar in die kamp sien loop, is so waar as wat ek leef oom Moshe s’n.”

      Liora gaan staan vierkant voor tante Alessa. “Dis nie oom Moshe se kuiken nie, dis myne,” sê sy.

      Maman hurk by haar. “Natuurlik is dit jou volstruisie, maar jy moet onthou wat jy my belowe het.”

      “Ek onthou, Maman.”

      Tante Alessa sak ook op haar knieë af. “En wat is dít nogal?”

      “Ek mag nie vir Papa sê oom Moshe het die eier vir my gebring nie.”

      “My liewe sus,” sê tante Alessa, “wil jy hê Emilio moet dink hý het die voël geteel?” Sy giggel. “Hy is so ydel, hy sal dit sowaar nog glo ook.”

      “Wat beteken ydel, tante Alessa?”

      Maman staan op en vat haar hand. “Dit beteken tante Alessandra dink sy is vreeslik slim, dis wat. Dalk het dit tyd geword dat ons daardie vlug Korsika toe reël sodat sy alleen hier op Finisterre oor haar sondes kan sit en nadink.”

      ’n Entjie weg rem Liora vir Maman tot stilstand en sleep haar terug na die volstruiskamp. “Wat help dit as een van die kuikens myne is, maar