•Nog ’n klein sakkie: ’n rooi Victorinox-knipmes met die woorde “INTO THE MILD” daarop gegraveer (’n geskenk van vriende), ’n garetolletjie met ses skoon naalde (as dit sulke tyd met blase raak), ’n kopliggie, twee karabynhake om goed aan te hang, vier ekstra AAA-batterye, naelknipper en ’n blou spork (vurk/mes/lepel-kombinasie).
•Laaste Ziploc-sakkie: ’n botteltjie met vloeibare wasmiddel, ’n boksie Omo-waspoeier, ’n prop (om wasgoed te was), agt wasgoedpennetjies.
•’n Koffiebeker
•’n Honderdgram-pakkie rou amandels, honderd en vyftig gram biltong, twee pakkies energiejellies
•’n Eenliter-Laken-waterbottel
•Vyftig Weg-besigheidskaartjies
•My Credencial del Peregrino, of Pilgrim Record, wat ek vooraf bestel het by The Confraternity of Saint James South Africa.
Die rugsak het elf komma vier kilogram geweeg op Kaapstad se lughawe. Dit mag dalk nie te swaar klink nie, maar met sowat twee liter water by, kan dit by veertien kilogram gaan draai.
’n Vreemde vooruitsig om oor veertig dae en meer as agt honderd kilometer die ekwivalent van ’n kleuter op my rug saam te dra.
* * *
Ek het reeds in 2004 die eerste keer van die Camino gehoor. Ek het een Sondagmiddag taamlik angstig gesit (angstig omdat ek besig was om ’n magdom werk uit te stel) by die aanlynjoernaal, LitNet, se kantoor bokant die Spur op Stellenbosch en op die Brasiliaanse skrywer Paulo Coelho se webwerf rondgeblaai.
Ek vind toe kontakbesonderhede vir sy uitgewer en tik ’n voortvarende e-pos om te hoor of ek dalk vir Paulo ’n paar vrae per e-pos kan stuur. Sy roman Eleven Minutes het pas verskyn en ’n Afrikaanse vertaling van sy wêreldwye topverkoper The Alchemist was ook op die rakke.
Gewoonlik stuur ’n mens so ’n e-pos en hoor niks nie. Net nog ’n versoek om ’n onderhoud uit ’n obskure hoek van die wêreld. Die volgende oggend was daar egter ’n antwoord van sy uitgewer: “Paulo Coelho is op die oomblik op vakansie langs die Franse Riviera en sal verkies om eerder ’n telefoononderhoud toe te staan. Hy is Dinsdagmiddag van 14:00 tot 14:20 beskikbaar. Hier is sy nommer …”
Ek het byna begin hiperventileer toe ek die e-pos lees. Die Maandagnag nie ’n oog toegemaak nie en gesit en vrae uitwerk. Ek kon ’n speaker phone by ’n vriendin se ouers leen om die onderhoud op te neem. Paulo was op sy gemak, vriendelik en uiters vrygewig met sy tyd – ons het op die ou end langer as ’n halfuur gesels.
Op my laaste vraag aan hom oor hoe hy graag eendag onthou sal wil word, het hy geantwoord: “As someone who died while he was alive. I’m going to be cremated and my ashes will be spread on the Santiago pilgrim’s road. But if I had an epitaph or something written on a tombstone it would be: ‘He died while he was alive.’ Because I see so many people who die before death arrives. They consider doing everything, they breathe, they eat, they make love … but they’ve lost their enthusiasm towards life. So I would like to be remembered as someone who died while he was alive.”
* * *
The Santiago pilgrim’s road … Paulo Coelho se laaste antwoord het my destyds gelei na die ontdekking van die Camino, die pelgrimstog wat al sedert die negende eeu na die katedraal in die dorpie Santiago de Compostela lei, waar die dissipel Jakobus glo begrawe lê.
Jakobus, in die Bybel ’n “broer van Jesus” genoem (hulle was wel nie bloedfamilie nie), het glo ’n paar jaar ná Jesus se kruisiging (én hemelvaart, afhangende van hoe ’n mens glo) in Galicië, Spanje, kom sendingwerk doen.
John Brierley vertel in sy gidsboek daar is geen historiese bewyse om hierdie bewerings te staaf nie. ’n Mens kan hoogstens op anekdotiese vertellings staatmaak.
Gestel Jakobus was inderdaad in Spanje, sou hy een van die eerste dissipels wees wat werklik aan Jesus se opdrag, soos vervat in Matteus 28:19, gehoor gegee het: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”
Die noordweste van Spanje was in daardie jare (ongeveer veertig na Christus) ’n hartland van die paganiste – met Finisterre by die see ’n tipe hoofkwartier met klipaltare, rituele en inisiasies. Die tipe plek waar Getafix the Druid van die Asterix-boeke sou tuishoort.
Finisterre (in Latyn beteken Finis Terra “end of the Earth”) was waarskynlik een van die plekke waar Jakobus met mening probeer het om die pagans tot die Man van Nasaret se boodskap te bekeer. Volgens oorlewering – en hier kry jy te doen met ’n byna soomlose kombinasie van feit, verdigsel en Katolieke mistisisme – het Jakobus sy rieme styf geloop met die paganiste in Finisterre en het hy uitgewyk na die klein vissersdorpie Muxía, sowat dertig kilometer oos. By Muxía het hy op ’n rots gaan sit en sy wonde gelek, toe die Maagd Maria eensklaps op ’n klein seilbootjie aan hom verskyn. Sy het hom getroos en aangemoedig om inderhaas terug te keer na Jerusalem. Direk na haar verskyning het die bootjie se seil versteen in ’n rots, wat vandag nog daar staan.
Jakobus het Maria se raad gevolg en is reguit Jerusalem toe, waar hy terstond in vier en veertig na Christus deur koning Herodus onthoof is. So het Jakobus die eerste martelaar in Christus geword. Het Herodus ooit iets anders gedoen as babas doodmaak en mense onthoof?
Omdat Jakobus, ondanks sy mislukte pogings om die paganiste tot ander insigte te bring, baie lief was vir Spanje, het ’n paar volgelinge sy oorskot op ’n boot teruggebring om by Finisterre te begrawe. Die paganiste was nie te vinde hiervoor nie en die volgelinge moes na die binneland vlug, waar hulle Jakobus iewers begrawe het.
Byna agt eeue later, in die jaar 813 of 814, het ’n herder genaamd Pelayo of Pelagius ’n visioen van ’n helder ster gekry wat hom gelei het na die plek waar Jakobus glo begrawe is. Dit is hier waar die katedraal later gebou is en waaraan die dorpie Santiago de Compostela sy ontstaan te danke het. Die dorp se naam vertel die storie: Santo Iago (Heilige Jakobus), Compos (veld), Stella (sterre). Jakobus is ook die beskermheilige van Spanje.
Die eerste opgetekende rekord van ’n pelgrim wat die Camino gestap het, dateer uit die jaar 940. In die daaropvolgende eeue het tienduisende mense elke jaar van verskeie uithoeke in Europa gestap om hulde te gaan betoon by Jakobus se graf, en in die proses vergifnis te kry vir hul sondes. Die Camino begin by jou voordeur, die oomblik wat jy een voet oor die drempel sit.
Daar was glo ook geforseerde pelgrimstogte: In plaas van tronkstraf moes sommige veroordeeldes die Camino gaan stap. Jy kon selfs jou Camino “delegeer” en iemand anders stuur om te gaan stap en namens jou vergifnis by Santiago de Compostela te ontvang.
Die Camino het só gegroei dat dit die ander twee bekende en antieke Christelike pelgrimstogte – dié na Jerusalem en Rome – in gewildheid begin oorskadu het.
Brierley vertel dat die aanvanklike groei gesien moet word teen die agtergrond van die Katolieke Kerk se poging om hulle in die vroeë Middeleeue in Spanje te vestig, veral nadat die More tydens die Kruistogte verdryf is.
Ook hier het die apostel Jakobus ’n mitiese – en omstrede – rol gespeel: Hy staan in Spanje bekend as Santiago Matamoros (Saint James the Moor-slayer). Volgens die legende het die apostel op ’n wit perd verskyn tydens die Slag van Clavijo en ’n oormag More met sy swaard verbrysel.
Van Melkweg tot More … dit bly ’n magiese verhaal wat miljoene mense se verbeelding vandag steeds aangryp.
* * *