Die goudbaronne. Lerina Erasmus. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Lerina Erasmus
Издательство: Ingram
Серия: Mannheim-sage
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798174862
Скачать книгу
John sug en haal sy skouers op. “Jeugdige entoesiasme. Hy is my onoffisiële oppasser, moet hom dit nie verkwalik nie.” Hy beduie na die onaansienlike bankie. “Sit, asseblief! Ek sal broer Andrew vra om vir ons tee te –”

      “Nee!” Haar skerp reaksie en die kilheid op haar gesig laat die woorde op sy lippe stol. Sy tree nader aan hom. “Laat ons asseblief nie verder tyd verspil nie, vader. Ek glo u weet waarskynlik waarom ek hier is?”

      Hy kyk haar ’n rukkie in stilte aan, dan knik hy en stap om sy lessenaar en neem plaas op sy hoërugstoel. Hy beduie weer na die bankie. “Sit, asseblief, so sal ons mekaar tog rustiger kan aanhoor.”

      Deborah huiwer ’n paar oomblikke voor sy gehoorsaam, en dan ook maar duidelik teësinnig.

      “Dit gaan om Heinrich, nie waar nie?” verbreek vader John die ongemaklike stilte. “Dit is waarom jy gekom het.”

      Sy knik kortaf. “Oor baie jare heen was u vir my ’n vriend. Meer as dit. Ek het u gerespekteer as ’n soort vader, ’n mens met integriteit. Waarom het u my in Heinrich se geval in die rug gesteek?”

      “Dit is die laaste ding wat ek ooit sou doen, Deborah. Jy behoort dit te weet.”

      “Ek het Heinrich aan u toevertrou, maar u het my vertroue misbruik. Toe hy ’n vatbare seun was, het u hom oor die jare bearbei, hom dit ingeprent om priester te word, en dit terwyl u maar te goed weet waar sy verpligting lê.”

      “Die mens wik, maar God –”

      “Moenie op my asem mors met clichés nie!” voeg sy hom bitsig toe. “Kan u ontken dat u die een was wat my broer beïnvloed het om –”

      “Ja!” roep hy ferm uit. “Ja, ek ontken dit! Nie ek of enigiemand het hom ingepraat nie. Geen mens kan ’n jongeling oorreed om selibaatskap te kies bo dit wat die sekulêre lewe ’n man kan bied nie. Dit kom van Bo, Deborah, dit moet jy aanvaar. Van sy sestiende jaar af al was dit jou broer se begeerte. Het jy nooit agtergekom dat hy as kind buitengewoon was nie?”

      “Bog! Hy was ’n doodnormale seuntjie, tot u hom begin indoktrineer het. Is dit nie julle leuse nie? Gee my ’n kind tot sy sewende jaar en sy lewe behoort aan die Kerk.”

      “Dit was ’n goeie tweehonderd jaar gelede die standpunt van die Jesuïete-orde, ja, en sonder begrip en buite verband aangehaal, het dit ’n sinistere klank. Ons leef nou in die twintigste eeu, en jy behoort self te weet dat ek nie ’n wafferse pedagoog is nie, daarby ook maar ’n vrotsige prediker. Ek is ’n geneesheer, ’n veldwerker wat nooit sou droom om iemand oor so ’n groot besluit te probeer beïnvloed nie.”

      “Maar in die geval van my broer was dit anders … die ‘buitengewone kind’,” haal sy hom spottend aan. “Die versoeking kon u dié keer nie weerstaan nie. Dink u werklik dat ek net so sou kopgee? Toelaat dat Heinrich sy lewe vermors? Dat hy ingetou word deur die een of ander motgevrete priesterorde?”

      “Die bisdom van Winchester word beskou as een van die beste ordes en die Moederkerk reken hulle hoog. Jy moet weet dat hulle wêreldwye respek –”

      “Dit skeel my nie ’n duit nie! Verstaan my mooi, vader, my broer se toekoms lê op Sorgenfrei! Dit is syne, sy grond, en dit is sy heilige plig om daarna om te sien. Dis erfgrond, magtig, wat vir sy nageslag bewaar moet word!”

      “Ek het medelye met jou woede en jou teleurstelling,” sê vader John met soveel opregtheid dat dit Deborah ontstem en opnuut driftig maak.

      “Mý teleurstelling? Daar maak u ’n fout, vader John, want dis u wat u tyd op die verkeerde man verkwis het. Vergeet maar van my broer as ’n kerklike!” snou sy hom toe.

      “Dit moet jy maar liewer aan God self sê, my dogter,” antwoord hy haar kalm. “Hy is die een wat die begeerte by Heinrich laat posvat het. Tien jaar lank het hy die boodskap van daardie roepstem probeer peil, hy het dit selfs probeer teëstaan ter wille van jou en jou ideale, maar die wil van God is wonderbaarlik sterk, dit weet ons ook uit die lewe van die Heiliges wat –”

      “Heiliges?” Sy lag spottend. “Sleep u hulle nou ook by? Geloofshisterie is nie iets wat ek ooit met u vereenselwig het nie.”

      Vader John betrag haar ’n lang ruk in stilte. “Die waarheid,” verklaar hy uiteindelik, “het nie ruimte om geloofshisterie te huisves nie.”

      “Waarheid? Sê liewer kerklike doktrines wat u probeer versuiker, verdraai, net om u aandadigheid te motiveer.”

      Ergerlikheid laat vader John se verweerde wange verkleur. Hy dwing sy effe geboë skouers agteroor en kyk haar streng aan.

      “As ’n sondaar het ek baie foute, maar van oneerlikheid durf jy my nie beskuldig nie!”

      Deborah hys haar orent en troon oor die man agter die lessenaar. “Ontken u dat u die een is wat die eerste voorspraak vir hom gemaak het by die danige bisdom waarin hy aanvaar is?”

      “Nee, ek ontken dit nie, maar dit was eers verlede Desember. Dit het vyf jaar se oorreding van sy kant gekos voordat ek die eerste brief geskryf het – en terloops, jy oorskat my invloedsfeer. My stem, ’n stem uit Suider-Afrika, het min invloed daar. Jou broer was die een wat hulle beïndruk het, nie net as student nie, maar ook as mens.” Hy sug. “Deborah, probeer tog verstaan, Heinrich is verkies bo baie ander. Dis nie net vir hom nie, maar ook vir jou en die familie ’n groot eer.”

      “Heuningsmeerdery werk nie met my nie, vader,” knip sy hom kort. “Sal ek u sê wat waarskynlik die meeste in sy guns getel het? Dat hy Heinrich Mannheim, ’n vermoënde jong man, is, ’n jong man uit een van die Rand se magtigste mynfamilies. Sê my, het u dit verswyg, vader John? Was dit werklik net sy geestelike verhewenheid en sy –”

      “Ek het niks verswyg nie.”

      “Bravo!” Sy klap haar hande spottend. “Nou begin ons vordering te maak.”

      Hy kyk haar stil aan, ’n stilte wat haar onder die indruk bring dat sy hom in ’n hoek gedryf het, dat sy swye ’n soort erkenning is. Triomfantlik speel sy haar troefkaart: “Ek sal u sê hoe ons kan toets hoeveel waarde daar geheg kan word aan my broer se danige geestelike kwaliteite. U sien, as Heinrich besluit om sy rug te keer op die familie, sy erfplaas versaak vir ’n priesterorde, dan is hy wat my betref so goed as dood. Dan verdien hy nie meer wat die familie hom kan bied nie, en sal ek persoonlik sy naam uit ons familieregister skrap.”

      As sy reaksie op haar dreigement verwag het, word sy teleurgestel, want vader John kyk haar steeds net in stilte aan. Dit spoor haar opnuut aan om hom verder uit te lok. “Heinrich beskik wel oor ’n fortuin in beleggings wat ek vir hom gemaak het vir sy toekoms, maar as dít die toekoms is wat hy kies, bly ek in beheer daarvan tot ék besluit of hy sy eie sake goed genoeg kan bestuur. Tot dan kry hy nie ’n pennie van my nie!” Sy glimlag seëvierend. “Sal ons hierdie uitgelese priesterorde van u voor so ’n toets stel, vader John? Sal hulle my broer nog met ope arms verwelkom as hy terugkeer na Brittanje as ’n brandarm bedelaar?”

      Vader John, wat Deborah tot dusver in swyende ongeloof aangehoor het, ervaar ’n siek gevoel van ontnugtering. Eenmaal, lank gelede, het hy Deborah as sy protégée beskou. Sy was ’n mooi, intelligente jong vrou, vol waagmoed. Hoe het daardie vrou geword wat sy nou is? Maar dit is nou skaars ter sake, dink hy, sy het die Kerk beledig en dit durf hy nie toelaat nie.

      Sy groot hande klamp om die leunings van sy stoel en hy hys hom orent. Vir die eerste maal troef sy blik haar genadeloos. Nou is daar geen toegeneentheid in sy oë meer nie.

      “Nooit sou ek geglo het dat ek jou ooit sou bejammer nie, Deborah Mannheim, maar vandag is dit so. Ek voel jammer vir jou, ook bekommerd dat jy geestelik bankrot geraak het. Soos ’n vlieg sit jy vasgevang in die web van jou eie belangrikheid, jou besittings. Die Huis van Mannheim het jou god geword en dit het jou afgedwing tot die vlak van ’n goedkoop gierigaard. Dink jy werklik, vrou, dat jy God kan omkoop met geld? Weet jy dan nie dat die wil van God onverhandelbaar is nie? So is dit ook met sy Kerk. Jou broer is gekies uit negentig kandidate van oor die hele Europa, hy is aanvaar vir dit wat hy is. Hulle het vir Heinrich Mannheim aanvaar –