Almal wag dat hy iets moet sê, maar hy is stil, sit hulle net en aankyk. Langs hom lê ’n klein swart tassie met ’n snaakse vorm. Candice weet wat daarin is: ’n viool, dis wat. Sy het al een gesien, op ’n prentjie, maar nog nooit iemand een sien speel nie.
“Vir wat sit hy net so?” fluister sy.
“Ek dink dis deel van die konsert,” antwoord Evelin.
Walter haal die viool uit en knyp een kant onder sy ken vas en saag met ’n stok oor die snare. Sy het al dieselfde geluide oor die draadloos ook gehoor, Sondae, en dit was nog nooit vir haar baie mooi nie. Maar Walter kan maar aanhou en aanhou, want hy glimlag terwyl hy elke kind ín die oë kyk. Vir haar ook. Sy sien die groter meisiekinders na mekaar toe leun en fluister en dan kyk hulle wie die wydste kan smile, behalwe dié wat hulle voortande gelaat trek het.
Toe Walter die viool neersit, vertel hy vir hulle ’n storie, maar nie soos dominies April of haar onderwysers nie; hý het ’n tas vol hoede en mooi doeke en snorre en klere, en terwyl hy vertel, verander hy in iemand anders. In ’n vrou ook, wanneer daar een in sy storie is, stem en al, en dan lag almal vreeslik as hy sponse of iets voor in sy hemp druk wat soos tiete lyk.
“Een ding moet julle altyd onthou: partykeer is ’n mens se lyf nie waar jy wil wees nie, maar in jou kop kan jy gaan waarnatoe jy ook al wil,” sê hy, en toe is die konsert verby.
Elkeen kry ’n lekker. Toe Walter by Candice kom staan, druk sy haar lippe styf opmekaar en laat haar kop van skaamgeit sak terwyl sy loer-loer na hom opkyk en sê: “Dankie, Walter,” soos almal, want as een vir hom kleinbaas sê, mag hulle nie weer kom konsert nie, behalwe as dit per ongeluk was.
“O, ja,” sê hy toe hy sy viool wil bêre. Hy haal iets uit die kissie en loop daarmee tussen die kinders deur. “Wie s’n is dit?”
Dis die voëltjie wat Candice gemaak en by die windpompdam vergeet het. Sy kyk af, bang dat Walter in haar oë sal kan sien sy is die skuldige.
“Niemand s’n nie?” vra hy.
Evelin steek haar hand op. “Ek dink dis Candice s’ne,” sê sy en wys met ’n vinger.
Dis nou doodstil in die ou huis. Candice hoor Walter se voetstappe nader kom. Sy sien sy skoene voor haar tot stilstand kom, en draai dan haar oë boontoe.
Walter hurk en hou die voëltjie voor haar. “So ’n mooi kunswerk mag nie verlore raak nie, Candice. Mag ek dit maar hou?”
Sy kan nie glo wat sy hoor nie. Sy knik.
“Dankie,” sê hy. “En dankie vir julle ander ook – julle was ’n goeie gehoor.”
Candice hardloop terug na waar haar pa werk en vir hom sê sy: “Dankie, Pappietjie, lat ek kan gegaan het.”
Terwyl hulle huis toe ry, vertel sy vir hom die storie wat Walter vir hulle gespeel het, en dat hy gehou het van die voëltjie wat sy gemaak het. En sy vra hom of hy môre die draadloos op ’n vioolstasie sal sit.
9
1992, Oudtshoorn
Die hotel se kombi draai van die teerpad af. Bo die oop plaashek is ’n sandsteenboog met ’n naam in blink metaalletters daarop – Liora het nog probeer uitmaak wat daar staan, toe ry die kombi al deur. Weerskante van die pad, tot by die woonhuis, is aalwyne in rye geplant.
Die voertuig hou voor die huis stil. ’n Ware volstruispaleis, dink Liora, net soos dié waarvan Moshe haar van kleins af vertel het. Twee gewels, ’n toring, baksteenkleurige dakteëls, ’n stoep wat lyk of dit reg rondom die sandsteenhuis loop, wit pilare. Groot bome en ’n groen grasperk.
’n Vrou in haar vroeë sestigs kom glimlaggend aangestap. Korterig, effe oorgewig, uitgevat in ’n netjiese langbroek en appelkooskleurige bloes. Liora klim uit, bedank die man wat haar hierheen gebring het en draai na die vrou.
“Uiteindelik sien ek jou in lewende lywe, Liora. Ek is Rosa. Moshe praat so baie oor jou dat dit vir my voel ek ken jou al jare. Toe ek hom vertel jy is in Oudtshoorn, moes ek baie vinnig sê die hotel se mense gaan jou hier kom aflaai, anders het hy jou self gaan haal – maar ek kwel my deesdae darem net te veel as hy alleen agter die wiel is, veral in daardie dingetjie.” Sy beduie na ’n prieel waaronder ’n wit Mercedes en ’n geel sportmotortjie staan.
“Hoe gaan dit met hom, madame?”
Die vrou gaan nie by die voordeur in nie, maar loop om na die sykant van die huis, waar Liora verskeie buitedeure sien. Sy wonder agter watter een Moshe se kamer is.
“Ek dink ons moet eers ’n rukkie daar onder die boom gesels om mekaar so ’n bietjie te leer ken,” sê Rosa. “Siestog, ek laat jou ook g’n woord inkry nie.”
Daar is ’n tuinstel in die koelte, vier stoele en ’n wye swaaibank. Aan ’n dik tak hang ’n skoppelmaai doodstil. Liora trek die sitplank na haar toe, laat dit los, kyk hoe dit swaai.
“Moshe het dit saamgebring van sy huis af,” sê die vrou. “Hy spandeer baie ure daarop; in gesprek met my, of boek in die hand, of net diep in gedagtes versonke. Soms swaai hy selfs – op sý jare! Kom sit hier by my, Liora.” Die bank wieg onder hulle, kom tot rus, roer weer wanneer een van hulle beweeg. “Ek ken Moshe al lank. Sy pa het aanvanklik by ons kom vere koop, wat hy na Europa versend het. Dalk het party daarvan by julle in Algerië uitgekom, mens weet nooit. Toe ek in die laerskool was, het Moshe saam met sy pa begin werk. Saam met hom oorsee gereis ook, tot die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het. Hulle was toe juis in Frankryk. Moshe se pa het hom teruggestuur Suid-Afrika toe en self daar agtergebly in solidariteit met sy mede-Jode. Kort daarna het die Franse hul land aan die Duitsers oorgegee. Die Franse Vichy-regering het hom later saam met ander Jode in die onbesette suide aangekeer en na Auschwitz gestuur.”
Liora kan nie mooi agterkom waarheen die Olivier-vrou met haar vertelling op pad is nie en val haar in die rede, bring haar na die hede terug. “Moshe het my nooit vertel hy het planne om te trek nie, en ek sien sy huis staan verlate.”
“Mmm, ja,” sê Rosa. “Hy was lief vir die plek. As ek reg onthou, het hy dit in ’83 gekoop, kort ná sy ses-en-sestigste verjaarsdag. Wanneer hy op Oudtshoorn was, het hy daar gebly, en hy’t dit mettertyd volledig gemeubileer.”
Vir die eerste keer glimlag Liora. “Seker omdat hy gehoop het ek en Maman kom bly by hom.”
Die vrou kyk weg, draai haar trouring om en om. “Hy het drie jaar later sy besigheid verkoop en tot September laas jaar baie gelukkig in daardie huis gebly, maar sy geheue het hom toenemend in die steek gelaat – meer as wat goed was vir sy welstand en veiligheid. Die buurvrou wat haar oor hom ontferm het, is skielik dood en Moshe het al hoe meer vereensaam, toe bring ek hom hier na Geluksfontein sodat ek hom kan versorg. Soos jy weet, hy het g’n familie nie.”
“Dit was edel van jou, madame Olivier. Maar sê my, hoeveel versorging hét hy nodig?”
“Ag, noem my Rosa, asseblief. En nog ’n ding, edel is kwalik die regte woord. Ek hóú daarvan om deel van sy lewe te wees. My man is lank terug oorlede en my dogters het met uitlanders getrou en is saam met dié landuit – die terrorisme en die politieke onsekerheid hier, jy weet – niemand weet wat vir ons voorlê nie. My kleinkinders is Kanadese en Australiërs. Praat net Engels. Ek woon stokalleen in dié groot opstal. Moshe is vir my ’n aanspraak.”
“En sy huis staan nou maar verlate daar?”
“O nee, hy was skaars ’n week op die plaas, toe vra Moshe my om sy huis in die mark te sit. Ons het ’n maand later ’n koper gekry, maar dié is nog nie gereed om die stad vir die platteland te verruil nie. Dis hoekom die plek lyk soos hy lyk.” Rosa staan op. “Kom, jou ou vriend wag vir jou.”
Liora loop agterna. Toe sy by die kamer ingaan, het sy ’n vlugtige