JAN VAN TONDER
Die verevrou
Human & Rousseau
Vir Jenny
1
1948, Finisterre, Algerië
Liora kyk stip na die lang, reguit gruispad wat deur die woestyn sny, haar hande styf om die toue van die skoppelmaai geklem. In die verte slaan stof op. ’n Warrelwind? Nee, dit kom te reguit nader, soos ’n ryding. Laat dit asseblief tog ’n lorrie wees, een van dié wat oom Moshe altyd naby die kasbah in Algiers gaan huur wanneer sy volstruisvere by die hawe afgelaai word. En laat hom asseblief tog dié keer ’n bietjie langer as gewoonlik bly, tot sy oor ’n paar dae sewe word.
Sy vergeet om haarself te maak swaai, en elke swaaislag word kleiner totdat sy skaars nog beweeg en die gewarrel van die volstruispluime wat sy aan die skoppelmaai se toue vasgemaak het, tot bedaring kom. Nou is al wat saak maak die ryding. Finisterre se groot huis en die pluimery, die skuur en die ander buitegeboue met die watertenks op hul plat dakke, die drie windpompe, die volstruisbroeikampe, die handjievol kamele wat lê en herkou, die Jeep en die ou Citroën-lorrie, en die rye en rye dadelpalms waarvan die blare ruis as die wind waai – al hierdie dinge, alles wat gewoonlik vir haar belangrik is, vervaag.
Sy wil haar tante gaan roep, maar sy bly kyk tot sy seker is dis hý, oom Moshe. Dan eers spring sy van haar skoppelmaai af en hardloop oor die skroeiende sand van die werf na die pluimery waarheen oom Moshe met ’n vrag volstruisvere op pad is.
Toe sy weer buite kom, het sy haar tante op sleeptou. Dié skreef haar oë teen die lig. “Is jy seker dit is hy?”
Liora trippel. “Dit móét hy wees, tante Alessa.”
“Nou ja, gaan roep jou ma, sê vir haar Moshe Habib is hier. Maar gaan haal eers jou hoed, anders kry jy weer moeilikheid.”
Die hoed is in Liora se pad as sy swaai, sy sit dit altyd eenkant neer. Maman gee nie régtig om nie, want die ou tamariskboom waaraan die swaai hang, maak goed skaduwee. Hoed op die kop sit sy af na die woonhuis, skaars twintig meter van die pluimery af. Hier skuil Maman dié tyd van die dag boek in die hand teen die ergste hitte, met die hele eetkamer vol van die musiek wat uit die groot kelk van haar grammofoon stroom. Dié is soos altyd op die tafel, na genoeg aan haar dat sy net die slinger kan draai wanneer die masjien afgewen raak.
Tante Alessa sê Maman sal doodgaan sonder die grammofoon, want dit is nes ’n naelstring wat haar aan Europa verbind, aan die tale en klanke van lande noord van die Middellandse See, van Spanje tot by Griekeland. Liora weet wat ’n naelstring is, sy het tog op ’n plaas grootgeword. En boonop, so sê haar pa, moet sy van sulke dinge leer, want sy gaan eendag dokter word.
Sy bly met ’n breë glimlag staan en wag dat Maman haar moet sien, en toe dié sê: “Moenie vir my sê hy’s al hier nie, kind,” wip sy uitbundig op en af. “Hy ís, Maman, oom Moshe het gekom.”
“Maar hy’t laat weet hy gaan eers laatmiddag …” Maman haal ’n brief, klein opgevou, uit die uitswaailaaitjie waarin die grammofoon se ekstra naalde gehou word, maak dit oop en lees vlugtig. “Nes ek gedink het, kyk, hier sê hy láátmiddag.”
Liora swaai in haar spore om.
“Nee, wag!” Maman lig die naald van die plaat af, en in die skielike stilte hoor hulle nou die gedreun en geratel en gepiep van die lorrie bo die geblaf van Maxim en Frou-frou. “Luister, Liora-lief, hou jy en tante Alessa oom Moshe besig, ek gaan gou bad.”
Liora hardloop uit na waar die lorrie op die werf stilhou, naby aan die groot deur waarop Les Plumes du Sahara geskryf staan, en spring op die treeplank. Sy druk haar gesig teen oom Moshe se skouer en voel die materiaal van sy baadjie teen haar wang en onthou sy reuk. Hy lyk soos altyd: sy snor en bruin oë, en daarbo die swart baret waarsonder mens hom amper nooit sien nie.
Hy steek sy arm by die venster uit en skuif haar hoed af oor haar oë. Toe hy wegtrek om by die pluimery in te ry, sit hy sy hand op haar rug en druk haar teen die lorrie se deur aan. Binne staan tante Alessa en wag, haar hande op die koppe van haar twee jaaroue honde – opregte Azawakhs.
“Af is jy,” sê oom Moshe en skakel die lorrie af. Hy klim uit, vat Liora se hand en kyk na die muur wat laas nie hier was nie. “En dié dan nou, Alessandra?”
“Ek het hom laat bou om die stof en stront wat jy elke keer met die een of ander wrak hier inry uit die res van my pluimery te hou. Wie weet waar die lorries oral was en watse vrag hulle gery het?”
Oom Moshe kyk om hom rond, asof hy wil sien wie almal hoor wat hy sê. “Dis die veiligste om by die regte mense te huur, ’n mens weet nooit. Daar is al hoe meer opstandigheid in die land. Buitendien, jy hoef nie jou neus so op te trek nie, die lorrietjie is halaal.”
“Juis,” antwoord sy.
“Nou klink jy nes die mense oor wie jy altyd kla.” Hy haal sy baret af, slaan die stof daaruit, sit dit terug op sy kop. “Kry ek dan nie eens ’n drukkie vandag nie?”
“Natuurlik,” sê sy terwyl sy terugtree. “Sodra jy gebad het en skoon aangetrek is.”
Die honde knor. Maxim wys tande. “Kom,” sê tante Alessa vir hulle en loop die pluimery binne, seker om hulle in haar kantoor te gaan toemaak.
Toe die honde weg is, kom vier mans met kopdoeke nader. Hulle groet oom Moshe, en nadat hulle die seil losgemaak het, begin hulle die kratte van die lorrie aflaai.
Liora kruip agter ’n krat weg en loer bo-oor na die gewoel.
“Haal die leës ook af, Amid, en vat dit binnetoe,” sê oom Moshe. Hy praat Arabies met die werkers wanneer hy alleen by hulle is, andersins Frans, soos nou.
Dit lyk nooit of Amid hoor wat vir hom gesê word nie, maar hy doen alles wat hy aangesê word om te doen.
Tante Alessa kom sonder die Azawakhs terug. “Moenie dat die vrouens inpak voor ek terug is by hulle nie,” sê sy vir Amid.
Dit wat gepak moet word, weet Liora, is duur verewaaiers en wyerandhoedens vir ’n Amerikaanse film, gemaak van die beste pluime uit die Klein-Karoo.
Oom Moshe steek die gesplete punt van ’n klouyster onder een van die kratdeksels in. Hy trek versigtig aan die ander punt sodat die plank lig. Die spykers kerm met die uitkomslag.
“Maak gou, Moshe!”
Maar dit gaan steeds te stadig na Alessandra se sin en sy stoei die yster uit sy hande, breek ’n klompie planke los. Haar lang vlegsel swaai heen en weer.
Oom Moshe skud sy kop. “Elke keer dieselfde storie: ek kom heelhuids hier aan, probeer my kratte sagkens oopmaak sodat hulle ook heel moet bly, maar dan word ek en my kosbare vrag aangeval.”
Alessandra gee die yster prys, lig ’n bondel vere uit. Haar bewegings is nou stadiger, en sy vou die ligte, dun papier versigtig oop. Blinkswart pluime gaan soos ’n groot blom oop. Die krullerige George White-vere roer in haar hand. Vir Liora lyk dit altyd of tante Alessa ’n geskenk gekry het wanneer sy die eerste pakkie oopmaak.
Oom Moshe staan ook na haar en kyk. “Net die mooiste vere vir die beste meesterpluimbereider in Afrika,” sê hy.
Sy draai die vere toe. “Op die oomblik seker die énigste in Afrika, of is daar al iemand in jou geliefde Oudtshoorn wat dit doen?”
“G’n kompetisie daar nie, dis hoekom ek steeds die beste vere vir jou kan uitsoek – solank jy maar weet die prys gaan nie áf nie. En ek hoop jou skaal is ordentlik geyk.”
Tante Alessa trek haar mondhoeke af. “Ek sou nie sê hierdie spulletjie kan juis as uitsoekvere beskryf word nie. Beslis swakker as die voriges wat jy gebring het.”
Hy vat haar hand en soen dit voor sy kan wegruk. “Skaam jy jou nie om so blatant te staan en lieg nie, Alessandra, net om ’n paar frank te spaar, en dit voor ’n ontvanklike kind?” Hy kyk om hom rond. “Van haar gepraat, waar sou sy wees?”
Liora