Toe sy voor die hotel parkeer, laat sy per ongeluk die Dart se linkervoorwiel teen die sypaadjie se randsteen skuur.
In haar kamer, terwyl sy ’n vaal Baron’s Hotel-skryfblok uit ’n laai haal om ’n brief aan Maman te skryf, tref dit haar vir die eerste keer: wat gaan sy sê, en wat verswyg?
Lank kyk sy na haarself in die spieël. Toe skuif sy die skryfblok oor die blad sodat dit terug in die laai val. Sy sit die pen neer, laat haar gesig in haar hande sak.
Liora wou vroeër De Rust toe gekom het, ’n week of wat gelede al, maar het bly uitstel. Vanoggend weer. Maar nou teen die namiddag kan sy die versoeking om die steltevrou weer te sien nie weerstaan nie. Sy parkeer oorkant ’n restaurant, stap soontoe en gaan sit by ’n tafel op die sypaadjie. Sy bestel rooibostee en kyk na die mense wat verbykom.
Die steltevrou kom aangestap. Sy buk tussen ’n boom se takke deur en verdwyn agter die loof. Al wat nou van haar sigbaar is, is die pype van die langbroek en stukkies aluminium-bene met rubbervoetjies wat daaronder uitsteek.
“Wat is haar naam?” vra Liora die kelnerin wat kom hoor of sy nog iets wil bestel.
“Candice, juffrou.”
“Ek het haar uit die bus gesien,” sê Liora, meer vir haarself as vir die kelnerin.
Vyf minute lank hang die steltpote ’n entjie bo die grond, swaai nou en dan heen en weer. Dan kom die vrou weer te voorskyn, met ’n rugsak dié keer. Haar oë vang Liora s’n en sy bly met klein waggelbeweginkies staan. Sy grawe tussen haar smousgoed in die sak aan haar lyfband en haal iets daaruit, te klein om te eien, en laat dit vry. Dit skroef grond toe.
Toe Candice die pad na die vlagpaal voor die polisiekantoor oorsteek, gaan haal Liora dit, hou dit in die palm van haar hand: ’n gelerige sprietjie met die allerfynste blou-en-swart baardklossie aan die bopunt, een van die kroonveertjies van ’n pou. Sy haal ’n spieëltjie uit haar handsak, maak die perlemoerdeksel oop, knip die veer daarin toe.
Oorkant die straat laat sak Candice haar smousgoed met ’n tou en ’n seun vat dit aan, sit dit eenkant neer en vang dan die stelte wat sy na hom toe laat kantel. ’n Polisieman met offisierskentekens op die skouers kom nader gestap terwyl sy teen die paal afgly. Hulle gesels ’n rukkie. Toe sy wegstap, tel die seun haar rugsak op, en saam met ’n troppie ander kinders volg hy haar. Die offisier kyk haar agterna. By ’n systraat gaan sy staan.
Eers vat sy na die sak wat die seun na haar uithou, maar in plaas daarvan sit sy haar stelte neer en buk by hom. Sy kyk van naby na sy gesig. Dit lyk of sy ernstig met hom praat. Hy skud sy kop. Sy neem haar sak by hom, sit dit neer en vat hom aan sy hand. Hy probeer losruk, maar sy het hom stewig beet.
Sy loop met lang treë in die rigting van die polisiekantoor, die seun op ’n onwillige drafstap langs haar. Voor hulle by die gebou kan instap, kom die offisier weer na buite. Sy wys na die kind se gesig, beduie iets en druk hom teen haar aan voor sy hom loslaat. Hy hol oor die pad.
Die polisieman trek sy skouers op.
Candice gaan terug na waar die ander kinders vir haar wag. Hulle gee haar sak en stelte vir haar. Sy neem dit en stap alleen teen die afdraande af, waar sy met elke tree korter en korter word en oplaas verdwyn. Op die presiese plek waar sy weggeraak het, kom ’n blaffende wolfhond te voorskyn.
Die steltevrou is ’n towenares, dink Liora, sy kon net so wel in ’n kat verander het.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.