Die verevrou. Jan van Tonder. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jan van Tonder
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798170512
Скачать книгу
waarom dit haar meestal nie laat sweef of giggel of knabbel nie. Altyd net die beeld van haar pa buite die venster: Pappietjie op pad uit haar lewe uit, én sy eie.

      Sy laat die rook stadig uit haar longe vry.

      Vir die wyn het sy nie meer lus nie. Die vuur, nou reeds laag gebrand, gooi sy met die ysbak se water dood. Nadat sy die voordeur agter haar toegemaak het, skakel sy haar leeslamp aan, sagte lig wat haar vertroos as sy voel soos nou. Toe sy by die venster staan om na die halfdonker buite te kyk, sien sy vaagweg ook haar eie weerkaatsing in die glas.

      7

      Die toerbus hou net ná nege voor Baron’s Hotel stil. Liora klim saam met die ander passasiers af. Sy ontvang haar tasse, trek dit tot teen die gebou en kyk weer na die straatkaart van Oudtshoorn wat Moshe jare gelede vir haar gestuur het, kort ná sy uittrede.

      Agterop die kaart staan geskryf: “Kom kuier wanneer jy ook al wil, my engel, ek hou van verrassings.” Sy adres is duidelik daarop aangedui, drie straatblokke van die hotel af.

      Sy vind die verdiepinghuis aan die einde van ’n doodloopstraat maklik – Victoriaans, statig, maar al die vensters is toe, die gordyne dig getrek en die tuin onversorg.

      Sy hou haar hart vas: Moshe het nie sy deel van hul ooreenkoms nagekom nie. Die laaste tyd het hy nie sy foon geantwoord nie. Haar briewe wel, sporadies, steeds van die oorspronklike posbusadres af, maar die laaste een meer as vier maande gelede, en daarin het hy nie ’n woord gerep dat hy sou trek nie.

      Sy voel ’n rilling in haar nek en bemerk dan ’n jong vrou wat roerloos deur ’n yl heining na haar staan en staar.

      Die vrou sê iets. Liora kyk haar onbegrypend aan, en sy is dankbaar toe die vrou na Engels oorslaan. “Daar bly niemand nie.”

      “Hoe lank al?”

      Die vrou haal haar skouers op. “Toe ons hier kom bly het, was hy al weg – glo ’n ou man. Ek weet nie waar hy heen is nie.”

      Liora is verlig. Die vrou sou seker geweet het as Moshe dood is. Maar waar sal sy begin soek? Wat het haar besiel om sonder afspraak die hele ent pad hierheen te kom?

      Sy vat weer die handvatsels van haar tasse, groet die vrou, en stap terug soos sy gekom het. Nou eers bemerk sy die Katolieke kerk op die hoek van Moshe se straat en Baron Van Reedestraat. Dit laat haar na Maman verlang.

      Daar is ’n afgeleefdheid aan Baron’s Hotel se voorportaal, al spog dit met tekens van vroeëre swier: hoë plafonne, plankvloere, Turkse kelims, outydse muurpapier, portrette van volstruispioniers, en ’n swaar oregon-trap wat na die boonste verdieping lei.

      Liora maak haar koffers langs haar staan. “Bonjour,” sê sy vir die jong ontvangsdame en skuif ’n visitekaartjie oor die toonbank. Daar is ’n klokkie op die toonbank aangebring, ’n koepeltjie van vlekvrye staal, met ’n knoppie bo-op; dit herinner haar aan die deksel waaronder Moshe Habib se onverwagte geskenk uit die Klein-Karoo destyds na die etenstafel gebring is.

      Die meisie agter die toonbank is baie jonk. Sy kyk lank na die visitekaartjie: Liora Papalato. Plumassier. Dan laat sy Liora die register invul.

      “Jou kamersleutel, mevrou.”

      Liora moet self haar tasse by die trap op dra. Haar kamer is ruim, met ’n dubbelbed, spieëltafel met sitbankie, ’n losstaande hangkas, ’n leunstoel en ’n tafeltjie met ketel, koffie, suiker en tee. Rooibostee ook. Moshe het met elke besoek vir Maman ’n voorraad daarvan gebring.

      Liora sit haar bagasie neer. Sy loer by die badkamer in. Daar is ’n bad en stort.

      Voor sy haar tasse begin uitpak, kyk sy of die groot hangkas se laaie skoon is. Haar rokke en rompe, bloese en baadjies hang sy op nadat sy die ergste kreukels daaruit gevryf het, en sy lê die fyngoed versigtig in laaie: sykouse en kousgordels, onderrokke van sy en satyn, bra’s met kantwerk. Die drie pare skoene wat sy netjies onder in die hangkas staanmaak, is praktiese skoeisel, platterig van hak en gemaklik. Sy haal ’n kurkkop met houtstaander uit. Die kop is kaal, met net ’n beduidenis van oë en neus en mond. Sy neem dit na ’n tafeltjie in die badkamer, sit dit daarop neer.

      Dit duur lank voor sy elke ding op sy plek het en die kamer opnuut bekyk. Dit lyk veel huisliker as toe sy hier ingestap het.

      ’n Goeie gastehuis sou waarskynlik beter gedeug het as ’n hotel, maar in daardie soort plek is die eienaars en personeel geneig om te eie te raak met jou, nes ander gaste wat langer as ’n nag of wat oorstaan: Waar is jy vandaan? Wat doen jy vir ’n lewe? Reis jy altyd alleen? Wat het jy hier kom doen? Dis so warm die laaste tyd – waarom gebruik jy nooit die swembad nie? Daarvoor sien Liora nie kans nie; sy wil hoogstens kopknik in die verbygaan. Méér as aan gemak is sy verknog aan haar privaatheid.

      Sy gaan na die venster en steek ’n sigaret aan. Sou dit die Swartberg wees wat dynsig daar in die verte lê? Dit lyk vir haar eindeloos lank, dalk dieselfde berg wat sy duskant De Rust deur die busvenster gesien het. Jare lank het sy gewonder hoeveel van Moshe se vertellinge waar was en hoeveel bedenksels om die Klein-Karoo aanlokliker te maak as wat hy werklik is sodat sy tóg uiteindelik hierheen sou kom. Wanneer sy hom opgespoor het, sal sy self vir hom sê dis ’n wonderliker wêreld as wat sy haar voorgestel het. Sy kan nie wag om ná hoeveel jaar weer in sy bruin oë te kyk en sy handdruk te voel en die spore van Afrika aan hom te bemerk nie. Daar sal geen teken meer van sweet en stof en vere wees soos destyds in Algerië nie, daarvoor is hy nou al te lank uitgetree.

      Uitgetree en in ’n ouetehuis? Is dit hoekom sy huis leeg staan?

      “Waar is jy, Moshe Habib?” vra sy die dorpshuise en plase en die berg, asof die Klein-Karoo self vir haar ’n antwoord sal bring.

      Teen eenuur gaan sy na die hotel se restaurant. Sy haas haar nie, kyk lank na die spyskaart, vra die kelner uit oor die disse daarop. Sy bestel, en eet langsaam. Geniet selfs nagereg. Maar haar vertwyfeling bly: Moshe. Sy vaar die strate in. Hier en daar stap sy om ’n blok, maar sy sorg dat sy Hoopstraat telkens weer kruis sodat sy maklik by die hotel kan uitkom.

      Toe sy ná ’n halfuur weer by Baron’s Hotel instap, is die ontvangsdame nie meer alleen nie. Saam met haar agter die toonbank is ’n bles man met ’n groot maag. Hy groet.

      Sy gaan staan. “Bonjour,” sê sy, en dan, op Engels: “My naam is Liora Papalato. Ek is op soek na Moshe Habib.”

      Die man trek sy skouers op. “Ek ken hom nie. Jammer.” Maar toe Liora verder wil loop, vervolg hy: “Klink of hy ’n Jood kan wees; hier is nog ’n hele klompie van hulle op die dorp. ’n Sinagoge ook. Kom saam na my kantoor toe, dan bel ek ’n paar mense.”

      “Merci,” sê sy en volg hom, vies vir haarself omdat sý nie daaraan gedink het dat Oudtshoorn se Jode mekaar sal ken nie.

      In ’n japtrap is sy terug in haar kamer. Die bles man het Moshe se nuwe adres opgespoor – hy bly op ’n plaas buite die dorp – en met die eienaar, ene mevrou Rosa Olivier, gereël dat die hotel se bussie Liora ná ontbyt daar sal gaan aflaai.

      Liora skop haar skoene uit, dankbaar oor die verwikkelinge, en besluit om Maman te bel.

      “My kind, is jy veilig?”

      “Baie veilig. Die mense van Oudtshoorn gaan met hulle lewens voort asof daar g’n probleme in Suid-Afrika is nie.”

      “So was dit in 1954 ook, nè, aan die begin van die oorlog in Algerië. Nee, jy was seker te jonk om regtig te besef waarheen dit kon lei – jy was seker maar twaalf, dertien. Maar wag, ek het myself voorgeneem om nie oor sulke donker dinge te praat terwyl jy daar is nie.”

      “Dankie, Maman,” sê sy, en vertel van die Klein-Karoo wat mooier is as wat Moshe dit beskryf het.

      “Hoe gaan dit met hom?”

      “Ek wou nie sommer net by hom aankom nie, toe het ek vir my by ’n hotel blyplek gekry. Ek sal hom môre sien.” Liora weet nie regtig waarom sy ’n leuen vertel nie.

      Hulle gesels nog ’n rukkie, oor hoe hulle na mekaar verlang en die groot afstand tussen