Die verevrou. Jan van Tonder. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jan van Tonder
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798170512
Скачать книгу

      “Twaalf, plus die een waarin Struzzo is.”

      “Ag wat, dan is dit darem amper tyd dat hulle begin broei – veel meer sal sy nie lê nie, dalk twee of drie.”

      “Dit beteken vier of ses ekstra dae. Sê nou net Struzzo kom iets oor?”

      “Oom Moshe kén volstruiseiers, hy sou gesorg het. Kom sit hier by my, toe.”

      Liora skud haar kop, laat haar oë sak. Dis nou al hoeveel dae ná oom Moshe so haastig hier weg is, en kort-kort probeer Maman by haar flikflooi, maar sy het vas besluit om nie in te gee voor die volstruise op die eiers sit nie, want dán eers sal sy weet oom Moshe se geskenk is op pad. Dalk. As daar nie fout gekom het nie.

      Maman kyk na haar, sy kan dit vóél.

      “Lioratjie, ek weet jy verlang na oom Moshe, nes ek en tante Alessa.”

      “Sê nou hy kom nooit terug nie?”

      Maman lag. “Nee wat, oor ’n paar maande slaan hy weer hier uit, jy sal sien. Maar daar is iets wat ek jou moet vra. Kyk vir my.”

      Liora veeg ’n sliert hare voor haar gesig weg.

      “Ek verwag Papa enige dag. Dalk nog ’n week, maar nie twee nie.”

      “Hoe weet Maman dit?”

      “Ek raai.”

      “Wat wou Maman my gevra het?”

      “Ek is spyt ek moet, maar dit kan nie anders nie. Jy moet asseblief nooit ooit vir Papa sê van die eier-geskenk nie. Sal jy my dit kan belowe?”

      Dit duur ’n rukkie voor Liora antwoord. “Hoekom hou hy nie van oom Moshe nie, Maman?”

      Eintlik moes hy nog hier gewees het op haar verjaarsdag, oom Moshe. Maar om nou die horison dop te hou en te hoop hy sal aangery kom, sal net so min help as om die volstruise met ’n doringtak na die nes aan te jaag en te verwag hulle sal begin broei. Noudat sy kans gehad het om daaroor te dink, besef sy hy sal wel terugkom, want tante Alessa se pluimery kan nie sonder vere klaarkom nie. Maar alles sal anders wees as Maman en oom Moshe kwaaivriende is. Hy sal seker net sy vere aflaai en sy geld vat en weer die woestyn inry sonder om oor te slaap, soos die kere wanneer hy en Papa gelyk hier is.

      Liora kyk na die volstruiskamp waar die nes met haar eier is. Die broeipaar toon steeds geen teken dat hulle van plan is om ooit daarop te gaan sit nie.

      Sy laat haar kop sak. Die skoppelmaai roer nie. Uit die hoek van haar oog sien sy ’n koggelmander haastig teen die tamarisk se stam af kom. Op die sand gaan hy staan. Hy kyk om hom rond voor hy wegskarrel en onder die skuur se deur inglip. In elke kamp loop die volstruise heen en weer. In die verste een gaan die kamele lê.

      Liora is bang om verder as die grens van die werf te kyk, want dit is somer, wat beteken dat die sirokko soms vreeslik uit die suide aangestorm kom. Toe sy dit wel doen, ís daar geen horison nie, net ’n wolk stof en sand.

      Die eerste ding waaraan sy dink, is om haar eier uit die nes te gaan haal, maar op pad na die broeikamp sien sy hoe die son verdof. Sy besef daar is nie genoeg tyd om die eier te red nie – die donkerte wat na Finisterre op pad is, maak haar bang – en sy swaai om en hardloop na die pluimery.

      Tante Alessa skrik toe sy uitkyk. “Moeder van God,” sê sy en roep oor haar skouer na die werkers om te gaan toemaak wat moet toe en vasmaak wat moet vas. Amid hardloop saam met haar na buite. “Gaan briek die windpompe,” sê sy vir hom.

      Liora hardloop huis toe. Die voordeur staan oop. Sy storm in en voel Maman se arms om haar toegaan.

      “Moenie bang wees nie.”

      “Wat van oom Moshe se eier, Maman?”

      “Ek dink nie die storm gaan lank aanhou nie, my kind.”

      Tante Alessa bring haar honde in en sê: “As dit nie vir jou was nie, Liora, het dié spul ons onverhoeds betrap. Kom, ons moet nog die hortjies gaan toemaak.”

      Hulle kry Amid op die stoep. “Laat die vrouens hulle gemaklik maak in die pluimery,” sê tante Alessa vir hom. “Neem die mans by jou in die tent – dis veilig aan daardie kant van die gebou. Jy kan die mense huis toe neem sodra die storm bedaar. Laat Mashia en Jaseena intussen vir julle kos maak.” Die werksmense word elke dag van die naaste oase af aangery en saans teruggeneem, behalwe wanneer die weer só lyk.

      Maar van bedaar is daar g’n sprake nie – uur ná uur, nagdeur hou dit aan, met die wind wat so erg aan die vensterhortjies en dakplate stamp en pluk dat dit klink of dit gaan losskeur en wegwaai. Klippers wat saam met die sand deur die wind opgetel en neergegooi word, klater teen die huis. As dit nie vir die hortjies was nie, sou dit die ruite gebreek het.

      Die kragopwekker se diesel raak op en die enjin doef-doef nog ’n paar keer voor hy stil word. Die gloeilampe gaan dood.

      “Dink Maman dit is oor die gesteelde eier?”

      Maman hou Liora stywer vas. “Jy bedoel dat die storm dáároor gestuur is? Nee, Lioratjie.”

      Tante Alessa steek ’n paar lampe op.

      In die flakkerende lig lyk dit vir Liora asof oupa Hardy uit die foto op die buffet vir haar kyk. Sy draai haar kop, druk haar een oor toe en hou die ander teen Maman se bors, so styf dat sy net haar hartklop hoor. Sy tel die slae, en teen dagbreek word sy in Maman se arms wakker. Tante Alessa is nie meer in die vertrek nie.

      Dit is windstil. Sonlig skyn tussen die hortjies in. Liora wil opstaan, maar in haar slaap druk Maman haar vas. Elke keer wanneer sy haar wil loswoel, word sy teruggetrek.

      Sy wikkel haar tóg uit Maman se greep. Sy staan vinnig op, en omdat sy nog die vorige dag se klere aanhet, kan sy reguit buitentoe gaan.

      Alles is rustig. Sand lê teen mure en voertuie en kamele opgewaai. Waar die nes eiers was, sien sy net ’n hoop sand. Sy hardloop daarheen, haar hart in haar keel. Eers toe sy naby is, lig die volstruismannetjie sy kop. Hy staan op en skud die sand uit sy vlerke. Waar hy gelê het, blink die eiers in die son, roomwit en glad. Die wyfie kom nader, trap vir haar pote plek oop en sak op die nes neer, en Liora weet die nuwe gewag het begin.

      Sy hardloop terug huis toe om vir Maman te gaan sê sy kan die dag maar op die almanak merk.

      Papa loop hand aan hand met Liora tussen die rye palms. “Dis vir my altyd lekker om weer hier te wees,” sê hy. “By jou en jou ma en die volstruise.”

      “Hoekom gaan jy dan so baie weg?”

      “Want Bella Montagna het baie aandag nodig. Oom Lorenzo stel nie juis in boerdery belang nie, en ek moet na my belange daar omsien.”

      Sy kyk op na hom. “Hoekom kan Eugenio dit nie doen nie?”

      Hy glimlag vir haar. “Eugenio sal eendag ’n manjifieke boer wees, maar hy is nou eers tien!”

      “Hy hou nie van my nie. Toe ek en Maman laas somer saam is Korsika toe, was ek verveeld, want Eugenio moet altyd kamtig gaan help ploeg of gif spuit of waterlei of iets, net om van my ontslae te raak. Papa moet hom nooi om hier te kom kuier, dan kan ek met hóm lelik wees.”

      “Dit gaan nie oor jou nie, Liora, hy is net skaam. Jy moet sien hoe hy wegkruip as jou niggie Isabelle daar is. Maar sê my, wat het jy alles gedoen terwyl ek weg was?”

      Sy los sy hand en draf ’n entjie vooruit. “Net gewone goed, Papa – speel, swaai, lees, kameelry, skoolwerk,” sê sy en gaan staan. “Én ek het na die volstruise gekyk toe hulle begin broei het. Meer na die wyfie, want snags is dit die mannetjie se beurt en dan moet ek mos in die huis wees.”

      “Praat jy van die spannetjie in die kamp langs die groot tamarisk?”

      “Ja, het Papa gesien hoe oulik is hulle?”

      Dit lyk nie vir haar of hy in haar opgewondenheid deel nie. “Die kuikens is almal oulik as hulle klein is, dit weet jy mos,” sê hy. “Maar nou ja, ’n mens kan altyd hoop – ek het daardie twee voëls bymekaargesit