Die verevrou. Jan van Tonder. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jan van Tonder
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798170512
Скачать книгу
Sy volg die vlug daarvan tot dit by haar voete op die ylgetrapte mat land, huiwerend tussen rus en oorgawe aan die duwing van vlagies wind deur die venster.

      10

      Wanneer Candice naweke inkopies gaan doen of ná donker deur De Rust se strate loop, soos nou, laat sy haar stelte by die huis. Haar hare is onder ’n slaprandhoed opgebind. Sy het ’n los langbroek en ’n manshemp aan.

      Hande in die sakke loop sy tot by Maja se voordeur en klop aan. Daar is nie antwoord nie. Sy draai die knop – dié huis se deure is byna nooit gesluit nie. Binne roep sy Maja se naam teen die luide musiek in wat na haar aangestorm kom. Die gang is lank. Halfdonker. Lig skyn in ’n groot vertrek waar die muur tussen twee kamers uitgeslaan is om ’n ateljee te vorm. Verskeie esels dra onvoltooide skilderye. In ’n hoek, soos ’n kind wat gestraf word, staan ’n skildery met sy rug na die vertrek.

      Sy spoor Maja in die kombuis op, ’n vertrek met vensters aan drie kante. ’n Uitsig oor die dorp, en die berge waar die rotse oopmaak om Meiringspoort te word en waarop die maan nou skyn.

      Maja is vrugte aan’t inlê. Haar lang hare hang in ’n poniestert agter haar rug. Sy het ’n lap oor haar skouer waarmee sy sweet afvee om dit uit haar oë en die suikerstroop te hou. Vier diep kastrolle is op die stoof aan die prut.

      Candice draai die musiek sagter.

      Maja kyk op, lyk bly om haar te sien. “Sit waar jy plek kry,” sê sy en gaan voort met haar werk.

      Candice hou haar sonder ’n woord dop. Sy dink aan hoe Maja met ’n lyf soos hare met soveel grasie kan beweeg wanneer sy met volmaan by die waterval in Meiringspoort swem.

      “Wat het jou vanaand op loop?” vra Maja.

      “Niks.” Candice kyk by die venster uit. “Ek sien Jaco se lig is nog aan.”

      “Ek kan hom gaan sê jy is hier – hy sal bly wees om jou te sien.”

      “Nee, moenie hom pla nie.”

      Maja kyk ook nou uit. “Jinne,” sug sy, “priester of nie priester nie, ék sou hom elke aand gaan pla het as ek daarmee kon wegkom.”

      “Dis nie oor hóm wat ek kom praat het nie, Maja.”

      “Nou ja, maak dan vir ons tee. En onthou tog dat ek vir jou ’n fles korrelkonfyt saamgee – ek het gisteraand ook gekook.”

      Candice kyk of daar genoeg water in die ketel is en gaan sit weer. “Ek wil weet of jy in die noodlot glo.”

      Maja veeg die lap oor haar gesig. “Waar val jy nou uit met so ’n filosofiese vraag?”

      “Antwoord net – glo jy daarin?”

      “Ek weet nie van die noodlot nie, maar ek het wel ’n vermoede dat nie alle toevallighede so aan die toeval te danke of te wyte is as wat mens dink nie. Hoekom vra jy?”

      “Daar was ’n vrou op die boonste dek van een van die toerbusse. Nou die dag. Ek bly aan haar dink, dis hoekom ek vra. Ongewone voorkoms, vreemde hare. En sy ken die taal van die verewaaier.” Candice beduie met sierlike handbewegings.

      Maja lag tergerig. “Wat beteken dat jy en sy ’n lotsbestemming deel?”

      “Minder dramaties as dit. Ek het net die gevoel dat dit nie die laaste sien van haar was nie.”

      “Dit sal seker afhang van wat julle waaiers vir mekaar te sê gehad het.”

      “Spot maar, jy sal nog sien. En terloops, ek het vir haar gesê ons moet vriende wees.”

      “Met die vere?”

      “Ek het gewoon my waaier toegemaak en laat val.”

      “Toe storm sy by die trap af en by die bus uit en tel dit vir jou op?”

      Candice sug. “Natuurlik nie, hy is aan ’n toutjie vas! Dink jy ek sal my kosbare waaier op die grond laat val?”

      Maja roer die warm stroop. “Pleks gaan smyt jy die ding voor Wálter neer – as jy opreg in die noodlot geglo het, het jy dit twee jaar gelede al gedoen toe jy teruggekom het uit die buiteland.”

      “Daar is ’n wêreld se verskil tussen laat val en gooi, liewe Maja. Laasgenoemde sê ‘ek haat jou’, en sover dit Walter betref: dít sal allermins die waarheid wees.”

      Maja loer onderlangs na Candice. “Nee, die waarheid is dat jy in die wolke wegkruip eerder as om jou met Walter te versoen. Kom van daai stelte af en doen wat reg is.”

      “Wil jy nou weer ou koeie uit die sloot grawe?”

      “Dalk is dit tyd vir so iets, vóór daar ’n paar jong versies op die toneel verskyn.”

      Candice staan op. “Nee wat,” sê sy, “ek het na die verkeerde plek toe gekom met my vraag. Nag.” Sy loop by die kombuis uit, haar fles druiwekonfyt vergete op die kombuistafel.

      Halfpad voordeur toe kom Maja se stem agter haar aan: “Laat weet my wanneer die vreemde vrou weer haar opwagting maak.”

      11

      Liora is onmiddellik die duiwel in toe iemand weer aan haar deur klop. Sy steek haar laaste sigaret op, frommel die leë pakkie met een hand in ’n bolletjie en mik daarmee na die snippermandjie. Dit tref die rand daarvan en skiet by die badkamer in.

      ’n Uur of wat vroeër was daar gedempte stemme en voetstappe in die gang; handelsreisigers en toeriste wat vertrek, het sy geraai, en weer aan die slaap geraak. Nou dié aanhoudende geklop.

      “Liora!”

      Sy herken Rosa se stem, bly lê, blaas rookkringetjies.

      “Goed dan, as jy jou stom wil hou, luister maar net, tensy jy dood daar lê – ek sien hoeka jou brekfis staan onaangeraak hier. Vandat jy by hom was, kry ek Moshe met moeite van sy swaai af. Dis Alessandra voor en agter. Dis wat ek éintlik vir jou kom sê het: Jy kan nie uit die bloute hier wil opdaag en hom in mý huis kom ontstel en dan verdomp wegbly net omdat jý dit nie kan verduur om hom so te sien nie.”

      Liora luister na Rosa se driftige voetstappe dofweg oor die gangmat, dan met die trap af, en weg. Maar haar woorde bly agter: “… wegbly net omdat jý dit nie kan verduur nie.” Dit is wat haar laat opstaan.

      Sy trek haar beddegoed af, rol dit in ’n bondel en sit dit in die gang langs die skinkbord neer.

      Nou moet sy warm water oor haar lyf kry en dan haar pruik was. As ’n reël haal sy dié af voor sy saans in die bed klim, maar nou, ná hoeveel dae van haarself verwaarloos, is die hare in alle rigtings verlê. Sy haal die pruik af en kyk na haarself in die spieël. Die kring hare om die kaal kol bo-op haar kop is hier yl en daar welig. Sy hou dit korterig, net lank genoeg dat sy dit met die hulp van knippies as anker vir haar pruik kan gebruik.

      Sy gaan staan onder die stort. Eers met net die koue kraan oop om haar uit die kokon te ruk waarin sy haar die afgelope drie dae toegespin het – nie die gladde geel kokon van ’n sywurm nie, maar ’n blarerige, onnet spul, die nes van ’n tuinspinnekop. Ná ’n ruk haak sy die stortkop van die skragie teen die muur af en maak die warmkraan ook oop, net genoeg om die water as streling te ervaar.

      Met ’n groot handdoek om haar borsel sy haar pruik, haal op haal nader aan die basis waar die hare vasgehekel is, sodat dit nie koek wanneer dit nat word nie. Sy onthou haar onhandigheid toe sy die heel eerste keer haar splinternuwe pruik gewas het, selfs ná die uitvoerige demonstrasie by die pruikmaker.

      Nog ’n keer spoel sy die pruik met lou water af, vou dit dan in ’n droë handdoek toe om van die meeste water ontslae te raak voordat sy dit oor die kopvorm van Spaanse kurk trek. Nou sal haar bystandspruik moet deug; sinteties, maar perfek gekleur en van goeie gehalte om net so goed soos die duurder een te pas.

      Toe dit op haar kop vasgeknip is, kyk sy in die spieël om dit reg te trek en haar grimering aan te wend: net genoeg om die fyn letsels aan haar bolip en neus en by haar oë te verbloem. Maar die lipstiffie is helder,