Rosa help hom op en staan eenkant toe.
Moshe Habib het skraal geword, sy skouers krom, maar hy is soos altyd in ’n netjiese broek en wit hemp en grys onderbaadjie geklee, ’n swart baret op sy kop, sy snor geknip.
Hy glimlag. Hy moet sy oë skreef teen die lig wat van agter haar die vertrek inval, maar Liora kan hulle sien blink. Hy hou sy arms na haar uit. “Uiteindelik is jy hier,” sê hy.
Sy gaan na hom toe, omhels hom, hou hom vas, voel sy hande op haar blaaie. “Goeiedag, Moshe Habib,” sê sy vir hom. “Jy ruik soos jou briewe.” Dis al wat sy kan uitkry.
Sy kom agter dat hy effe verblind is en stap dieper die vertrek in. Haar hakke klap op die vloer en word stil op die mat.
Hy bekyk haar goed en sê: “Dis goed om jou weer te sien, Alessandra.”
Rosa sit haar hand op sy skouer. “Nee, Moshe – dis Liora.”
Hy frons. “Wanneer kom Alessandra dan?” vra hy en gaan terug na sy stoel.
“Ek is jammer,” fluister Rosa vir Liora en verlaat die vertrek.
“Die Klein-Karoo is mooier as wat jy gesê het, oom Moshe,” sê Liora.
Hy staar voor hom uit, haal sy baret af, sit dit terug op sy kop.
Sy kyk weg, na ’n portret van haarself met ’n verewaaier oop voor haar gesig, net die oë sigbaar. Volg my, is die boodskap van die waaier. Sy het dié portret spesiaal vir Moshe laat neem, en só geposeer sonder om in ag te neem dat daar ’n tyd was toe vroue veel kon sê met die hantering van ’n volstruisveerwaaier of ’n sakdoekie of sambreel.
Wat sy eintlik moes gedoen het toe sy die foto laat neem het, weet sy nou, was om die oopgemaakte waaier agter haar kop te hou – moet my nie vergeet nie. En nou hét hy.
Sy weet hy sit na haar en kyk, maar sy ontwyk sy oë, bekyk die ruim vertrek: ’n hangkas en spieëltafel en ’n leunstoel; ’n plankvloer met ’n kleurvolle Persiese mat voor die dubbelbed; ’n hoë plafon van gedrukte tin; outydse muurpapier wat bo teen een van die mure oranje gevlek is van ’n lekplek; langs die bed ’n tafeltjie met ’n waterbeker en glas, en ’n bos vars rose in ’n pot; ’n wastafel met skottel en lampetbeker. Langs haar portret hang ’n waaier, die einste een op die foto.
Om haar trane vir hom weg te steek haak sy die waaier van die muurspyker af. “Dit was die heel eerste van my skeppinge wat madame Février as verkoopbaar verklaar het, ek kan nie vir jou sê hoe trots ek was nie. Dis Moshe Habib se waaier dié, het ek vir myself gesê, maar ek moes die madame waaragtig daarvoor betaal.” Sy lag, en waai ’n luggie oor Moshe se gesig.
Stofdeeltjies kom uit die vere los. Moshe se mond gaan oop en sy asem hort. Hy nies. Liora sien snot uit sy neus spat; dit bly oor sy snor en lippe lê, ’n lelletjie swaai onder sy ken. Dit lyk nie vir haar of hy daarvan bewus is nie.
Sy pluk ’n sakdoek uit haar handsak en vee sy gesig skoon voor sy die waaier buitentoe neem om die stof daaruit te skud. Dit dwarrel in ylerwordende wolkies die helderte van die dag in, vergesel van talle pluimbaardjies. Toe sy terugkom, is sy van die son verblind, maar is bly daaroor; sy kan nie sy gesig sien nie.
“Ek is bitter jammer, Moshe,” sê sy. “Kan ek maar môre terugkom?” Sy gaan na hom toe, buig af, wil hom soen, maar hy draai sy gesig weg.
Sy vlug by die kamer uit. “Merde!” sê sy toe sy buite kom.
In die tuin sak sy op die swaaibank neer, sien dat sy steeds die toegevoude waaier in haar hand het, maak dit oop, druk haar gesig daarin en ruik weer die stowwerige vere.
Sy trap op die grond, stoot die swaaibank so ver agtertoe as wat sy kan en laat dit vry, trek haar voete onder haar in. Sy staar voor haar uit terwyl die bank heen en weer wieg. Sy sien nie die huis of werf nie; sy sien Moshe Habib op ’n volstruis se rug, soos op ’n foto wat hy jare terug vir haar gestuur het; en sy sien hom op Finisterre aankom, voel hoe hy haar teen die lorrie se deur vasdruk. By kerslig in die eetkamer vertel hy vir haar en Maman en tante Alessa stories oor die Klein-Karoo. Hy besoek haar in Parys en neem haar na vertonings in die Paradis Latin en die Crazy Horse waar kaalborsvroue met wuiwende pluime en lokkende heupe dans. Só onthou sy hom, die man wat ’n leeftyd deel van haar is, en nou weet hy nie wie sy is nie.
Sy kry haarself byna so jammer as vir hom, en sy besef dat dit vir Maman nog erger gaan wees om hom só te sien. Sý sal haar eie herinneringe hê, waarvan Liora min weet. Van die vriendskap wat die twee gehad het, weet sy wel – die liefde, die verlange wat Maman nie kon wegsteek tydens die lang afwesighede tussen sy besoeke nie.
Musiek kom nou van die huis se kant af, eers sag, maar dan harder. Klavier en hobo, klink dit vir Liora. Eers een instrument, dan die ander, wisselend tussen solo en duet, tussen rus en drif. Te skerp vir haar oor. Dit ontstig haar.
Rosa kom by Moshe se kamer uit, maak die deur agter haar toe. “Hy is nou rustig,” sê sy toe sy langs Liora kom sit.
“Die musiek?”
“Dis ’n stuk waarvan hy baie hou, ’n komposisie van Pavel Haas.”
“Ek weet nie van hom nie,” sê Liora.
“Hy is in 1944 in Auschwitz vermoor.”
Liora reageer nie daarop nie, bly net na Moshe se toe kamerdeur kyk.
“Ek onthou goed hoe dit was toe hy mý die eerste keer nie herken het nie, Liora, dis hoekom ek julle alleen gelaat het. Soos dit is, gaan daardie soort wa moeilik genoeg deur die drif, ’n vyfde wiel maak dit nie makliker nie.”
“Maar in sy briewe klink hy so normáál.”
Rosa neem haar hand. “Hy het my gevra om nie ’n enkele brief te pos waarin iets voorkom wat jou en jou ma snuf in die neus sou laat kry nie.”
“En tog het hy my aangemoedig om hierheen te kom?”
“Vra hom liewer self wanneer hy helder is. Maar jy moenie ongeduldig wees nie. Die Moshe wat ons ken, kom elke keer terug van waar ook al hy nou is. Môre, oormôre sal julle gesels asof niks gebeur het nie.”
Dae lank dra Liora net die hoteljapon van wit handdoekstof. Soms sit sy op die stoel by die venster en rook, sigaret ná sigaret, terwyl sy na die Swartberg kyk. Maar meestal slaap sy. Wat sy nodig het, bestel sy oor die telefoon: ontbyt, middagete, aandete, wyn, sigarette. Maar meestal is die kos op die skinkbord wat sy in die gang terugsit onaangeraak, of is daar weinig van geëet. Sy kry enkele boodskappe – briefies onder haar deur ingestoot – waarin sy versoek word om met Rosa Olivier in aanraking te kom, maar sy doen dit nie.
Sy probeer die werklikheid van Moshe se siekte wegweer met herinneringe, grepe uit goeie tye, die koestering van Maman se liefde, haar skoppelmaai, die lieflike, gloeiende afwagting wat Moshe Habib se koms voorafgaan. Nooit afskeid of teleurstelling of pyn nie.
Fluisterend voer sy gesprek met haarself:
Wat het jy hier kom maak, Liora?
Ek het oom Moshe belowe ek sou kom.
As sewejarige meisiekind, smoorverlief op ’n gladdebek-Jood?
Sy wil vir hom kwaad wees oor daardie belofte, want dit het haar op ’n manier aan hom gebind, haar lot bestem. Het hy ooit daaraan gedink om haar daarvan vry te stel? Maar wanneer sy ook al aan Moshe dink, selfs nou in haar ontsteltenis, is dit met vertedering. Verál nou.
Tante Alessa het altyd gesê hy is ’n goeie man, swakhede en al. Dit kon sy destyds nie verstaan nie, hoe een mens goed én sleg kan wees. Maman het haar die verskil tussen feilbaar en verdorwe probeer verduidelik, maar sy kon geen feilbaarheid in hom vind nie, en al wás hy dit, was hy steeds die beste man op Gods aarde.
Sy haal Moshe se pakkie briewe wat sy saamgebring het uit en trek die strikkie los. Een vir een lees sy hulle, almal in sy byna onleesbare handskrif geskrywe. Haar oë word tranerig. Sy sit die briewe op haar bedkassie om die res later te lees. Heelwat van die inhoud daarvan ken sy teen dié tyd dalk al