In ’n gastehuis in Winburg het ek myself doodgesukkel om ’n artikel oor die Gifberg-rusoord buite Vanrhynsdorp klaar te skryf. In ’n rondawel in die ou Transkei het ek met die geruis van die see as klankbaan met die slotparagrawe oor ’n road trip tussen Carolina en Barberton gesit en stoei.
In Tsumeb het ek myself letterlik vir ’n naweek in die Minen-hotel toegesluit om met ’n storie oor die Knysnabos se karakters (wat twee van die laaste ware houtkappers ingesluit het) klaar te speel. ’n Tipe boot camp vir die psige …
En nou sit ek wragtig hier op Hamad Internasionale Lughawe, angshaas deluxe, en bou slordige sinne in die vae hoop om betyds by twee duisend vyf honderd leesbare woorde oor Slagtersnek uit te kom, voor die nuwe dag en week in Kaapstad begin. Die wi-fi is gratis, wat goed is indien jy gou die verblyfbesonderhede van ’n gastehuis in Cookhouse (naby die Slagtersnek-monument) wil opsoek, maar fataal is vir iemand met aandagafleibare neigings.
Ek kan werklik nie wag om vir ses weke afstand te doen van my foon nie. Om volledig onder die radar te beweeg en nie aanhoudend onder beleg te voel van boodskappe en bemarking nie. Om weer te probeer onthou en ervaar hoe dit was voor ons almal met slimfone begin rondloop het.
Ek kry egter reeds my bedenkinge oor my plan om die iPhone en laptop weg te smyt. Tans voel ek net verslae, nie die rou moerigheid van vroeër nie. My opsies en tyd raak al hoe minder. As ek die goeters vir veertig dae in ’n kluis wil stoor op Charles de Gaulle, kyk ’n mens na ’n (onbeplande) uitgawe van R4 000. En ek ken niemand in Parys nie. Op WhatsApp kon ek kort na my aankoms hier gou kontak maak met ’n oudkollega wat iemand in Frankryk verlangs ken, maar ek wag nog op ’n antwoord.
Wag, ek het gisteraand by die troue langs iemand gesit wat gereeld in Parys werk. Martine. Ons het baie lekker gesels en sy het my verskeie puik wenke gegee oor hoe ek my laaste aand voor my terugkeer in Parys kan spandeer. Ons het vanoggend voor my vertrek uit die Kaap gou op Facebook hallo gesê.
Nou stuur ek ’n eerstewêreldse S.O.S.-boodskap aan haar:
Hi Martine, ek sit nou op Doha se lughawe. Die enigste rede waarom ek nog “digitaal” is, is omdat ek werk saamgebring het wat moet klaar voor die Camino. Ek het ’n aweregse Parys-versoek/guns: ek maak my werk vannag klaar op Doha. Daar’s nie ’n manier wat ek die laptop en foon saamneem op die Camino nie. Maar die lockers op Charles de Gaulle lyk duur vir 40 dae se stoor (sowat 320 euro) en ek is huiwerig om dit SA toe te pos/koerier. Jy weet nie dalk van iemand of selfs ’n instansie in Parys vir wie ek die pakkie (ek belowe dis nie contraband of iets uit Breaking Bad nie) van die lughawe af kan pos en dan weer 15/16 Junie sommer self kan oppik wanneer ek terug in die stad is nie? Ek wag tans vir ’n adres van ’n kollega wat iemand daar ken, maar dit sloer ’n bietjie en die tyd is min. Ek moet dit môremiddag so 3 nm. van die lughawe probeer pos. Phew, it became quite a ramble, ek moet dalk maar bly by goed soos Bachelors-partytjies organise. Ek hoor graag van jou!
Sy antwoord gou:
Ek het nou ’n vriendin in Parys gekontak om te hoor of jy die pakkie na haar toe kan pos – sal laat weet sodra ek ’n antwoord kry. Lekker aand tot dan!
Nee wat, nou is die Kaap (of Katar, selfs) weer Hollands. Die Nespresso-koffie is sterk, die stoel sag, die wi-fi rats en met ’n dadel in my kies begin die word count klim.
* * *
Met die adres van ’n Suid-Afrikaner in Parys, Marcelle (ook ’n joernalis), neergeskryf in my Moleskine, en die Slagtersnek-artikel darem so driekwart klaar, klim ek op vlug QR 039 vir die skof van Doha na Parys. Dit is net na agtuur op Maandag 4 Mei. Ses Nespressos deur die nag in die Oryx Lounge. En ’n lieflike warm stort. Maar ek het agt en veertig uur laas ’n oog toegemaak. The lonely places we take ourselves …
Dié keer is ek nie alleen in ’n ry sitplekke op die vliegtuig nie. Weerskante van my sit twee mans – links ’n Moslem-omie met ’n lang baard en Islamitiese gewaad. Regs sit ’n jong Indiërman wat erg op sy senuwees lyk. Arjun het nog sy hele lewe in Nieu-Delhi gewoon. Hy vlieg nou vir die eerste keer oorsee om in Parys as ’n rekenaarprogrammeerder te gaan werk. Daarby is hy baie senuweeagtig oor vlieg en hoogtes.
Ek het gelukkig nie daardie probleem wanneer dit by vlieg kom nie. Die ergste turbulensie wat ek al beleef het, was in ’n Boeing bo Mosselbaai. Mense het óf gegil óf met prewelende skietgebedjies met hul idee van ’n Godheid begin onderhandel. ’n Lugwaardin was op haar knieë, haar arms om die kostrollie, asof sy dit omhels. Gelukkig was die ergste chaos binne ’n minuut verby.
Hoogtes pla my nie. Dit is eerder noutes wat my soms na waansin kan dryf. ’n Paar jaar gelede het ek die Kangogrotte besoek vir ’n Weg-storie. Ek kon nog deur die Tunnel of Love skuur, maar by die Duiwel se Skoorsteen het my moed my begin begeef. Voor dit my beurt was, het ’n jong gesinnetjie deur die skoorsteen gebeur. Die pa het sy mollige vrou aangemoedig: “Is jy in, Muis? Is jy in?” Maar ek het skaars halflyf teen die skoorsteen begin opsukkel, toe voel dit of ’n All Blacks-losskrum op my ineenstort. Ek was bitter vinnig weer uit die skoorsteen en het maar ’n ompad gevolg.
Net voor ons opstyg, met die Boeing reeds aan die dreun op Doha se aanloopbaan, laat weet die loods in ’n swaar Arabiese aksent daar is een of ander tegniese probleem. Ons moet eers wag dat die tegnici ondersoek instel. Arjun vryf sy hande saam. Ons kan nie veel aan die situasie doen nie. Wanneer ek op ’n vliegtuig se aanloopbaan sit, gereed om op te styg, voel dit dikwels vir my soos wanneer ’n spannetjie dokters jou by die teater inwiel voor ’n operasie. Jy is magteloos, uitgelewer aan ander mense se kennis en genade.
Iewers het ek gelees die eerste negentig sekondes ná die vliegtuig opstyg is teoreties die gevaarlikste deel van ’n vlug. As iets ernstigs binne hierdie kritieke periode sou skeefloop, vee jou familie binnekort die trane af in een van National Geographic se Air Crash Investigation-programme.
Sedertdien het ek die liggies obsessiewe gewoonte ontwikkel om, soos ’n vliegtuig Moeder Aarde verlaat, gedienstig in my gedagtes tot by negentig te tel, en dan te baai in een of ander vals verligting. “Besef jy dit gaan geen verskil aan jou lot maak of jy tel of nie?” het ’n vriendin wat graag logies na dinge kyk my al vermaan. Sy’s natuurlik heeltemal reg, maar ek doen dit steeds.
Met die tegnici klaarblyklik haastig op pad na ons Boeing, gesels ek en Arjun oor die noodlot in die lug.
“Well, I guess if it’s your time, it’s your time, nothing you can do about it,” sê hy stellig.
“But what does it mean for us if it is the pilot’s time?” terg ek terug.
Arjun lag en skud sy kop.
Al weer ’n tussenplek, ’n dormante niemandsland. Ek wou teen dié tyd al in die lug gewees het, met my laptop oop en hopelik in die doodsnikke van die artikel. Nie hier op ’n aanloopbaan waar al ons elektroniese toerusting reeds afgeskakel moet wees nie.
Die minute tik verby.
* * *
-----Original Message-----
From: Erns Grundling
Sent: 04 May 2015 02:54 PM
To: Pierre Steyn
Subject: Hier is Slagtersnek!
Importance: High
Hi Pierre
Aangeheg is Slagtersnek. ’n Bietjie lank, maar eerder nou as nooit.
Ek vlieg nou tussen Luxemburg en Parys. Altitude: 39 829 ft. Ground Speed: 482 mph. Buitetemperatuur -67 F. Nog 525 eerlike myle na Parys, waar ’n mad rush vir treine wag. Ek pos môreoggend my laptop en selfoon uit Bayonne vir ’n joernalis in Parys. Ek gaan dit by haar optel op die 16de.
Gee asb net ’n vinnige headsup dat jy die file ontvang het. Want dan is my vakansie moerse naby.
Au revoir!
Erns
Die